Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uittreksel: Seisoen van helde

Baie mense beskou die Springbokke se eerste toets teen die 1955-Leeus as die grootste rugbywedstryd van alle tye, skryf Chris Schoeman en David McCLennan.

Cliff Morgan druk ’n drie in die eerste toets. Foto uit Lions in Africa

In 1955 toer die Britse Leeus vir die tweede keer ná die Tweede Wêreldoorlog en vir die eerste keer na Suid-Afrika ná die oorlog.

Hul reis na Afrika is voorafgegaan deur ’n toer na Nieu-Seeland en Australië vyf jaar tevore, toe die All Blacks hulle met drie nederlae (hulle kon darem in een toets ’n vierde gelykopuitslag afdwing) huis toe gestuur het. In Australië het dit baie beter gegaan en hulle het albei hul toetse teen die Wallabies gewen.

Die Leeus van 1950, wat deur Karl Mullen van Ierland gelei is, was ook die eerste span wat amptelik as die “Britse Leeus” eerder as die “Britse Eilande” bekend gestaan het en die span het in herontwerpte truie gespeel.

Tydens die skeepsreis na Nieu-Seeland het hulle ook in Ceylon aangedoen waar hulle hul grootste oorwinning van die toer (44-6) behaal het.

Nie een van hierdie spelers is gekies vir die 1955-toer na Suid-Afrika nie, hoewel daar groot teleurstelling onder die Walliesers geheers het dat die blitsige Ken Jones nie die paal gehaal het nie; terwyl die Iere ongelukkig was oor die weglating van hul ster-losskakel, die legendariese Jack Kyle.

‘Dit was alles emosie, dapperheid, briljantheid.’

Die eerstekeuse-losskakel Cliff Morgan van Wallis het egter teruggekeer uit Suid-Afrika as een van die ware sterre van die toer.

“In daardie jare was Leeus-toere vier of vyf jaar uitmekaar; jy moes net op die regte tydstip jou topvorm bereik om een ??keer ingesluit te word en jy moes ’n lang internasionale loopbaan hê om ’n tweede keer gekies te word,” onthou Morgan.

“Dit was ’n geleentheid wat jy nie kon weier nie, ’n kans en ’n uitdaging om die beste rugby van jou lewe te speel. Ek het gevoel dat ek, as ek eers ’n Leeu is, alles in die spel bereik het wat ek kon. Ek het gekyk na die spelers met wie ek sou saamspeel. Die ander nege Walliesers in die span het ek natuurlik goed geken, maar die ware opwinding was die blote gedagte om saam met Jeff Butterfield as my senter en Tony O’Reilly op vleuel te speel.”

Die 1955-leeus het 25 wedstryde op hul toer deur Suid-Afrika, Rhodesië (nou Zimbabwe), Suidwes-Afrika (deesdae Namibië) en Oos-Afrika gespeel en het 19 gewen, vyf verloor en een gelykop gespeel. Hul oorwinnings het twee toetsoorwinnings teen die Springbokke ingesluit om die reeks gelykop (2-2) te laat eindig.

Hulle wen die eerste toets met ’n enkele punt en die derde met drie punte, maar verloor die tweede en vierde wedstryde met groter tellings.

Jack van der Schyff se teleurstelling terwyl sy skop om die 1955- Britse Leeus te klop die linkerregoppaal op Ellispark mis. Foto: Getty Images

Die toer skop op ’n teleurstellende noot af met die toeriste wat met 6-9 teen Wes-Transvaal op Potchefstroom verloor terwyl hulle later op die toer ook deur die Oostelike Provinsie (0-20) en Grens (12-14) geklop is. Hul enigste gelykopwedstryd was teen die Oos-Transvaal (17-17).

Die groep is aangevoer deur die 24-jarige Robin Thompson van Ierland, wie se aanwysing as kaptein aanvanklik erg gekritiseer is weens sy jeugdige ouderdom. Die spanbestuurder was Jack A.E. Siggins, voorheen van Belfast en Ierland, en die assistentbestuurder Danny E. Davies, ’n voormalige speler van Cardiff.

Dit was ’n span wat baie pret gehad het van die oomblik wat hulle hul baadjies aangepas het.

“Dit het ons ten minste lekker laat lag, want al die moue was te lank, die skouers te breed en alles moes verstel word,” vertel Morgan.

“Dit het die ys gebreek en die aand het ons besluit dat ons ’n singende toerspan sou word. Ek is aangestel as die koormeester en die eerste stop was die hotelklavier waar ons elke dag vir ’n week lank Engelse, Skotse en Ierse liedjies in Engels, Walliese liedjies in Wallies en, in ’n vierstemmige harmonie, ‘Sarie Marais’ in Afrikaans geoefen het. Laasgenoemde het ons gedink sou goed by die skares daar afgaan.

‘As jy veilig speel, word die spel armer.’

“Al die spanlede se hotel- en reiskoste is betaal terwyl elkeen twee pond 10 sjielings sakgeld per week gekry het – op voorwaarde dat hulle kwitansies kon wys vir alles wat hulle bestee het.”

