Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vakbond wil weer hof toe oor vlieënier

Satawu gaan die hof vra om die beslissing dat hulle die SAL-vlieënier John Harty belaster het, tersyde te stel, het die vakbondwoordvoerder, Zanele Sabela, aan Hanlie Retief gesê.

John Harty

Julle beswadder ’n vlieënier met ’n onberispelike werkgeskiedenis valslik en dan is julle skoonveld as hy julle hof toe sleep?Julle het nie eens by die hof opgedaag om jul saak te verdedig nie. Waarom nie? Al wat ek kan sê, is dat ons regsmense dit nou verder ondersoek en ons gaan aansoek doen om die tersydestelling van die vonnis.


Dink jy julle staan ’n kans? Julle het dan nie eens hofstukke in die saak ingedien nie?
Laat ek liewer nie kommentaar daarop lewer nie, sê maar net ons regsmense is besig daarmee. Hierdie saak gaan weer hof toe, so ek wil nie daaroor praat nie.


Die vlieënier John Harty se regspan het die hofdokumente betyds en persoonlik by Satawu se kantore afgelewer.
Ons het dit ontvang, ja.


Met die verstekvonnis beveel die regter dat Satawu aan Harty R450 000 uitbetaal. Hy sê hy weet nie hoe gesond die vakbond se geldsake is nie, maar hy twyfel daaroor.
Sê hy so? Regtig? Kan jy jou dít indink. Nee, ek verstaan nie hoe Harty kan weet wat ons finansiële situasie is nie.


Hét julle genoeg geld om hom te betaal?
Hy kan op Satawu se lidmaatskapverslae laat beslag lê as julle hom nie kan betaal nie. Ek weerhou my kommentaar. Dis vrugteloos om nou daaroor uit te wei.


Julle is deur die regter opdrag gegee om al die beweringe wat julle teen Harty op jul Facebook-blad gemaak het te verwyder. Het julle?
Dis lankal afgehaal.


Geen ondersoek kon Harty skuldig bevind aan enige van die wilde aanklagte teen hom nie. Hoekom het julle dit gedoen?
Dit sou nie gebeur het as daar nie genoeg rede was nie. Dis al wat ek in dié stadium daaroor kan sê, want die regsmense is nog besig daarmee. Ek wil nie nou die kern van die saak bespreek nie.


Julle het hom beskuldig dat hy ’n vlug herlei het om familie in Durban af te laai en ’n komplot gesmee het om ’n vliegtuig met ’n swart vlieënier te laat val. Het
julle die vlugrooster en inligting by die SAL nagegaan?
Wag tot ons weer hof toe gaan met die tersydestelling van die hofbevel, dan sal alles in die ope wees.


Waarom het julle die aantygings gemaak? Is dit waar dat dit was omdat die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging, waarvan Harty die voorsitter was, ’n mosie van wantroue teen Dudu Myeni, die SAL se voorsitter, ingestel het?
Watse nonsens is dít? Hoekom gooi julle al hierdie goed in dieselfde pot en kook dit op? Dit het niks daarmee te doen nie. Gaan kyk op Satawu se Facebook-blad. In Oktober 2015 het ons ’n aparte mediaverklaring daaroor uitgereik.


Julle beweringe oor Harty het gekom nadat hy ’n memorandum vir Myeni gestuur het waarin hy onder meer gesê het die SAL se probleme is oor swak bestuur en ’n “inmengende aandeelhouer”. Toevallig?
Ja. En soos ek jou sê: Ons het gereageer daarop.


D
aar’s bewerings dat Satawu na Myeni se pype dans. Wie sê sulke dinge? Jy kan mense seker nie keer om oor jou te praat nie, wat kan ek nou daarop sê?


Julle beweringe oor Harty was nie net lasterlik nie, maar ook onverantwoordelik en gevaarlik – nie net vir die SAL nie, ook vir burgerlike lugvaart in die algemeen.
Maar ek sê mos, ons aantygings gaan alles deel wees van ’n komende hofsaak, dus is dit sub judice, en ek wil nie hê ’n regter moet lees wat ek in die koerante uitblaker nie.

Meer oor:  Hanlie Retief  |  Satawu  |  Laster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.