Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vallei se geliefde Meester

Hoe spoor ’n mens jou oupagrootjie op as hy grootliks in die skrywer CJ Langenhoven se verbeelding bestaan het, vra Anthony Akerman.

Die binnekant van die huisskool.

In teenstelling met my welgestelde Engelstalige grootouers in Pietermaritzburg, was my Afrikaanse grootouers arm. Hulle het in ’n huurhuis op Groot-Brakrivier gewoon, Ouma het brood in ’n koolstoof­oond gebak en Oupa het by die kragstasie as elektrisiën gewerk.

Elke oggend het hy sy pak en das aangetrek, sy hoed stewig opgesit en sy dikwiel-fiets uit die hout-en-sink-garage gehaal om werk toe te ry. Op die dorp was hy as Ou Tin bekend, maar sy naam voluit was Marthinus Paulus Dawid Joost Bloemkolk.

Sy pa, Marthinus Paulus Bloemkolk, was CJ Langenhoven se geliefde Meester Bloemkolk – en dit was die familie se enkele grootste prestasie.

Toe ek die eerste keer van my beroemde oupagrootjie gehoor het, was ek nie bewus dat Langenhoven “Die Stem” geskryf het nie. Dit was maar goed ook, want as 11-jarige was ek toe al ’n teenstander van “Verwoerd se republiek” en het hardnekkig geweier om die volkslied op skool te sing. By Ouma-hulle was daar in die eetkamer ’n lang eiketafel (hulle het agt kinders gehad) en teen die mure was daar agter-glas-geraamde swart-wit prente van Nederlandse landskappe, asook familiefoto’s.

Vanaf 1883 het hy in die Hoeko-vallei les gegee.

Een daarvan was ’n ateljeeportret van Marthinus Paulus Bloemkolk. Hy is geklee in wat Langenhoven sou omskryf as sy “nette en deftige kleredrag” en kyk die kamera ietwat droewig en vraend aan. Hy is oorlede toe Ouma tien jaar oud was en hy het geen van sy kleinkinders geken nie.

In Langenhoven se sterfjaar het sy outobiografie U dienswillige dienaar verskyn. Blykbaar het iemand die familie ingelig oor hoe die beroemde skrywer en senator baie lof aan hul vader toegeswaai het. In hoofstuk 10 skryf hy dat een van “die vernaamste invloede wat op my aard en aanleg uitgeoefen is om my werk as skrywer die vorm en hoedanigheid te gee waardeur dit gekenmerk word, is die Bybelstudie, vertaalwerk en Nederlandse en Engelse opstelwerk onder Bloemkolk”.

My oupagrootjie kon natuurlik nooit geweet het dat “die kleine Petiet” ’n skrywer van formaat sou word of dat hy reeds ’n belangrike rol in sy ontwikkeling gespeel het nie.

Langenhoven beskryf hom as ’n “fyn gekultiveerde gentleman”, maar hy gee onmiddellik toe dat hy “nie hooggeleerd en glad nie vir die vak van onderwyser opgelei (is) nie”. Hy het ook ’n ander storie die wêreld ingehelp en daaraan het die Bloemkolk-nasate blykbaar meer waarde geheg.

Meester Bloemkolk en sy vrou, Agatha, met hul oudste twee kinders (ca. 1891).

“Ons het verstaan, maar hy het min oor homself gepraat, dat hy as rykmanseun met ryk vooruitsigte grootgeword het, en toe het daar ’n ramp gekom en hy moes uitkomste soek.”

Met verloop van tyd het dit ’n eie lewe gekry en wanneer ek ooit gespog het dat my Akerman-oupagrootjie deur koningin Victoria tot ridder verhef is, het Ma my daaraan herinner dat Meester Bloemkolk hoogwaarskynlik uit Nederlandse adel afkomstig was.

In 1973, ter viering van wat Langenhoven se 100ste verjaarsdag sou wees, het Die Huisgenoot ’n artikel van Retief Koch onder die titel “Langenhoven het hul pa onsterflik gemaak” gepubliseer. Daar was kleurfoto’s van Bloemkolk se oorlewende kinders – Ouma, Ou Tin, die voormalige onderwyseres Hatie Meyer . . . En natuurlik was daar ook die foto van Meester Bloemkolk wat in die eetkamer by Ouma-hulle so ’n prominente plek ingeneem het.

’n Paar jaar later het ek my in Nederland bevind, en Amsterdam het tot 1991 my tuiste geword. Ek was nou meer nuuskierig oor my Hollandse oupagrootjie, maar het gou ontdek dat ook in Nederland Bloemkolk ’n uitsonderlike naam is, en ek het nooit iemand met dié van ontmoet nie. Ek het Ma gevra uit watter deel van Nederland die Bloemkolks presies vandaan gekom het, maar niemand in die familie het dit geweet nie. Sy dag dat dit iewers in die suide kon gewees het, maar sy kon dit nie met sekerheid sê nie.

