Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uittreksel: DA se wals met woke

Helen Zille vertel hoe sy oplaas uitgevind het wat swart kiesers van haar omstrede twiets gedink het.

Lank voordat die poppe begin dans het: Helen Zille
Lank voordat die poppe begin dans het: Helen Zille in Maart 2014 by die bekendstelling van die DA se verkiesings­manifes in Johannesburg. Foto: Denzil Maregele

Gedurende my tien jaar as premier van die Wes-Kaap was ek bevoorreg genoeg om saam met regerings- en sakeverteenwoordigers verskeie reise na die buiteland te onderneem. Die waardevolste aspek van hierdie reise was die lesse wat ons in ander lande geleer het.

Vroeg in Maart 2017, ná 18 maande se chaos by Suid-Afrikaanse tersiêre instellings op grond van eise vir “dekolonisering”, was ek toevallig op pad na Japan en Singapoer.

                                                                             ***

Wanneer ek van sulke reise teruggekom het, het ek altyd ’n bydrae gelewer tot ’n verslag aan ons regering, sowel as artikels met ’n meer populêre aanslag. Omdat ek in daardie stadium aktief was op sosiale media, met byna ’n miljoen Twitter-aanhangers, het ek ook my insigte met hulle gedeel, wetende dat die meerderheid gebruikers van sosiale media nie daarin sou slaag om ’n ernstige artikel oor geopolitieke lesse vir Suid-Afrika te lees nie.

Die feit dat ongeveer die helfte van my volgelinge vals rekenings was, het ek in daardie stadium nie besef nie. Ek het regtig gedink ek het amper ’n miljoen volgelinge!

                                                                             ***

Destyds het ek nog nie van die term wokeness gehoor nie. Maar as ek terugkyk, weet ek nou presies wat my oortreding was: Ek het ’n woke-narratief met my “gewelddadige taalgebruik” ontwrig.

Ons is nie in staat tot volwasse gesprekke nie.

My reeks twiets op die oggend van 16 Maart 2017 (toe Twitter nog net 140 karakters per boodskap toegelaat het), lui: “Baie om van Singapoer te leer, net so lank as SA gekoloniseer, en onder wrede besetting in die Tweede Wêreldoorlog. Kan ons die lesse in ons demokrasie toepas?”;

“Singapoer het geen natuurlike hulpbronne gehad nie en was 50 jaar gelede armer as die meeste Afrikalande. Nou sweef hulle. Wat is die lesse?”;

“Ek dink die lesse van Singapoer is: 1) meritokrasie; 2) multikulturalisme; 3) werketiek; 4) oop vir globalisering; 5) Engels; 6) toekomsgerigtheid.”; en

“Ander redes vir die sukses van Singapoer: Ouers neem verantwoordelikheid vir kinders en bou voort op waardevolle aspekte van koloniale erfenis.”

Dit was die gedistilleerde opsomming van wat ek geleer het, in die Twitter-formaat gepas en in vier twiets oorgedra.

Natuurlik het dit die gewone leër van trolle en t(w)iranne geaktiveer wat gemeen het dat Suid-Afrika beter daaraan toe sou wees as alle wit mense die land verlaat – en sulke nonsens.

Ek het my skouers opgetrek. Ek moes dit daar gelos het. My belangrikste fout is altyd om aan te neem dat mense ten diepste redelik, regverdig en rasioneel is. En dat elke persoon ’n antwoord waardig is.

Dus het ek geantwoord: “Vir diegene wat beweer dat die nalatenskap van kolonialisme slégs negatief is, dink aan ons onafhanklike regbank, vervoerinfrastruktuur, water in pype ens.”

Dit was die twiet wat byna my politieke lewe beëindig het. As ek nou kyk na die oorspronklike sien ek dat net 1 000 mense daarop gereageer het (’n kombinasie van ondersteuning en kritiek), 464 was hertwiets en 500 likes.

Met ’n miljoen volgelinge was dit eintlik ’n nie-gebeurtenis. Behalwe dat Eusebius McKaiser en sy steunbasis in die DA daarin geslaag het om dit in Hirosjima te verander.

Die eerste keer dat ek besef het ’n stadige-aksie-kernontploffing was aan die gang was, was toe Geordin Hill-Lewis, Mmusi Maimane se stafhoof, my gebel het terwyl ons nog op die aanloopbaan was op die laaste deel van ons reis van Johannesburg na Kaapstad. Ek kon onmiddellik die irritasie in sy stem hoor. “Maak net verskoning,” het hy gesê. “Maak verskoning en onttrek.”

Waarvoor, wou ek weet. Ek was regtig in die war.

