Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uitgelewerde gemeenskap van Oppermans hou boeredag

Die nasate van die slaaf Salomon Frederik Opperman wat in die 1800’s ’n skatryk boer in die Suidwes-Vrystaat geword het, het pas weer hul jaarlikse winterboeredag by Oppermansgronde gehou. Dirk Kok het dit bygewoon en gehoor van hul uitdagings en drome.

Daar kom hulle! Die perderesies is ’n groot hoogtepunt. Foto: Dirk Kok

By die afdraai na Oppermansdorp, op die pad tussen Koffiefontein en Jacobsdal, nooi ’n helder geel bord teen ’n plaasheining mense uit na die Oppermans-boeredag in die pan: “Almal welkom”.

Die lede van die Oppermans-boerevereniging – nasate van die Indiese slaaf Salomon Frederik Opperman (1786-1892) wat in die 1840’s hier aangeland en boer geword het – hou hul jaarlikse boeredag.

Net buite die dorpie Oppermans, wat omring word deur die Oppermansgronde van 37 000 ha veegrond en nog 200 ha besproeiingsgrond aan die Oranje-Rietrivierkanaal, slaan die stofwolke op die grondpad op. Oppermans se mense en besoekers is op pad pan toe: met perde, perde- en donkiekarre, Pajero’s en Hilux’e, 1400-bakkies, sedans, fietse en ’n enkele motorfiets.

In die droë pan, omring deur die vaal Suidwes-Vrystaatse winterveld en heuwels, is die markiestente, stalletjies en verhoog opgeslaan en die springkastele opgeblaas. Vroegdag al draai die rook van die kosmaakvure en hang die reuk van braaivleis en potjiekos in die lug.

Dis jolig en lekker.

Tweeperdekrag-Ferrari. Foto: Dirk Kok

Verdeeldheid

Maar alhoewel die bord langs die hoofpad sê almal is welkom, is nie al Salomon Frederik Opperman se nasate hier nie. Van hulle bly weg. Want sedert die Opperman-nasate hul grond in 2003 amptelik van die Kommissie vir die Herstel van Grondregte teruggekry het – nadat dit langer as 40 jaar deur die apartheidsregering vervreem en in trust gehou is – is hier tweespalt. Aan die een kant staan die statutêre Oppermansgronde- Gemeenskaplike Eiendomsvereniging (OGEV). Aan die ander kant staan boere en inwoners wat nié met die OGEV om dieselfde vuur sit nie. Volgens die beswaardes dien die OGEV nie die belange van die gemeenskap soos hulle moet nie en kom hulle ook nie die wense van hul grootvader, Salomon Frederik, oor die grond na nie. Die OGEV gaan staan en verhuur dan van die besproeiingsgrond aan kommersiële buitestanders, sê die beswaardes. Van die grond is ook al verkwansel.

William Barnes, voorsitter van die boerevereniging: “Nou moet ons saamstaan. Daar is planne op die tafel.” Foto: Dirk Kok

En by die biblioteek in die dorpie, neffens die borsbeeld van hul grootvader Salomon Frederik, is immers ’n plaat met die uitdruklike opdrag in hul grootvader se testament: De testateur verklaarde dat genoemde erfgename en hunne wettige opvolgers nooit of te nimmer sullen mogen verkopen, verbinde, verruilen, verhuren, verpachten, onder anderzinz direct of indirect vervreemde of beszwaren maar dat dezelve als fiedi commissium een onverbreembare erfgoed der familie Opperman zullen blyven.

Toe hy die boeredag open, verwys die voorsitter van die Oppermans-boerevereniging, Wally (William) Barnes, in sy toespraak flussies en subtiel na die tweespalt en die verhuring van die grond: “Dit kan nie reg wees nie. Ons moet oplossings kry.”

Erik de Witt, boer en bemarker van Vleissentraal in Koffiefontein, praat boerderysake met die boere. Foto: Dirk Kok

Groot planne

En dan fokus hy op die ander groot probleem wat voortsleep sedert die herverdeling van die grond onder die Opperman-nasate. Die groot vraagstuk bly: Hoe boer ’n stuk of 130 boere suksesvol op klein plase van gemiddeld 260 ha elk?

