Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
US se benadering tot taal gee studente beter toekoms

Inklusiwiteit help Suid-Afrikaners om te verstaan dat ons verskille nie bepaal dat ons apart moet wees nie, maar dat ons juis mekaar nodig het om ons uniekhede te verstaan, te vier en te deel, skryf Leslie van Rooi.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, in Maandag se sitting van die Menseregtekommissie. Foto: Jaco Marais

Op Maandag 10 Mei het bestuurslede van die Universiteit Stellenbosch (US) insette voor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gelewer.

Die insette hou verband met enkele klagtes wat die MRK ontvang het wat daarop neerkom dat die US na bewering studente sou verbied het om Afrikaans in ’n sosiale konteks te gebruik.

Die sitting self, die vrae wat gestel is en die inligting wat gedeel kon word, help ons tog om die kompleksiteit en noodsaaklikheid van so ’n sitting te verstaan. Enkele punte wat hiermee verband hou staan vir my uit.

Konteks maak saak

Telkens in die sitting het dit weerklink dat konteks saak maak. Om konteks in ag te neem, beteken nie dat persoonlike ervarings nie waar is nie.

Maar dit help ons om te verstaan dat ervarings relatief is tot die spesifieke omstandighede en ook ervarings anders as myne. Dit help ons verder om te verstaan wat bedoelings was en wat tot ’n aksie gelei het.

Die konteksbril moet ons help om die fyn nuanses te verstaan en in ag te neem.

Dit beteken ook dat ’n gebeurtenis hier nie oral en vir ewig waar kan wees nie. Dit kan ook nie sommer maar deurgetrek word na ander gevalle wat kwansuis dieselfde is nie.

Die konteksbril moet ons help om die fyn nuanses te verstaan en in ag te neem. Terselfdertyd moet dit ons help om, binne konteks, die regte seine uit te stuur wat goeie en bevorderlike gedrag tot gevolg sal hê.

Wat word met inklusiwiteit bedoel?

Lede van die paneel van die Menseregtekommissie luister Maandag na voorleggings by die Universiteit Stellenbosch. Van links is Fadlah Adams, senior navorser van die MRK, en twee kommissarisse, Chris Nissen en André Gaum. Foto: Jaco Marais

Ter voorbereiding en in die sitting moes ek soos ander weer dink oor wat met inklusiwiteit bedoel word en of ons so inklusief kan wees dat ons selfs kan uitsluit.

Dit is daarom sinvol om te vra wat Suid-Afrikaners met hierdie term bedoel en hoe dit op ons kampusse verwesenlik moet word.

Ons kies inklusiwiteit as ’n woord wat bepaal dat ons moeite moet doen om mekaar te verstaan, te aanvaar en as gelykes by mekaar te leer. Dit help ons om te verstaan dat ons verskille nie bepaal dat ons apart moet wees nie, maar dat ons mekaar juis nodig het om ons uniekhede te verstaan, te vier en te deel.

Dit help om te verstaan dat ek bepaalde regte het en dat dit nie deur ander ontneem mag word nie. Dit help my veral ook dat my regte en verantwoordelikhede altyd in verhouding tot ander regte – en ander se regte en verantwoordelikhede – moet staan.

Dit beteken dat ons mekaar telkemale terug na die tafel moet roep om weer te praat en weer te probeer en om mekaar weer te vind.

Inklusiwiteit is dus nie iets algemeen of passief nie. Dit is ook nie iets eenvoudig of goedkoop nie. Nog minder is dit iets wat veroorsaak dat jy maar altyd by die meerderheid moet aanpas.

En net so kompleks soos dit in die Suid-Afrikaanse samelewing is om inklusiwiteit in ons diversiteit uit te leef, so is dit ook op ’n universiteitskampus.

Dit beteken dat ons mekaar telkemale terug na die tafel moet roep om weer te praat en weer te probeer en om mekaar weer te vind. Hierop is die hoop van ’n “nuwe” Suid-Afrika tog gebou.

En hierdie verstaan van inklusiwiteit is dalk die beste teenvoeter dat die een groep die ander “oorheers”. Daarom mag dit nooit tot uitsluiting lei nie.

Hoe doen ons meertaligheid?

