Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Van Soweto tot #RhodesMustFall

Sy ervarings tydens die Soweto-onluste 40 jaar gelede was van die belangrikste vormings-oomblikke in sy lewe. Max du Preez onthou sy dae as ’n bloedjong verslaggewer by Beeld toe hy gevra het: Wat de hel het so pas gebeur?

’n Taal van bloed: ’n Slagoffer word deur polisiemanne verwyder tydens die Soweto-opstande in Junie 1976. Leerders van verskeie skole in Soweto het in dié township se strate begin betoog in protes teen die afdwing van Afrikaans as onderrigmedium. Foto: Die Burger-argiewe

Ek was nog bloedjonk, ’n nat-agter-die-ore-verslaggewer van Beeld toe ek en ’n fotograaf in die vroegoggendskemer van 16 Junie 1976 met ’n wit Peugeot 404 deur die rookmis na die Protea-polisiekantoor in Soweto gery het.Ek was nog te junior om ’n politieke verslaggewer te wees. Maar die storie wat ek moes dek, het ek en my koerant nie as ’n politieke storie gesien nie.

Dit was misdaad. Politiek was wat in die wit parlement en die Uniegebou gebeur het.

Vir my, en vir omtrent alle wit Suid-Afrikaners van die tyd, was Soweto die onbekende, anderse heelal waar die meeste swart mense wat in Johannesburg gewerk het, gewoon het; die plek wat ’n wit mens senuagtig gemaak het as jy daar verby Potchefstroom toe moes ry.

Stormloop: Die aantal betogers wat gedurende die Soweto-opstande deur die polisie doodgemaak is, word gewoonlik op 176 geraam. Meer as 1 000 mense is beseer. Foto: Getty Images

Ek dink nie ek het in Junie 1976 enige swart mens persoonlik geken nie, net goeiemôre ­gesê aan die swart bodes en skoonmakers wat by die koerant gewerk het.

Daar was destyds geen swart verslaggewers by Beeld nie – die eerste was, ­interessant genoeg, Jon Qwelane, later een van die skerpste anti-apartheidskrywers in die Suid-Afrikaanse media en nog later ambassadeur in Uganda. Maar hy het eers laat in 1976 by Beeld begin om te help om ’n swart perspektief aan die sluimerende township-revolusie te gee. Ek het so half verwag dat daar daardie Woensdag moeilikheid in Soweto sou wees.

My “polisiekontak” het laat weet die “klonkies” was al ’n paar dae lank oproerig en sou op die 16de groot optogte hou. Op my vraag hoekom hulle kwaad is, het die offisier gesê dit was sommer net Winnie Mandela wat hulle opstook en misbruik. (Sy is die jaar daarop ingeperk en Brandfort toe gestuur.)

Ek het reguit na die polisie-hoofkwartier in Soweto gery, nie net omdat ek bang was en nie die township geken het nie, maar omdat ek aan die polisie se kant was. In my jong gemoed was hulle die manne in blou wat my en my mense teen die dreigende hordes moes beskerm.

So net ná agtuur ry ons agter ’n polisiekonvooi aan na waar ’n groot groep leerlinge, seker ’n paar duisend en almal in skooluniform, op ’n oop stuk grond in Orlando-Wes vergader. Ek bekyk alles van agter die polisie­linie. Vir die eerste keer sien ek die plakkate: Down with Afrikaans! (Ek onthou nog ’n ander een: Vorster & Kruger: I’m not a kaffir!)

In rook en vlamme: ’n Soldaat op 15 September 1976 met ’n geweer wat traanrookgranate vuur gedurende opstande in Kaapstad. Dié onluste kom in die nadraai van die Soweto-opstande in Junie van daardie jaar. Foto: Keystone/Hulton-argief/Getty Images

’n Polisiekaptein waarsku oor ’n megafoon – in Engels! – dat die jongmense uitmekaar moet gaan, maar sy woorde lok net ’n nog groter lawaai uit. En daar kry ek toe my eerste ervaring van traanrook, iets wat ek in die dae en maande daarna herhaaldelik sou ervaar: ’n verskriklike brand van die oë, keel en sinus wat jou ’n paar oomblikke laat dink jy gaan sterf.

’n Ontstelde konstabel sê aan ’n kollega langs my daar is groot moeilikheid ’n paar blokke verder. Ons jaag agter die polisievoertuie aan.

Ek hoor die skote en die gegil voordat ek die verwilderde leerlinge in alle rigtings sien hardloop. Maar hulle hergroepeer elke keer weer. Dit lyk vir my die polisiemanne is net so verward en paniekerig soos die jong mense. Ek sien ’n polisieman in kamoefleerdrag sy geweer op die skare rig en die skoot aftrek. ’n Seun steier en val. Die polisie spring in hul voertuie en jaag weg, met ons kort op hul hakke. Ek onthou nog hoe kurkdroog my mond was; wat de hel het so pas gebeur?

