Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
US se uitnemendheid is allermins die wêreld s’n

Die beheptheid met Engels op Stellenbosch is uit pas met die benadering by die meeste top-universiteite, skryf Tian Alberts.

foto: istock

Universiteite het histories nog altyd ’n deurslaggewende rol gespeel in die sosiale ontwikkeling en die uitbou van die kultuurwaardes van omliggende gemeenskappe.

Suid-Afrikaanse universiteite speel byvoorbeeld ’n rol in so­siale ontwikkeling deurdat potensiaal in agtergestelde gemeenskappe ontgin word wat andersins onder die radar sou kwyn.

Onlangse skrywes in die media oor Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch (US) herinner in besonder dat afgesien van universiteite se primêre bemoeienis met kennisoordrag, daar ook in naasliggende gemeenskappe die verwagting bestaan dat universiteite kulturele oordrag en gemeenskapsontwikkeling moet bevorder.

Dit is nie ’n vreemde verwagting nie. Trouens, by die wêreld se beste 50 universiteite, waarvan almal behalwe een volwaardige kennisoordrag onderneem in ’n inheemse landstaal, lê daar waarskynlik die pligsbesef opgesluit dat ’n universiteit se apatie oor taal en kultuur ’n groot impak op gemeenskapsontwikkeling het. Op die mees basiese vlak van geleentheid kan ’n nuwerwetse strewe na internasionalisering – waaraan ten koste van ’n inheemse taal uitvoering gegee word – gemeenskappe wat daardie taal gebruik, van tersiêre blootstelling vervreem en sodoende vooruitgang daar beperk. Universiteite as openbare instellings se benadering tot hierdie kwessies is daarom in wese polities van aard.

Waarom spreek die rektor en visekanselier van die US, prof. Wim de Villiers, dan sy misnoeë uit met politieke partye se opposisie van die US se taalbeleid?

Die huidige taalbeleid het immers Afrikaans by die US tot ’n sporadiese versiering gereduseer.

.... waarin almal in dieselfde taal moet lag en gesels...

De Villiers se ontsteltenis is ironies, want die proses wat tot die aanvaarding van die huidige taalbeleid gelei het, is bevlek van ingee onder politieke druk om die US onbepaald te verengels. Die daaropvolgende en volgehoue pligsversuim van die US om Afrikaans as inheemse taal te bevorder of selfs net te bewaar, in so ’n mate dat Afrikaans nou selfs in sommige informele ruimtes van die US verbied word, blyk uit die ope brief van die US se eie departement vir Afrikaans en Nederlands, beëdigde verklarings van studente wat nou voor die Menseregtekommissie dien, en openbare bydraes deur studente waarin getuig word van die verdwyning van Afrikaans in klasse.

Die implikasies van hierdie pligsversuim is tweeledig.

In die eerste plek maak die US as instelling wat daartoe in staat is om Afrikaans naas Engels as onderrigtaal te bied, die deur van geleenthede toe vir daardie talle persone wat werklik slegs toegang tot tersiêre kennisbronne in Afrikaans kan verkry. Dit is afkeurenswaardig en kru uitsluitend.

Tweedens, die US is aandadig aan die verdringing van ’n inheemse taal wat in die vorige eeu wetenskapstatus verwerf het, en pootjie sodoende ook kulturele oordrag in die tersiêre onderrigruim. Hierdie pligsversuim word verskerp wanneer die rektor, in plaas daarvan om konsulterend en verkennend om te gaan met die bekommernisse van studente en drukgroepe, ontkennende en misleidende bewerings in die openbaar maak. Soos byvoorbeeld sy bewering dat die hoogste akademiese liggaam van die US, die senaat, onlangs ’n besluit geneem het dat dosente in weerwil van die taalbeleid nuwe leermateriaal net in Engels beskikbaar mag stel, terwyl die uitvoerende komitee van die senaat (waarvan De Villiers die voorsitter is) hierdie besluit geneem het ten spyte van ontevrede senaatslede wat die geleentheid ontsê is om oor die kwessie te stem.

De Villiers versuim ook om te noem dat die rede waarom slegs 20% van Afrikaanse studente nog ’n voorkeur vir Afrikaans as onderrigtaal aandui, is omdat daar bloot ’n paar opsommende sinne in Afrikaans in die oorgrote meerderheid van die US se klasse vir Afrikaanse studente gereserveer word.

De Villiers se meningstuk vir eers daar gelaat, is dit belangrik om die hele kwessie behoorlik in perspektief te plaas. Die kwessie om die behoud van Afrikaans by Stellenbosch behels primêr pedagogiese realiteite om insluiting en betekenisvolle begrip in studente se moedertaal. Daar is werklik talle studente in die Wes-Kaap en Noord-Kaap wat by die US sou kon studeer, was dit nie vir die taalbeleid, wat hom leen tot bykans slegs Engels in klasse nie.

Hierdie kwessie is ook belangrik vir die breër Afrikaanse publiek, omdat die benadering wat die US met taal, kultuur en inklusiwiteit ingeslaan het, in pas is met ’n toenemend ongewilde globaliseringstrewe en gepaardgaande standaardisering van kennis, kultuur en waardes.

