Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uitslae wys ‘DA is in die moeilikheid’

Die uitslae van die onlangse munisipale tussenverkiesings het bevestig dat die DA, Suid-Afrika se grootste opposisieparty, in die moeilikheid is, skryf Roger Southall.

Die DA se probleem is dat “hy nooit kan hoop om die ANC te vervang nie”. Foto: EFE-EPA/Kevin Sutherland

Terwyl die ANC 64 wyke behou het, ses nuwes gewen en net twee afgestaan het, het die DA 14 behou, net twee nuwes gewen en nege afgestaan – meestal aan kleiner partye.

Boonop haal die DA om al die verkeerde redes die hoofopskrifte.

Hoewel sy federale kongres in Oktober – waarop John Steenhuisen die steun van 80% van stemgeregtigdes in sy leierskapstryd teen Mbali Ntuli gekry het – glad verloop het, het dit tot negatiewe hoofopskrifte gelei omdat die twee kandidate nie virtuele debatte kon hou nie.

Hul debat op die kongres is ook beperk tot partylede en die algemene publiek is uitgesluit.

John Steenhuisen se verkiesing as leier het met ’n omstrede beleidsverandering saamgeval.

’n Voorstel dat die party ’n adjunkleier aanstel, ’n posisie wat Ntuli na verwagting sou beklee (en haar daarmee kon voorberei om in die toekoms as leier oor te neem), is ook afgekeur.

Die kongres was ná ’n hele reeks hoëprofiel-bedankings van vooraanstaande swart leiers wat op dié van Mmusi Maimane ná die algemene verkiesing van 2019 gevolg het en waarin die party se steun die eerste keer sedert 1994 gedaal het.

Steenhuisen se verkiesing as leier het met ’n omstrede beleidsverandering saamgeval.

Die DA verwerp nou die gebruik van “ras” om kategorieë van mense te identifiseer en te bemagtig wat histories deur apartheid benadeel is. Dit was bloot die party se jongste skuif in die langdurige getob oor hoe om benadeling op grond van ras aan te pak.

Die politiek van ‘ras’

John Steenhuisen lewer sy eerste toespraak as nuutverkose DA-leier. Foto: Verskaf

Aanvanklik aanvaar tydens Helen Zille se leierskap in ’n poging om swart steun te lok en die DA in staat te stel om te groei, is die afswering van “ras” deur die kongres as ’n terugkeer na liberale beginsels verwelkom.

Gwen Ngwenya, die party se beleidshoof, het die stap bestempel as die “verwerping van die valse tweeledige keuse tussen nierassigheid of regstelling”.

In die plek daarvan, het sy gesê, aanvaar die party ’n beleid van ekonomiese geregtigheid wat albei in werking sal stel (basies deur “ras” met kriteria oor opvoeding, maatskaplike agtergrond en inkomste te vervang).

Sedert die kongres is die DA wyd van “rasse-ontkenning” beskuldig.

’n Fundamentele teenstelling kom ter sprake in pogings om benadeling van die apartheidsera reg te stel deur die 'rassedenke' van die apartheidsera te gebruik.

Steven Friedman, professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg, het byvoorbeeld gesê die Amerikaanse verkiesings se boodskap aan Suid-Afrika was dat dit onmoontlik is om nierassigheid moontlik te maak as ras en rassisme ’n werklikheid is.

Hy het dit nie uitdruklik só gestel nie, maar dit was duidelik ’n hou wat in die DA se rigting gemik is.

Tog sal Friedman straks onder diegene tel wat heel tevrede daarmee is om te argumenteer dat kriteria van “klas” eerder as “ras” gebruik moet word wanneer dit by die toelating van studente kom,

In ’n neutedop, soos die sosioloog Gerry Maré in sy boek Declassified aantoon, kom ’n fundamentele teenstelling ter sprake in pogings om benadeling van die apartheidsera reg te stel deur die “rassedenke” van die apartheidsera te gebruik.

Dit is ’n teenstelling waarmee progressiewes steeds worstel en die DA kan in alle billikheid nie gekritiseer word as hy dit in terme van beleid te bowe wil probeer kom nie.

Die DA se dilemma

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad. Foto: Sarel van der Walt

Kritici sal dit waarskynlik aanvaar, maar dan byvoeg: Die DA het sy beleid om die verkeerde redes verander. Met ander woorde, hy is besig om wit rassisme in die party te besweer deur rassekriteria uit sy beleid te verwyder.

