Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
US laat hele gemeenskap in die steek

As Maties verengels, verbreek hy ’n eeu oue kontrak om ’n diens te lewer, skryf  Hermann Giliomee.

Prof. Wim de Villiers

Donderdag is D-dag vir Afrikaans as onderrigtaal op universiteitsvlak wanneer die saak teen die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid voor die konstitusionele hof dien.

Is die uitspraak teen Afrikaans, bly van die 37 kampusse in die land net die Potchefstroom-kampus oor waar studente voorgraads in Afrikaans kan studeer.

Dit is in hierdie bewoë tye dat die universiteit se alumni-tydskrif, Matieland, se eeufeesuitgawe verskyn met ’n boodskap van die rektor, prof. Wim de Villiers, onder die opskrif “Saam vorentoe”.

’n Mens sou verwag dat hy ’n ewewigtige besinning sou bied van wat die US in sy eerste eeu tot stand gebring het.

De Villiers skryf: “Maties het as ’n ‘volksuniversiteit’ begin. Dit was die ‘idee’ waarvoor Stellenbosch destyds gestaan het – opheffing deur hoër onderwys, maar net vir sommiges, nie vir almal nie. Hierdie idee was duidelik te eng.”

Die rektor trap hier kwaai klei. Hy verkrag die belangrikste beginsel van omgaan met die geskiedenis, naamlik om elke handeling binne die raamwerk van die tyd waarin dit plaasgevind het, te beoordeel.

Hoe lyk ’n universiteit sonder ’n ideologie? Wil die rektor daarmee sê dat ’n buur-universiteit soos Ikeys nie ook aangevuur is deur ’n ideologie nie?

Die Unie-grondwet van 1909 het voorsiening gemaak vir die praktiese gelykheid van die twee amptelike tale. Aanvanklik was dit egter net regte op papier. By die ekonomies oorheersende Engelse gemeenskap was daar die sterk verwagting dat Engels gou Nederlands of Afrikaans as openbare taal sou verdring.

Soos ’n waarnemer dit destyds gestel het: “English methods and the English language are bound increasing­ly to win their way and permeate the whole structure of society.”

Ná Uniewording in 1910 was die staat se finansiële vermoë so gebrekkig dat dit slegs een selfstandige universiteit sou kon oprig en selfs dan het dit nog ruim steun van die private sektor benodig. Louis Botha se regering het begin met ’n plan om die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad te omvorm tot die Universiteit van Kaapstad.

In die gees van die Grondwet se bepalings dat twee amptelike tale gelyke status op verskeie gebiede moes geniet, wou F.S. Malan, minister van onderwys, hê dat sowel Engels as Nederlands as voertale by die te stigte UK gebruik word. Die mynmagnate wat bereid was om ’n groot borgskap te gee, wou niks daarvan weet nie. Hulle wou hê die nuwe instelling moes Engelstalige akademici van hoë gehalte trek, veral van die buiteland. Klink nogal bekend.

’n Mens wonder daarom wat die rektor bedoel as hy skryf dat die besluit van die US ná sy totstandkoming in 1918 om nie Engels as voertaal te gebruik nie “te eng” was. Teen 1915 het slegs 15% van die Afrikaanse kinders verder as st. 5 gevorder en net 4% was vlot in Engels. Dit is tog naïef om te dink dat Engels aan die US as een van die voertale ingevoer kon word sonder dat Nederlands en Afrikaans verdring sou word.

Die rektor verseker oud-Maties dat hy of die US nie teen Afrikaans is nie en vervolg dan: “Afrikaans is een van ons onderrig-
tale – maar om grondige pedagogiese redes, en nie aangevuur deur ideologie en etniese identiteit nie.”

Dit lyk of die rektor onbewus is van die konsensus in die literatuur oor taalverplasing dat ’n kleiner taal hom nie kan handhaaf teen ’n wêreldtaal soos Engels sonder dat sprekers van die kleiner taal dit as deel van hul sosiale identiteit beskou nie. In die boek Language Endangerment and Lan­guage Maintenance verwoord Stephen Wurm die ysterwet van taalbehoud soos volg: “One of the most important factors for the maintenance and reinvigoration of a threatened language is the attitude of speakers towards their own language and the importance they attach to it as a major symbol of their identity.”

’n Mens weet ook nie wat die rektor bedoel met die woorde dat die US nie “aangevuur” moet wees deur “ideologie” nie. (’n Mens dink onwillekeurig aan die gesegde “jou ideologie is soos jou asem; jy kan dit nie ruik nie”.)

Hoe lyk ’n universiteit sonder ’n ideologie? Wil die rektor daarmee sê dat ’n buur-universiteit soos Ikeys nie ook aangevuur is deur ’n ideologie nie? In die US se Eeufees-gedenkboek skryf die gevierde historikus prof. Bill Nasson dat Ikeys nooit werklik gedrewe was deur ’n aandrang op rasse-integrasie nie, maar eerder deur ’n “anti-Nationalist feeling” wat hom geposisioneer het as deel van die sogenaamde “besieged anti-apartheid front”.

Wat my die meeste verbaas van die rektor se oorsig van die US se eerste eeu is dat daar geen enkele woord is oor wat beskou kan word as die US se grootste prestasie in sy eerste eeu nie, naamlik sy teenstand teen die Britse imperiale ideologie deur die opbou van ’n eie, inheemse intellektuele tradisie.

