Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Unieke kruisbestuiwing

Die kruisbestuiwing tussen die sewe- en vyftienmanrugbykodes het mildelik bygedra tot die ontwikkeling van talle Suid-Afrikaanse sterspelers in albei kodes, skryf Heindrich Wyngaard en Hendrik Snyders.

Die Blitsbokke vier verlede Saterdag hul oorwinning in die eindstryd van die HSBC-sewestoernooi in Dubai.Foto: getty

’n Mens sou dink die goue medalje wat Cheslin Kolbe onlangs in Japan as ’n lid van die Springbokke se Wêreldbeker-segespan om sy nek kon hang, sou maak dat hy voortaan net sy rugby wil geniet en sy beste spel op die veld lewer vir sy Franse klub en Suid-Afrika se nasionale span.

Dié vlugvoetige vleuel, wat ook vanjaar as die Franse Top 14-speler van die seisoen aangewys is, het egter nou sy visier daarop ingestel om weer ’n Top 14-titel vir Toulouse te verseker.

Én om by volgende jaar se Olimpiese Spele vir die Blitsbokke uit te draf.

Neil Powell, Blitsbokke-afrigter, is gretig om Kolbe terug in sy groep te hê, waarvan hy tussen 2012 en 2017 deel was.

“Ons het hom reeds gesê dat dit vir ons lekker sal wees as hy deel van die groep is as ons weer Olimpiese Spele toe gaan,” het Powell kort voor hierdie naweek se Kaapstad-sewestoernooi gesê.

Maar hy was versigtig om nie sommer enige krediet vir Kolbe se opgang vir homself op te eis nie.

“Wel, dit lyk of almal nou aanspraak maak op Chessie, maar ek glo dis ’n kombinasie van al die stelsels waarvan hy deel was, en dan natuurlik sy ingesteldheid as mens en speler.”

Dié “stelsels” sluit beide Kolbe se sewes- én vyftienman-blootstelling in – en dit is hierdie kruisbestuiwing sedert Suid-Afrika se hertoelating tot die internasionale rugbygemeenskap wat mildelik bygedra het tot die ontwikkeling van talle sterspelers – in albei kodes.

Van sewes tot Webb Ellis

Saam met Kolbe in die Bokke se 2019-Rugbykampioenskap- en Wêreldbekerspangroepe was ook minstens twee ander wat al naam gemaak het as sewesspelers, naamlik Kwagga Smith en Warrick Gelant.

En dan is daar voormalige Blitsbokke, soos Cornal Hendricks, Warren Whiteley en Lionel Mapoe, wat waarskynlik ongelukkig was om nie die span te haal nie.

Die sewes-teenwoordigheid was ook opvallend in die Bokgroep wat die Wêreldbeker in 2007 verower het, met groot name soos Jean de Villiers, die drieëvraat Bryan Habana en ook Ashwin Willemse.

Ander vóór-2007-Springbokke wat ook vir die sewesspan uitgedraf het, sluit in Luke Watson, Gio Aplon, Gcobani Bobo, Heinrich Brüssow, Bolla Conradie, André Pretorius, Jano Vermaak, Conrad Jantjes, Akona Ndungane, Bobby Skinstad en Breyton Paulse.

Maar die verskynsel van vyftienman-Bokke met ’n sewes-verbintenis het in die 1995-Wêreldbeker-wenspan reeds ’n betekenisvolle indruk en impak gemaak.

Dié suksesvolle groep het spelers soos Ruben Kruger, Chester Wil­liams, Joost van der Westhuizen en André Joubert ingesluit.

Joubert, Van der Westhuizen en Williams het ook die Blitsbokke aangevoer, terwyl laasgenoemde selfs later die span se breierleisels oorgeneem het.

En wie onthou dat nóg ’n 1995-Wêreldbeker-wenner, Rudolf Straeuli, in 1993 die kaptein van die eerste SA Sewesontwikkelingspan was?

’n Ander seweskaptein wat sy stempel behoorlik afgedruk het, was Paul Treu, tans ’n vyftienmanafrigter by die Westelike Provinsie.

Treu het nie net die sewesspan tussen 1999 en 2003 verteenwoordig nie, maar daarna ook vir byna ’n dekade afgerig (2004-2013) voordat hy ook die Keniaanse sewesspan vir ’n jaar lank gebrei het.

Die Imbokodo

Behalwe dat Treu se opvolger, Powell, ook voorheen die span aangevoer het, rig ’n ander voormalige Blitsbok, Paul Delport, op die oomblik die vroue-sewesspan (die Imbokodo) af.

Die spel is eers in 2005 na vroue uitgebrei, en die eerste nasionale verteenwoordigende span, bekend as ’n SA Vroue-ontwikkelingspan, het in 2006 aan die Afrika-konfederasietoernooi in Uganda deelgeneem – én as oorwinnaars uit die stryd getree.

Byna tien jaar later, in 2015, het die span vir die 2016- Olimpiese Spele in Rio gekwalifiseer, maar die plaaslike Olimpiese beheerliggaam, Saskok, het besluit om die span te onttrek.

