Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uittreksel: Drie oorgelaat aan genade van rebelle

Die legendariese helikoptervlieënier Neill Ellis is in die middel 1990’s deur Executive Outcomes genader om die rebellie teen Mobutu Sese Seko in Zaïre (Demokratiese Republiek van die Kongo) te probeer onderdruk. Sy aanvanklike skeptisisme oor die projek is reg bewys toe hy en twee kollegas in Gbadolite amper met hul lewe daarvan afgekom het, skryf Al J Venter.

’n Kindersoldaat van Rwanda wat in 1997 lid was van Laurent Kabila se rebellemagte wat die regering van Mobutu Sese Seko van Zaïre (deesdae die Demokratiese Republiek van die Kongo) omvergewerp het. Foto: Getty Images

Op Vrydag 16 Mei 1997 het pres. Mobutu in sy presidensiële straler in Gbadolite aangekom. Daar was ’n hele klomp familielede, ministers, vroue en kinders saam met hom – maklik meer as 100 mense.

Die Rebelleleier Laurent Kabila was op die punt om Kinshasa in te neem. Later daardie middag het Rudi – die Russiese tegnikus in beheer van die lugmagbasis by Gbadolite – die Suid-Afrikaners in een van die vliegtuigloodse vertel dat vriende hom gebel het.

“Dinge lyk regtig sleg,” het hy aan hulle gesê. As die regering nie al klaar geval het nie, was dit op die punt om te val.

Die nuus het nie regtig as ’n skok gekom nie, maar Nellis (soos sy vriende hom genoem het) het nie verwag dat dinge só vinnig sou beweeg nie. ’n Uur later het hulle gehoor dat eenhede van die rebelle op pad na Gbadolite was en dat hul voorhoede selfs al die volgende dag daar kan wees.

Neall Ellis

Neall Ellis was ’n vlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag wat ’n Honoris Crux-medalje vir dapperheid gedurende die Grensoorlog verwerf het. Hy het later ’n private militêre kontrakteur geword.

Hy is een van Suid-Afrika se bekendste oorlogsvlieëniers en het aan verskeie belangrike operasie gedurende die Grensoorlog deelgeneem, dit sluit in Operasies Protea, Super en Meebos.

Hy was as private militêre kontrakteur betrokke by die Balkan-oorlog (aan die kant van Islamitiese magte) en het probeer om lewe te blaas in Mobutu Sese Seko se lugmag tydens sy laaste dae as Zaïre se president.

Ellis was ook betrokke by militêre operasies in Sierra Leone en het onder meer twee keer op sy eie rebellemagte verhoed om die hoofstad, Freetown, oor te neem.

Later het Ellis vir drie jaar lank in Afganistan gevlieg waar hy meer noue ontkomings gehad het as in sy vorige vier dekades as vlieënier, lui ’n nota van die uitgewer.

Al J Venter was oorlogskorrespondent saam op van die operasies waaraan Ellis deelgeneem het.

Intussen het Rudi gefluister dat hy gehoor het Mobutu is van plan om die land daardie nag op ’n Ilyushin Il-76 te verlaat. Die vliegtuig sou na verwagting vroeg in die aand in Gbadolite aankom en die oorblywende mobiele missielstelsels van Zaïre se lugmag wat steeds rondom die lughawe in plek was, sou verwyder en na Moskou teruggestuur word.

Hulle moet almal sorg dat hulle op die vliegtuig is wanneer dit vertrek, het die Rus gewaarsku. As hulle nie was nie . . . hy het sy skouers opgehaal en sy vinger oor sy keel getrek.

Nellis en Juba Joubert, sy kollega, het Mobutu later daardie middag ontmoet toe dié ooglopende siek leier saam met ’n paar lyfwagte op die lughawe rondgestap het.

Hy het stil gaan staan om met die twee Suid-Afrikaners te praat. Nellis was beïndruk, veral omdat hulle geen gedeelde ervarings gehad het wat tot ’n gesprek kon lei nie.

Selfs in daardie laat stadium het Mobutu hulle in ’n bedaarde, waardige stem gevra wat hulle nodig het. Toe hulle hom van hul probleme met die Hinds [helikopters] vertel, het hy gesê alles sal die volgende dag afgelewer word.

