Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
US en Afrikaans: die feite

As openbare instelling wat onder meer met belastingbetalersgeld gefinansier word, behoort die Universiteit Stellenbosch (US) aan ál die mense van ons land. Dus wíl die US toeganklik vir almal wees – in ’n taal wat die meeste mense kan praat, en dít is Engels, skryf Wim de Villiers.

Die Rooiplein op die hoofkampus van die Universiteit Stellenbosch. Foto: getty images

Stellenbosch is nie ’n Afrikaanse universiteit nie. Ook nie ’n Engelse of ’n Xhosa-universiteit nie. Die US is ’n meertalige Suid-Afrikaanse hoëronderwys­instelling van wêreldgehalte – een van min in hierdie kategorie, en iets wat bitter nodig is in ’n land met 11 amptelike tale. Dít is hoe ons verseker dat taal nie ’n hindernis tot toegang is nie, maar ’n hulpmiddel vir akademiese sukses – veral in ’n diverse opvoedkundige konteks.

Só het ek in 2015 by my inhuldiging as rektor gesê, en dit is steeds die geval. Die US kan nie meer slegs ’n Afrikaanse universiteit wees nie, soos in ’n vroeë stadium in ons geskiedenis toe ons nog ’n “volksuniversiteit” was.

As openbare instelling wat onder meer met belastingbetalersgeld ge­finansier word, behoort ons aan ál die mense van ons land.

Ons wíl dus toeganklik vir almal wees – in ’n taal wat die meeste mense kan praat, en dít is Engels.

Nie net Engels nie

En tog is die US nie ’n uitsluitlik Engelse universiteit nie.

Ons gebruik steeds Afrikaans in onderrig, administrasie en die leef- en werksomgewings van studente en personeel. En ons beywer ons vir die ontwikkeling van Xhosa.

Elkeen van dié tale het ’n vaste plek aan die US en geniet dieselfde status. Wat wel verskil, is die hoeveelheid wat gebruik word, en dít word deur die konteks bepaal.

Die uitspraak van die konstitusionele hof op 10 Oktober het bevestig dat ons huidige taalbeleid, wat in Junie 2016 met die instemming van die senaat deur die raad goedgekeur is en in Januarie 2017 in werking getree het, “grondwetlik geregverdig” is. Dit tref die regte balans in die spanningsveld tussen gelyke toegang (art. 9 en 29.1.b van die Grondwet) en die reg op onderrig in die taal van jou keuse (art. 29.2).

Wat beteken dit? Kortom, deur Engels as onderrigtaal te gebruik sorg ons dat ons vir meer mense toeganklik is, en dit maak deure vir ons studente oop – plaaslik en internasionaal.

Tog is daar steeds ’n beduidende behoefte aan onderrig in Afrikaans, daarom sit ons dit voort.

Ons glo ons kan die land ten beste dien as ’n nasionale bate wat toeganklik vir almal is, nie ’n insulêre enklawe wat agter ’n taalgordyn toegetrek is nie.

Inklusiewe meertaligheid

Die US se taalbeleid maak vir drie modusse in voorgraadse leer en onderrig voorsiening – elk met ’n plek vir Afrikaans:

  • Parallelmedium: afsonderlike lesings in Afrikaans en Engels waar dit redelikerwys uitvoerbaar en pedagogies verantwoordbaar is om meer as een klasgroep te hê;
  • Dubbelmedium: die gebruik van sowel Afrikaans en Engels in dieselfde klasgroep, waartydens alle inligting minstens in Engels oor­gedra word, met beklemtoning en opsomming in Afrikaans; en
  • Enkelmedium: lesings slegs in een taal, ondersteun deur intydse tolking na die ander taal, asook gefasiliteerde leergeleenthede in albei tale.

Hierbenewens moet alle US-moduleraamwerke en -studiegidse in Afrikaans en Engels beskikbaar gestel word, en kan assesserings, toetse en eksamens in enige van dié tale afgelê word.

As dít ingewikkeld klink, is dit omdat dit is – en duur. Dit kan dalk verklaar hoekom ander voormalig Afrikaanse universiteite volledig oorgeskakel het na Engels.

Die US bly egter verbind tot inklusiewe meertaligheid, want ons hou rekening met die diversiteit van ons samelewing – wat ons taaldiversiteit insluit – sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê.

Ons is bereid om beduidende koste aan te gaan, maar nie om klein klasgroepe in parallelmedium­strome te verdeel nie – veral nie as in die senior studiejare weinig behoefte daarvoor is nie. Die taal­beleid verwys ook na die verskeidenheid van leerondersteuning wat, onder meer in Afrikaans, gebied word ter aanvulling van lesings.