“Jou twiet,” het hy ontsteld gesê.

“Watter een?” wou ek weet.

“Die een oor die nalatenskap van kolonialisme wat nie net negatief is nie,” het hy geantwoord.

“Wat?” wou ek in ongeloof weet.

Geordin het verduidelik dat DA-parlementslede besig was met hul weeklikse Donderdag-koukusvergadering toe hul Twitter-rekening begin borrel en die woke-onderstromings in die DA se eie koukus begin kook.

“Daar is absoluut niks verkeerd met wat ek gesê het nie. Ek het nie kolonialisme verdedig of geregverdig nie. Ek het net gesê die nalatenskap daarvan is nie net negatief nie. Dit is wat ek in Singapoer geleer het, en ek het dit in daardie konteks gestel. Om dit op ’n ander manier te interpreteer is suiwer verwringing en manipulasie. Dit is ’n poging om ’n ongemaklike gesprek te stuit voordat dit begin.”

My groot sonde was om regverdig te wen.

Teen daardie tyd moes ons aan boord gaan en ek kon nie verder praat nie. Geordin ook nie.

“Asseblief, vra net verskoning,” het hy herhaal. “Mmusi is onder druk en jy moet hom help om dit te hanteer.”

“Dit is heeltemal belaglik,” het ek gesê voordat ek afgelui het. “Kan ons dan nog volwasse gesprekke in Suid-Afrika voer?”

Dit was natuurlik ’n retoriese vraag.

Ek het geweet ons kan nie. Ons is fundamenteel nie daartoe in staat nie.

                                                                                    ***

So, voordat ek op die vliegtuig geklim het, het ek my eerste fout gemaak deur te twiet: “Ek vra onvoorwaardelik verskoning vir ’n twiet wat moontlik voorgekom het as ’n verdediging van kolonialisme. Dit was nie.”

Dit was ’n fout omdat ek uit talle soortgelyke voorvalle geleer het om verskoning te vra in die aangesig van ’n bloeddorstige gepeupel terwyl jy niks verkeerd gedoen het nie, maak net die gat waarin jy is dieper.

Afgesien van my verskoning was daar nog ’n gebeurtenis in die loop van daardie week wat die trajek verander het waarop my twiet my geplaas het.

Dit was ook die sperdatum vir my gereelde rubriek in Daily Maverick. Die redakteur, Branko Brkic, en ek was dit eens daar was geen ander onderwerp waaroor ek dié week sou kon skryf nie as die ontsteltenis wat ontketen is deur my twiet.

Ek het die artikel afgesluit met die volgende waarneming: “Die werklike gevaar is dat die DA in sy strewe na stemme elke beginsel, mite en gesukkel van Afrika-ras-nasionalistiese propaganda sal sluk, insluitende die verdagmaking van minderhede, populistiese mobilisering en politieke beskerming. Dan sal die institusionalisering van korrupsie net ’n kwessie van tyd wees.

“As dit sou gebeur, sal dit irrelevant wees of ons verkiesings wen of verloor, want ons sal nie meer ’n alternatief bied nie. Daarom is hierdie debatte nie ’n afleiding nie. Dit is noodsaaklik om hulle te voer.”

Ek het later verneem daardie laaste paragrawe van my artikel – opreg bedoel en diep gevoel – is as ’n oorlogsverklaring deur die DA-leierskap beskou. Paul Boughey (die DA se uitvoerende hoof), Jonathan Moakes (die hoofstrateeg) en James Selfe (voorsitter van die federale raad) het besluit ek moes gaan. Mmusi was, soos altyd, op die heining. Geordin en Gavin Davis het probeer om die toenemende konflik te voorkom. Hulle het geweet ek is in beginsel bereid om die saak tot in die konstitusionele hof te beveg. En hulle wou ’n uitgerekte en baie openbare politieke uitval voorkom.

Ek wou die DA tot sy sinne laat kom.

Ons drie wou die beste vir die party hê, maar ons het uiteenlopende weë gevolg in ’n politieke labirint en van verskillende uitkykpunte. Die kwessie het bene gekry en weke geduur. Elke rubriekskrywer en noch schlepper stapel in behalwe, interessant genoeg, die ANC-leiers. Hulle het geen woord gesê nie. Miskien het hulle gedink ek het ’n noodsaaklike punt te midde van die vegparty oor “dekolonisering” gemaak. Of miskien laat hulle Bell Pottinger maar hul werk vir hulle doen. Nietemin, die DA-leiers wou my uit hê. Maar as hulle gedink het ek gaan opgee, was hulle verkeerd. Met die toepassing van Newton se eerste wet het ek toegesien dat daar vir elke irrasionele aanval ’n gelyke en teenoorgestelde reaksie was waarin ek my saak so ontevrede moontlik kon stel.

