Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Veel groter as 'n Wêreldbeker-wen

Met ’n verswakkende ekonomie, politieke onsekerheid en voortslepende rassepolarisasie, is Suid-Afrikaners altyd op soek na iets wat hulle beter oor hul land laat voel. Min sou voorspel het dat die Bokke dít sou regkry deur die Wêreldbeker te wen, skryf Gert van der Westhuizen. Dié span, Rassie Erasmus (afrigter) en Siya Kolisi (kaptein) is Beeld se Persone van die Jaar.

Twee jaar gelede was die Springbokke teen die spreekwoordelike planke ná ’n liederlike nederlaag van 0-57 teen die All Blacks.

Min mense sou voorspel het dat hulle weer sou opstaan ná hul grootste nederlaag tot nog toe; minder nog sou verkondig het dat hulle die volgende Wêreldbekertoernooi sal wen.

Hoewel die toekoms ’n bietjie meer rooskleurig gelyk het nadat Erasmus by Allister Coetzee as afrigter oorgeneem het met onder meer ’n seldsame sege oor die All Blacks in Nieu-Seeland, het ’n derde Wêreldbeker-triomf steeds na ’n ontwykende droom gelyk.

Selfs nadat die Springbokke vanjaar die Rugbykampioenskap vir die eerste keer in ’n dekade gewen het, sou min Suid-Afrikaners hulle die ongekende nasionale vreugde van vroeg November kon indink.

Nadat hulle boonop hul eerste Wêreldbeker-wedstryd in Japan teen die All Blacks verloor het, sou net die heel dapperstes onder ons iets op hulle verwed het – ’n span het immers nog nooit die Wêreldbeker gewen nadat hy ’n groepwedstryd verloor het nie.

Die perfekte vertoning

Maar Erasmus, Kolisi en hul Bokke het ondanks gereelde kritiek oor die manier waarop hulle gespeel het en die beweerde gebrek aan ’n plan B, al die twyfelaars en kritici op die neus laat kyk.

Die Bokke was takties meesterlik, soveel so dat gerekende strateë van die spel soos die Walliese afrigter, Warren Gatland, en die Engelse breier, Eddie Jones, nie raad met hulle geweet het nie.

Die vertoning in die eindstryd teen Engeland was, om een van die kommentator Gerhard Viviers se gunsteling-woorde te gebruik, eenvoudig manjifiek.

Hulle het hul beste vir heel laaste gebêre.

Die Bokke het alle wapens in die rugby-arsenaal op byna foutlose wyse gebruik om Engeland heeltemal te oordonder: die skrum, die lynstaan, taktiese skopwerk, stelskopwerk, verdediging wat die Engelse se moed gebreek het – en, ja, hardlooprugby.

Dit is nie vreemd dat baie van ons nie genoeg na opnames van dié wedstryd, en veral die Bokke se twee drieë, kan kyk nie.

Want wat die rugbywêreld op 2 November 2019 in Jokohama gesien het, was die mees perfekte vertoning deur ’n Springbok-rugbyspan – beslis in die professionele era indien nie die beste sedert Suid-Afrika die eerste keer in 1891 ’n nasionale span in die veld gestoot het nie.

Geen ander span sou die Springbokke daardie dag kon klop nie, selfs nie eens die magtige All Blacks nie.

Die lang partytjie

rassie erasmus, siya kolisi
Rassie Erasmus en Siya Kolisi. Grafika: Theuns Kruger

Van die oomblikke ná die eindstryd sal nog vir lank in die nasionale geheue gebêre word: Kolisi wat by Cheslin Kolbe kniel vir ’n paar stil oomblikke, ’n glimlaggende pres. Cyril Ramaphosa wat die Wêreldbeker saam met die spelers omhoog hou en Faf de Klerk in sy landsvlag-onderbroek wat blad skud met prins Harry in die kleedkamer.

