Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
UITTREKSEL: ‘Meeste dae is dit moeilik om swart boere te wees’

Die meeste dae is dit moeilik om swart boere te wees, vertel Siviwe Tikana aan Ivor Price in dié aangrypende uittreksel uit Hartstories van ons land se boere.

Melkkoeie in die Riviersonderend-omgewing. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

My pa, Nceba Tikana, het onlangs as werktuigkundige afgetree.

Hy was mal daaroor om aan karre te werk en het dikwels self ’n voertuig herbou. Vandat ek kan onthou, het hy ook daarvan gehou om soveel myle uit ’n motorkar te kry as wat hy moontlik kon. Dit het my en my susters, Unathi en Busisiswe, groot vermaak verskaf.

Ons ma, Nozuko, is ’n boer in die ware sin van die woord, al het ons eers vyf jaar gelede met ons boerdery begin. Wanneer ander in grond vasstaar, het sy altyd potensiaal gesien. Ek raai sy aard na uTatomkhulu, my oorlede oupa, Paulos Siwisa Mlambo, wat onvermoeid in verskeie dele van die ou Ciskei en Transkei die grond bewerk het.

Hy het my Smuzo we’ bokwe – “die bok se poep” – genoem.

Hier aan die Wildekus, waar ons suiwelboerdery is, staan ek as die swart boerseun bekend nadat ’n mediaberig so na my verwys het. Wanneer mense my die eerste keer ontmoet, is hulle dikwels verbaas. My vel is deur die son gesoen, maar my tong verklap iets van ’n land baie anders as die een wat my voorvaders geken het.

Die feit dat ons swart is, het ook beteken dat baie deure vir ons toe is.

Toe ek in 1993 gebore is, was Nelson Mandela reeds vrygelaat ná 27 jaar agter tralies. Ek het aan die Hoërskool Grens in Oos-Londen gematrikuleer en al is isiXhosa my moedertaal, het Afrikaans as seuntjie al my hart gesteel. Ek is by ’n Afrikaanse skool ingeskryf omdat my ouers geglo het dit sal eendag vir my deure oopmaak.

Die feit dat ons swart is, het ook beteken dat baie deure vir ons toe is. Ons is die enigste swart suiwelboere in ons geweste en by verskeie geleenthede het wit boere al geweier om met ons sake te doen omdat ons anders lyk. Elke nou en dan bel een van ons bure die DBV om te kla dat ons glo nie na ons beeste omsien nie.

Wat ’n verleentheid. Dit maak my so woedend dat ek op haar wil vloek. Hulle weet nie dat uTatomkhulu dekades lank met beeste gewerk het nie. Hulle gee nie eens om dat ek Afrikaans praat nie.

Gelukkig het sommige van ons ander bure, soos Michael Horn en Vanessa Smith, ook oor ons pad gekom. Hulle is ’n geskenk van bo in ons uur van nood. Sonder om te huiwer, leen hulle aan ons landbougereedskap wanneer ons dit die nodigste het; duur toerusting wat ons nie heeltemal kan bekostig nie. Hulle herinner ons ook dat daar ’n goeie rede is dat ons op die plaas is.

Ek wens my oupa was nog met ons . . .

Ons is gelowige mense. Ons geloof dra ons deur die swaar tye en ek het al in my lewe geleer dat dit Hy is wat ons optel en dra.

Dié les het ek kort ná my matriekjaar al geleer toe ek sendingwerk elders in Afrika gaan doen het saam met die Youth With A Mission-organisasie.

Ek wens my oupa was nog met ons om te sien hoe ek met die koeie, geteel vir die lewer van groot hoeveelhede melk, werk.

Hy is oorlede toe ek maar agt jaar oud was – lank voordat ons ’n plaas besit het, in die dae toe my pa nog bekend gestaan het as die enigste ou wat ’n skedonk (of ’n skorokoro) uit die dood kon opwek, dikwels tot die eienaar se verbasing.

In sy 50 jaar as motorwerktuigkundige was daar net een kar wat sy geduld op die proef gestel het. Hy het so pas die enjin van ’n BMW 540i oorgedoen, maar die motor wou steeds nie vat nie, al probeer hy wat. Tog wou my pa my nie teleurstel nie en sê toe:

“Luister, ek is moeg gesukkel met die ding. Ek sal daaroor droom en vertrou my, so sal ek dit oplos.”

