Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Uittreksel – Stella-moorde: ‘Mamma, ek wag vir jou’

Sy het Xander Bylsma vir die moord op haar dogter Marna vergewe, sê Rianet Engelbrecht in dié uittreksel uit Die Stella-moorde aan Susan Cilliers.

Rianet en Riané Engelbrecht Foto: Verskaf

Twee roosplante groei langs mekaar in potte in Rianet Engelbrecht se tuin.

Die een dra perskepienk Princesse Charlene de Monaco-rose met takke wat regop en hoog groei, reikend na die hemel.

Langs die prinses-roosboom groei ’n treffende donkerpienk Burgundy Iceberg-roos, waarvan die takke welig na die kante uitsprei.

Sy het elkeen van dié plante met sorg uitgekies om vir haar twee dogters te plant, sê Rianet.

Sy wys foto’s van die pragplante en -blomme op haar selfoon terwyl ons in ’n vriendin se huis in Vryburg gesels. Rianet praat spontaan. Sy glimlag dikwels wanneer sy kosbare gedagtes oor Marna deel.

“Ek het die rose geplant nadat my sielkundiges voorgestel het dat ek so iets doen om in die genesingsproses ná Marna se dood te help.”

Die eerste ding wat Rianet vir Xander sal wil sê, is dat sy hom vergewe.

Die Princesse Charlene-roos se subtiele perskekleur herinner aan Marna se sagte, introvertiese aard. Die takke wat so sterk na bo groei, versterk Rianet se troos dat Marna net ’n paar minute swaargekry het voordat sy op daardie verskriklike dag van 26 Mei 2018 deur “die poort na die ewige lewe en hemel beweeg het”.

Riané se vurige diepdonkerpienk rose wat so parmantig wyd groei, weerspieël weer haar lewendige, meer ekstrovertiese geaardheid. Sy gesels vandag saam. Die skraalgeboude jong vrou, ’n assistent by ’n kleuterakademie in Vryburg, lyk pure plaasmeisie. Met haar netjiese lang bruin hare, kortbroek, T-hemp, veldskoene en mooigevormde, bruingebrande bene is sy ’n treffende kombinasie van skoonheid, vroulikheid en ongekunsteldheid.

Die eerste ding wat Rianet vir Xander sal wil sê, is dat sy hom vergewe.

“Dis ter wille van myself omdat ek hom nie die res van my lewe met my wil saamdra nie. Maar ek sal graag by hom wil weet of hy dink die moorde was die moeite werd. Kyk waar sit hy nou: In die tronk, terwyl Marna en Sharnelle aan Jesus se voete sit. Marna en wie sy was toe sy geleef het, is vir my baie meer werd as om by Xander vas te steek. Mense sê maklik ‘jy is so ’n goeie mens om Xander te vergewe’, maar ek weet presies wie en wat ek is, en só, ’n goeie mens is ek nie.

“Maar die Here God ken my hart. Hy alleen moet al die eer kry vir die werking van sy Gees in my lewe en hart. Ek, as gebroke mens, staan leeg voor die wonder van ons Vader se grootheid en genade.”

‘Pragtige tweelingseuntjies’

Rianet en Riané wys foto’s en vertel staaltjies. Op van die foto’s sit die sussies saam op ’n kwadfiets, dan weer teen mekaar op ’n perd. Met hul kort donker hare lyk hulle byna soos seuntjies.

“Mense het my destyds dikwels met my pragtige tweelingseuntjies gekomplimenteer,” sê Rianet laggend. Die twee was groot maats.

Marna was nie ’n vroeggebore baba nie, maar sy bitter klein, knieserig en huilerig. “Dit het haar gekalmeer en getroos wanneer ek haar teen my lyf gedra het. Sy het altyd daardie ekstra versorging nodig gehad en het tot met haar dood dikwels my nabyheid opgesoek. Terselfdertyd het Marna egter ’n sterk, onafhanklike persoonlikheid ontwikkel en sosiaal maklik aangepas.”

Riané en Marna was in sekere opsigte baie eenders, sê Rianet. “Riané is ook baie onafhanklik en nes Marna kieskeurig wanneer sy vriende maak en mense naby haar toelaat.”

In ander opsigte was die sussies weer baie verskillend: Riané is ’n ekstrovert en pynlik netjies, terwyl Marna bietjie van ’n slonskous kon wees. Sy was sag, stil, ’n introvert en kon mooi teken.

“Marna was van kleins af lief vir diere en wou hulle net gesond dokter,” sê Rianet.

Marna se aanlegtoetse in gr. 10 het gewys dat sy is 100% geskik was om veeartsenykunde te studeer.

“Riané het dikwels die leiding geneem toe hulle jonger was. Hulle het oral op die plaas rondgespeel en boomhuise gebou. In ’n stadium, toe hulle so sewe, agt jaar oud was, het ek hulle tuis onderrig. Hulle sou vra of hulle gou na hul pa kon gaan. As ek weer sien, het hulle kosblikke gepak en ry hulle sommer saam met Stefans op die plaas rond. Hy was onder die indruk dat ek die kosblikke gepak en toestemming gegee het.”