In 1918 het prof. J.F.W. Grosskopf in die gedenkboek van Victoria Kollege geskryf dat die US op die hoogte moet bly van die gemeenskaplike intellektuele erfenis van die mensdom. Terselfdertyd moet hy egter daarteen waak dat hy dit wat internasionaal is tot die hoogste goed verhef ten koste van dit waar Suid-Afrika uniek is.

Een van die US se mees besondere bydraes is sy samewerking aan die ontwikkeling van Afrikaans as literêre en universiteitstaal – volgens die Duitse geleerde Heinz Kloss die enigste nie-Europese of nie-Asiatiese taal wat volle universiteitstatus verwerf het en gebruik word in al die vertakkinge van die lewe en die wêreld van geleerdheid.

Dit was nie net universele kennis wat deur middel van Afrikaans verinheems is nie; daar is ook spesifieke aspekte wat uit die kontinent van Europa ontleen is wat in Afrikaanse universiteite opgeneem en uitgebou is. ’n Mens dink hier veral aan die Romeins-Hollandse reg en die Nederlands-Duitse tradisie van geskiedskrywing gegrond op primêre bronne en die strewe daarna om uit te vind “wie es eigenlich gewesen [war].”

In 2017 het Mahmood Mamdani, een van Afrika se mees gerekende intellektuele, gesê die universiteite elders in Afrika verteenwoordig geen spesifieke akademiese tradisie nie. Die enigste uitsondering is die Afrikaanse universiteite wat Afrikaans tot die draer van ’n eie intellektuele tradisie omvorm het.

Die rektor praat daarvan dat die US “wil bly voorsien in die groot behoefte aan Afrikaans”, maar hy noem betekenisvol geen enkele syfer om die Afrikaanse aanbod te omskryf nie. My inligting is dat in die fakulteit lettere geen Afrikaans in die departemente soos geskiedenis, sosiologie, politieke wetenskap en sosiale antropologie gebruik word nie. In die fakulteit regte is Afrikaans feitlik afwesig

Eerder as om ’n “volksuniversiteit” te wees wat kultuuroordrag as ’n belangrike funksie beskou, wil die rektor in sy eie woorde van die US ’n “wêreldklas-universiteit” maak. Die dolle strewe om op die wêreld-ranglyste te klim is een van die belangrikste redes waarom die US so vinnig verengels het.

Die poging om op die ranglyste te styg het futiel geblyk te wees. Die internasionale sentrum vir wêrelduniversiteitsrangordes, wat rangordes aandui vir ’n duisend universiteite toon dat die US van 330ste (derde in Suid-Afrika) in 2017 tot 448ste (vyfde in Suid-Afrika) in 2018 teruggeval het.

Philip Altbach en Ellen Hazelkorn, twee kenners van die Westerse universiteitswese, rig hierdie waarskuwing: “Die rangordestelsel verdraai die ware funksie van die universiteit: om daardie kennis en vaardighede aan gegradueerdes oor te dra wat hulle in die gemeenskappe gaan benodig waarin hulle eendag sal dien.”

Die Afrikaanssprekende gemeenskap in die Wes-Kaap, wat meer as die helfte van die mense in die provinsie vorm, benodig ’n universiteit waarin studente opgelei word in die taal waarin hulle eendag hierdie gemeenskap kan dien. Dit geld veral vir die opleiding van onderwysers en regspraktisyns.

Toe die US in 2017 sy taalbeleid hersien het, het die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat saam met die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) die mees verteenwoordigende liggaam in Afrikaanse onderwys is, ’n memorandum ingedien. Dit verklaar: “Ons lede is eenparig ten gunste van die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal aan die US. Dit beteken dat die gebruik van Afrikaans nie op enige wyse aan die US verskraal moet word nie. Die US behoort tersiêre onderrig in Afrikaans voortdurend te bevorder en te ontwikkel.”

Die US se bestuur en raad het hierdie beroep geïgnoreer en verbreek daarmee eensydig ’n kontrak van ’n eeu oud om ’n bepaalde diens te lewer.

Dit is veral die bruin Afrikaanse gemeenskap wat die US in die steek laat deur nie onderrig in Afrikaans te gee nie. In 2013 het die Raad op Hoër Onderwys ’n studie van stapel gestuur om die suksessyfer van die verskillende bevolkingsgroepe wat vir B-grade van 1970 tot 2010 ingeskryf was, te bepaal. Die persentasie wit en Indiërstudente aan wie B-grade toegeken is, het van 18% tot 29% gestyg. Die syfer van swart studente het van 11% tot 9% gedaal, en dié van bruin studente het van 10% in 1970 tot 6% in 2010 gedaal.

Daar is aanduidings dat die prestasie van die bruin groep verder daal. Hierdie syfers onderskryf die belangrikheid van moedertaalonderrig. Desperate remediërende maatreëls word benodig, en dit begin by die medium van onderrig.

Die oplossing is dat die US 'n vaste Afrikaansmedium- en ’n vaste Engelsmediumstroom instel en die fasiliteite vir tien of 12 uur elke weeksdag gebruik. Daar is bereken dat dit 4% van die begroting sal kos. Of die bestuur en raad hierdie weg sal volg, is twyfelagtig. Die US het 15 jaar lank bloot die maklikste uitweg gevolg.

Daar is ook ’n ander woord vir die US se optrede waarmee ek my volkome vereenselwig. Dit is die woord van Koos Bekker, nou voorsitter van Naspers, wat op 26 Oktober 2005 in Die Burger geskryf het: “As Stellenbosch sou verengels, kies die universiteit die pad van papbroekigheid.”

  • Prof. Hermann Giliomee is ’n historikus.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.