Terwyl die laaste Leeus wat Suid-Afrika in 1938 besoek het, per see gereis het, is die 1955-leeus per vliegtuig na Suid-Afrika. Op 10 Junie vertrek hulle met ’n BOAC Argonaut, “ ’n taamlike lomp vliegtuig”, soos Morgan onthou, via Rome, Kaïro, Nairobi en Living­stone voordat hulle vyf uur en 45 minute laat op Johannesburg geland het.

Die toerspan was verbaas oor die reuseskare wat hulle daar ingewag het. As blyk van hul waardering het hulle feitlik hul volledige repertoire – van “Sosban Fach” tot “Sarie Marais” gesing terwyl hulle deur die entoesiastiese Suid-Afrikaanse aanhangers toegejuig is.

Die eerste wedstryd wat die Leeus op 22 Junie gespeel het, was teen Wes-Transvaal – onder leiding van die Springbok-slot Johan Claassen – in Potchefstroom. Die toeriste het met nege punte teen ses verloor. Drieë deur Morgan en Cecil Pedlow was nie genoeg om die twee van die Wes-Transvalers te klop nie. Skepskoppe deur die heelagter Jack van der Schyff en die losskakel Pieters en ’n strafdoel deur Van der Schyff het hul lot verseël.

Telkens sou die Leeus veld-op vorder, net om teruggedryf te word deur die tuisspan “50, 60 en 70 jaarts op ’n keer”. Die Leeus het in hierdie wedstryd verskeie Suid-Afrikaanse rugbykenmerke teëgekom wat hulle verbaas het. Sandhopies waarop die bal geplaas kan word wanneer daar na die doel geskop word, is toegelaat vanweë die betonagtige veld; die groot voorspelers; en die feit dat die hele Potchefstroom, ten spyte daarvan dat die wedstryd op ’n Woensdag gespeel is, heeltemal tot stilstand gekom het. Die toeskouers het reeds na die stadion gejaag terwyl die Leeus nog besig was met hul ontbyt! Dit was die rede waarom daar vyf voorwedstryde gespeel is. Teen die tyd dat die eindfluitjie geblaas is, sou ons meer as sewe uur se aaneenlopende rugby gekyk het, het die rugbykorrespondent Vivian Jenkins met verbasing opgemerk.

Dickie Jeeps word gelak deur Salty du Rand. Foto uit Lions in Africa

Hulle het besef dat die bruin en swart deel van die skare aan die Leeus se kant was – al hul drieë is met ’n gejuig begroet.

Die span het sy eerste voorsmakie van spoorwegreise in Suid-Afrika gehad toe hulle per trein na Kimberley gereis het.

“Spoorwegreise in Suid-Afrika, hoewel stadig, is uiters gemaklik,” het Jenkins opgemerk. “Die standaard van die kos wat bedien word, die hoeveelheid daarvan en die lae koste sou die normale reisiger op British Railways groen van afguns gemaak het.”

Die eerste toets

Die vraag na kaartjies vir die eerste toets op Ellispark het die aanbod ver oorskry en die koerante was vol berigte oor toeskouers wat hemelhoë pryse vir kaartjies of vervalste kaartjies betaal het. Die amptelike bywoningsyfer van 90 000 (wat die grootste deel van die Suid-Afrikaanse kabinet ingesluit het) was destyds die grootste skare nog by ’n rugbywedstryd in Suid-Afrika.

Daar sal nog dekades oor die toets gepraat en geskryf word.

“Daar was heldedade en hartverskeurende tonele: dit was sekerlik die rugbytoets van alle rugbytoetse, miskien die grootste toets wat ooit gespeel is,” het die bekende rugbyskrywer Reg Sweet geskryf.

“Dit was ’n konstante ronde van triomf wat ’n ramp inhaal, van sukses teen alle verwagtinge in. Die een span het seker gelyk van ’n oorwinning en dan was dit skielik nie meer so nie . . . En tog het hulle weer op die rand van triomf gestaan in die laaste sekondes van die wedstryd, net om met ’n punt te verloor ná 45 minute . . . Dit was alles emosie, dapperheid en briljantheid, ’n spel van rugbywat in ’n fabel sou verval: want oor die gees was daar nooit twyfel nie. En ná alles gedoen en gesê is, was dit heel waarskynlik die merkwaardigste wedstryd wat die spel ooit gesien het.”

Die Bokke en die Leeus het op die veld gedraf te midde van ’n donderende gedreun met die slot Ernie Michie, uitgevat in ’n volle Skotse kilt, wat sy spanmaats met die doedelsak op die veld gelei het.

Die Britse Leeus het die telling in die 12de minuut geopen toe Butterfield die bal van Davies ontvang het, sy man getrek het voordat hy na Pedlow uitgegee het wat in die hoek oorgeduik het. Die heelagter Angus Cameron kon nie vervyf nie. Die voorsprong het slegs twee minute geduur toe Van der Schyff, die Springbok-heelagter, met ’n strafskop van 40 jaart geslaag het.

