Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uittreksel: Agter elke Boer

Afrikanervroue was die land se oorspronklike feministe – en had soms veel meer durf as hul mans, skryf Hermann Giliomee in
’n uittreksel uit sy nuwe boek.

Vroue laai voorlaaiers tydens die Groot Trek – maar dit is geen prentjie van onderdanigheid nie. Foto’s: Getty Images

Die vroue op die Groot Trek het hul politieke teenwoordigheid in 1838 laat geld nadat die Britte Port Natal (wat later Durban geword het), waar sommige van die Voortrekkers hulself gevestig het, vir ’n kort tydjie geannekseer het.

Die Britse bevelvoerder, maj. Samuel Charters, het geskryf dat daar onder hulle gesinne was wat gemaklik gelewe het, maar dat hulle nou gereduseer is tot “armoede en ellende”.

Hulle het egter die swaarkry met “wonderlike fermheid” verduur en, met enkele uitsonderings, geen behoefte gehad om terug te keer na die kolonie nie.

“Hulle het geglo dat hulle stief en onregverdig behandel is deur die Britse koloniale regering en al wat hulle nou begeer het is om op hul eie gelaat te word en nie meer gepla te word nie.”

’n Afkeer van Engelse bewind was veral sterk onder die vroue. Charters voeg by: “As een van die mans begin twyfel of moed verloor, het die vroue hulle aangespoor . . . en die gees van weerstand lewend gehou.”

‘Die vroue het mans verag wat te maklik oorgegee het.’

In 1839 het hierdie trekkers die republiek Natalia uitgeroep onder die regering van ’n eie Volksraad. In 1842 het die Kaapse regering egter ’n mag van 250 man na Port Natal gestuur om die gebied te annekseer. In hul geledere was Henry Cloete, ’n verengelste Kaapse Afrikaner, wat gestuur is as kommissaris met die taak om die trekkers met die idee van ’n Britse besetting te versoen.

Hy het aangekondig dat die Volksraad toegelaat sou word om die binnelandse distrikte te administreer totdat die Britse regering ’n finale besluit oor die status van die gebied geneem het. In Julie 1842 nooi die Volksraad Cloete na Pietermaritzburg om met hom te beraadslaag terwyl ’n vyandige skare buite die gebou bymekaargekom het.

Die mans het uiteindelik besluit om toe te gee aan Britse eise en hulle neer te lê by Britse gesag soos deur Cloete uiteengesit.

Ná afloop van die vergadering het ’n afvaardiging van vroue – onder leiding van die gedugte Susanna Smit – egter vir Cloete gekonfronteer en aan ’n vuurdoop onderwerp.

Cloete het later geskryf dat die vroue hul “vaste voorneme” uitgespreek het om nooit die knie voor Britse gesag te buig nie. In plaas daarvan was hulle bereid om “kaalvoet oor die Draaksberge te loop, om te sterf vir hulle vryheid omdat die dood vir hul meer aanvaarbaar was as die verlies van vryheid”.

Hulle was ook woedend vir hul mans en het aan Cloete gesê dat as gevolg van die feit dat hulle in die gevegte van die verlede sy aan sy saam met hul eggenotes geveg het, “hulle ’n stem beloof is in alle aangeleenthede rakende die stand van die land”.

’n Woedende Boervrou tydens die Anglo-Boereoorlog.

Desnieteenstaande het ’n Volksraad wat net uit mans bestaan hulle nou aan Britse gesag onderwerp, ondanks die vroueprotes.

Cloete het die woede van die vroue ontstellend gevind en gemeen dat dit “ ’n skande vir hul mans is dat hulle hulle (hul vroue) so ’n mate van vryheid toelaat”.

Dit is duidelik dat iets buitengewoon gebeur het. Gedurende die 19de eeu is vroue aan albei kante van die Atlantiese Oseaan die stemreg ontsê op grond van die feit dat hulle geen eiendom besit of swak opgevoed was of weens ’n veronderstelde gebrek aan aanleg vir sake van openbare belang. Dit was eers in 1893 dat Nieu-Seeland die eerste land of koloniale staat geword het om die stemreg na vroue uit te brei. Dit is teen hierdie agtergrond dat Henry Cloete se reaksie verstaan moet word.