Hy het hulle ook vertroulik meegedeel dat hy verskeie besendings wapens van Libië verwag. Sy houding het vertroue uitgestraal, onthou Nellis.

Die reddingsvlugte was deel van ’n ooreenkoms wat klaar beklink is, het Mobutu aan hulle gesê. Daar was geen rede om sy woord in twyfel te trek nie, sê Nellis, hoewel hy in daardie laat stadium graag byna enigiets sou wou glo.

Mobutu het die bemanning gewaarsku om nie na Kinshasa terug te keer nie, en het belowe om hulle saam te neem as hy moes vertrek. Daarmee het hulle hande geskud en aanbeweeg.

Land op die rand van ineenstorting

Wat die Suid-Afrikaners nie geweet het nie, was dat Mauritz le Roux, een van die stigters van Executive Outcomes, op daardie oomblik in ’n gehuurde Lear-straler in die lug op pad na Gbadolite was.

Hy het aan sy vrou gesê dat hy van plan is om die twee mans na veiligheid te bring hoewel hy gedink het hy mag dalk te laat wees. Toe hy in Brazzaville aankom, is hy nie net brandstof geweier nie, maar in hegtenis geneem en daar is beslag op sy vliegtuig gelê.

Hy is die volgende oggend toegelaat om brandstof in te neem, maar Le Roux en sy vlugbemanning is gewaarsku dat hulle in die tronk gestop sal word as hulle ooit terugkeer. Hulle het geen ander keuse gehad nie as om terug te keer na Suid-Afrika.

Mobutu Sese Seko het Zaïre (deesdae die Republiek van die Kongo) vir meer as drie dekades met ’n ysterhand regeer. Dié foto is in 1997 geneem toe sy regering deur die rebellemagte van Laurent Kabila omvergewerp is. Foto: Getty Images

Ellis, Joubert en ’n derde vlieënier, die Fransman JJ Fuentes, het daardie aand hul situasie in oënskou geneem en iets soos ’n gebeurlikheidsplan uitgewerk ingeval hulle op hul eie gelos sal word as Kabila en sy leër skielik daar opdaag.

“Ons kon uiteraard nie wegkom nie,” sê Ellis, “hoewel ons gedink het daar sal meer opsies in die oggend wees. Juba en ek was vanweë ons opleiding in die lugmag heeltemal vertroud met die belangrikste aspekte van ontsnapping en ontwyking, maar ons het besef dit was nie die soort ding wat jy doen as dit donker was nie, beslis nie in ’n dig beboste omgewing wat verskeie bedreigings inhou nie.

“In teenstelling daarmee wou JJ Gbadolite onmiddellik verlaat, maar ons kon hom ompraat.

“Ons het in ’n generaal se plattelandse huis in Gbadolite gebly. ’n Paar uur nadat die son ondergegaan het, het een van die bediendes wat vriendelik met ons was, om die deur geloer en ons gewaarsku dat ons in die grootste gevaar was.

“Hulle was by die huis, het sy gesê, en dit was net ’n kwessie van tyd voor van die troepe, wat teen dié tyd gemuit het, na die huursoldate sal kom soek.

“Ons het op die onwaarskynlike storie besluit dat ons almal vlieëniers van Air Zaire was wat daar gestrand was, maar daar is reeds gesien hoe ons met die gewapende helikopters en ander vliegtuie gepeuter het.”

Neall Ellis tydens Operasie Super. Foto: Verskaf

Omstreeks twee-uur in die oggend is Ellis wakker gemaak deur die klank van ’n passasiersvliegtuig se motore. Dit was nie nodig dat iemand hom vertel het Mobutu en sy gevolg vlug nie.

’n Klompie ure later kon hulle die klank van hewige ontploffings en aanhoudende kleingeweervuur by die huis hoor. Die geluide het van die buitewyke van die dorp gekom en dit was asof dit erger geraak het met die naderende miserabele grys daeraad.

Die twee Suid-Afrikaners het hul klere gegryp en is na buite. Die eerste skerfie lig het skaars oor die oerwoud verskyn of ligspoorkoeëls het deur die lug getrek.

Daar was troepe wat blykbaar nie na enige teikens gemik nie, maar tegelykertyd in alle rigtings geskiet het.

Hulle is na die wagte by die kamp se hek, maar het agtergekom dat hulle verdwyn het – en so ook al die Russe.