En dit, met ’n daaglikse dosis van klipgooiery en traanrook en bloed, is hoe ek die volgende paar maande van my lewe deurgebring het. Die oproer het vinnig na ander townships en uiteindelik landwyd uitgebrei en ek het selfs die twyfelagtige voorreg gehad om die gehate en berugte brigadier Rooi Rus Swanepoel in Alexandra in aksie te sien. (Dit was ook in Soweto in Junie 1976 dat ek die eerste keer met ’n ewe jong verslaggewer van die Rand Daily Mail met die naam Helen Zille kennis gemaak het.)

21 Junie 1976: Betogers in Soweto het motors as padversperrings ingespan. Foto: Keystone/ Getty Images

Die jong opstandelinge is ­regtig nooit deur ’n geoliede ­masjien georganiseer nie – dit was so na aan ’n spontane revolusie as wat ’n mens kon kom.

Daar was ’n paar leiersfigure, soos Tsietsi Mashinini en Sechaba Montsitsi, maar hulle was meer koördineerders as op­stokers.

Winnie Mandela het wel ’n klein rol gespeel in die sin dat van die leerlingleiers by haar gaan raad soek het. Een van die leiers het ’n paar maande later in Botswana vir my gesê Winnie het aan hulle gesê ’n klip is die swart man se bom, en hulle moes die geboue van die Bantoe-administrasierade as die voorste simbole van apartheid afbrand.

Dit is 40 jaar later. As ek nou terugkyk, moet ek my ervaring in Soweto as een van die belangrikste vormingsoomblikke in my lewe beskryf. Nie dat dit juis in my verslaggewing van daardie tyd weerspieël is nie – nes ander Afrikaanse joernaliste van die tyd het ek met min bevraagtekening die narratief van die polisie en die regering gevolg; agitators, kommuniste, georkestreerde aanslag.

Maar ’n paar vrae het aan my bly knaag en gehelp om my denke fundamenteel te laat skuif, so half teen my sin in.

Die jong mense wat so woedend is, so vreesloos voor die polisiekoeëls was, was net ’n paar jaar jonger as ek. Hoe het dit gebeur dat hulle bereid is om uit protes te sterf terwyl my lewe so gerieflik en sorgeloos is?

Hoe is dit dat ek niks, hoegenaamd niks, van dié landgenote se lewens of denke weet nie? Watter stelsel het tot gevolg gehad dat my ganse ervarings­wêreld soveel ligjare van dié jong mense s’n is, terwyl ons maar ’n paar kilometer van mekaar woon?

Gevaarlike tye: Jong betogers omsingel ’n brandende bus tydens die Soweto-opstande op 17 Junie 1976. Foto: Popperfoto/ Getty Images

Ek dink Soweto 1976 het uiteindelik die groot leuen konkreet vir my uitgewys: Apartheid was nie die geregverdigde afsonderlike ontwikkeling van volkere nie, dit was ’n geweld­dadige, rassistiese en onderdrukkende ideologie. En Afrikanernasionalisme was nie net ’n gesonde trots op eie taal, kultuur en geskiedenis nie, dit was aggressief, chauvinisties, onverdraagsaam en selfsugtig.

Afrikaans as verpligte onderrigtaal was inderdaad die sneller vir die opstande van Junie 1976.

Die departement van Bantoe-onderwys het van 1974 af begin om Afrikaans in swart skole aan die leerlinge op te dwing: Wiskunde, geskiedenis en geografie moes in Afrikaans aangebied word en Afrikaans as vak was verpligtend. Dit het nie saak gemaak dat die meeste onderwysers glad nie Afrikaans magtig was nie.

Punt Janson, die adjunkminister, het verklaar dat jong swart mense dalk vir ’n “grootbaas” gaan werk wat net Afrikaans of Engels kon praat, en dit was dus in die kinders se eie belang om albei dié tale te kon praat.

Ironies was die minister van Bantoe-onderwys in daardie tyd, M.C. Botha, in 1943 aan die spits van ’n sterk protesaksie teen die voorgestelde gebruik van Engels as ’n bykomende onderrigtaal in Afrikaanse skole: Die “Afrikanerdom word op die altaar van Brits-Joodse imperialisme opgeoffer”, het hy in ’n vlugskrif geskryf.

Hier is ’n dubbele ironie: Die ideologiese erfgename van Botha, Janson en kie staan vandag saam met ander vooraan die stryd om moedertaalonderrig op skool en universiteit vir Afrikaanse kinders te verseker, presies dít wat Afrikanernasionaliste in 1976 nie vir swart kinders gegun het nie. Afrikaans ly vandag nog onder die “taal van die onderdrukker”-etiket.