Hierdie strewe stel à la destydse koloniale owerhede ’n enkelvoudige (Engelse) kommunikasie- en opvoedkundige standaard in die vooruitsig. Dit lei ook noodwendig tot die verlies van inheemse kultuur en tradisie, want dit word alles verswelg deur die eise van aanpassing in die “globale gemeenskap” waarin daar gemeensaak oor grense heen bewerkstellig moet word ter wille van doeltreffendheid en samewerking. Dit begin duideliker blyk dat die nadraai van globalisering vervelige, eentonige en kultuurlose instellings is wat alles vir almal probeer wees en in gebreke bly om per slot van sake enigiets betekenisvol vir enigiemand te wees.

Die US is ’n prikkelende gevallestudie.

Ter wille van skynbaar doeltreffende kommunikasie en doeltreffende onderrig onder ’n sambreel wat almal te alle tye moet laat welkom voel, word Engels as ’n de facto standaard vir sukses en insluiting daargestel en sneuwel moedertaalonderrig – ’n betekenisvolle pedagogiese aangeleentheid. Betekenisvolle kultuurdiversiteit moet ook die knie buig voor gereguleerde, Engelstalige omgewings waarin individue en studentegroeperings gestandaardiseer word om almal in dieselfde taal te lag en gesels en om samelopende eerder as spontaan uiteenlopende sosiale en kulturele belangstellings te koester.

Hierdie benadering staan koud teenoor daardie studente wat dokters, prokureurs, ingenieurs en onderwysers in hul eie gemeenskap wil word eerder as om by lang tafels in wolkekrabbers in Sandton, New York en Londen te werk. Die realiteit is dat baie US-studente ná afloop van hul studie in elk geval na hul gemeenskap van herkoms sal moet of wil draai vir geleenthede – en hulle gaan dit met ’n halwe (Engelse) begrip moet doen.

Vir daardie studente wat daarenteen “wêreldburgers” kan en wil word en van krag tot krag wil gaan in omgewings waarin niemand nog ooit eens van Afrikaans gehoor het nie, is die goeie nuus dat regstreekse onderlinge kommunikasie in ’n lingua franca soos Engels in die taaldiverse handelswêreld nie ’n voorvereiste vir doeltreffende handel is nie.

Insgelyks is hoëvlak-gesprekke tussen wêreldleiers via tolke sprekend daarvan dat daar met sukses sonder ’n lingua franca te werk gegaan kan word, selfs wanneer sake van die hoogste diplomatieke belang, soos die vermyding van oorlog, bespreek word. Prominente Afrikaanse miljardêrs rits vandag die wêreld rond om een ooreenkoms ná die ander te beklink, en hulle het voorheen hul studies in Afrikaans onderneem.

Natuurlik kon hulle in praktyk met gemak Engelstalige begrip uitbou bo-op ’n standvastige moedertaalbegrip. Die feit is dat in verskeie internasionale kontekste wat vir professionele persone belangrik is, ’n gedeeltelike of volledige gebrek aan ’n gemeenskaplike kommunikasietaal deesdae op allerlei maniere oorbrug word.

Voorgraadse universiteitsopleiding in Engels kan vir die nie-Engelse spreker meer skade as voordeel inhou. Dit is dalk hoekom studente by die wêreld se vooraanstaande universiteite wat nie in Amerika en Engeland is nie, met vrymoedigheid in hul moedertaal – Mandaryns, Duits, Japannees, Koreaans, Frans, Hollands, Maleis, Deens, Russies en Spaans – studeer. Die meeste van hulle sou, soos baie Suid-Afrikaners, waarskynlik nie tersiêre blootstelling kon geniet in ’n ander taal as hul moedertaal nie.

Daardie studente sal ongetwyfeld hul merk kan maak in ’n geglobaliseerde wêreld, soos ander in die verlede. Van insgelyke belang is dat hulle ook waardevolle insette in die vooruitgang van hul eie gemeenskap sal kan lewer.

Terwyl die US se nuwe konseptaalbeleid die politieke weg van die minste weerstand verteenwoordig deur vir alle praktiese doeleindes Engelse eentaligheid aan te gryp en sodoende ’n klomp deure toe te maak, lyk die benadering tot taalbeleid by die wêreld se voorste universiteite heelwat anders. Daar manifesteer kreatiewe meertaligheid en ’n sterker verbintenis tot inheemse tale, eerder as die verdringing daarvan, telkens as maatstaf vir uitnemendheid.

Die tyd is ryp dat die US se rektoraat en raad herbesin oor dié universiteit se maatstawwe vir uitnemendheid.

* Tian Alberts is ’n meestersgraadstudent in publiekreg aan die US en nie-uitvoerende direkteur van StudentePlein.

Meer oor:  Wim De Villiers  |  Taalbeleid  |  Us  |  Afrikaans  |  Universiteit Stellenbosch  |  Moedertaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.