Marna het haarself mettertyd ook as ’n harde werker en skrander kind onderskei, wat akademies goed presteer het. Haar aanlegtoetse in gr. 10 het gewys dat sy is 100% geskik was om veeartsenykunde te studeer. Met dit in gedagte het sy haar vakke gekies, en haar akademiese prestasies was goed genoeg dat dit ’n haalbare droom was, sê Rianet.

“Marna het wel getwyfel of sy dit emosioneel sou kon hanteer om diere soms seer te maak in die proses om hulle te help, maar eindelik het sy besluit om tog veearts te word.”

Daar was gevaartekens . . .

Xander Bylsma nadat hy skuldig bevind is. Foto: Felix Dlangamandla

Marna en Sharnelle se as is naas mekaar in die herinneringsmuur by die APK in Vryburg. “Ek het al dikwels gewonder hoe dit sou gewees het as net een van hulle dood was,” sê Rianet. Dit sou vir die oorlewende vriendin bitter swaar gewees het om die verlies aan ’n geesgenoot, wat as’t ware soos ’n sussie was, te hanteer. Daarom is dit vir Rianet ’n troos dat Marna en Sharnelle tot in die dood saam is.

By die diep gelowige vrou is daar geen twyfel dat Marna gereed was om te sterf nie. “Nadat sy dood is, het ek afgekom op gedagtes wat sy self oor onder meer vriendskap, die dood en die Nagmaal geskryf het. Dit het my getroos dat sy insig in haar geestelike welstand en erns met die Here gehad het.”

In Marna se kamer op die plaas Caledon buite Vryburg, waar die Engelbrechts woon, is Bybelversies en geestelike boodskappe teen die mure geplak.

Riané se lewendige donkerbruin oë skiet vuur wanneer sy vertel dat sy pas ná die nuus oor Marna en Sharnelle se dood “net geweet het dis Xander”. Sy het vroeër gesien hoe hy ’n meisie teen ’n traliehek vasdruk, en gedreig het om Marna te skiet.

Riané is nog baie bitter oor wat Xander van hulle weggeneem het.

Ook Rianet besef vandag daar was reeds vóór die moorde gevaartekens dat Xander moontlik tot fisieke geweld kon oorgaan, maar destyds het niemand dit so ernstig opgeneem nie.

“Dit was aspris en met opset. Ek haat hom elke liewe oomblik. Ek wens niemand so iets toe nie. Ná die moorde het ek aanvanklik skuldig gevoel wanneer ek soms gelukkig was. Ek het Marna gesien grootword en my voorgestel hoe suksesvol sy eendag sou wees.”

Ook Rianet besef vandag daar was reeds vóór die moorde gevaartekens dat Xander moontlik tot fisieke geweld kon oorgaan, maar destyds het niemand dit so ernstig opgeneem nie.

“Ons het nooit eens aan die moontlikheid gedink dat hy so iets sal doen nie. Nou weet ons waartoe hy in staat is.”

Rianet onthou nog hoe dankbaar sy die aand van 25 Mei 2018 was toe sy, Stefans en Riané veilig in die plaashuis was en Marna in die koshuis op Stella. “Ek het daardie aand gebid dat die Here ons almal sal bewaar en was gerus dat ons almal veilig is.”

Rianet verkwalik nie die koshuismoeder omdat sy daardie aand nie die koshuis se deur gesluit het nie. “Ek was ook ná die moorde by haar. Xander het geweet wat hy wil doen en sou in elk geval ’n manier gekry het om dit te doen, al was die koshuisdeur gesluit. Niemand kon voorsien dat so iets sou gebeur nie.”

Skok op skok ná moorde

Stefans Engelbrecht in die hof langs ’n plakkaat-grootte foto van Marna. Foto: Felix Dlangamandla

Rianet wou aanvanklik nie die moordverhoor bywoon nie, maar sy het tog gegaan om Riané, wat dit wel wou bywoon, te ondersteun.

“Vandag is ek bly ek het die hele verhoor bygewoon. Inligting wat in die verhoor na vore gekom het oor hoe presies Marna en Sharnelle vermoor is, het my gehelp om berusting en afsluiting te kry. Net nadat dit gebeur het, was dit skok op skok. Eers dat hulle hul eie lewens geneem het, toe dat dit moord was. Soveel gedagtes gaan deur ’n mens se kop. Ons het byvoorbeeld aanvanklik gedink hulle is in hul slaap oorval, maar nou weet ons dit het nie so gebeur nie. Die verhoor het baie gehelp om sekerheid te midde van al die twyfel en vrae te kry.”

Rianet is oortuig daarvan dat Xander wel die moordenaar is. “Dis afgehandel en verby. Xander hét dit gedoen. Die getuienis teen hom was oorweldigend. Dis belaglik dat hy nou wil appelleer. Ek glo vas dít wat hy aan Chris Saunders en in sy bekentenis en uitwysings gesê het, is die waarheid en hoe dit gebeur het.”

