Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uittreksel: As jy hoog vlieg sonder brieke

Dudu Myeni het g’n voorneme gehad om by die SAL-reëls te hou nie, skryf Cynthia Stimpel.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, getuig in Februarie in die SAL-saak in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: PHILL MAGAKOE

‘Ek het nie eens genoeg uitrustings om aan te trek nie,” het Dudu Myeni, die SAL-voorsitter, in die middel van 2014 voor ’n verstomde gehoor van die sogenaamde top-100 bestuurders van die Suid-Afrikaanse Lugdiens gekla.

Myeni was besig om ’n punt te probeer maak oor die hoeveelheid direksievergaderings wat gehou moes word om probleme in die SAL op te los. Sy het te kenne gegee dat ons nie ons werk doen nie.

“Ek het pas my 16de direksievergadering gehad,” het sy aan die senior personeel in die ouditorium van Airways Park in Kempton Park gesê.

“Normaalweg het mens net vier tot ses direksievergaderings per jaar. Ons het soveel vergaderings, ons het soveel kwessies hier, en as bestuur moet jy meer bekwaam wees om die besigheid te bestuur.”

Myeni was sedert 2012 waarnemende voorsitter van die direksie, nadat sy vir die eerste keer in 2009 as direksielid aangestel is. Myeni het daardie dag ’n kleurvolle tradisionele uitrusting met ’n hooftooisel aangehad. Ek dink dit was die ligpers een.

Haar verwysing na haar klerekas kon ’n grap gewees het, maar ek weet nie. Ek was verstom. Jy maak nie so ’n grap met mense wat jy nie ken en dan nog senior professionele mense in die organisasie wat jy veronderstel is om te lei nie.

Ek het gedink: Wie sê dit en waarom sou jy dit op so ’n manier sê?

                                                                                       ***

Die Airbus-transaksie het sy ontstaan in 2002 gehad.

Destyds was die plan dat die SAL 15 nuwe A320-200-vliegtuie sou koop.

In 2009 het die SAL die Franse maatskappy genader en hulle gevra om die vorige ooreenkoms te hersien.

Die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 was voor die deur en daar was geen kontant beskikbaar om die ooreenkoms deur te voer nie.

In Oktober 2009 is daar toe ’n nuwe ooreenkoms bereik dat die SAL sy bestelling van 15 tot 20 sou verhoog. Airbus sou op hul beurt alle betalings voor aflewering opskort.

Die eerste tien vliegtuie sou in 2013 afgelewer word, wat deur die maatskappy Pembroke gefinansier sou word. Die direksiebesluit het bekend geword as die Pembroke-resolusie. Dit is goedgekeur deur die departement van openbare ondernemings en daarna deur die nasionale tesourie.

                                                                                  ***

Teen 2013 (nadat Myeni intussen vir Cheryl Carolus as direksievoorsitter vervang het) was die Airbus-ooreenkoms nog op die tafel. Die direksie het die Pembroke-resolusie op 27 Mei 2013 goedgekeur.

Ongeveer ’n week later, op 2 Junie 2013, het Myeni egter die maatskappysekretaris, Sandile Dlamini, beveel om die notule van die direksievergadering te verander om te weerspieël dat die besluit geneem is om slegs twee vliegtuie in plaas van tien te koop. Die oorblywende agt sou via ’n ander maatskappy gehuur word.

Dlamini het geweier. Maar sy weiering het Myeni nie gekeer nie. In Julie 2013 vra sy die nie-uitvoerende direkteure om die Pembroke-resolusie te herroep. Sommige van hulle was baie ontsteld en almal behalwe een lid (Yakhe Kwinana) het geweier om haar versoek te aanvaar.

Wolf Meyer, wat destyds finansiële hoof was, het akkurate aantekeninge gehou, waarna hy op daardie vergadering verwys het om te bewys dat Myeni se verklaring oor twee vliegtuie onwaar was.

In my ondervinding was Meyer ’n regverdige persoon. Hy was nie streng of bars nie, maar ’n saaklike ou.

