Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Verbod op simbole sal nie 2019 se probleme oplos

Om in 2019 geykte standpunte te herhaal dat “Die Stem” en die Springbok-embleem moet sneuwel ter wille van politieke oorlewing, is kortsigtig en sal beslis nie bydra tot nasiebou of versoening nie, skryf Jan Bosman.

Lede van die EFF verbrand ’n ou Suid-Afrikaanse vlag tydens ’n betoging in 2015. Foto: Gallo Images

Aangesien prof. Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch Afrikaners direk aanspreek in sy artikel – Nasionale Simbole: Kyk weer na Volkslied, Springbok – reageer ek graag as ’n Afrikaner.

Dit is jammer dat prof. Le Cordeur hom ook nou inmeng in ’n onnodige debat wat reeds soveel verwydering en vervreemding bring. ’n Mens moet seker begrip hê vir die feit dat prof. Le Cordeur hom moet skaar by sy kollegas by sy universiteit wat daarop uit is om transformasie ten alle koste af te dwing en in die proses bereid is om Afrikaans op die altaar te plaas.

Dit gaan egter die verstand te bowe dat prof. Le Cordeur soveel onsinnige standpunte kwytraak en dan ’n beroep op Afrikaners doen om van al die apartheidsimbole ontslae te raak.

So asof Afrikaners nie instrumenteel was in die skep van die nuwe bedeling nie. So asof ons Afrikaners nie ’n reuse-bydrae gelewer het in die land nie. So asof Afrikaners maar net gedweë moet saamswem in die stroom na transformasie. So asof Afrikaners geen identiteit mag hê nie.

Ons vergeet altyd gerieflikheidshalwe dat 1994 en dit wat daarop gevolg het ’n groot historiese kompromie was. Geen party het alles gekry wat hy wou hê nie. Dit was 'n kwessie van neem en gee.

Daarom kan ’n mens sinies vra: Waarom dan net die apartheidsvlag, “Die Stem” en die Springbok-embleem? Waarom word die geldeenheid wat net so uit apartheid oorgeneem is en wat in 1961 met desimalisering die rand en sent geword het nie ook aan dieselfde maatstaf onderwerp nie?

Die antwoord hierop is eenvoudig. Die ou landsvlag, “Die Stem” en die Springbok-embleem verryk niemand nie, dit lei nie tot korrupsie nie, dit help staatskaping niks nie.

Hoe meer rande in die sakke van die begunstigdes van swart ekonomiese bemagtiging beland, hoe meer “getransformeerd is die samelewing.”

Hoe selektief gaan ons nie om met die apartheidsverlede en simbole nie?

Oudpres. Nelson Mandela skryf in die voorwoord tot die publikasie Nasionale simbole van Suid-Afrika, “Die Nasionale Volksliedere ‘Nkosi Sikelel ‘iAfrika’ en ‘Die Stem van Suid-Afrika’, die nasionale wapen en die nasionale vlag is die manifestasie van 'n begeerte om nasionale konsensus te bereik.”

Ons vergeet altyd gerieflikheidshalwe dat 1994 en dit wat daarop gevolg het ’n groot historiese kompromie was. Geen party het alles gekry wat hy wou hê nie, maar alle partye was in staat om tot ’n groot mate hul minimum vereistes te verseker. Dit was 'n kwessie van neem en gee. Om dan nou in 2019 die geykte standpunte te herhaal dat Afrikaans maar moet sneuwel ter wille van versoening en nasiebou, dat “Die Stem” en die Springbok-embleem moet sneuwel ter wille van politieke oorlewing, is kortsigtig en sal beslis nie bydra tot nasiebou of versoening nie. Dit geld ook ander simbole.

Konteks van die tyd moet in ag geneem word

Regse betogers verbrand die Suid-Afrikaanse vlag tydens ’n betoging in 2012. Foto: Gallo Images

Prof. Le Cordeur sluit hiermee aan by die populistiese Julius Malema, leier van die EFF, se ondeurdagte uitsprake.

Hoe gou vergeet ons nie van die afgrond waarby ons in 1994 gestaan het nie? Deur realisme is die ongekende aangedurf. Suid-Afrikaners, wit, bruin en swart het ’n sosiale akkoord met mekaar gesluit.

Ons huidige Grondwet, nasionale vlag en volkslied is van die min gedeelde erfenisse en het hulle beslag gekry uit ’n geskiedkundige proses van kompromie en onderhandelinge wat gevolg het ná ’n tyd van groot historiese verdeeldheid en vyandigheid.

Die nasionale volkslied wat in 1997 aanvaar is en sedertdien in gebruik is, moet gesien word as ’n kompromie en het strofes van sowel “Nkosi Nkosi sikelel’ iAfrika” en “Die Stem van Suid-Afrika” in vyf verskillende amptelike tale saamgevoeg. Vir 22 jaar is dit nou reeds die amptelike lied van Suid-Afrika en is dit reeds goed gevestig in die nuwe demokrasie in Suid-Afrika.