Soos wat die verhoor gevorder het, het Rianet se siening oor Xander geleidelik verander. “Ek het hom aanvanklik jammer gekry omdat ek gedink het hy het daardie aand nie besef wat hy gedoen het nie. My jammerte het mettertyd verdwyn toe ek deur die loop van die verhoor besef dat hy dit berekend gedoen het. Hy het geen begrip van wat hy gedoen het en het geen berou nie. Ek glo daar is patologie in sy persoonlikheid.”

Rianet Engelbrecht luister na getuienis in die hofsaak. Foto: Felix Dlangamandla

Rianet is nie wrokkig nie. “Ons ouers het my en my vier susters godsdienstig en met ’n sterk sin vir regverdigheid grootgemaak.”

Sy was selfs vóór haar dogter se dood geneig tot depressie en het medikasie daarvoor gebruik, maar dit het ná die moorde vererger.

“Ek het berading gekry. Ek het kort vóór die vonnisoplegging byna ingekonk.”

Ná die moorde het Rianet baie gebid dat sy in ’n droom ’n boodskap van Marna kry. Maande het egter verbygegaan voordat dit gebeur het. Rianet het baie deurmekaar nagmerries gekry, wat sy meen bloot haar onderbewussyn se manier was om haar hartseer en worsteling oor die gebeure te verwerk.

En toe, een aand, droom sy Marna staan by die deurkosyn. Rianet onthou dit was ’n baie helder droom en dat Marna vir haar gesê het: “Kom, Mamma, ek wag vir jou.”

Ander familielede het ook verskillende drome gehad waarin hulle Marna en Sharnelle omring van lig, blomme of by ’n kruis gesien het, sê Rianet.

“In een van die drome het ’n man met ’n polisieman geworstel. Ons het iemand gekry om die drome te help uitlê. Die worsteling met die polisieman was simbolies van Stefans se worsteling om alles te verwerk. Hy kan nie verstaan hoekom God die moorde nie kon keer nie, want Hy is dan almagtig. Dan sê ek vir hom Satan is ook magtig.

“Ek glo ook nie dit was God se wil dat Marna só moes sterf nie. En tog sien ek God se hand in baie dinge, soos die verloop van die verhoor en hoe sterk bewyse teen Xander ingesamel is sodat hy uiteindelik skuldig bevind is.”

‘Die lewe is kort’

Xander Bylsma en sy ma, Mercia. Foto: Felix Dlangamandla

Hoewel Rianet glo dat Stefans Xander nooit sal vergewe nie, gaan dit al beter met hom. “Hy trek swaar en sien byvoorbeeld nog nie kans dat ons Marna se kamer leegmaak en haar klere wegpak nie. Ek en Riané is gereed daarvoor. Vir my lê die herinneringe aan Marna nie in die tasbare nie, maar in my hart.

“Stefans is egter nog nie gereed om haar goedjies te laat gaan nie.”

Alles in Marna se kamer is nog net soos sy dit die naweek vóór haar dood gelos het. Die pienk beddegoed, prente teen die mure en haar prestasiepryse. Daar is ook talle foto’s van haar.

Rianet gaan sit soms in Marna se kamer. “Dit bly ’n lekker gevoel.”

Vir die Engelbrechts sal daar altyd teenstrydige gevoelens wees wanneer hulle Riané se mylpale vier. “Ons vier elke mylpaal met vreugde, maar dis lag met ’n traan en hartseer saam met die vreugde,” sê Rianet.

“Ons vier juis in Junie (2021) haar 21ste verjaardag. Marna het nooit vreugdes soos ’n matriekafskeid gehad nie en ons sal nooit haar 21ste verjaardag vier nie. Dis vir ons ’n doodse hartseer.”

Die koshuis waar die moorde gepleeg is. Foto: Deon Raath

Xander se skuldigbevinding en vonnis verander vir Rianet niks aan wat gebeur het nie, en so ook nie sielkundige hulp nie.

“Die sielkundige hulp help my egter baie om vaardighede te ontwikkel sodat ek dit beter kan verwerk.”

Rianet moet vrede maak daarmee dat haar hoop en drome vir Marna nooit sal realiseer nie: Om ’n onafhanklike, professionele vrou te word, dalk kinders te kry en gelukkig te wees in wat sy doen.

Sy glo egter daar is vir hulle én die algemene publiek lesse te leer uit die tragedie van Mei 2018 asook ’n geleentheid vir haar om geestelike getuienis te lewer.

“Die lewe is kort. Ons moet daar wees vir mekaar en weet ons is reg om enige tyd te sterf. Niemand weet wanneer jou streep getrek gaan word nie. Die goeie Vader gee ons krag, Hy dra en vertroos ons om op ’n byna bonatuurlike manier te kan voortgaan.”

• Sowel Sharnelle as Xander se ouers is genader vir onderhoude. Hulle wou nie verdere kommentaar lewer nie. Xander wou ook nie ’n onderhoud toestaan nie.

Die Stella-moorde word deur Lapa Uitgewers uitgegee en kos R295. Bestel dit hier.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Vryburg  |  Stella-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.