Ek het van hom gehou. Sy werkomgewing was meer ontspanne as dié onder die vorige finansiële hoof, maar dinge was gefokus en ’n mens het geweet dat hy integriteit het.

Droom word ’n nagmerrie
Toe Cynthia Stimpel as groep-tesourier van die Suid-Afrikaanse Lugdiens aangestel is, het sy gedink sy het haar droomwerk gekry en dat sy vir baie jare by die SAL sou werk. Maar terwyl sy op ’n pelgrimstog in Frankryk in 2016 was, het sy ’n boodskap van ’n kollega gekry dat ’n korrupte ooreenkoms tussen die SAL en BNP Capital afgeteken is – ’n ooreenkoms waarteen sy streng gewaarsku het. Wetende dat sy haar werk in gevaar stel het sy die nasionale tesourie ingelig en só die belastingbetaler R256 miljoen gespaar. Sy het egter ’n hoë prys betaal: Sy het haar werk, haar inkomste en haar reputasie verloor. Maar die stryd teen Myeni en haar medestaatskapers was ver van oor. Sy het geweet dat sy steeds Myeni in die hof sou moes ontmoet en teen haar voor die Zondo-kommissie getuig.

Die direksie wou Myeni dissiplineer vir haar poging om die notule te verander en vir haar pogings om die direksie se Pembroke-resolusie te ondermyn en het daarom ’n spesiale vergadering belê om die saak te bespreek. Maar weer het sy net nie opgedaag vir die vergadering nie.

Uiteindelik, in Maart 2015, het die direksie besluit om vyf vliegtuie in plaas van tien te bestel, omdat die SAL in daardie stadium ’n werklike kontantkrisis ondervind het en dit al was wat die nasionale lugdiens kon bekostig.

Ná verdere onderhandelinge tussen die SAL en Airbus het hulle ingestem om vyf nuwegenerasie-A330-300’s vir 12 jaar aan ons te verhuur in plaas daarvan dat die SAL die oorspronklike tien vliegtuie sou koop.

Dit het bekend geword as die Airbus A320-ruiltransaksie. Die vorige ooreenkoms van tien A320-vliegtuie sou gekanselleer word. Ons sal ook die geld wat ons reeds vir Airbus betaal het om A320’s te koop, terugkry. Dit sou beteken het dat ons vyf nuwegenerasie-vliegtuie by ons vloot kon voeg en ongeveer R1,5 miljard kontant terugkry.

Die voorstel het deur die gewone kanale gegaan – van die direksie via die departement van openbare ondernemings tot die tesourie. Die nuwe Airbus-ruiltransaksie is uiteindelik op 31 Maart 2015 deur die SAL-direksie goedgekeur.

Die Airbus-ruiltransaksie is vervolgens op 30 Julie 2015 “voorwaardelik” goedgekeur en daarna op 11 September 2015 verder “onvoorwaardelik” goedgekeur deur die minister van finansies, Nhlanhla Nene.

Maar weer het Myeni die vlieg in die salf geword.

Sy het geweier om die dokumente vir die uitvoering van dié transaksie te onderteken. In plaas daarvan het sy net nie vir direksievergaderings opgedaag nie.

Hierdie is ’n geredigeerde uittreksel uit die boek Hijackers on Board: How One Courageous Whistleblower Fought Against the Capture of SAA deur Cynthia Stimpel. Dit word deur Tafelberg uitgegee.

Intussen het sy haar eie brief aan Airbus geskryf en gevra dat die ruiltransaksie met nog drie vliegtuie tot slegs twee verminder word waarby ’n ander leningsmaatskappy betrokke sou wees.

Hiervan het Meyer destyds niks geweet nie. Ook nie al die lede van die direksie nie.

Dit het Myeni egter nie gekeer nie.

Sy het ’n art. 54(2)-aansoek ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur ingedien wat vra vir ’n wysiging van die goedkeuring van die minister van die ruil­ooreenkoms en gevra dat Airbus slegs twee vliegtuie moet voorsien en dat nog drie deur ’n plaaslike verhuringsmaatskappy verkry moet word.

