Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
UV kry ‘stank vir dank’ ná verwydering van beeld

Betogings teen histories sensitiewe simbole is op sigself ’n politieke daad. Jy kan die optrede van die deelnemers nie bloot as dié van ’n “gillende, jillende en oproerige skare met hamers en plakkate afmaak nie”, skryf Heindrich Wyngaard.

Die standbeeld van oudpres M.T. Steyn word Saterdag met ’n hyskraan van sy voetstuk voor die hoofgebou op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat gelig. Foto: Verskaf

Onseremonieel (maar darem nie gewelddadig nie) het die standbeeld van oudpres. M.T. Steyn die afgelope naweek op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat tot ’n val gekom.

Hieroor, soos wat Charles Smith uit Bloemfontein berig het, was sommige personeellede nie al te gelukkig nie: Die universiteitsbestuur kon ten minste ’n klein seremonie gehou het, het hulle gemeen, “vir dié wat die president steeds eer”.

In studentetaal sou ’n mens hierop kon vra: “Rêrig nou?” Wie is die personeel en hoe versoen jy hul standpunt met die oorhoofse doel van die verskuiwing van die Steyn-beeld, naamlik om sosiale kohesie op kampusse te bevorder? Of beteken dit hulle deel nie werklik die strewe, wat prof. Francis Petersen, rektor en vise-kanselier, Maandag so empaties op RSG se middagaktualiteitsprogram Spektrum verduidelik het nie?

Soos Petersen aangedui het, het die proses reeds twee jaar gelede begin en het dit onder meer versoeke vir openbare kommentaar, media-onderhoude, seminare en debatte ingesluit. Die universiteit wou ook hê dat die Steyn-familie se wense terselfdertyd gerespekteer moes word. Die UV is ander soortgelyke instellings hier ’n stappie vooruit, meen Petersen, omdat daar geen presedent in die huidige Suid-Afrikaanse wetgewing bestaan vir die proses wat die universiteit gevolg het nie.

’n Houer word opgerig langs die standbeeld van oudpres. M.T. Steyn waarin mense voorstelle kon gooi oor die toekoms van hierdie standbeeld wat finaal die naweek op die Kovsie-kampus afgebreek is. Foto: Mlungisi Louw

In plaas van ’n luide applous sou Petersen met reg kon voel dat wat die universiteit in ruil hiervoor gekry het, was stank vir dank. Wat gevolg het op die naweek se gebeure was agterdog en verdagmakery omdat dit glo “in die geheim” plaasgevind het.

Dit was egter die familie se wens dat die verskuiwing op ’n waardige wyse moes geskied en op ’n tydstip wanneer daar nie baie aktiwiteite op die kampus sou wees nie. Die huidige inperkings het dit moontlik gemaak, maar ook die lang gewag op ’n gepaste permit van die Vrystaatse Erfenishulpbronagentskap waarmee die verwydering en verskuiwing na die Oorlogsmuseum moontlik gemaak kon word.

‘Visuele regstelling’

“Dit sal ’n aanwins vir die museum wees,” het die bestuurder, Tokkie Pretorius, aan Spektrum gesê – omdat die Steyn-beeld daar “oor sy eie woorde sal uitkyk”. Dit sal ook, voeg Pretorius veelseggend by, ’n aanwins “vir die Afrikanervolk” wees.

“Daar was ten minste nie ’n gillende, jillende en oproerige skare met hamers en plakkate nie,” het die uitvoerende hoof van die FAK, Danie Langner, oor die verwydering van die standbeeld gesê. Foto: Verskaf

“Gelukkig was die verwydering ’n ordelike proses,” het Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, gesê. “Daar was ten minste nie ’n gillende, jillende en oproerige skare met hamers en plakkate nie.”

Nou het die beeld ’n tuiste gevind waar dit “waardeer, versorg en beskerm sal word”, aldus Langner. Hierdie ingesteldheid is opvallend gestroop van enige waardering vir waarom “visuele regstelling” (om die term uit die Universiteit Stellenbosch se beleid oor dié netelige kwessie te leen) noodsaaklik vir die toekoms is.

Hedendaagse proteste teen “histories sensitiewe kuns en ander simbole” ... is op sigself ’n politieke daad

Steyn is vir die historikus prof. Hermann Giliomee (saam met die nyweraar dr. Anton Rupert, die Oos-Kaapse “pionier-staatsman” Andries Stockenström, die “visioenêre” regter H.A. Fagan en die “baanbreker-vrouejoernalis” en skrywer MER) een van die vyf grootste Afrikaner-figure van alle tye.

Maar soos wat Allison Geduld ons in Black Academic Voices – The South African Experience herinner, het die skrywer en joernalis Jacob Dlamini in 2009 reeds dié stukkie waarheid opgeteken dat herinneringe of die wyse waarop ons die verlede onthou, “’n politieke daad” is.

Hedendaagse proteste teen “histories sensitiewe kuns en ander simbole” (ook aangehaal uit die US-beleid oor “visuele regstelling”) is op sigself ’n politieke daad. Jy kan die optrede van die deelnemers dus nie net as dié van ’n “gillende, jillende en oproerige skare met hamers en plakkate afmaak nie”.

Prof. Francis Petersen, rektor en vise-kanselier van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Foto24

Dit behoort eerder ’n gesprek te begin oor hoe verseker kan word dat die terreine waar standbeelde soos Steyn s’n dekades lank gestaan het – as die trotse uitbeelding van een deel van ’n veranderende universiteitsgemeenskap se tradisies, kultuur en geskiedenis – aldus Petersen – hervertolk kan word “tot ’n simboliese, inklusiewe openbare plek wat nasiebou en sosiale kohesie bevorder”.