                                                                               ***

Heel voorspelbaar het dit geen indruk op die DA-leiers gemaak nie. Hulle het my uit die party geskors sonder om die grondwetlik omskrewe proses te volg. Om die waarheid te sê, ek het die nuus die eerste keer oor my motorradio gehoor toe ek van Mitchells Plain op pad terug was huis toe nadat ek die spreker was by ’n DA-geleentheid.

Vervolgens het die DA ’n klagstaat aan my oorhandig so lank soos my arm; met die opdrag om voor die party se federale regskommissie te verskyn weens die oortreding van die DA se grondwet en sosialemediabeleid.

Ter voorbereiding van die inkwisisie het ek twee afsonderlike regsmenings gekry wat albei dieselfde advies gegee het: Jy het nie die DA se grondwet of beleid oortree nie. Jy het miskien aanstoot gegee – maar alles wat die DA ooit sê, gee iewers aanstoot. Om aanstoot te gee, is in die aard van politiek.

As die gee van aanstoot ’n oortreding in die DA word, kan dit nie meer ’n politieke party wees nie.

My regsverteenwoordigers het toe die party vir verdere besonderhede oor die klagte gevra, insluitende die meningspeilings waarop die klagte gebaseer is. Die DA was baie huiwerig om my dié “vertroulike” inligting te gee.

                                                                               ***

Die DA se regspan moes vir die party dieselfde advies gegee het oor die sterkte van hul saak, want hulle het skielik meer ontvanklik geword vir  Geordin en Gavin se advies oor hoe om die kwessie te skik voordat die konflik verder toeneem. Die twee het my kom sien.

Teen daardie tyd was die verhouding tussen ons al ietwat gespanne. Hulle het probeer om wat gelyk het na ’n onoorbrugbare kloof te oorbrug.

Ek was besig met aandete in Leeuwenhof, die Wes-Kaapse premierswoning, se swart-en-wit ge­teëlde kombuis. Ons drie onthou die gesprek verskillend, maar die kern van hul strewe was om ’n soort kompromie te vind wat ’n verdere toename in die konflik sou voorkom.

Ná die aanvanklike skermutselings het hulle tot die punt gekom: “Kyk, die DA weet hy gaan hierdie saak verloor. As jy wen, is dit die einde van Mmusi.”

“Hy het die geveg gekies, nie ek nie,” het ek teruggekap terwyl ek uie braai.

As ek nou terugkyk, is dit duidelik dat ek nie die volle omvang van die waansin besef het wat die party beetgepak het nie.

Ek het dit eers besef toe Geordin en Gavin verduidelik hierdie interne “geveg tot die dood” tussen die huidige en die voormalige leier het in ’n doelbewuste strategie ontaard.

Die doel was, volgens hulle, om ’n “katalitiese oomblik” te ontwikkel waarin Mmusi as oorwinnaar uit die stryd sou tree met my kop op ’n skinkbord om te wys dat die DA nie meer ’n “wit” party is nie. Dit sou hom in staat stel om sy onbetwiste leierskap te vestig en hom eens en vir altyd van die “marionet-etiket” te bevry.

Zille is kort hierna uit alle partybedrywighede geskors en vir ’n kort rukkie het dit gelyk of die strategie gewerk het.
Maimane se lof is deur die pers besing as dat hy vir die eerste keer teen Zille opgestaan het. Ná die party se rampspoedige vertoning in die 2019-verkiesing het ’n DA-verslag Maimane se leierskap as ’n hoofoorsaak van die krisis in die party gelys. Op 23 Oktober 2019 het hy bedank, dae nadat Zille tot federale voorsitter verkies is. As fedex-voorsitter het sy vir die eerste keer toegang verkry tot alle partydokumente oor haar twiets en wat sy ontdek het, was ontstellend.

Waar die media gedurende sy tyd as leier vir Mmusi voortdurend uitgekryt het vir ’n “marionet” en die leier van ’n “wit party”, het sy vertrek uit die DA hom onmiddellik verhef tot slagoffer wat deur die magte van witheid uitgedryf is.

Ek was die wit Mefistofeles, die listige demoon wie se groot sonde was om ’n demokratiese verkiesing op regverdige wyse en oortuigend te wen. Dis witheid vir jou!

Dit het my ’n paar maande geneem om my voete te vind in my nuwe taak, wat gepas beskryf word as die DA se “toiletskoonmaker”. En sommige van die toilette is duidelik vir ’n lang ruk nooit gespoel nie.

Sommige van die dinge wat ek uit die riool gehaal het, het nogal gestink.