Nedbank het haar aansoek gesteun deur ’n brief waarvoor hulle nooit versoek is nie, wat lui dat die huurtransaksie met ’n plaaslike maatskappy goeie finansiële sin maak.

Dié dokument is opgestel deur Maso­tsha Mngadi, uitvoerende bestuurder van kliëntedekking van Nedbank, wie se naam later weer in hierdie verhaal sal opduik.

Volgens hom en Myeni sou ’n ooreenkoms met ’n swart Suid-Afrikaanse firma groot besparings meeding aangesien dit in rand betaal kan word en nie in Amerikaanse dollar, soos die Airbus-ooreenkoms nie. Daar sou dus geen valutarisiko wees nie, omdat die skommeling in die wisselkoerse kan beteken dat die prys wat ons in euro betaal drasties kan verander.

Ek het egter geweet dat enige plaaslike verhuringsmaatskappy, die nuwe middelman, in elk geval aan veranderinge in die wisselkoers onderwerp sou wees omdat alle vliegtuie in Amerikaanse dollar gekoop word – die standaard- internasionale geldeenheid. Volgens my sou die ooreenkoms met hulle nie die “valutarisiko” verbonde aan so ’n transaksie met ’n Franse maatskappy ongedaan maak nie.

Intussen het ek my eie kommer gehad oor die betrokkenheid van die direksie in die finansiering van vliegtuie.

In November 2015 het ek ’n e-pos van die nasionale tesourie ontvang. Hulle het Myeni se aansoek ontvang en die water getoets deur ondersoek in te stel of ons departement bewus was van ’n plan om die ruiltransaksie te wysig, omdat hulle bekommerd is oor die blootstelling aan valutarisiko’s.

Ek het geantwoord dat ek nie daarvan bewus was nie en dat die voorgestelde plan beslis ook ’n valutarisiko-blootstelling sou hê. So ’n plaaslike swart verhuringsmaatskappy sou steeds alle wisselkoersveranderings aan ons deurgee.

Die maatskappy wat Myeni aan die SAL voorgestel het, was Quartile Capital, ’n beleggingsgroep wat in Illovo, Johannesburg, gevestig was met die nie-uitvoerende ondervoorsitter van Harmony Gold, Modise Motloba, as uitvoerende hoof.

Ek het na die dokumente wat die tesourie aan my gestuur het vanuit die perspektief van ’n tesourier gekyk. Waarom het Myeni die tesourie-afdeling omseil, het ek gewonder, as daar ’n valutarisiko is. Ek moes tog daaroor ingelig word.

Tweedens sal dit natuurlik ons ??kontantvloei beïnvloed, maar sy het blykbaar ook nie die finansiële afdeling betrek nie.

Ek het ’n lid van die vlootbestuurskomitee gebel en hulle oor die voorstel gevra, maar die lid het my meegedeel dat ook hulle omseil is.

Onder normale omstandighede sou so ’n plan by hulle begin het.

“Dit is wat ons wil doen,” sou hulle gesê het, “en kan jy ons terugvoering gee oor enige gepaardgaande risiko’s?”

Die vlootkomitee sou die aansoeke voorberei en na die direksie vir goedkeuring neem. Die direksie sou die planne dan na die nasionale tesourie neem.

Dit was vir my duidelik dat Myeni nie deur normale kanale wou werk nie en alles agter die skerms probeer doen.

Ek het die nasionale tesourie dienooreenkomstig ingelig en ek het die inligting ook aan een van die vlieëniers, William Rooken-Smith, gegee.

Die nasionale tesourie het duidelik ook hul huiswerk gedoen, want in Desember 2015 het hulle aangekondig dat Nene Myeni se versoek om ’n hersiene ruiltransaksie van die hand gewys het.

Sy “straf” omdat hy geweier het om na Myeni se pype te dans, sou vinnig kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.