Ons taalbeleid verduidelik “die US gebruik Engels gereeld, maar nie uitsluitlik nie, in sy akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste omdat sprekers van die verskillende Suid-Afrikaanse tale dié taal gebruik om met mekaar te kommunikeer, en dit beduidende akademiese, bedryfs- en internasionale waarde het”.

Maar Afrikaans word óók gebruik, want dié taal “het oor dekades heen ’n akademiese repertoire ontwikkel, waartoe die US beduidend bygedra het, en die toepassing en verryking van die akademiese potensiaal van Afrikaans is ’n manier om ’n groot en diverse gemeenskap in Suid-Afrika te bemagtig”.

Taalvoorkeur in die praktyk

Goed, dit is weliswaar net die beleid. Hoe word dit in die praktyk toegepas? Ek raadpleeg twee bronne: implementeringsverslae en opnames onder studente.

Implementeringsverslae is me­ganismes om te verseker die taal­beleid word korrek toegepas. Dit word gereeld deur elke fakulteit, steundiensomgewing en die studenteraad ingedien vir oorsig deur die US se hoogste liggaam, ons raad.

Die jongste verslag is in Junie vanjaar oorweeg. Die taalkomitee van die raad was “beïndruk met die volwassenheid” waarmee fakulteite die taalbeleid implementeer.

Daar was weliswaar enkele on­bedoelde afwykings, maar fakulteite het dit self hanteer en opgelos.

Wat opnames betref, was daar reeds drie sedert die nuwe taal­beleid in werking getree het – die jongste in Augustus vanjaar.

Die meerderheid van die studente wat deelgeneem het, het aangedui hul huistaal is Afrikaans (52%), gevolg deur Engels (35%).

Nietemin het hulle ’n voorkeur uitgespreek vir Engelse lesings (66%), tutoriale (63%) en leermateriaal (71%).

Die meeste van die oorblywende studente het gesê hulle verkies om deur middel van Afrikaans én Engels te leer.

In die leef-, ko-kurrikulêre en administratiewe omgewing het die oorgrote meerderheid (meer as 80% het saamgestem of sterk saam­gestem) gemaklik gevoel om hulle in hul voorkeurtaal uit te druk, en ook ingesluit by kommunikasie in hierdie omgewings gevoel.

Wêreldklas nasionale bate

Die beskuldiging dat die US op verengelsing ingestel is, is vals. Ons gebruik wel Engels om die US toeganklik te maak, want ons visie is om Afrika se voorste navorsings­intensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word.

Ons streef daarna om ’n geïntegreerde akademiese gemeenskap te wees wat kritiese denke vier, gesprek bevorder en tot demokrasie, menseregte en maatskaplike geregtigheid verbind is – ’n instelling met ’n uitwaartse, internasionale en toekomsgerigte fokus.

Ons meertalige taalbeleid stel die US in staat om in ons streek, land, vasteland en internasionaal relevant te bly.

Ons glo ons kan die land ten beste dien as ’n nasionale bate wat toeganklik vir almal is, nie ’n insulêre enklawe wat agter ’n taalgordyn toegetrek is nie. ’n Universiteit van wêreldklas met ’n eersterangse akademiese aanbod wat sy graduandi toerus om in ’n diverse wêreld te gedy.

Ek woon tans ’n internasionale onderwyskonferensie in China by, ’n land met meer as 2 000 universiteite en kolleges, waaronder talle onder die bestes ter wêreld.

Wat opval, is dat Engels hier toenemend as navorsings-, onderrig- en omgangstaal gebruik word – tesame met Chinees.

Aan die US bly Afrikaans een van ons twee onderrigtale – om grondige pedagogiese redes. Sowat 8 000 studente dui jaarliks steeds aan Afrikaans is die medium wat hulle ten beste toegang tot die US se kennisbronne gee, en dít is hoekom ons ons aanbod daarin voortsit – op innoverende maniere wat niemand uitsluit nie.

Die aantyging dat ons Afrikaans in die rug steek, is dus ook onwaar.

Die feit dat die US benewens Afrikaans ook Engels en Xhosa gebruik, beteken nie ons het ons wortels uitgetrek nie. Inteendeel, namate ons meer toeganklik raak, skiet ons dieper wortel in Afrika, raak ons deel van ’n wêreldwye woud, en dra ons vrug vir ál “ons mense”, inklusief gedefinieer.

  • Prof. De Villiers is die rektor en visekanselier van die US. Hy is onlangs vir ’n tweede ampstermyn van vyf jaar aangestel, wat in April 2020 begin.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.