Die euforie in Suid-Afrika ná die eindstryd is iets wat selde nog hier gesien is en nie eens die suur druiwe in die Noordelike Halfrond kon dit demp nie.

Die Springbokke het die Wêreldbeker in 1995 en 2007 gewen en hoewel dié seges die land en selfs by tye die wêreld opgewonde gehad het, was dit asof vanjaar se triomf anders was.

Dit was asof die Bokke, ondanks die gemor van ’n paar bitterbekke, dié keer werklik amper die hele Suid-Afrika se span was.

Hulle was – soos Mondli Makhanya, redakteur van City Press, geskryf het – die eerste Springbokspan wat werklik ’n nasionale span was.

Miskien kan ’n mens die euforie ook toeskryf aan die feit dat ons vanjaar se sege te midde van ons ontelbare en skynbaar onoplosbare probleme baie nodiger gehad het as wat die geval in 1995 en 2007 was.

Die land is meegesleur deur die Bokke se prestasie en die partytjie het langer aangehou as die vorige twee keer.

Mense sal nie gou vergeet wat hulle gesien het met die span se aankoms op die O.R. Tambo-lughawe en die latere triomftogte deur van die grootste stede nie.

Veral nie hoe mense van verskillende rasse na mekaar uitgereik en saam gejuig het oor hul nuwe helde nie: Faf de Klerk, Handré Pollard, Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am, Beast Mtawarira, Pieter-Steph du Toit (Wêreldrugby se Speler van die Jaar), Cheslin Kolbe, Damian de Allende – én Erasmus en Kolisi.

Van die tonele wat op die lughawe gesien is, gebeur nie aldag nie en miskien sê dit baie van ons samelewing dat dit steeds uitgesonder word: ’n Wit seuntjie wat op die skouers van ’n forse swart man sit wat ’n groot groep ondersteuners in dreunsang lei.

Wit mans en vroue wat ’n swart man se makarapa leen vir foto’s en selfies, ook saam met die eienaar.

’n Bykans onophoudelike gesing en gejuig wat dit amper na ’n politieke byeenkoms in ’n township in die vroeë 1990’s laat klink het as jy jou oë toegemaak het.

Seker daarom dat Leon Schuster se “Hie’ kommie Bokke” so half onvanpas geklink het toe dit in ’n stadium oor die luidsprekers gespeel is.

Dit het geklink na die liedjie van ’n Wêreldbekertoernooi wat lank gelede in ’n ander, vreemde land plaasgevind het.

Nathi Mthethwa, minister van sport en kultuur, het die gees met die span se aankoms baie goed opgesom toe hy gesê het dit het 57 miljoen Suid-Afrikaners verenig.

“Dit het almal van ons nader aan mekaar gebring. Ons moenie toelaat dat ons weer verdeel word nie.”

Die afrigter en kaptein kan seker nie genoeg lof verdien vir die rol wat hulle gespeel het om die land agter hul span te verenig nie.

Erasmus het van die begin af avontuurlik te werk gegaan deur sy net so wyd moontlik te gooi in sy soektog na spelers.

Hy het nie geskroom om jonger, onervare spelers te kies nie en het sy groepe gereeld verander sodat almal ’n billike kans kry.

Ons kan nooit vergeet dat hy Kolbe nader getrek het nadat dié vleuel vir ander plaaslike afrigters “te klein” was nie.

Dit tel ook in Erasmus se guns dat hy lojaal was aan van sy spelers hoewel hulle nie altyd op hul beste was nie.

Willie le Roux is ’n goeie voorbeeld. Hy het, gemeet aan sy standaarde, glad nie ’n goeie Wêreldbekertoernooi beleef nie en verskeie kritici wou sien dat sy kop rol. Erasmus het egter by hom gestaan en Le Roux het hom beloon deur sy beste wedstryd van die toernooi in die eindstryd te speel.

Erasmus het met sy spankeuses ook diegene tevrede gestel wat voel te min swart spelers dra die Boktrui.