Miskien wou hy ná die dood van sy ouers ’n nuwe begin maak.

As hy rêrig uit die adel afkomstig was, moes daar tog êrens ’n stamboom gewees het, het ek aangedring. Maar as dit ooit bestaan het, was Marthinus Paulus Bloemkolk sowel sy fortuin as sy stamboom kwyt.

Behalwe dat hy ’n voetnota in die Afrikaanse literatuur is, weet ons baie min oor my Hollandse oupagrootjie. Het hy broers en susters gehad? Was hy werklik die seun van ’n ryk man en hoe het sy pa sy fortuin verloor? Hoekom het hy verkies om na Suid-Afrika te kom? Al wat ons toe geweet het, is dat hy in 1880 in Kaapstad voet aan wal gesit het en dat hy daarna aan Anysberg se plaasskool les gegee het. Vanaf 1883, het hy in die Hoeko-vallei in die ou smidswinkeltjie aan die tienjarige Langenhoven en verskeie ander plaaskinders les gegee. Meer as drie jaar lank het hy by Langenhoven se ma en pa ingewoon “en nooit in al die tyd was daar ’n woord of ’n daad van hom waarop ons met ’n vinger kon wys nie”.

Hy was ’n vrygesel, maar volgens Retief Koch het hy sy hart in Nederland op die jonge dame Agatha Hendrika Negryn verloor. Ek kan my inbeeld hoe hy in die hitte in die spaarkamer by Langenhoven se pleegouers haar per brief die hof gemaak het en hoe lank hy moes wag om haar jawoord per pos te ontvang.

Meester Bloemkolk se eerste huisskool in Hoeko.

In 1885 is hulle in Nederland met die handskoen getroud en die volgende jaar het sy as sy wettige vrou die reis na Suid-Afrika onderneem. Hul ses kinders is in die Hoeko-vallei gebore en hulle het daar jare lank op sy geringe salaris geleef. Op onbegryplike advies van ’n geneesheer het die gesin in 1904 na Groot-Brakrivier verhuis, omdat die seeklimaat beter sou gewees het vir die borsaandoening wat hom begin pla het.

Daar het Meester Bloemkolk in die Searle-familie se nuutgeboude skool les gegee, maar die jaar daarop is hy in die ouderdom van 51 oorlede.

In sy meesterlike Langenhoven: ’n Lewe skryf JC Kannemeyer soos volg oor my Hollandse voorvader: “Bloemkolk is in Nederland uit gegoede stand gebore, maar deur ’n bank wat in duie gestort het, is sy ouers in armoede gedompel en moes hulle seun uitwyk na Suid-Afrika, waar hy op ’n klein salaris en in ’n vergelykenderwys minder ontwikkelde omgewing moes bestaan. Hy was ’n skrander man wat vyf tale kon lees en ook musiekopleiding gehad het. Aangesien hy egter nie oor die nodige sertifikate beskik het nie, kon hy geen pos in ’n stad of ’n groot dorp kry nie en was hy op plaasskole aangewys.”

Hy benadruk die invloed dat hy as onderwyser op die jong Langenhoven gehad het en herhaal enkele feite oor Bloemkolk afkomstig uit U dienswillige dienaar en Retief Koch se artikel.

CJ Langenhoven (links)

Dit was die enigste feite waaroor ek beskik het toe ek gesit en dink het hoe ek my oupagrootjie se storie sou hervertel. Wat het presies gebeur? Het my ooroupagrootjie op ’n dag met ’n bleek gesig die huis binnegestap en gesê, “Mijn zoon, de bank is failliet gegaan. Wij zijn alles kwijt. Het spijt mij zeer, maar jij moet naar Zuid-Afrika uitwijken en daar een nieuw bestaan zien op te bouwen”?

Volgens Retief Koch – dit is glo gegrond op familieoorlewering – was hy al op Agatha verlief. Moes hy uit sy klein salaris geld na sy verarmde ouers in Nederland stuur? Sou dit nie verstandiger gewees het om ’n betrekking in Nederland te soek nie? Dit het geen sin gemaak en daar was niemand wat hierdie vrae vir my kon beantwoord nie.

Soos die meeste moderne navorsers het ek my ook tot Google gewend en die naam “Marthinus Paulus Bloemkolk” ingetik. En daar was dit! “Marthinus Paulus Bloemkolk (1850-1905) – Genealogie – Geni.” Ek het sy familiestamboom ontdek – met verwysings na openbare dokumente – en dit het nuwe inligting opgelewer.

Om te begin, is my oupagrootjie in Amsterdam gebore en is dus nie iewers uit die suide afkomstig nie. Hy is op die ouderdom van 55 – en nie 51 nie – oorlede. Sy vader, Paulus Anthonie Bloemkolk, was kantoorbediende (kantoorklerk), dus was hy nóg ’n “rykmanseun met ryk vooruitsigte” nóg uit die adel afkomstig.

Marthinus Paulus Bloemkolk ’n tydjie ná sy aankoms in Hoeko.