Die Springbokke het verder voorgeloop nadat die Britse voorspelers gestraf is omdat hulle die bal vasgehou het en Van der Schyff het van 30 jaart geen fout gemaak nie. Hul voorsprong het aangeskuif na 11-3 toe Tommy Gentles op die Leeus se kwartlyn om die skrum breek en na Stephen Fry uitgee wat Theuns Briers in die hoek oorgestuur het. Van der Schyff het briljant vanuit ’n moeilike hoek oorgeskop.

Maar die Leeus het teruggeveg en Morgan het op die middellyn weggebreek voordat Butterfield sy teenstander onder die stof gehardloop het om onder die pale te gaan druk. Cameron het verdoel en toe rustyd aanbreek, het die Springbokke met 11 punte teen agt voorgeloop.

Binne twee minute nadat spel hervat is, het die Leeus amper punte aangeteken, maar Tony O’Reilly is op die hoekvlag uitgeduik. Ongelukkig het die Leeus vir Reg Higgins verloor, wat vir die tweede keer beseer is en van die veld gedra is. Ten spyte van hierdie terugslag, het hulle weer die voortou geneem nadat Morgan skitterend deur die verdediging gesny het om naby die pale te druk, en Cameron het maklik verdoel.

Lions in Africa: 130 Years of Rugby Rivalry 1891-2009 behoort teen 18 Junie op die rak te wees. Vir meer inligting oor dié en ander rugbyboeke, kontak David McLennan by shop@selectbooks.co.za.

Daarna het ’n paar hewige aanvalle deur die besoekers gevolg, en skaars twee minute later het hulle weer punte aangeteken toe O’Reilly net kort van die lyn platgetrek is, maar Davies het opgetel en oorgeduik. Cameron het pragtig vervyf. Agt minute later kon Van der Schyff nie ’n skop van Jim Greenwood onder beheer kry nie en O’Reilly was in ’n japtrap by om besit te steel en te druk. Weer het Cameron die moeilike vervyfskop sekuur oorgestuur. Met ongeveer 20 minute se speeltyd oor het die Leeus ’n gemaklike voorsprong van 23 punte teenoor 11 opgebou.

Die Springbokke het gedoem gelyk. Maar toe kom daar ’n verstommende Bok-herlewing. Gentles het dwars oor die lyn van die skrum geskop, en met Cameron uit posisie, het Sias Swart – Suidwes-Afrika (nou Namibië) se eerste Springbok – die bal op die linkerkantste kantlyn ingepalm en oorgeduik. Van der Schyff se skop het misluk, maar met drie minute oor het die beweeglike Bok-stut van die Boland, Chris Koch, op ’n los bal toegeslaan ongeveer 20 jaart vanaf die Leeus se doellyn en met vasberade systappies deur die verdediging gewriemel voordat hy homself uiteindelik oor die wit lyn gewerp het. Van der Schyff het geen fout gemaak nie en die telling was skielik Leeus 23, Springbokke 19.

Maar steeds was dit nie verby nie. Uit die bloute was daar nog ’n Bok-aanval wat deur die senter Des Sinclair begin is en wat met Gentles en Fry se ondersteuning aan die gang gehou is. Nadat Fry die bal na Briers op vleuel geskuif het, het hy twee verdedigers op die kantlyn geklop voordat hy ses jaart van die hoekvlag oor is. ’n Suksesvolle verdoelskop sou die truuk doen.

Toe Van der Schyff vir die skop aantree, het die skare van 96 000 tjoepstil geword. Wie wil op daardie oomblik in ’n heelagter se skoene wees? Toe sy stewel deurswaai het die bal hoog . . . maar links . . . verbygetrek!

Met geboë skouers en ’n kop wat hang het die arme heelagter gepynig weggedraai. Dié foto sou een van die mees ikoniese rugbyfoto’s van alle tye word.

Dr. Danie Craven het daardie eerste toets as die grootste toetswedstryd wat hy ooit gesien het, bestempel.

“Omdat dit ons was, wil ek hom graag glo,” was Morgan se antwoord hierop.

“En ook omdat ek weet dat ons groot rugby gespeel het in temperature van 78 °F (26 °C) in die skaduwee en op ’n hoogte van 5 750 voet (1 753 meter) bo seespieël wat ons na suurstof laat snak het.

“Vir my was die wedstryd ’n toonbeeld van wat rugby en die hele toer was – avontuur, styl, die aangee van die bal en – die belangrikste ding in rugby – kanse waag.

“Ons het dom drieë weggegee, daarvan is ek seker, maar ons het aangehou waag, want as jy veilig speel, word die spel armer. En ons het baie meer gewen as wat ons met dié benadering verloor het.”

*Hierdie uittreksel is uit die boek Lions in Africa:130 Years of Rugby Rivalry 1891-2009 deur Chris Schoeman en David McLennan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.