Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uittreksel: ’n Toevallige burgemeester

As burgemeester van Johannesburg het Herman Mashaba een doel voor oë gehad: om die ANC se korrupsie bloot te lê, om die skuldiges aan die pen te laat ry en die verlore geld van die skuldiges te verhaal, skryf Michael Beaumont.

Herman Mashaba toe hy verkies is as burgemeester van die Johannesburg-metro in 2016. Foto: Thulani Mbele

In sy eerste stadsrede in Mei 2017 het die pasverkose burgemeester van Johannesburg, Herman Ma­shaba, verklaar: “Wat in ons stad gebeur het, was nie korrupsie nie. Korrupsie is nie ’n sterk genoeg woord om te beskryf wat hier aangaan nie. Dit was onbeskaamde plundery.”

Tydens die verkiesingsveldtog het die ANC-burgemeesterskandidaat Parks Tau altyd gereageer op ons beskuldigings van korrupsie deur ons uit te daag om bewyse te lewer. Sy benadering was om enige onwettige optrede te ontken; dit het eenvoudig nie bestaan nie. Ons het egter steeds punte by kiesers gewen, want, soos ons, het die algemene publiek geweet dat daar waar die ANC regeer, korrupsie gedy.

Soos met sy slagspreuk van ’n “World Class African City” het Tau en die Johannesburgse ANC mense laat glo dat hulle eerliker – en beter – is as die ANC van Jacob Zuma. Ons het egter geglo dat dit bloot beteken dat hulle korrupsie meer gesofistikeerd en beter weggesteek is.

                                                                                   ***      

Toe hy uiteindelik as burgemeester verkies is, het Mashaba korrupsie as “openbare vyand nommer een” verklaar. Ondanks dié cliché het inwoners gou gesien dat sy woorde deur dade gesteun word en nie bloot die tipe lippediens is wat politici histories aan die saak gee nie. Dit het nie saak gemaak of dit omkoopgeld van R10 of ’n transaksie van ’n miljard rand was nie – elkeen is met ewe groot ywer getakel om die korruptes agter tralies te sit.

Diefstal van R35 miljard. was in ons visier.

Die gevolg was dat meer en meer mense na sy kantoor gestroom het om die korrupsie van die vorige regering aan die kaak te stel. Nadat Ma­shaba eendag met sulke mense vergader het, en ná die vergadering die talle mense sien wat in die ontvangsarea voor sy kantoor sit en wag met dokumentêre bewyse van nog korrupsie het hy na my gedraai en gesê: “Michael, my kennis van ondersoeke is gevaarlik min. Ons het ’n professionele eenheid nodig.”

Ons het geweet dat ons ’n “no fear or favour”-tipe persoon nodig het en ek het vir adv. Glynnis Breytenbach, die DA se woordvoerder oor justisie en ’n voormalige aanklaer van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gebel vir haar aanbeveling. En dit is hoe ons genl.maj. Shadrack Sibiya ontmoet het.

’n Vinnige kykie na sy geloofsbriewe dui op watter indrukwekkende karakter hy is. As senior generaal in die polisie was hy die hoof van die gevreesde direktoraat vir spesiale operasies (die Skerpioene) in die Vrystaat, waar hy 25 plaaslike politici, hul sakevennote en eggenote weens korrupsie in hegtenis geneem het. Nadat die Skerpioene ontbind is omdat hulle té doeltreffend geword het, is hy aangestel as hoof van die handelsmisdaadeenheid van die direktoraat vir voorkeurmisdaadondersoeke (die Valke). Hy het uiteindelik tot adjunk- provinsiale kommissaris en algehele hoof van die Valke in Gauteng gevorder, maar soos soveel ander goeie polisiemanne is Sibiya uit die SAPD gedwing. Sy fout was dat hy lt.genl. Richard Mdluli, die polisie se destydse hoof van misdaadintelligensie en een van oudpres. Jacob Zuma se “onaantasbares”, vir moord ondersoek het.

Sibiya was duidelik ons man.

Ek het geen gras onder my voete laat groei nie en hom en die burgemeester bymekaar gebring. Hulle het goed bymekaar gepas: Sibiya, die voormalige top-polisieman wat nie nonsens vat nie en Mashaba, die onkonvensionele politikus wat sy ongekwalifiseerde steun verleen het aan die stryd teen korrupsie. Deur Mashaba het Sibiya twee dinge gekry waarna hy desperaat gesoek het: ’n Geleentheid om sy reputasie te herstel en die politieke steun om sy werk te doen.