Hul voorafvertonings was nie van die soort gehalte wat hulle ’n redelike kans op ’n medalje gegee het nie, was die beweegrede vir Saskok se ongewilde besluit.

Dit is nou moeilik om jou voor te stel watter stryd dit was om sewes plaaslik goedgekeur te kry. Of dat dit eens as ’n ‘komiese tussenspel’ afgelag is.

Onlangs nog het Delport sy misnoeë uitgespreek oor die gesukkel om spelers vir die Imbokodo te vind omdat die indruk bestaan dat die span nie ernstig genoeg opgeneem word nie en daar nog nie voldoende in vroue-sewes (óf die vyftienkode-vrouespan) belê word nie.

Maar hy is optimisties dat die span in hul debuutverskyning by die naweek se Kaapstad-sewestoernooi hul reputasie as Afrika-kam­pioene gestand sal doen.

“Ons benader die toernooi met groot opgewondenheid en geen werklike druk op ons nie,” het Delport gesê, “dus kan ons net opdraf en wys wie ons is en die geleentheid geniet om aan die toernooi en die Wêreldreeks deel te neem.”

Maar die manspan kan nie die luukse bekostig om net vir die genot te gaan speel nie.

Húlle sal moet aftrap, punte aanteken en verdedig dat die Kaapstadstadion antwoord gee – veral nadat hulle verlede naweek die Dubai-sewestoernooi op skouspelagtige wyse gewen het deur die All Blacks met 15-0 in die eindstryd te klop.

Wat die Blitsbokke egter behoorlik van die vrouespan onderskei, is dat die span met soveel talent spog dat Powell dit kan bekostig om twee voormalige ontvangers van Wêreldrugby se Sewesspeler van die Jaar-prys, Cecil Afrika en Werner Kok, uit sy twaalftal weg te laat.

Dit is omdat hy steeds kan steun op die vaardighede van spelers soos die kaptein, Siviwe Soyizwapi, Selvyn Davids, Justin Geduld, Ruhan Nel, Seabelo Senatla en Rosko Specman, waarvan die laaste drie immers ook kookwater-vyftienmanspelers is.

Komiese tussenspel!?

Noudat sterre soos dié en die Blitsbokke as ’n span sulke ongekende aanhang geniet, is dit moeilik om jou voor te stel watter stryd dit was om dié verkorte weergawe van die vyftienmankode plaaslik goedgekeur te kry. Of dat dit eens as ’n “komiese tussenspel” afgelag is.

Die vroeë teenstand het hoofsaaklik te doen gehad met die vrees by destydse rugbybase dat sewes – asook ander verkorte pogings, soos “sesse”, “neges” en “vyf-aan-’n- kant” – ’n bedreiging vir die reëls van amateurisme sou inhou.

Maar steeds kon ’n Junior Springbokspan dit in 1959 regkry – op toer in Argentinië – om twee spanne vir die Buenos Aires-sewes ingeskryf te kry.

En so het dit gebeur dat oud-Bokke wat vandag as legendes van die vyftienmankode bekend is, soos Jannie Engelbrecht, Mannetjies Roux, John Gainsford en Nelie Smith, reeds 60 jaar gelede ’n eerste sewestitel vir die land verower het.

Daarna is onder meer enkele sewes-voorwedstryde vir ’n toets tussen die Springbokke en Australië in September 1969 op Nuweland gespeel en is die Ford- interprovinsiale sewestoernooi in die 1970’s tot begin ’80’s deur die Noord-Transvaalse rugbyunie aangebied.

Dit was egter eers toe rugbyeenheid in 1992 bereik is en die internasionale isolasie opgehef is dat sewes sy regmatige plek begin inneem het.

Die Rastalokke-brigade

Ten spyte daarvan dat Suid-Afrika dus ’n relatiewe laatkommer in sewes is, oorheers die span tans die internasionale punteleer saam met Nieu-Seeland, Engeland, Samoa en Australië.

Dit is te danke aan die spelpeil van spelers soos Specman, wat by verlede naweek se Dubai-toernooi as die Speler van die Eindstryd aangewys is, en ook die enigste Blitsbok was wat die toernooi se droomspan gehaal het.

In rugbykringe word daar nou na die vertonings van hierdie lid van die Blitsbokke se Rastalokke-brigade as “Specmagic” verwys, afgelei van “Kolbe Magic”, omdat albei spelers gereeld die opponente dronk hardloop met hul kenmerkende kantellopies.

Die oë sal dié naweek vanselfsprekend weer op Specman en spanmaats soos Geduld en Senatla wees om die knoop vir die Blitsbokke in die Kaapstad-toernooi deur te hak, maar belangriker selfs: Om die weg voor te berei vir volgende jaar waar Kolbe hoop om as ’n sewesspeler ’n Olimpiese goue medalje te verseker, soos die een wat sy neef, naelloper Wayde van Niekerk, in 2016 behaal het toe die Blitsbokke met brons tevrede moes wees.

Meer oor:  Ontwikkeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.