‘Gillend’ en ‘jillend’

Hierdie proses het egter ook sy slaggate, soos dat die protesgangers se eise deur bykomende eise opgevolg kan word – soos wat ons verlede week gesien het. Dít was naamlik toe die UV se Institusionele Studenteraad (ISR) op sosiale media daarop aangedring het dat die reeds lank geïnstitusionaliseerde benaming “Kovsies” vir UV-studente verwerp moet word.

Die universiteitswoordvoerder Lacea Loader het die uitvoerende bestuur se teleurstelling uitgespreek dat die ISR die kwessie eers openbaar gemaak het en eers daarna ’n formele versoek daaroor aan prof. Puleng LenkaBula, viserektor vir Institusionele Verandering, Studentesake en Gemeenskapsontwikkeling, gerig het.

Maar ongelukkig is dit al by herhaling bewys dat dié soort eise dikwels meer slaankrag het as dit eers “gillend” en “jillend” of “oproerig” (so na die aard van sosiale media) gestel word alvorens dit die weg van “neergelegde institusionele prosedures” volg.

Studente van die #RhodesMustFall-beweging vergader onder streng polisiebewaking by die Rhodes-gedenkteken in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Tersiêre instellings oor die land heen staar dieselfde uitdagings in die gesig: In Maart 2015 was die #RhodesMustFall-beweging slegs maar ’n protesaksie teen die standbeeld van Cecil John Rhodes op die kampus van die Universiteit van Kaapstad. Nou word dit as die kruitvat van ’n wyer (dalk selfs wêreldwye) beweging vir die “dekolonisering” van hoër onderwys in Suid-Afrika erken.

Selfs met die inisiatiewe wat reeds op die meeste kampusse van stapel gestuur is – onder meer deur “nuwe kuns-installasies; die verwydering of kontekstualisering van histories sensitiewe kuns en ander simbole; inligtingsborde op kampusse; die naamgewing en hernoeming van geboue, lokale en ander fasiliteite; verbeterde toeganklikheid tot fasiliteite, ensovoorts” by die US – is die stryd vir institusionele transformasie ’n kat met nege lewens.

Dit het uiteindelik met onder meer ’n sin van belong en belonging te make, of tot watter mate die sogenaamde gemarginaliseerde individue laat voel word dat hulle ook daar “behoort” en “tuishoort”. En in dié proses moet daar noodwendig deurentyd ag geslaan word op ’n ander begrip, naamlik belongings, oftewel die “besittings” van ’n gegewe instelling en watter boodskap daardeur uitgedra word oor aan wie die instelling “behoort”.

Heindrich Wyngaard Foto: Verskaf

Konstitusionele hof

Die aanslag teen standbeelde en die bevraagtekening van kurrikulum-inhoud was die begin en die verwerping van historiese naamgewing van geboue het gevolg, waarvan die jongste die “Kovsies”-kwessie is. Ons moenie verbaas wees hieroor nie: Wanneer alumni uit die “ongetransformeerde” verlede van ’n instelling aan hul studentedae terugdink, dateer dit tog in sommige gevalle terug na ’n era waar uitsluiting aan die orde van die dag was; waar belonging ’n vreemde, selfs sosialisties-kommunistiese opvatting was.

Het iemand byvoorbeeld al die vraag gevra tot in watter mate word erkenning gegee aan die werkers wat die instellings met hul hande-arbeid (en straks slawe-lone) gehelp bou het?

Hoe maak jy dan seker dat “Kovsie”-wees (of om ’n “Matie”, “Ikey”, “Puk” of “Tukkie” te wees) nuwe betekenis kry as die oorheersende institusionele kultuur, tradisies en gebruike op kampus en in koshuise nog nie by alle studente en personeel byval vind nie?

Die volgende aksie kan heel moontlik teen die naam van die instelling self geloods word – en dit beteken nie die universiteite wat naamsveranderings weens samesmelting met ander ondergaan het, is gevrywaar nie. Het iemand byvoorbeeld al die vraag gevra tot in watter mate word erkenning gegee aan die werkers wat die instellings met hul hande-arbeid (en straks slawe-lone) gehelp bou het?

Maar voordat die situasie heeltemal handuit ruk, sal dit raadsaam wees om te onthou dat daar met die verwydering van die Steyn-beeld geen wetgewende presedent bestaan het nie.

Tersiêre instellings sal hulself dus ’n groot guns bewys as hulle hulle tot die konstitusionele hof wend – nie net oor hul taalbeleid nie (soos wat reeds gedoen is) maar om oorhoofs ’n regterlike interpretasie te kry oor hoe hulle inhoud aan die aanhef van die Grondwet moet gee.

Daar staan geskrywe (ietwat verkort) dat die mense van Suid-Afrika allereers die ongeregtighede van die verlede moet erken, maar in dieselfde asem diegene moet huldig wat vir geregtigheid en vryheid gely het – terwyl respek óók betoon moet word aan diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel.

Die verdeeldheid van die verlede moet daarby geheel word en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte moet geskep word. Sal dit verkeerd wees om hieruit af te lei dat standbeelde en simbole wat uit ’n “vryheidsoogpunt” afstootlik is, maar uit ’n “ontwikkelingsoogpunt” tog bestaansreg het, nié sonder meer verwyder behoort te word nie?

Ons moet die antwoord teen Constitutional Hill in Johannesburg gaan soek.

• Wyngaard is ’n onafhanklike kommentator en televisie-aanbieder. Die menings in hierdie rubriek is die skrywer se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.