                                                                                ***

Die interne teenkorrupsie-eenheid het vanaf die eerste dag resultate behaal. Noudat sake professioneel ondersoek is, kon leidrade opgevolg en die geldspoor gevolg word. Ons het begin om uitgebreide verslae van die eenheid te ontvang met aanbevelings vir dissiplinêre en strafregtelike optrede. Binne dae is mense in hegtenis geneem en die korruptes het in die hof begin verskyn. Mashaba was opgewonde.

Genl.maj. Shadrack Sibiya

Soos te verstane was sekere amptenare minder opgewonde oor Sibiya se koms. Dit het begin met lekkasies aan die ANC waarin beweer is dat sy aanstelling onreëlmatig en onwettig was. Ons het spoedig kennisgewings ontvang van ’n ondersoek deur die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. Ons was nie bekommerd nie; ons het die aanstellingsproses tot op die letter gevolg met die wete dat ons uitgedaag sou word.

Meer ondermynende vorme van protes het gevolg. Amptenare het Sibiya se versoeke vir verslae, fakture, dokumentasie, skootrekenaars en selfone geïgnoreer. Uitgeslape en met dekades se polisieondervinding het dit hom glad nie afgeskrik nie. Hy het eenvoudig in hul kantore ingestap en gevat wat hy nodig het.

                                                                               ***

Die hoeveelheid sake wat ondersoek is, het gou so baie geword dat dit nodig geword het vir ’n weeklikse drie uur lange vergadering met die burgemeester waar Sibiya sy jongste bevindinge kon voorlê. Teen November 2017, ’n jaar nadat die eenheid gestig is, is meer as 2 560 sake waarby meer as R17 miljard betrokke was, ondersoek. ’n Jaar later het dit gegroei tot 4 000 sake waarby R24 miljard betrokke was. Teen Mei 2019 was daar meer as 6 000 sake waarin R35 miljard gesteel is.

Die omvang van die korrupsie was genoeg om jou stom te laat. Elke Vrydag, van 09:00 tot middagete, is die donker kant van ’n regering aan ons voorgehou wat dekades lank ongemerk en sonder enige teenstand sy tentakels kon versprei. Die omvang en skaal van die korrupsie was ongelooflik – selfs vir die van ons wat in die opposisie was en dit lank reeds vermoed het.

Mashaba was vasberade om die verrotting uit te roei.

Een van die sake wat uitgestaan het, was die van Vivian Reddy se Edison Power Group, wat meer as R2 miljard van die stad ontvang het om slimkragmeters te installeer. Ondanks die onreëlmatighede met die tender en die feit dat daar nie begroot is vir die meters nie, het die besturende direkteur van City Power, Sicelo Xulu, volgens die forensiese ondersoek die transaksie deurgedruk. Uiteindelik het dit geblyk dat die meters nie werk nie en die stadsraad moes met eie hulpbronne die fout regstel – sonder dat dit Edison ’n sent gekos het.

Die forensiese span het ook ’n eis ondersoek wat verband hou met ’n hotel van R50 miljoen in Eshowe wat Xulu gebou het terwyl hy in die stad se diens was. Toe Sibiya se span by die hotel opdaag om ondersoek in te stel, het “verwers” op steiers R4-aanvalsgewere uitgepluk om hulle te verjaag.

’n Ander saak wat ondersoek is, was ’n 15-jaar-kontrak vir die installering en bedryf van ’n veselnetwerk oor die stad heen. Twee jaar nadat die kontrak gesluit is, het die stad besluit om die infrastruktuur vir meer as R2 miljard terug te koop sonder dat hulle die vermoë, kundigheid of hulpbronne gehad het om dit te bestuur. ’n Munisipale entiteit genaamd Metro Trading Company is spesifiek vir die doel gestig, sonder dat daar ooit eens ’n sakeplan voorgelê is.

Die gevolg is dat miljoene rande se veselkabels vir jare reeds onder die grond lê sonder enige nut. Die doel van die oefening kan nooit bepaal word nie, maar dit het sekerlik ’n paar politici baie ryk gemaak. Onder hulle is die voormalige kabinetslede, Ayanda Dlodlo en Kebby Maphatsoe. In reaksie op medianavrae het albei bevestig dat hulle elkeen ongeveer R3 miljoen uit die transaksie verdien het.

En terwyl ons op die onderwerp van ministers is. Daar was ’n saak waarin die stad in litigasie met ’n minister was wat ’n huis verkoop het en ’n klaringsertifikaat ontvang het wat, volgens ons forensiese eenheid, onwettig uitgereik is. Ten tyde van die verkooptransaksie was die munisipale rekening van hierdie eiendom agterstallig met ’n aansienlike bedrag. Die uitstaande bedrag moes betaal word voordat ’n klaringsertifikaat uitgereik kon word, maar dit het geblyk dat senior bestuurders van die stad se rekeningafdeling die skuld bloot in ’n krediet omskep het en dat niemand anders as minister Lindiwe Sisulu die uitbetaling ontvang het nie. Net tyd sal leer of die stad hierdie saak verder gaan voer, noudat die ANC weer in beheer is, want dit word teengestaan.