Sy moeder, Clara Maria Engelenberg, was eers met ene Marten Erfman, ’n “blikslager” (blikslaer), getroud en hul kind Martinus Paulus Erfman – my oupagrootjie se halfbroer – is in 1832 gebore. Dit is onduidelik wanneer haar eerste man dood is, maar in 1841 trou sy met Paulus Anthonie Bloemkolk en op 1 Mei 1850 is my oupagrootjie gebore. Sy “domicili” vanaf 1851 word aangegee as Schans, Amsterdam (NH), voluit De Oude Schans, toe ’n netjiese woonbuurt.

Albei sy ouers is in 1879 oorlede – sy ma in April en sy pa in Junie – en ses maande later, op die ouderdom van 29, was hy onderweg na Kaapstad.

Waarom? Hoekom het hy nie ’n betrekking as kantoorklerk gekry en Agatha gevra om met hom te trou nie?

Hoewel Westerse ekonomieë tussen 1873 en 1879 onder wat nou bekend staan as “die lang depressie” gely het, was daar ná 1880 in Amsterdam ’n ekonomiese herlewing. Hy moes toe al geweet het – soos Kannemeyer beweer – dat omdat hy nie as onderwyser opgelei is nie, hy op plaasskole aangewys sou wees en slegs ’n geringe salaris sou kon verdien. Dit bly ’n raaisel. Miskien wou hy ná die dood van sy ouers eenvoudig ’n nuwe begin maak.

En Agatha? Sy was 28 toe hy haar agtergelaat het. Het hy belowe om met haar te trou sodra hy ’n betroubare betrekking gekry het? As dit die geval was, moes Agatha Hendrika Negrijn wag totdat sy 33 was om in Haarlem “met de handschoen” te trou. (Haar van is dus nie Negryn of Negren nie.)

By haar aankoms in die Kaap is hulle weer deur ’n predikant in die eg verbind. Volgens Retief Koch had sy altyd ’n stille verlange na haar mense in Nederland, en volgens Langenhoven was my oupagrootjie deur en deur ’n Hollander “en had hy so oud geword as Methusalem sou hy nooit ’n Afrikaner van spraak of uitsig of maniere geword het nie”. Hulle het Nederland nimmer meer gesien nie.

Ek en my vrou, die aktrise en sangeres André Hattingh, is dus op ’n bedevaart na die Klein-Karoo om Meester Bloemkolk se spore na te loop.

Die smidswinkeltjie wat gedien het as Meester Bloemkolk se eerste klaskamer staan op die plaas Spera. Hier ontmoet ons vir Marelise van der Merwe en haar man, ’n afstammeling van die Langenhoven-geslag en – soos Langenhoven se pa – dra hy ook die name Pieter Guillaume.

Marelise wys ons die piepklein skoolhuis waar Meester Bloemkolk 137 jaar gelede voor die klas gestaan het en met sy “afgryslike” Engelse uitspraak die tienjarige Langenhoven onderrig het in “Cape and English History”.

Die geboutjie is mooi en informatief as museum ingerig met portrette van Bloemkolk en Agatha teen die muur agter die lessenaar. Dis ’n gepaste huldeblyk aan die oomblik toe ’n geliefde onderwyser die kreatiewe verbeelding van ’n skrywer aangewakker het.

In die besoekersboek sien ek die laaste besoeker was in 2015 hier. Jammer genoeg, is my oupagrootjie en Langenhoven blykbaar vergete. Nietemin, neem ek my pen en begin skryf. Ek weet nie so goed wat ek moet skryf nie en besluit om dit eenvoudig te hou.

“Bloemkolk was my opa . . .” Dis verkeerd! So skryf mens oupa in Nederlands. Toe skryf ek dit in Nederlands oor. “Bloemkolk was mijn overgrootvader.” André is oortuig dat Meester Bloemkolk my hand gelei het toe ek daai woorde geskryf het.

Waarom het Langenhoven beweer dat my oupagrootjie ’n rykmanseun met ryk vooruitsigte was en dat ’n finansiële ramp sy vertrek na die Kaap genoodsaak het? Hy gee toe dat Bloemkolk min oor homself gepraat het en hy sou self nooit so ’n verhaal versprei het nie. Waar kom dit dan vandaan?

Die “jonge Petiet” was diep onder die indruk van hierdie gekultiveerde heer uit Nederland, met sy vreemde aksent, onberispelike maniere, deftige pak en hardebolkeiltjie.

Ek stel my voor dat hy gesit en wonder het oor Meester Bloemkolk se voormalige lewe in die verre Nederland en dat sy jeugdige verbeelding dit aangevul het met romantiese en dramatiese wendinge ontleen aan 19de-eeuse romans.

Miskien was hierdie verhaal oor Meester Bloemkolk se komvandaan een van Langenhoven se eerste literêre versinsels.

  * Anthony Akerman is ’n dramaturg en teaterregisseur.

Meer oor:  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.