Anders as in 2015, kon sy groep vir die Wêreldbeker voorberei sonder dat hulle aandag afgetrek word deur die politiekery van kleur.

Dit was ook opmerklik dat mense wat gewoonlik kla oor sogenaamde kwotas, dié keer tjoepstil was.

Kaptein Siya Kolisi moes beserings oorkom voordat hy die Bokke as die eerste swart kaptein in die Springbok-geskiedenis tot Wêreldbeker-triomf kon lei.

Hy was deurgaans aan die voorpunt met sy harde inklimspel en verdediging hoewel onbillike kritiek ook gereeld in sy rigting gemik is.

Hy het ná die eindstryd gewys op sy span se spelers met hul uiteenlopende agtergronde, maar hoe hulle saamgewerk het om die beker te wen.

Kolisi het diep in die harte van Suid-Afrikaners gekruip toe hy gesê het die Springbokke het die Wêreldbeker vir hulle gewen.

Hy het Suid-Afrikaners ook bedank vir die manier waarop hulle die span ondersteun het.

Kolisi was gereeld in die kollig met die Bokke se toer deur die land nadat hulle in Suid-Afrika teruggekom het.

Daar was talle onvergeetlike oomblikke, maar veral een sal ons nog lank bybly.

Die trane van Daniel Lebogang Mogoma, ’n 14-jarige leerling van Helpmekaar Kollege in Johannesburg, nadat die Springbokke se kaptein sy stewels met sy handtekening versier het, het selfs die mees siniese harte geroer.

Geen wonder lofdigte en liedjies is al oor Kolisi geskryf sedert die Bokke die Wêreldbeker gewen het nie.

Rassie en Siya se invloed

Sulke oomblikke het dit duidelik gemaak dat Erasmus en Kolisi se invloed veel verder gestrek het as net wat op die veld en in die kleedkamer gebeur het.

Hulle het hulself albei as diplomate in die ware sin van die woord onderskei.

Hulle het nie Invictus-sprokies aan Suid-Afrika en die wêreld probeer verkwansel nie.

Hulle was nooit toondoof vir wat in hul land aangaan nie (’n mens wens selfs sommige politici wil by hulle gaan kers opsteek).

Hulle het nie van die harde Suid-Afrikaanse werklikhede ontken of dit enigsins probeer verbloem nie.

Die Bokke se sege is nie voorgehou as iets wat alles sommer dadelik beter sal laat gaan nie.

Dit was verblydend om hulle te hoor praat oor die toekoms en hoe om spelers in townships te help om eendag ook op gelyke voet mee te ding.

Erasmus het voorts gesê dit moet nie weer gebeur dat die Bokke ná die verowering van die Wêreldbeker hul ondersteuners met swak spel teleurstel nie.

Saam ís ons regtig beter

Harde werk wag dus; nie net vir die Springbokke nie, maar ook vir Suid-Afrika.

Die Springbokke het wel gewys dat Suid-Afrikaners weer in hulself kan glo.

Erasmus, Kolisi en die Springbokke het, al was dit net vir ’n week of drie, bygedra tot ’n beter Suid-Afrika.

Ons besef nie aldag wat sulke oomblikke van ongekwalifiseerde vreugde vir ons beteken nie, al duur dit net vir ’n paar dae of enkele weke.

Die Springbokke het met hul sege gewys dat ons nooit genoeg daarvan kan kry nie en dat ons sulke oomblikke baie beter tot voordeel van almal in die land moet probeer uitbuit.

Maar meer nog.

Die Springbokke het die land ook ’n baie belangrike les geleer wat ons gerus kan probeer onthou: Saam is ons waaragtig beter, al sê die regse en linkse bitterbekke ook wat.

eNuus, die elektroniese mediavennoot van Beeld se Persoon van die Jaar-projek, bied jou 365 dae van die jaar onafhanklike en geloofwaardige TV-nuusdekking in Afrikaans.
eNuus word elke aand 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai.

Meer oor:  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.