Vroue was ook die kern van die vroeë uitdrukkings van Afrikanernasionalisme.

Die eerste was die opstand van die Transvaalse Afrikaners teen die Britse besetting van hul land in 1880-’81 wat uiteindelik gelei het tot die Britte se verpletterende nederlaag by Majuba en hul onttrekking aan die Hoëveld.

Die Engelse skrywer Olive Schreiner het die oorlog in die vroeë 1890’s as grotendeels ’n “vroue-oorlog” beskryf. Dit was vroue wat hul mans aangespoor het om die Britse optrede aktief teen te staan.

“Selfs in die Kolonie,” skryf Schreiner, “honderde myle (van die Transvaal) het Afrikanervroue hul seuns en mans gesmeek om hul noordelike volksgenote te hulp te snel terwyl hul krygsywer dikwels dié van hul mans oortref het.”

‘Vir baie vroue en kinders was die kampe ’n vreesaanjaende ervaring . . .’

In 1890 het Schreiner ook haar beroemde beeld van die Boervrou geskilder toe sy opgemerk het dat die “Women’s Movement”, soos sy na feminisme verwys het, niks meer begeer as vir die vrou om as gelyke langs die man te staan as sy volle medewerker nie.

Die Boervroue het dit reeds bereik, het sy geskryf.

Met verwysing na die bepalings van die Romeins-Hollandse reg het sy gesê: “Die fiksie van algemene besit van alle materiële goedere. . . is nie ’n fiksie nie, maar ’n werklikheid onder die Boere, en met reg, aangesien die vrou netsoveel soos die man bydra tot die huishouding se bates.

“Op die plaas was al die huishoudelike reëlings haar domein – slag, kook, klere maak, die opvoeding van kinders en hulle onderrig in die Christelike geloof en Boeretradisies.”

Schreiner kom tot die gevolgtrekking dat die Boervrou “volle besit behou van die helfte van die arbeid van haar ras”.

Sy het geen begeerte om deel te wees van die eentonige “dreun van die samelewing” soos vele vroue van die Europese hoër klasse nie en ’n parasitiese lewe te lei waar sy “gevoed, geklee en onderhou word deur die arbeid van ander vir die blote uitvoering van haar dierlike geslagsfunksie nie” terwyl sy ander mense huur om haar kinders groot te maak.

Daar was geen verstandelike kloof tussen die Boervrou en haar man nie, het Schreiner afgesluit. Sy geniet ’n posisie van “intellektuele gelykheid met haar manlike genote, ’n toedrag van sake wat blyk die hoogste ideaal van die geslagswêreld te wees”.

Die vrou het dus nie net ’n gelyke deel van materiële goedere na die gedeelde huishouding gebring nie, maar (en Schreiner het dit as oneindig meer belangrik beskou) sy het ook ’n gelyke kultuur na die algemene sosiale wisselwerking gebring. Uit haar oogpunt was daar min samelewings waar die “pligte en genietinge van die lewe so gelyk tussen die geslagte verdeel is” as in die Boeresamelewing. Die Boervrou het selfs sy aan sy met haar man gestaan en saam met hom die dood in die oë gestaar teen hul vyande. Sy merk op dat dit die Boervrou is “wat steeds vandag (in die 1890’s) ’n bepalende invloed op vrede en oorlog het”.

Tien jaar nadat sy hierdie woorde geskryf het, het Boervroue inderdaad ’n groot rol gespeel in die bittereinder-fase van die Anglo-Boereoorlog.

Die republikeinse magte het in die eerste jaar van die oorlog rampspoedige nederlae gely en teen Junie 1900 was die Transvaalse burgers gereed om oor te gee. In sy verwerping van hierdie opsie het pres. M.T. Steyn van die Republiek van die Oranje-Vrystaat die idee van ’n oorlog tot die bitter einde gepropageer. So ook baie van die Boervroue in die twee republieke.