Laat ek net een voorbeeld noem wat relevant is vir hierdie relaas.

Die DA het ondersoek ingestel na verskillende voorvalle en gebeure wat moontlik bygedra het tot ons teleurstellende 2019-verkiesingsuitslag. Een daarvan was my twiet oor die nalatenskap van kolonialisme.

Refiloe Nt’sekhe, wat aan die hoof van die ondersoek was, het my versoek om ’n voorlegging te doen oor my ontleding van die voorval en die nadraai daarvan. Ander partye wat by die saak betrokke was, is dieselfde geleentheid gegun.

Die belangrikste vraag wat Refiloe moes beantwoord, was die volgende: Het my twiet die DA-stemme gekos?

Dié is ’n geredigeerde uittreksel uit Zille se nuwe boek, #Stay Woke, Go Broke, uitgegee deur Obsidian.

Ná die groot opskudding wat dit veroorsaak het, het ek aanvaar dat die koste hoog sou wees, maar was geïnteresseerd om uit te vind hoe hoog. Luidens die klagstaat wat die party se federale regskommissie teen my opgestel het, het dit gelyk of ek diep skade berokken het.

Ter voorbereiding van my voorlegging het ek toegang gevra tot die DA se interne meningspeilings oor die aangeleentheid.

Met die toestemming van die regskommissie het ek ’n ontleding van die navorsing gedoen met die hulp van die DA se navorsingshoof, Johan van der Berg. Die gedetailleerde ontleding het aan die lig gebring dat byna elke bewering in die klagstaat ’n wanvoorstelling was van die meningspeilings wat die party tussen 27 Maart en 30 Maart gedoen het (sowat tien dae ná my kolonialisme-twiet).

In hierdie peilings, soos wat die DA se standaardpraktyk in die uitvoering van genuanseerde, kwantitatiewe navorsing is, is ’n aantal stellings aan respondente gestel, wat gevra is of hulle daarmee saamstem of nie. Die peiling het getoon:

* 57% van die swart kiesers het saamgestem met die stelling “die  nalatenskap van kolonialisme is nie  net negatief nie, maar ook positief”.  Met ander woorde, ’n beduidende meerderheid swart kiesers steun die bewoording van my twiet, met die toevoeging van die woord “positief” (’n beskrywing wat ek nooit gebruik het nie);

* 54% van die swart kiesers het saamgestem met die stelling dat Suid-Afrika “nie sou kon ontwikkel het sonder om gekoloniseer te word nie”. Met ander woorde, ’n meerderheid swart kiesers het eintlik verder gegaan as wat ek in my twiet gesê het, en gemeen dat Suid-Afrika nie sou kon ontwikkel sonder om gekoloniseer te word nie.

Ek het nog nooit so iets gesê nie, maar die antwoord op die vraag beklemtoon die antwoorde op die eerste, wat die betroubaarheid van die bevindings versterk; en

* Altesame 38% van die swart kiesers het gesê my twiets sal dit meer waarskynlik maak dat hulle DA stem. Dit is die buitengewoonste resultaat van almal, aangesien die meeste swart stemme wat ons nog ooit in ’n verkiesing kon trek, 6% was.
Dat 38% van swart kiesers in ’n ewekansige, gestratifiseerde steekproef sê dat my twiet hulle meer geneig sal maak om DA te stem, wys dat my twiet ’n netto positiewe impak op die stemvoorneme van kiesers gehad het.

Met ander woorde, daar was geen kwantitatiewe bewyse in die peilings tussen die datums wat op die klagstaat gespesifiseer is, wat die aanklagte staaf nie. Inteendeel. Geen wonder dat die DA nie die meningspeilings aan my regsverteenwoordigers wou gee nie.

Die les wat ons hieruit moet leer, is eenvoudig: Hoewel die wokes buitensporig baie geraas maak, praat hulle nie namens die meeste mense nie. In plaas daarvan gebruik hulle aanlyn terreur-taktiek om mense met opinies wat van hulle s’n verskil te beswadder en te “kanselleer”, om hulle van sosiale media te verjaag en uiteindelik ook hul werk te laat verloor.

Maar, soos dit ons ’n tydjie geneem het om te leer, Twitter is nie die kiesrol nie. Die DA het op die harde manier geleer dat ons stemme verloor het toe ons die woke-narratief begin volg het.

Daar was ook min twyfel, en baie duidelike kwantitatiewe bewyse, dat die DA se bewuste strategie om met my en Patricia de Lille in gevegte betrokke te raak, die party baie meer skade berokken het as enige van ons se beweerde oortredings.

Meer oor:  Helen Zille  |  Boek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.