Teen dié tyd het JJ buite by hulle aangesluit en daar het hulle gestaan, in ’n land wat besig was om ineen te stort.

“Daar was nie ’n offisier in sig nie,” onthou Nellis.

“Die enigste troepe wat ons gesien het, het amok gemaak. Baie van hulle was dronk en het op enigiets geskiet wat beweeg het, ook hul eie mense. Sommiges was so aggressief soos die hel, woedend omdat hulle deur hul leiers versaak is. Ander het drank en dwelms gebruik en berserker geraak. Al wat ons geweet het, was dat ons ons gatte daar moes uitkry, maar hoe?”

Besluit om te vlug

Neall Ellis in latere jare as ’n private militêre kontrakteur. Foto: Verskaf

Die klein groepie het baie min keuses gehad. Hulle het eers gedink hulle het ’n geringe kans om by die oorblywende Mi-24 op die lughawe uit te kom. Hoewel dié gewapende helikopter nie heeltemal lugwaardig was nie, het Juba gesê dit het genoeg brandstof om hulle tot in die Sentraal Afrikaanse Republiek (SAR) te kry.

Die enigste alternatief was om die grens te voet te probeer haal.

Die eerste idee is laat vaar toe die geweervuur hewiger geword het, want dié keer kon swaar outomatiese vuur vanuit die rigting van die lughawe gehoor word.

Die leër het gemuit en daar was reeds berigte van soldate wat berserker geraak het.

Nellis was al in dié deel van die wêreld en het geweet dat die naaste grenspos by Mobayi-Mbongo, sowat 60 km weg, was. Die pad soontoe sou egter gepak wees met vlugtelinge van Zaïre sowel as regeringsoldate wat ook van Kabila se mense gevlug het.

Die leër het gemuit en daar was reeds berigte van soldate wat berserker geraak het. Sommige van die muiters, onder wie ’n klompie wat reeds van hul uniforms ontslae geraak het, was vroeër reeds by die huis en die meeste van hulle was hoog. Hoewel hulle nie vyandiggesind teenoor die huursoldate was nie, was hulle beslis nie hul gewone glimlaggende self nie.

Daar was een ander moontlikheid, het JJ voorgestel. Hy het geweet van ’n bospad wat reguit noord van Gbadolite na die grens gelei het. Hy het dit raakgesien toe hy oor die omgewing gesirkel het voordat hy geland het. Hoewel daar nie ’n grenspos aan die einde van die pad was nie, kon dit hul redding wees omdat dit reguit tot by die rivier gelei het. En aan die anderkant was die SAR.

’n Puma-helikopter besig om tydens die Grensoorlog naby die Angolese grens te land. Foto: Verskaf

Hulle het onmiddellik ’n besluit geneem. Nellis het intussen huis toe gebel met sy satellietfoon en sy vrou, Zelda, van hul planne vertel. JJ het met vriende in Parys gepraat.

Sy kontakte het gesê hulle sal die ministerie van verdediging van hul verknorsing in kennis stel. Hy is ook verseker Franse leëreenhede in die SAR sal op die uitkyk vir hulle wees.

Frankryk het ’n volskaalse rebellie in Zaïre verwag en reeds troepe langs die noordelike oewer van die Kongo-rivier in die SAR ontplooi.

In dié stadium het sommige soldate van Zaïre wat agtergebly het die huis binnegekom, die generaal se kelder oopgebreek en ernstig begin partytjie hou.

Hulle sal binne ure dood wees as hulle nie wegkom nie.

Nog soldate het kort daarna met ’n trok daar aangekom en begin om meubels, gordyne, televisiestelle, kombuisware en matrasse daarop te laai. Een van hulle het selfs ’n bidet uit die badkamervloer geruk en dit op sy kop uitgedra.

Een van die vroue in die generaal se kampong het toe na vore gekom en gesê sy is bekommerd oor hul veiligheid. Sy het gesê die leër is reeds oor die radio gevra om op die uitkyk te wees vir drie wit huursoldate wat Gbadolite geïnfiltreer het en dat hulle in haar hut kan skuil wat ver van die huis af weg is.

Sy het ook belowe om die aandag af te lei van enigiemand wat na hulle kom soek. Hulle is in groot gevaar, het sy gewaarsku, en haar woorde is herhaal deur ’n priester wat kort daarna daar aangekom het. Hulle sal binne ure dood wees as hulle nie wegkom nie, het hy gesê.