Hardloop! ’n Polisieman verwilder hier ’n betoger in een van Soweto se strate. Die netjies geklede man in die agtergrond steur hom skynbaar nie aan die voorval nie. Foto: Die Burger-argief

Maar daar was duidelik heelwat meer as taal op die spel. Apartheid was byna op sy rofste in die 70’s, met streng paswette, gedwonge verskuiwings, ekstreme sosiale segregasie en meer. Die laaste weerstand uit swart geledere was in die 60’s, die geslag van Nelson Mandela, Walter Sisulu en Oliver Tambo. Dié leiers wat nie Robbeneiland toe gestuur is nie, het in ballingskap gegaan en ’n groot leierskapsvakuum laat ontstaan.

Die struggle, en inderdaad die ANC self, was dormant. Die meeste swart volwassenes het maar die kop laat sak, pasboek gedra, gaan werk en die pyn gevat.

Maar hul kinders het die pyn, woede en magteloosheid by hul ouers aangevoel. En toe Afrikaans in hul kele afgedruk word, het hulle opgestaan. Dit was ’n volwaardige jeugrevolusie.

Ná 1976 het vrede en rus nooit na Suid-Afrika teruggekeer nie. Daar was stiller maande en meer gewelddadige maande, maar die onrus het aangegaan tot met die stigting van die Unit­ed Democratic Front in 1983, en dít was die begin van die einde vir apartheid – sewe jaar later het die onderhandelinge begin.

Die studente-opstande van Oktober 2015 – #RhodesMustFall en #FeesMustFall – was die eerste daadwerklike aksie van weerstand teen die status quo deur die jeug sedert 1994.

Hier is die interessante parallel tussen Junie 1976 en Oktober 2015: Die ANC het nie net niks daarmee te make gehad nie, dit was boonop ’n groot verrassing vir hom. Albei bewegings is deur Swart Bewussyn geïnspireer. (Die vader van Swart Bewussyn in Suid-Afrika, Steve Biko, is op 12 September 1977 in aanhouding dood nadat hy erg deur die polisie aangerand is.)

Duisende jong swart mense het in 1976 en daarna die land onwettig deur Botswana verlaat om hulle by die gewapende stryd te gaan aansluit. In Botswana en Zambië aangekom, kon hulle nêrens die Pan Afri­can­ist Congress opspoor nie.

Max du Preez in sy jonger dae: Hy was 25 tydens die Soweto-opstande. Nes ander Afrikaanse joernaliste van die tyd het hy met min bevraagtekening die narratief van die polisie en die regering gevolg. Foto: Beeld-argief

Die ANC se Umkhonto we Sizwe (MK) het wel hier en daar kantore en kampe gehad, en die jonges het by verstek MK-rekrute geword. Dit was ’n groot inspuiting vir die ANC in ’n stadium dat dit nie veel van ’n organisasie buiten ’n paar diplomatieke kan­tore en bande met die internasionale anti-apartheidsbeweging was nie.

Dit was ’n helse skok vir die onbeholpe en swak georganiseerde MK; nie net die getalle nie, maar die jeugdigheid en die politieke houdings van die rekrute. Baie van die jong rekrute het slagoffers van magsmisbruik en menseregteskendings in die ANC se kampe geword.

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) was die ANC en MK se ideologiese diktator, so alle Swart Bewussyns­neigings onder die nuwe aan­komelinge is gou uitgewis – die SAKP is immers tot nie te lank gelede nie deur wit mense gelei. Selfs ’n jeugdige Nelson Mandela se politieke filosofie was nader aan Swart Bewussyn toe hy ’n heethoof van die ANC-jeugliga was en dit was onder SAKP-leiers se druk dat hy geswaai het.

Dit is interessant dat die nuwe party wat hom graag met die jeug en met die opstande van 1976 vereenselwig, die EFF, ook nader aan Swart Bewussyn as aan die nierassigheid van die Vryheidsmanifes is.

Soos die #RhodesMustFall-groepering, verlaat die EFF hom graag op die uitsprake van Biko en Frantz Fanon, een van die intellektuele op wie se skouers die Swart Bewussyn staan.

Dalk was die nierassigheid van die ANC die laaste 50 jaar bloot ’n baadjie wat die SAKP dit laat aantrek het?

Die ANC gaan volgende Donderdag diep woorde besig wanneer hy die gebeure in Soweto 40 jaar gelede herdenk.

Hy gaan voorgee hy weet nie dat die staatstatistikus onlangs bevind het hoërskoolleerlinge van vandag is swakker opgelei as hul ouers nie – ouers wat deur Bantoe-onderwys opgevoed is.

In 2016 brand die skole en die kampusse weer, is daar weer woede, frustrasie, traanrook en aggressiewe polisie in die townships. Maar daar is nie dié keer apartheid en Afrikaans om die skuld te gee nie.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Soweto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.