                                                                                   ***

Wat my telkens verbaas het, is die mate waartoe die betrokke amptenare alle sin van hul doel in die regering verloor het. Hulle het die voorreg om die mense van Johannesburg te dien verruil vir die idee dat die stad hulle iets skuld. Hulle het hul bedrog en korrupsie geregverdig as dat hulle bloot neem wat regmatig aan hulle behoort. Dit het nie gelyk of hulle hoegenaamd gepla is deur die feit dat dit die armste inwoners is wat as gevolg van hul optrede gely het nie.

Maar Mashaba was gepla. Omdat hy nie ’n politikus is wat al afgestomp is vir die vlak van korrupsie in die regering nie, het hy met elke saak meer vasberade geword. Hy het al genoeg aan die ander kant van die tafel gesit as ’n leier in die sakewêreld en gesien hoe wettige ondernemings ly onder ’n elite met politieke bande. Hy het baie vriende en kontakte gehad wat geweier het om omkoopgeld te betaal, net om te sien hoe sakegeleenthede gaan aan diegene wat nie ’n probleem het met sulke immorele optrede nie. Hy het vas geglo dat dit die rede was waarom demokratiese Suid-Afrika nie ’n sterk kleinsakesektor kon bou nie.

Dié artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit die boek The Accidental Mayor: Herman Mashaba and the Battle for Johannesburgdeur Michael Beau­mont. Dit word uitgegee deur Penguin en kos R260.

As ’n inwoner van Johannesburg het hy 20 jaar lank gesien hoe die vlak van ongelykheid en korrupsie styg, terwyl die regering aan die armes voorgee dat daar eenvoudig nie geld is om in hul behoeftes te voorsien nie.

Mashaba se haat vir korrupsie was diep gesetel. As skorsing of dissiplinêre stappe aanbeveel is, het ons amptenare by hom gepleit dat die omslagtige stappe ingevolge die arbeidsreg eers gevolg moet word. Mashaba sou hulle tyd gee tot dieselfde middag. As hulle aanvoer dat die wet vereis dat die prosesse hul gang gaan, sou hy vra of enige regter ’n probleem daarmee sal hê as hy openbare geld probeer beskerm. Hulle sou stil word en Sibiya sou sy kop knik om aan te dui dat hy verstaan wat gedoen moet word.

Dit het later moeilik geword om nie na die stad se amptenare te kyk en te wonder wat hulle besig is om te steel nie; amper ’n benadering van “korrup totdat jy die teendeel kan bewys”. Met elke vergadering het Mashaba meer vasberade geword om die verrotting uit te roei. Geen saak was te klein nie, geen individu te groot nie en geen lojaliteite is geduld nie.

                                                                               ***

Sibiya se eenheid was uiters bekwaam om hierdie sake deur die ondersoek- en geregtelike prosesse te stuur sodat arrestasies gedoen kan word. Teen November 2018 is meer as 900 mense gearresteer en die getal het daagliks gegroei.

Dit is nie te sê dat die wetstoepassingsagentskappe dit maklik gemaak het nie; inteendeel, ons is om elke hoek en draai teengestaan. Dossiere is van een kantoor na ’n ander gestuur, sake is sonder enige ooglopende rede laat vaar en enigiemand wat ons bygestaan ??het, is geviktimiseer, gedreig of uitgerangeer. Daar is selfs beweer dat die destydse baas van die Valke, Berning Ntlemeza, ’n opdrag aan sy senior personeel uitgereik het dat hulle nie die Johannesburg-metro sou help nie.

Na bewering het Ntlemeza agter ’n poging gestaan om die sake teen 100 lisensiëringsbeamptes wat die stad uit miljoene gemelk het van die polisie na die Valke te laat oorplaas. Dit het ons vreemd opgeval, omdat dit ’n relatiewe geringe saak was in die groter skema van plundering. Totdat ons verneem het dat familielede van ’n sekere Gautengse LUR onder die gearresteerdes was, mense wat in luukse motors rondry en in veiligheidskomplekse woon wat niemand op ’n lisensiëringsbeampte se salaris kan bekostig nie.

Die NVG het ook ons pogings belemmer. Byna weekliks het ons gehoor dat sake deur die vervolgingsgesag teruggetrek word. Dit is belangrik om te verstaan dat wanneer ’n voormalige hoof van die Skerpioene ’n dossier vir vervolging oorhandig, hy dit doen met die spreekwoordelike strikkie vasgebind. Toe hulle nog bestaan het, het die Skerpioene die hoogste sukseskoers met vervolgings – meer as 90% – van enige wetstoepassingsagentskap in die land gehad.