Die volgende oggend teen opstaantyd was die kar reg nadat my pa van vroeg-vroeg af al daaraan gewerk het.

uTatomkhulu was mal oor mense. Hy was ’n onselfsugtige man wat sy kinders en kleinkinders bitterlik liefgehad het. Op besoek aan die Transkei het ek ’n bed met hom gedeel omdat my ouma, Asiana, in daardie stadium as onderwyseres in Johannesburg gewerk het. Met sonsopkoms sou hy my, my susters en ons neefs en niggies wakker maak om by die rivier daar naby te gaan water haal.

Al het hy van die land gelewe, het hy nooit enige grond besit nie. Toe dit bekend raak dat hy weet hoe om grond se geskiktheid vir die plant van gewasse te toets, het die regering hom gou aangestel en na verskillende dorpe gestuur.

Waarteen swart boere moet veg

Koeie wei in ’n landery onder besproeiing. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Tien jaar gelede het my ma die visie gehad om te begin boer.

Sy het nog altyd ondernemingsgees gehad, maar toe tenders in ’n knoeiery ontaard, het sy opgehou om met die regering sake te doen. Soos my oupa het sy altyd die mense in die landelike gebiede met noodsaaklike vaardighede toegerus en hulle aangemoedig om voort te stoei.

Dit was maar ’n proses van leer en probeer, maar ek dink darem nie ons het te sleg gevaar nie.

Sy het die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming genader om aan haar ’n plaas toe te ken wat vir swart boere geoormerk is. Dit was ’n lang en uitmergelende proses van minstens sewe jaar, maar sy het deurgedruk, want sy wou bewys dat swart vroue soos sy gebore is met die vermoë om te boer.

As ’n gelowige vrou het sy nooit moed verloor nie en sewe jaar later het ons die dokumente vir Rosedene Dairy Farm onderteken.

Dit was maar ’n proses van leer en probeer, maar ek dink darem nie ons het te sleg gevaar nie. Ons is meestal ’n suiwelplaas, maar ons het gou geleer dat ons ’n broeihuisie met hoenders moet aanhou om te oorleef.

Die hele familie het ingespring. My pa hanteer die instandhouding en my ma, 20 jaar jonger as hy, is die baas van die plaas.

Unathi behartig die finansies en administrasie. Kholwa doen die bemarking. Jy maak ’n fout as jy dink hulle is sommer net vroue wat nie kan boer nie.

Ek hou my besig met enigiets van administrasie tot werk in die melkverwerkingsaanleg. Ek is ook die een wat die vragmotor dorp toe bestuur om melk af te lewer. En dan is daar Mzoxolo Sonjica, wat soos ’n masjien werk om melk en gepasteuriseerde maas te lewer. Ons maak ook staat op die steun van ons plaasbestuurder.

Ons droom daarvan om met hierdie plaas hoop te skep.

Die meeste dae is dit moeilik om swart boere te wees. Ons moet veg teen die opvatting dat ons die plaas net gekry het op grond van ons velkleur. Party mense sê ons het die plaas danksy politieke bande ontvang en neem sommer aan dat ons geen kundigheid of ervaring het nie. Ons het min toegang tot die mark en dikwels lê ons saans en wonder hoe ons werk moet skep as ons produkte nie by verbruikers kan uitkom nie.

Maar ons kan iets met die grond doen.

Ons droom daarvan om met hierdie plaas hoop te skep. Ons wil aan ander swart boere met wie dit moeilik gaan, wys dat dit gedoen kan word. Ons wil ons nasie voed en iets nalaat waarop uTatomkhulu trots sou wees.

Hartstories van ons land se boere deur Ivor Price en Kobus Louwrens word deur Tafelberg uitgegee en kos R200.

• Kobus en Ivor gesels op 6 Mei om 20:00 met mekaar. Jy kan die uitsending op Netwerk24.com kyk. Die gesprek is gratis vir intekenare.

Meer oor:  Ivor Price  |  Transkei  |  Oos-Londen  |  Landbou  |  Grondhervorming  |  Boere  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.