Die reuse-lyding en ontbering wat die vroue bereid was om te verduur, het sowel hul mans as die Britte verstom.

Hulle het in die berge, woude of tussen riete in riviere weggekruip terwyl hulle oor die land heen in sogenaamde vrouelaers rondgetrek het in ’n poging om van die Britte te ontsnap en te verhoed dat hulle na die konsentrasiekampe gestuur word. Die meeste het daarop aangedring dat hul mans en seuns moes aanhou veg, selfs tot die dood toe. Soldate wat hul huise aan die brand gesteek het, het hulle nie ondergekry nie. Sommige het openlik verklaar dat hulle verkies dat hul huise afgebrand word eerder as dat hul mans oorgee. ’n Britse offisier het ná twee maande se afbrand van plase opgemerk dat, sonder uitsondering, die vroue volgehou het dat hulle nie sal oorgee nie.

Reeds so vroeg as Maart 1900 het die historikus G.M. Theal, wat baie oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis geskryf het, gewaarsku dat Eurosentriese geslagstereotipes nie op Suid-Afrika van toepassing is nie: “Die vroue is die felste voorstanders van oorlog tot die bitter einde. Ter wille van onafhanklikheid sal die Boervroue mans en seun ná seun stuur om tot die laaste toe te veg,” het hy gewaarsku.

Genl. Horatio Kitchener, opperbevelvoerder van die Britse leër, skryf net nadat hy in November 1900 sy pos aanvaar het: “Daar is geen twyfel dat die vroue die oorlog aan die gang hou en veel meer bitter is as die mans nie.”

Die vroue het mans verag wat te maklik oorgegee het. Nadat die Britte in die middel van 1900 die Oranje-Vrystaat oorrompel het, merk ’n Boervrou op: “[Ons] dink dat die mans op kommando moet wees in plaas daarvan om gedwee hul wapens te oorhandig vir ’n Engelse pas.”

In een kamp het die Britse owerhede dit oorweeg om hendsoppers en vroue van mekaar te skei. ’n Britse beampte skryf: “Die gevoelens tussen die gesinne van mans wat nog steeds op kommando is en diegene wat oorgegee het, blyk baie bitter te wees. . . en die mans van laasgenoemde moet baie beledigings verduur. . . van vroue wat hulle uitkryt as slawe van die Britte en ‘hensoppers’.

In nog ’n kamp skryf ’n hensopper dat hy “genadeloos agtervolg word deur die anti-Britse vrouegeslag”.

J.R. MacDonald, ’n Britse besoeker, kom tot die gevolgtrekking: “Dit was die vrouw wat die oorlog so lank laat duur het. Dit was in haar hart wat die patriotisme met ’n allesverterende vlam gebrand het. Dit is sy wat terugkeer, wat niks vergewe en niks vergeet nie.”

Vir baie vroue en kinders was die kampe ’n vreesaanjaende ervaring wat hulle bygebly het vir die res van hul lewens. Toe ’n Engelse vrou Boerekinders in die kamp van Maria Fischer vermaan om ’n gees van vergifnis en liefde vir die vyand te ontwikkel, het Fischer grimmig geantwoord: “Dit is volgens my nie net onmoontlik nie, maar ook ongewens.”

Die nederlaag het ook daartoe bygedra dat vroue vasberade aan hul kultuur vasgeklou het. Verontwaardiging oor die Britse oorlogsmetodes het ’n vrou in Bloemfontein hardop laat wonder of sy moet aanhou om haar kinders Engels te laat praat.

Nadat sy nagedink het oor wat haar van die Engelse onderskei, het nog ’n Vrystaatse vrou tot die gevolgtrekking gekom: republikanisme, geskiedenis, die taal en ’n “haat vir die [Britse] ras”.