Beroof, aangerand en ’n vuurpeloton

’n Foto van Mobutu Sese Seko lê op die grond nadat sy regering in 1997 omvergewerp is. Foto: Getty Images

Nellis se vlugtog van Zaïre na die SAR saam met Juba en JJ, alles te voet behalwe vir die laaste deel in ’n lekkende boomkano, het twee dae geduur.

Hulle is aangerand, op gespoeg, beroof, daar is op hulle geskiet en hulle is met pistole geslaan.

Hulle was nog nie eens aan die ander kant van die dorp nie voordat hulle deur troepe gegryp is en vertel is dat hulle hulle vir teregstelling moet regmaak.

Nellis is tot vandag toe nog nie seker waarom dit nie gebeur het nie omdat dit gelyk het of die “bliksems vas van plan was om dit te doen”.

Hulle het sistematies enige artikel van waarde gesteel soos hulle ons deursoek het: kontant, horlosies, kameras, alles wat hulle wou hê.

Hy is nie juis ’n godsdienstige man nie, maar erken dat hy meer in daardie 48 uur gebid het as in al die vorige jare van sy lewe.

Aanvanklik het die vrou wat die mans bevriend het, haar seun gevra om hulle uit die dorp te lei en het hulle met hul ontsnappingspoging begin.

Hoewel die skietery in die dorp ietwat kalmeer het, het groepe soldate onder die invloed van dagga en drank rondgeloop.

Nellis sê: “Toe sien hulle ons en met gewere op die bors gerig het hulle ons laat stilstaan en ondervra. Hulle het sistematies enige artikel van waarde gesteel soos hulle ons deursoek het: kontant, horlosies, kameras, alles wat hulle wou hê.

“Dit was basies dit soos ons van die een groep boefagtige troepe na die volgende beweeg het. Hulle het ons selfs gedwing om ons klere uit te trek en die ander kon net hul onderbroeke aanhou. Ek dra nie jockeys nie, so ek is toegelaat om my broek aan te hou. Gelukkig kon JJ met hulle in Frans praat en hulle kalmeer. Maar hy het $11 000 verloor en $3 000 is by my gevat terwyl Juba sy laaste $1 000 kwyt is.

Soldate van Zaïre wat in 1997 aan die rebellemagte van Lauren Kabila oorgegee het. Foto: Getty Images

“Toe het ons ’n klomp troepe teëgekom wat heeltemal buite beheer was. Ná ’n gestry het hulle JJ beveel om te loop en aan Juba en my gesê om in die pad af te stap. Ná sowat 20 treë het hulle op ons geskree om stil te staan en om te draai.

“Drie van hulle het daarna met hul AK-47’s op ons losgebrand. Gelukkig was hulle so hoog op dwelms en drank dat die rondes oor ons kop getrek het of in die grond voor ons vasgeslaan het.

“Juba is deur skrapnel en stukkies klip in sy bene en gesig getref. ’n Klompie vroue aan wie dié impromptu vuurpeloton ’n mate van pret verskaf het, het op die soldate begin skree en hul aandag afgelei.

“Ek het aan Juba gesê ‘Hardloop’ en ons het soos blits tussen huise aan die kant van die pad verdwyn.

Daardie aand het ons heelwat skote gehoor wat deur dronk troepe afgevuur is.

“Ons gids het ons na ’n gebou gelei waar ons JJ raakgeloop het sowel as sommige van die generaal se soldate wat nie aan die plundery meegedoen het nie.

“Ons probleme was nog nie verby nie. Hoewel die generaal se soldate vriendelik was, het ons hulle nie vertrou nie en in ’n buitegebou geslaap, reg om te hardloop met die eerste teken van gevaar.

“Daardie aand het ons heelwat skote gehoor wat deur dronk troepe afgevuur is en voertuie wat in die dorp rondry met insittendes wat vra dat die ‘mercenaires blancs’ moet oorgee.

“Daar was nie ’n kans dat dit sou gebeur nie!”

• Hierdie is ’n verkorte uittreksel uit Gunship Ace: The Wars of Neall Ellis, Helicopter Pilot and Mercenary. Dit word deur Delta Boeke uitgegee en kos R290.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.