Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
US-debakel gaan oor die grondwethof se integriteit

As regter Mogoeng Mogoeng langer in gebreke bly om die kommunikasie tussen regter Edwin Cameron en prof. Wim de Villiers te ondersoek en aan te spreek, nader ons ’n dag waarop die konstitusionele hof geminag sal word as net nog ’n manifestasie van ’n staat wat sy mense onherroeplik teleurgestel het, skryf Tian Alberts in ’n ope brief aan die hoofregter. 

Die konstitusionele hof se uitspraak in die taalhofsaak van Gelyke Kanse teen die Universiteit Stellenbosch (US) is deurspek met simpatie en hoop, maar verteenwoordig ’n voorspelbare aanvaarding van lae standaarde en gebrekkige argumente wat heeltemal teenstrydig met studente se werklikhede in die praktyk is.

Dit is teleurstellend, want die konstitusionele hof was die laaste vangnet vir die taalregte van studente in Suid-Afrika – veral op Stellenbosch – wat nie Engels as huistaal het nie.

Is dit onvanpas om ’n uitspraak van die konstitusionele hof te kritiseer?

Ek glo nie dit is onvanpas nie – veral omdat dit al in die verlede gedoen is waar die onhoudbare praktiese gevolge van uitsprake eenvoudig nie daar gelaat kon word nie.

U, regter Mogoeng, het self onlangs ’n beroep op die publiek gedoen om die regters van die konstitusionele hof “fyn dop te hou”. Anders, het u gemeen, sal ons grondwetlike demokrasie “verdwyn”.

U sal goed onthou dat in die nadraai van die uitspraak in Joe Slovo Community vs. Thubelisha Homes die konstitusionele hof se uitspraak tereg so erg gekritiseer is dat die hof uiteindelik stilweg ’n opvolg-uitspraak gelewer het om die gruwelike praktiese gevolge wat die aanvanklike uitspraak teweeggebring het, tersyde te stel.

Die uitspraak in die US-taalhofsaak is ongetwyfeld ’n voorbeeld van ’n hofuitspraak wat nie die nadelige praktiese werklikhede wat gewone mense (in hierdie geval studente) in die gesig staar, in ag geneem het nie.

Hierdie onsamehangendheid laat my moed in my skoene sak, want ek ervaar eerstehands hoe buitensporig verwyderd die uitspraak van die konstitusionele hof van die werklikheid op die kampus is.

Ten spyte van wat die Matie-rektor, prof. Wim de Villiers, as feite voorhou, is daar geen sprake van betekenisvolle meertaligheid by die US nie. Dit is Engels.

En indien die doel van die uitspraak was om “transformatiewe konstitusionalisme” by die US te laat seëvier, moet ek u ongelukkig teleurstel dat die US se Engelse klasse wemel van wit en bevoorregte studente wat Engels as huistaal het en voortaan nie verontrief sal word deur Afrikaanse lesings wat hulle in elk geval in die verlede nooit hoef by te gewoon het nie.

Ter verdediging van die nuwe (Engelse) taalbeleid, skryf De Villiers dat 66% van studente hul lesings in Engels verkies en 71% Engelse leermateriaal verkies, maar laat na om te verduidelik dat selfs die meerderheid Afrikaanse studente nie meer verkies om in Afrikaans te studeer nie juis omdat dit vir hulle akademies onverantwoordelik geword het om dit te doen onder die nuwe taalbeleid.

Dis reg – maar slegs wanneer die keuse om in Afrikaans te studeer gereserveer word vir die Afrikaanse student wat uit goeie (meestal stedelike) skole kom wat waarskynlik boonop dubbelmedium was.

Vir ’n beduidende getal studente van die platteland of uit armer gemeenskappe – diegene wat voordeel behoort te trek uit “transformatiewe konstitusionalisme” – is dit egter nie die geval nie.

As ’n mens in ag neem die bykomende energie en fokus wat die gedurige self-vertaling vanaf Engels na Afrikaans meebring in klasse wat vir alle pedagogiese doeleindes slegs Engels geword het, moet ons eerder die 34% van studente wat nie verkies om in Engels te studeer nie, bewonder vir hul waagmoed.

Waagmoed, want hulle stel hulself bloot aan intimidasie, beledigings en volstrekte weiering deur dosente om selfs die skamele hoeveelheid Afrikaans te gebruik wat onder die nuwe taalbeleid vereis word. En ek sê dit nie ligtelik nie – ek het dit persoonlik die afgelope drie jaar ervaar.

Op hierdie punt verpoos ek om te vra of hierdie toedrag van sake, wat deur verskeie studente in die vorm van verklarings vir die hof aangebied is, dalk nie die belangrikste getuienis was wat die uitslag van die saak moes bepaal nie?

Of eerder, waarom het die hof geweier om enige ag te slaan op die gedokumenteerde werklikheid van 8 000 US-studente wat jaarliks by die US ten beste toegang tot kennisbronne in Afrikaans verkry het, maar dit voortaan nie meer sal verkry nie?

Hierdie kru uitsluitende taalbeleid word nou deur die hoogste hof van die land onderskryf.

Studente aan die US wat nie Engels as huistaal het nie, is nou letterlik uitgelewer aan die individuele voorkeure en voorbehoude van dosente.

Ten spyte van regter Johan Froneman se poging om lewe te blaas in die sterwende vooruitsig van Afrikaans as akademiese taal en standaardisering en omskepping van ander amptelike landstale in tale van tersiêre onderrig, bly daar daarvoor geen hoop oor nie.

Wanneer ’n land 11 amptelike tale het, verteenwoordig ’n hof se afdruk van ’n rubberstempel op ’n universiteit se weiering om in meer as een amptelike taal betekenisvol onderrig aan hul taaldiverse studentekorps te bied, die opperste normalisering van lae standaarde.

Dit daar gelaat, is my pleidooi nie dat hierdie uitspraak soos die een in die Joe Slovo-saak waarna ek vroeër verwys het, omvergewerp moet word nie.

Nee, die minste wat die konstitusionele hof, by monde van u self, in hierdie stadium vir bekommerde studente en landsburgers kan doen, is om deeglik antwoord te bied op die verskeie navrae aan u gerig in verband met die feit dat regter Edwin Cameron, die man wat die uitspraak in die bogenoemde taalhofsaak geskryf het, met die rektor – ’n party in daardie saak – gekommunikeer en vergader het voordat en terwyl die uitspraak geskryf is.

Hierdie feite regverdig sekerlik ’n behoorlike, deursigtige ondersoek en ten minste ’n antwoord aan die publiek?

Die aangeleentheid is lankal nie meer net oor ’n taalbeleid of ’n rektor of kanselierskap nie. Dit gaan oor die integriteit van die konstitusionele hof – die mees geloofwaardige beregter en bemiddelaar van grondwetlike regte in ons brose demokrasie.

Hierdie regte spruit uit die mees noemenswaardige konsensus wat hierdie land nog bereik het in die vorm van ’n Grondwet. Moet asseblief nie toelaat dat hierdie versoenende bakens van regverdigheid hul status verloor nie.

Ek is bevrees, indien u langer in gebreke bly om die beweerde onreëlmatighede met die kommunikasie tussen Cameron en De Villiers, waarvan u reeds menige male in kennis gestel is, te ondersoek die hof geminag sal word as net nog ’n manifestasie van ’n staat wat sy mense onherroeplik teleurgestel het die oomblik toe deursigtigheid en verantwoordbaarheid versaak is.

Dít sal ’n hartseer dag vir grondwetlike demokrasie wees.

* Tian Alberts is ’n nagraadse LLB-student aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.