Een vir een het ons sake in die hof uitmekaar geval. Die getuies in die saak teen Dan Bovu, die voormalige burgemeesterskomiteelid vir behuising, het geweier om te getuig nadat hulle na bewering knap bedrae geld ontvang het. Hulle het dit erken in beëdigde verklarings aan die NVG. Maar in plaas daarvan dat klagte van omkopery by die klagstaat gevoeg is, het die NVG die saak teruggetrek. Die ANC het dit gevier met ’n verklaring wat hul man se onskuld besing.

                                                                                 ***

Ons was in die posisie om eerstehands te sien hoe korrupsie van die inwoners van Johannesburg gesteel het. Dit het ons immuun gemaak teen die verlammende gevolge van korrupsie. Ons kon egter nooit die feit ignoreer dat die kloof tussen ons agterstand in maatskaplike dienste en infrastruktuur – en die geld beskikbaar om die probleme op te los – baie kleiner kon gewees het as soveel geld nie gesteel is nie.

Die diefstal van R35 miljard wat teen November 2019 in ons visier was, was genoeg om ’n HOP-huis te bou vir elke persoon op Johannesburg se waglys. Dit kon ons padnetwerk tot wêreldstandaard herstel het. Dit was genoeg om water en elektrisiteit aan elke informele nedersetting in Johannesburg te voorsien.

Geld wat bedoel was om dienste te lewer, huise te bou en paaie reg te maak, het egter diegene met politieke bande verryk. En die mense wat die meeste daaronder gely het, was die armste en kwesbaarste mense van die stad.

Die ANC het die omvang van die krisis ontken, maar ons ondersoeke het hulle duidelik in ’n moeilike posisie gelaat. Wanneer die raad byvoorbeeld debat gevoer het oor die dissiplinering van ’n senior amptenaar wat deur die ANC aangestel is, of ’n verdoemende verslag van die etiese komitee oor die optrede van een of ander ANC-raadslid, kon mens uit die openbare galery sien dat ANC-raadslede verdeel was oor die kwessie.

Die binnekring van die voormalige burgemeester Tau was bereid om enigiets te doen om hul kaders en hul eie reputasie te verdedig. Die agterbankers het hul voorbeeld gevolg, maar het sigbaar ongemaklik geraak.

Die ANC se benadering was fassinerend om gade te slaan. Hul lede sou langdradige toesprake lewer oor hoe hulle korrupsie beveg en daarteen gekant was – meestal onder gelag van ons kant van die raad af – voordat hulle bevraagteken of die aantygings eg is, met die eis dat bewyse gelewer word of deur een of ander tegniese of prosedurele fout te identifiseer waarop hulle hul hoop stel om hul kaders te beskerm.

Mashaba het dikwels die ou gesegde herhaal dat daar niemand so blind is soos dié wat nie wil sien nie. Nooit was dit so waar as vir die ANC in Johannesburg nie.

                                                                                      ***

Daar was baie kommentators en kritici, van binne en buite die ANC, wat gesê het dat ons meer op bedrog en korrupsie fokus as op dienslewering.

Ons het sterk verskil.

Om te argumenteer dat die twee wedersyds uitsluitend was, was om die feit te ontken dat gesteelde openbare geld oorspronklik bestem was vir dienslewering, die ontwikkeling van infrastruktuur en die opheffing van die armes. Mense steel immers nie uit die raad se salarisrekening nie.

Dit was eenvoudig nie waar dat die aandag van die stad tussen hierdie twee kritieke prioriteite verdeel moes word op so ’n manier dat die fokus op die een sou afbreuk doen aan die ander nie.

Mashaba was vasbeslote: Jy kan nie ’n suksesvolle stad bou as mense dit straffeloos plunder nie. Hy wou die stad opruim en wou sy platform gebruik om bewustheid en debat aan te wakker, ongeag wat sy kritici gesê het. Hy het ’n profiel gebou as die land se voorste teenkorrupsievegter en dit gedoen sonder dekades se ondervinding as loopbaan-politikus.

Wat Mashaba betref het, was daar geen bedrag te klein, geen persoon te magtig en geen aanvaarbare uitslag totdat die oortreders afgedank, vervolg en tronk toe gestuur is – en die geld wat hulle gesteel het deur die howe verhaal is nie.

* Michael Beaumont was Mashaba se stafhoof terwyl hy burgemeester van Johannesburg was en is nou ’n lid van sy nuwe politieke beweging, The People’s Dialogue.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.