Die oorspronklike weergawes van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” (1897) en “Die Stem van Suid-Afrika” (1918) het dus onlosmaaklik deel geword van ons geskiedenis, alhoewel nie almal die geskiedenis deel nie en daar nie ’n gemeenskaplike geskiedenis is wat aanvaarbaar is nie.

Net soos wat “Nkosi Sikelel’ iAfrika” deel van die struggle-geskiedenis is wat sy eie verlede het, het “Die Stem van Suid-Afrika” as gevolg van sy verbintenis met die apartheid-verlede ook nie ’n skoon geskiedenis nie. Albei liedere het egter ontstaan vanuit ’n perspektief in daardie fase van Suid-Afrika se bestaan en dus moet daar begrip wees vir die konteks van daardie tyd.

In die volledige weergawe van “Die Stem van Suid-Afrika” se geval is dit deel van Afrikaners se kultuurskat en spreek die woorde van die diepgewortelde passie en liefde vir Suid-Afrika.

Die ironie is dat die oorspronklike “Nkosi sikelel’ iAfrika” as gedig en gebed vir Afrika geskryf is, en nêrens kom enige verwysing na Suid-Afrika voor nie.

Afrikaners se skuld is betaal

Die Springbokke sing die volkslied voor verlede Vrydag se toets teen Japan. Foto: Getty Images

In die huidige tydsgewrig moet daar met groot omsigtigheid gehandel word in die aanwending en gebruik van ou simbole. As kultuurskat moet Afrikaners verseker dat dit nie ’n onnodige politieke konnotasie kry nie, maar aan die ander kant is dit deel van Afrikaners se kulturele geskiedenis en moet dit as sulks gerespekteer word.

Ongelukkig is prof. Le Cordeur waarskynlik deel van ’n groter groep mense wat hulself as die morele stem van die nasie beskou en daarom is sy aandrang op die wegneem van simbole nie vreemd nie. “Wiens brood men eet, diens woord men spreekt.”

Die Universiteit Stellenbosch is ook besig met ’n nuwe proses om naamgewing van geboue en simbole op die kampus te ondersoek. Daar kan geen twyfel wees dat dit die pad van Unisa sal loop en alle Afrikaanse en Afrikaner-name sal verwyder nie.

In prof Le Cordeur se artikel waarin hy Afrikaners roskam sê hy dan: “Ons kan voortgaan soos nou deur ’n volstruishouding in te neem, ons kop in die sand te druk en die noodlot uit te daag.”

Sy artikel is vol voorstelle wat eintlik maar daarop neerkom dat veral Afrikaners maar afstand moet doen van hul kulturele identiteit. Christenskap, taal, simbole en selfs rugbyvoorkeure is alles elemente wat in sy ervaringsveld vervreemding aan die hand werk. Sy voorstelle is dat ons simbole moet kry wat soveel dinge vir soveel mense moet beteken en op die ou einde niks vir niemand sal beteken nie. Dit is in elk geval die pad wat sy universiteit inslaan.

Jan Bosman

In prof. Le Cordeur se denke, net soos andere wat hy aanhaal, het Afrikaners ’n ewigdurende skuld om te betaal vir die verlede en is ons veronderstel om in skaamte te leef en voortdurend en apologeties die houe neem vir die verlede.

Daarom ontstaan die vraag of hy versoenend of vergeldend optree?

Afrikaners se skuld is betaal. Om weg te neem, is nie die antwoord nie. Om een geskiedenis te vermy in ons nasionale lied is ’n groot prys om te betaal, want die geskiedenis het ons almal gevorm.

Ons kan met nuwe en kreatiewe denke bydra tot die Suid-Afrikaanse kultuurskat. Dit is waaruit ons inspirasie moet put. Ons het egter ons skeppingsdrang in die land verloor en wil eerder verander en toesmeer.

Vandag se probleme sal nie met ’n verbod op vorige bedelings se vlae en simbole opgelos word nie. Misdaad, korrupsie, staatskaping en ekonomiese ineenstorting gebeur wel onder die huidige vlag. Om die simbool weg te neem, los nie die probleem op nie.

Om ’n Suid-Afrikaner te wees verg deesdae ’n groter gesindheid van ruimte en begrip, van respek en verantwoordelikheid. Ons Suid-Afrikaanse diversiteit vra dit van ons.

Net so moet ons ook begrip en respek hê vir mekaar se geskiedenis. Om die vertoon van die ou vlag of ander simbole in te perk stel mense teen mekaar op, in stede daarvan om mense nader aan mekaar te bring.

* Bosman is hoofsekretaris van die Afrikanerbond. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.