Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Van geweldenaar tot ‘jong Mandela’

Hy was eens ’n sokkerwonderkind, maar haglike huislike omstandighede het hom op die verwoestingspad van dwelms en gewelddadige misdaad gelei. Onlangs is Delano Ayer egter aangewys as een van News24 se 100 toekomstige Mandelas, skryf Terésa Coetzee.

Wanneer jy voor die baksteengebou onder die groot boom stilhou, lyk dié woonstelgebou in die hartjie van Windsor-Wes, Johannesburg, soos net nog ’n doodgewone blyplek. In die hoek staan twee mans aan ’n ou motor en werk en elders hang ’n vrou wasgoed op die draad.

Die 29-jarige Delano Ayer in Kersiedorp, Eldoradopark, waar hy grootgeword het. Foto: Michael Abrahams

Die ses jong inwoners van woonstel no. 3 is almal nog in die skool. Die 29-jarige Delano Ayer is die huispa van dié

Growing Champions-hoofkwartier en veilige hawe, waar menige jongeling al ’n nuwe lewe kom vind het.

Ayer dra varsgebakte botterbroodjies aan wat een van die vroue in die buurt spesiaal vir Beeld se kuier gebak het.

Hy is onlangs aangewys as een van News24 se Mandela 100. Dit beteken hy word beskou as een van die top-100- inspirerende Suid-Afrikaners wat ’n daadwerklike verskil in ander se lewe maak.

Om een van dié elite-groep toekomstige Mandelas te wees moes jy teen alle waarskynlikheid bo jou omstandighede uitgestyg het en werklik die gees van Madiba weerspieël.

Ná ’n tydjie in Ayer se geselskap verstaan jy waarom hy gekies is.

Wanneer ek meth gerook het, was dit soveel makliker om te steel en met messe te baklei.

Van ‘wondervoete’ tot misdadiger

Terwyl die jong man voor jou rustig sit en gesels, is dit moeilik om jou voor te stel dat hy eens ’n gevreesde misdadiger in Kersiedorp in Eldoradopark was. Hy vertel self hy was ’n bendeleier wat nie geskroom het om sy weg oop te steel en te moor nie.

Hy het gesteel om sy verslawing aan tik (metamfetamien) te onderhou en almal in die omgewing het hom gevrees.

Maar dís nie hoe sy storie begin nie. Dit begin eintlik waar hy as vierjarige seuntjie al uitgeblink het in sokker en hoe die buurt se mense hom almal beskryf het as die seun met die wondervoete. Elke keer as ’n sokkerbal voor hom neergesit is, het iets wonderbaarliks gebeur en hy was baie jonk toe hy al deur afrigters en talent­soekers raakgesien is.

Maar Delano se pa wou niks hoor van sy seun se talent nie en elke keer as hy ’n beurs of ’n plek in ’n span aangebied is, het sy pa dit sommer namens hom van die hand gewys.

“Ek het in ’n huis groot­geword waar geweld alledaags was. My pa het gedrink en nie geskroom om ons te slaan nie. Selfs nie eens my ma nie.

“Van ek kan onthou, het my pa altyd gesê sport is nie ’n loopbaan nie. Toe die bestuurder van Orlando Pirates vir my ’n plek in die span aanbied, het my pa my amper doodgeslaan pleks van die dokumente te

teken. Dis hoe dit altyd in ons huis gegaan het,” onthou hy.

Toe hy 12 jaar oud was, het ’n Amerikaanse afrigter sy ouers kom vra of hy vir hom ’n sportbeurs in Amerika kan aanbied, maar sy pa het weer geweier.

“Daardie aand het ek met ’n koperkabel pak gekry en dit was die laaste keer in my lewe dat ek met hom oor sokker gepraat het.

“Ek het begin rook, en nie lank daarna nie met dwelms begin eksperimenteer.

“Ek het alles gebruik waarop ek my hande kon lê. Cat, Mandrax, crystal meth, kokaïen, noem maar op. Maar die dwelms wat my die meeste soos ’n dier laat voel het, was crystal meth. Wanneer ek meth gerook het, was dit soveel makliker om te steel en met messe te baklei,” onthou Ayer.

Dít was agt, nege jaar lank die patroon en almal in Kersiedorp was bang vir hom.

Ek het in ’n huis groot­geword waar geweld alledaags was. My pa het gedrink en nie geskroom om ons te slaan nie. Selfs nie eens my ma nie.

Growing Champions

Terwyl die jong Ayer al hoe dieper in ’n donker dwelmgat ingetrek is, het sy 11-jarige kleinboet Keanin in sokker begin uitblink. Hy is raakgesien deur Samantha Toweel-Moore, die stigter van Growing Champions.