Die DA se probleem is egter dat hy nooit kan hoop om die ANC te vervang nie, hetsy op sy eie of as deel van ’n groter opposisie-koalisie, sonder om meer swart kiesers te lok nie.

Onder die leierskap van Tony Leon het hy hom as die belangrikste opposisieparty gevestig deur die Nasionale Party se kiesers te lok wat uiteindelik tot laasgenoemde se ondergang gelei het.

Tog het die DA se “veg terug”-slagspreuk van 1999 uiteraard potensiële kiesers vervreem. Dít het die party gedwing om te besef sy enigste werklike kans om te groei is deur meer swart steun te kry.

Hoewel die DA met reg kan verklaar dat hy die Suid-Afrikaanse party geword het met die grootste rassediversiteit, word hy gereeld van rassisme beskuldig.

Dít het die projek van die Zille-leierskap geword en het uiteindelik vrugte afgewerp. Die DA se steunbasis het in daaropvolgende verkiesings aangehou groei en hy het noemenswaardige steun uit die swart middelklas gekry. Dít het die platform geskep van waar Maimane die partyleier geword het.

Maar dit is nou duidelik dat die eksperiment lelik skeefgeloop het. Hoewel die DA met reg kan verklaar dat hy die Suid-Afrikaanse party geword het met die grootste rassediversiteit, word hy gereeld van rassisme beskuldig. Dit mag dalk nie billik wees nie, maar só is die politiek.

Die nadraai van die DA se onlangse woelinge is ’n klassieke Suid-Afrikaanse een: Die stigting van Action SA van Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg, wat in wese ’n swart liberale party as teenvoeter vir die “wit” een is.

Die voorspellings is dat dít swart steun uit DA-geledere sal trek sowel as uit die geledere van swart kiesers wat die ANC wil verlaat. Dít sal die DA op sy toekomstige trajek plaas wat allerweë beskou word as dié van ’n party wat in die eerste plek Suid-Afrika se rasseminderhede verteenwoordig en hom daarop toespits om sy posisie in die Wes-Kaap in die plaaslike verkiesings van 2021 te verdedig.

Onbenydenswaardige posisie

Herman Mashaba, leier van Action SA. Foto: Felix Dlangamandla

Die DA se probleem is nie een van beleid nie. Sy toewyding daaraan om rassekriteria deur “nierassige” kriteria te vervang ten einde die historiese agterstande van ’n swart bestaan te takel, is klaarblyklik opreg.

Die werklike uitdaging is die een waardeur liberalisme in Suid-Afrika se rasgestruktureerde samelewing nog altyd in die gesig gestaar is: Liberalisme kon nog nooit die beeld afskud wat dit onder swart mense het nie, naamlik dat dit ’n dekmantel vir wit belange en wit “leierskap” is.

Hoewel die DA skynbaar oor ’n ongelooflike vermoë beskik om sigself in die voet te skiet, is sy werklike dilemma hoe om uit ’n bose siklus te ontsnap.

Die narratief bestaan dat swart mense wat leierskapsposisies in die DA gehad het – soos Lindiwe Mazibuko, Patricia de Lille, Maimane en Mashaba – is almal deur ’n wit leierskapskabaal ondermyn. Die kabaal wou hulle na bewering soos marionette beheer. En nou, wil die narratief dit hê, het die party onder Steenhuisen, ordentlik soos hy mag wees, na ’n party vir wittes gelei deur wittes teruggekeer.

Hoewel die DA skynbaar oor ’n ongelooflike vermoë beskik om sigself in die voet te skiet, is sy werklike dilemma hoe om uit ’n bose siklus te ontsnap. Toe hy probeer het om swart kiesers te lok deur swartbemagtiging te steun, het hy wit kiesers aan die regterkant en klassieke liberale vervreem. En noudat hy rassekriteria laat vaar, vervreem hy moontlike steun in die swart middelklas.

Die DA bevind hom in ’n onbenydenswaardige politieke posisie waaruit geen duidelike ontsnaproete is nie.

Roger Southall is ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Anc  |  Da  |  Mmusi Maimane  |  Herman Mashaba  |  Gwen Ngwenya  |  Helen Zille  |  John Steenhuisen  |  Mbali Ntuli  |  Apartheid  |  Ras  |  Tussenverkiesings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.