Christo Arends, boer van Oppermans 'n sjef in die Kaap, het die kar en bakkie in die waenhuis gelos en met die familie-erfstuk boeredag toe gekom. Foto: Dirk Kok

“Oppermans is ’n gemeenskap wat baie agtergebly het oor die jare. Nou moet ons saamstaan. Daar is planne op die tafel,” sê Barnes

Dié planne sluit samewerking in ’n koöperatief in, amper soos die Moshav-stelsel in Israel waar boere ook langs mekaar boer en hul produkte in een poel saamgooi en bemark.

“Ons moet kyk om saam te kan produseer sodat ons ons hulpbron ten volle kan benut.

“As ons almal goed aan die gang kan kry met hul skaapboerdery en dit optimaal kan uitbrei, kan ons die lammers in ’n voerkraalstelsel kry. En van daar af kan ’n mens kyk na ’n slagplaas en vleisverwerking hier plaaslik. En die neweprodukte, soos die velle, kan hier plaaslik verwerk word vir leerlooiery. Dit kan werk- en ekonomiese geleenthede ontsluit.”

Die Oppermans-boerevereniging vat deesdae ook hande met Vrystaat Landbou (VL) en ander landboubetrokkenes om die boerdery hier uit te bou.

Dr. Jack Armour van Vrystaat Landbou (VL) en sy dogters, Nieve (links) en Kaeli, het VL se stalletjie op die boeredag beman en saam met die Oppermans-boere gekuier. Foto: Dirk Kok

Waar’s die regering?

Maar dit is ook haas tyd dat die regering weer uitkom by die afgeleë en uitgelewerde gemeenskap van Oppermans, sê Barnes, op sy dag self ’n hoë amptenaar in die Vrystaat. Armoede, werkloosheid en maatskaplike probleme is erg en die paaie is flenters.

Gevulde roetie is ook tradisionale Oppermans-kos. Pearl Bradford het die roeties gemaak. Foto: Dirk Kok

“Ons provinsiale regering moet begin ernstig word oor ons mense se lot. Hulle moet uitkom en kom kyk. Jy kan nie glo wanneer laas was hulle hier nie. In die laaste drie jaar dat ek hier is, was nie een van die politici hier nie. Die leiers van die Letsemeng-munisipaliteit het ook geen verhouding met die gemeenskap nie.”

“Ja,” sê Jeff Humphreys wat saam met sy neef, Christo Arends, boeredag hou. “Die premier moet kom kyk wat maak ons bruin mense hier en hoe lyk dit hier. Kyk net hoe lyk ons paaie!”

Springkastele, boerderypraatjies en pret in die droë pan. Foto: Dirk Kok

Die droom leef voort

Maar dan word die probleme eers op die agtergrond geskuif en ernstig boerderysake gepraat en boeredag gehou.

Erik de Witt, boer en bemarker van Vleissentraal in Koffiefontein, beantwoord van die opelugverhoog af die boere se vrae oor lamtyd en veedosering. Die groot seuns en die manne jaag in die perderesies. Die kinders baljaar op die springkastele en hardloop driebeen- en sakresies en speel aartappel-in-die-lepel en pennetjiehaal.

Gevulde roetie is ook tradisionale Oppermans-kos. Pearl Bradford het die roeties gemaak. Foto: Dirk Kok

En Oppermans se boeremense eet en kuier.

En wanneer die wintersonne­tjie sak, kry die bakkies, en karre en perdekarretjies koers terug na Oppermansdorp toe vir die boeredagdansparty in die skool se koshuissaal.

Soos pres. Cyril Ramaphosa se droom van ’n nuwe daeraad, droom Barnes en sy medeboere van ’n nuwe daeraad in Oppermans.

Skuins oorkant die koshuissaal, waar die dansmusiek opklink, het iemand ook ’n wens met swart spuitverf op die stopbordjie verwoord: Good Dreams.

Wat is ’n boeredag sonder ’n pot. Ronald Wiessie skep vir Estelle Adams van sy skenkelpot. Foto: Dirk Kok
Oppermans-boudtjops op hul beste. Die neefs Jerome (links) en Eugene Ontong aan die braai. Foto: Dirk Kok
’n Boer wat glo en vertrou. Dié boer ry sy Bybel in die bakkie saam. Foto: Dirk Kok
Die borsbeeld van die Oppermans se stamvader, Salomon Frederik Opperman (1786-1892), staan voor die dorpsbiblioteek. Foto: Dirk Kok
Draai af. Foto: Dirk Kok
Goeie drome vir Oppermans. Foto: Dirk Kok

Meer oor:  Vrystaat  |  Oppermansgronde  |  Boeredag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.