Dit is ’n organisasie wat jongelinge in nood onder sy vlerk neem en uit hul omstandighede help.

Dit sluit in kinders wat in armoede gebore is wie se ouers by kriminele aktiwiteite betrokke is.

Toweel-Moore was in daardie stadium ’n persoonlike-ontwikkelingsberader vir die organisasie wat die kinders in lewensvaardighede onderrig het. (Sy is die dogter van wyle Willie Toweel, wêreldbokskampioen.)

Jeremy Seethal het sokker afgerig en gou Keanin se uitsonderlike talent raakgesien. Toweel-Moore vertel dat Keanin gekies is om in Ghana te gaan sokker speel en hulle was almal oorstelp.

“Maar skielik wou hy nie meer Ghana toe gaan nie en ek kon nie glo hy laat so ’n geleentheid deur sy vingers glip nie.

“Toe ek later met hom daaroor praat, het hy my van sy broer vertel wat net so ’n goeie sokkerspeler was, en kyk waar is hy vandag. Boonop was hy bang dat as hy Ghana toe sou gaan, hy nooit weer sy ouboet sou sien nie, want Delano se lewe was elke dag in gevaar.”

Intussen het Toweel-Moore die Growing Champions-huis in Windsor-Wes geopen en het hulle ’n huispa nodig gehad.

Toweel-Moore het besluit om met Ayer te gaan praat en het hom heel eerste gevra of hy sy lewe wil verander.

Die antwoord was “ja”.

“Dit was nie so maklik om hom uit Kersiedorp te kry nie. Daar was baie mense wat na hom gesoek het, die polisie inkluis. Al het hy ingestem dat ek hom help, het hy skielik met 100 verskonings vorendag gekom waarom dit nie dadelik kan gebeur nie,” onthou Toweel-Moore.

Maar sy het hom na haar eie huis geneem, haar seun het sy kamer aan hom afgestaan en Ayer het met rehabilitasie begin.

Greep van dwelms

Om uit dwelms se greep te kom, is een van die moeilikste uitdagings wat enige mens in die gesig kan staar, vertel Ayer.

Maar hy het die besluit geneem om sy lewe te verander en moes daarby hou, al het hy soms gewens hy kon eerder net doodgaan sodat alles verby kon wees.

Intussen het Toweel-Moore die Growing Champions-huis in Windsor-Wes geopen en het hulle ’n huispa nodig gehad.

Die Growing Champions-sokkerspelers. Foto: Samantha Toweel-Moore

Ayer het sokker vir die Growing Champions-sokkerakademie begin afrig en sommer ook die huispa geword. Omdat hy presies geweet het hoe misdaad en dwelms werk, kon die kinders in die huis hom nooit flous nie.

Hy het ná baie besinning ’n aanbod vir ’n per­manente werk van die sportwinkel Decathlon, wat besluit het om hom ondanks sy misdaadrekord ’n kans te gee, van die hand gewys.

“Ek weet die kinders by Growing Champions het my nodiger en ek het ’n roeping in die lewe om hulle te help en om hulle op die regte pad te kry. Ek het ’n tweede kans gekry en ek moet ander kinders help om ook daar uit te kom.

“Die lewe het my soveel waardevolle lesse geleer en ek moet daardie lesse oordra, anders was alles waardeur ek gegaan het, verniet. Ek verdien nie ’n sent nie en daar is net ses kledingstukke in my kas, maar ek is op die beste plek waar ek in my hele lewe was.”

Keanin speel deesdae professioneel sokker in Swede en die Growing Champions Football Club is ’n gerekende klub wat tans boaan die Rand Central League se o.17-afdeling is.

“Party kinders word in haglike omstandighede gebore en groot, maar kies om daarteen te rebelleer. Growing Champions kies om mense te wees wat ’n verandering maak,” sê Ayer.

Growing Champions se pilare
  • Leierskap: Ek is verantwoordelik vir my aksies. Dit het gevolge en ek moet daarmee saamleef, maar dit het ook belonings wat ek kan geniet.
  • Diens: Ek het iets om te bied wat die wêreld ’n beter plek kan maak. Ek dien God, my familie, my afrigter, my span en my gemeenskap.
  • Bou uitnemendheid: Ek kies om altyd my beste te gee in alles wat ek doen.
  • Eenheid: Ek werk as deel van ’n span, en toon respek vir myself en ander.
  • Dankbaarheid.

    Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Dwelms
    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.