Die huidige taalbeleid van die US (2016) asook die voorgestelde hersiene taalbeleid is gebou op die beginsel van meertaligheid. Alhoewel die fokus val op die drie tale wat die meeste gemeenskappe in die Wes-Kaap praat en verstaan, bevestig dit ook die rykheid van ander tale en taalgemeenskappe hier en elders.

Dit vra dat my moedertaal haar plek moet inneem binne die konteks van minstens twee ander tale. En meer nog. Dat ons moet besef dat ons mekaar soms moet vind en verstaan in ’n tweede of derde taal. En hier sal, veral binne die konteks van leer en onderrig, praktiese uitvoerbaarheid altyd in ag geneem moet word.

Taal is nie maar net ’n middel van kommunikasie nie.

Meertaligheid vra ook dat elkeen van ons moeite moet doen om ten minste iets van die leefwêreld van die ander taalgemeenskap te verstaan. Dit sê nie dat ons in alle omstandighede moet kies vir een van die drie tale en basta met die res nie.

Want taal is nie maar net ’n middel van kommunikasie nie. Dit is tog die belangrikste om mekaar te vind en te verstaan. En daarom is dit wonderlik om mekaar se tale aan te hoor, en waar nodig, na mekaar in ’n gemeenskaplike taal te luister. Dit is iets wat Suid-Afrikaners baie goed verstaan.

Wat verwag ’n universiteitsgemeenskap van studenteleiers?

Frederik van Dyk, sekretaris van die US-konvokasie en direkteur van StudentePlein NWO, het tydens die MRK se sitting by die Universiteit Stellenbosch met ’n plakker oor sy mond stille protes aangeteken. Foto: Jaco Marais

By ’n universiteit speel studenteleiers ’n groot rol in die bestuur, nie net van studentegemeenskappe nie, maar inderdaad ook van ’n universiteit. Dit is ook die geval by die US.

Studenteleiers neem binne die kompleksiteite van ons tyd aan bestuur deel. En daarom verloop alles nie altyd reg nie. Maar dis juis deel van die opvoedingsproses.

En as iets verkeerd verloop, is dit goed dat ons met mekaar moet gesels. En dit is presies wat sedert die middel van Maart in verskeie US-koshuise gebeur het.

Ons moet mekaar help om weer te probeer, te herstel en reg te maak sodat ons saam kan luister, leer en leef.

Ons moet praat oor die ervarings en klagtes van studente, ons verstaan die feite, ons vind mekaar. En so herstel ons verhoudinge. Dit kom aan die hand van US se gemeenskaplike waardes.

Waar straf ter sprake is, moet dit ten beste iets wees wat herstel, regstelling en momente van leer bring.

Omdat ons studenteleiers toenemend onder sosiale druk is om onder uitdagende omstandighede hul eweknieë te lei en te ondersteun, ondersteun ons hulle deur middel van opleiding en begeleiding.

Dat ons mekaar moet help om weer te probeer, te herstel en reg te maak sodat ons saam kan luister, leer en leef, bly ’n belangrike deel van die onderrig en leer by ’n universiteit.

Hoe nou vorentoe?

Leslie van Rooi

Afrikaans is een van ons land se amptelike tale. Dit is ’n taal wat in sy verskeidenheid aan die groter en baie diverse Afrikaanse taalgemeenskap behoort. Meer nog, dit is ’n taal wat die ander taalgemeenskappe kan verryk.

Dit is daarom dat die US in gesprek moet bly met ons gemeenskappe van belang soos ander organisasies, vennote en rolspelers wat, soos die US, saam taaldiversiteit op ’n inklusiewe manier wil bevorder.

As ons hierdie doelwit in gemeen het, moet ons mekaar help om dit te bereik.

Ons is vol vertroue dat die US se studente meer keuses, groter toegang en ’n beter toekoms as gevolg van ons benadering tot taal het.

Dit is daarom veral ook goed dat die US deur die MRK ondervra word. Meer nog, die US is verbind om ook met die MRK ’n pad te stap om meertaligheid binne die konteks van ’n universiteitsgemeenskap met verskeie uitdagings en moontlikhede te bevorder.

So kan die US sy rol as nasionale bate in diens van die hele land en sy mense nog sterker vervul – juis ook ten bate van jongmense wat hul plek in ons diverse samelewing moet inneem en saam met andere die toekoms moet bou.

Ons is vol vertroue dat die US se studente meer keuses, groter toegang en ’n beter toekoms as gevolg van ons benadering tot taal het.

Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.