In die vroeë stadiums van die oorlog het die Britse hoë kommissaris, Alfred Milner, opgemerk dat die Boere hul eiendom liewer het as wat hulle die Britte haat en nooit vir ’n politieke stelsel sal veg nie; maar die bittereinder-fase van die oorlog het die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verander. Op die spel was die karakter van die Boerevolk, hul republikeinse strewe en hul bereidwilligheid om die hoogste prys vir hul vryheid te betaal.

Dit was die dapperheid van die bittereinders en veral die grimmige vas-beradenheid van die Afrikanervroue om te volhard wat die Boere uiteindelik wêreldwye respek as vryheidsvegters besorg het.

Sowel genl. Jan Smuts as Kitchener het opgemerk dat hierdie uitgangspunt ’n belangrike verskil gemaak het. Dit het, soos Smuts daarop gewys het, beteken dat “elke kind wat in Suid-Afrika gebore sal word ’n trotse selfrespek en ’n meer trotse houding voor die nasies van die wêreld sal hê”.

Die Vrouemonument wat buite Bloemfontein opgerig is, is feitlik uniek in die wêreld omdat dit hulde bring aan die opoffering van vroue in die oorlog, veral die sterftes in die konsentrasiekampe. Dit is veral onvanpas om die monument te sien as ’n simbool van vroulike onderdanigheid. Dit was eerder die manifestasie van ’n diepe skuld van die Boereleiers wat dit ná die oorlog opgerig het ná konsultasie met vroue soos Tibbie Steyn, die vrou van pres. Steyn.

Die Boervroue se weerstand tydens die bittereinder-fase van die oorlog is so buitengewoon dat ’n soeke na ’n voldoende verduideliking hiervoor sal voortduur.

Hier kan mens net die opmerking maak dat dit nie verstaan kan word nie sonder om buitengewone gewig te verleen aan die besondere posisie wat die Afrikanervrou in die huishouding beklee het as gevolg van die Romeins-Hollandse reg, hul vennootskap met hul mans in die bestuur van die plase, en die ontwikkeling van die Boere as wat Smuts genoem het “intens huishoudelike mense”.

Die skending van hul huishoudelike ruimte en die opsetlike vernietiging van die plase het dit vir vroue onmoontlik gemaak om ’n nederlaag en ondergeskiktheid aan die Britse heerskappy te bedink.

Die politieke aktivisme van vroue het nie bedaar nadat die vredesverdrag onderteken is nie. Toe die Unie in 1910 gestig is, het die nasionalistiese leier J.B.M. (Barry) Hertzog die groot aantal Afrikanervroue in sy gehore opgemerk. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle vasstaan in die handhawing van “hul taal, lewe, sedes en tradisies”. Hulle voel dit meer as die mans, het hy bygevoeg.

Ná die rebellie van 1914–’15 was dit ook Afrikanervroue wat geprotesteer het teen die tronkstraf wat opgelê is aan genl. Christiaan de Wet en die ander leiers van die rebellie en die strawwe boetes wat aan baie van hul volgelinge opgelê is. Prominente Afrikanervroue het die protes geïnisieer, onder wie Hendrina Joubert, die vrou van kmdt.genl. Piet Joubert, en Nettie Eloff, ’n kleinkind van pres. Paul Kruger. Hulle het op alle “moeders en susters” ’n beroep gedoen om op Kerkplein in Pretoria bymekaar te kom. Sowat 4 000 vroue het na die Uniegebou opgeruk waar hulle ’n versoekskrif aan Lord Buxton, die goewerneur-generaal, oorhandig het.

Ná die rebellie het Hertzog verklaar: “Miskien was dit (die vroue) die grootste rebelle.” En dan sluit hy af met die waarskuwing: “As ’n mens die stem van Afrikanervroue ignoreer, sal jy die land in die politieke hel laat beland.”

* Dié artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit Hermann Giliomee se nuwe boek Maverick Africans: The Shaping of the Afrikaners. Lees ook ’n resensie van die boek hier.

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Feminisme  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.