Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
AFRIKAANS EN SY MENSE - WAARHEEN?
Verenig diverse mense
Tim du Plessis

Verenig? Vervleg? Vlug? Vries? Of veg? Tim du Plessis en Willie Spies vat die uiteenlopende standpunte saam in die taaldebat wat die afgelope ses weke op dié blad gevoer is.

Tim du Plessis skryf:

Afrikaans is groot genoeg om plek te hê vir almal, maar te klein dat ons vir mekaar kan wegkruip.

Die gedagte onderliggend hieraan onthou ek uit die 1980’s in ’n toespraak van Leon Wessels. Hy het dit destyds oor Suid-Afrika gehad, maar dit is vandag eweseer op Afrikaans van toepassing.

Interessant genoeg was die konteks van Wessels se woorde die broedertwis wat ’n sterwende “wit Afrikanerdom” destyds reg in die middel verdeel het. Bloedig verskil onderling was nog altyd in Afrikaans se DNS. Dít sal nie enige tyd gou verander nie.

Diverse gemeenskap

Beeld se Waarheen Afrikaans?-reeks het, sonder dat dit dalk so bedoel was, baie netjies gewys presies hoe divers die Afrikaanse gemeenskap is, maar ook hoe vervleg ons is. Ons is as’t ware heeltyd oor en weer in mekaar se pad.

Die bydraes het duideliker as ooit gewys die stroom van mense wat omgee vir Afrikaans en wat wil moue oprol – om te werk, nie om te baklei nie – loop veel dieper en breër as wat die sinici en bitterbekke ons wil wysmaak.

Buite die Afrikaanse praat- en leefwêreld is daar baie wat ons ywer vir en kommer oor Afrikaans afwys as die skimpyne van magsverlies, ’n terugverlang na die verlede en, die verspotste van die lot, ’n politieke stryd onder die dekmantel van ’n taalstryd. Maar nou ja, nie eens die slimstes onder ons is immuun teen lui denke nie.

Tog sal ons seker moet maak dat, ongeag wat vir Afrikaans gedoen moet word, dit pens en pootjies begrond is in die Suid-Afrikaanse realiteit.

Ds. Reggie Nel van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het dit mooi onder woorde gebring in sy rubriek dié week in Beeld: “Die wyse waarop ons in die huidige tyd met ons medelandsburgers omgaan, met hul drome en ideale, maar ook met die trauma en pyn van armoede, werkloosheid en geweld, gaan ’n groot rol speel in hoe die Afrikaanse gemeenskap beleef word.”

As die behoud van Afrikaans, waar en hoe ook al, ’n bewysbare rol speel in die verligting van armoede en werkloosheid, sal groot veldslae vir die taal gewen wees.

Tesame hiermee sal dit goed wees as ons onderling ’n bietjie meer “leef en laat leef” beoefen. Die uitdagings vir Afrikaans is nie oral presies dieselfde nie.

Die situasie, veral in die stedelike gebiede in die noorde, waar Afrikaanse skole onder politiekgedrewe druk is, verskil ingrypend van dié van in, sê maar, die Wes-Kaap, waar sterk leerlinggetalle en ’n regime wat nie so rasideologies is nie, in die guns van Afrikaanse skole werk.

As AfriForum, kaalvuis en kopomlaag – soos sy styl is – hier instorm met regstappe en dies meer, is dit nie nodig om so te hiperventileer nie.

Terselfdertyd sal die “republikeine” in die noorde moet aanvaar in die “koloniale” suide sal die intree vir Afrikaans bes moontlik sagter en inskikliker wees. Elke situasie verg sy eie aanslag.

Nie elke aksie ten behoewe van Afrikaans sal altyd in die naam van die totale Afrikaanse gemeenskap wees nie. Dit hoef ook nie te wees nie.

Maar soms sal die gemeenskap aan die wyds moontlike front moet beweeg. Ek skat dit sal mettertyd rondom die suiwer en verdedigbare aanspraak van moedertaalonderrig wees. Dan sal ons, om ’n beeld te gebruik van prof. Danie Goosen van die FAK, soos ’n groot wolk bymekaar moet kom “om te reën”.

Twee kragtige argumente

Die Afrikaanse gemeenskap het twee kragtige argumente:

  • Afrikaans se rol in die behoud van Suid-Afrika se unieke diversiteit; en
  • Die meriete en noodsaak van meertaligheid.

Dis ons twee blinkvosperde. Dat die ander taalgemeenskappe (tans nog) nie so sterk daaroor voel nie, hoef ons nie te inhibeer nie.

Allesbehalwe ’n futiele binnegesprek, het dié reeks gewys nuwe energieë rondom Afrikaans is aan’t loskom. Die slotsin van Nel se rubriek is van toepassing: “Dis ’n anderster taalstryd – dit skep ’n toekoms vir almal.” Die land se nasionale leuse sê dit dalk die beste oor ons as ’n taalgemeenskap: !ke e: /xarra //ke.

Diverse mense, verenig.

  • Du Plessis is gasredakteur van die reeks en hoof van nuus by kykNET.
Willie Spies

Willie Spies skryf:

Wanneer ’n mens ’n lewensbedreigende krisis beleef, ­reageer jy op een van drie maniere. Jy vlug, vries of veg. Omstanders reageer ook op een van drie maniere. Hulle raak deel van die geveg, hulle vries of helaas vlug hulle ook.

Wat betref die “deel raak van die geveg” is daar natuurlik twee maniere: om aan die kant van die slagoffer of aan die kant van die aanvaller betrokke raak.

Die gesprek speel hom sedert 3 Mei in Beeld af, asook op die luggolwe by Pretoria FM.

Die inspirasie vir die gesprek was die publikasie van Leopold Scholtz se boek Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu oor rigtinggewende keuses wat Afrikaners deur die jare gemaak het wanneer hulle by kruispaaie kom.

Die vertrekpunt was dat Afrikaans tans weer by ’n kruispad is – en die vraag was: Waarheen nou?

Afrikaans aggressief aangeval

Afrikaans staan inderdaad by ’n kruispad. Daarvan spreek die gebeure op die kampusse van Tuks, Kovsies en Maties, asook die uitgesproke standpunte van ANC- en EFF-politici om Afrikaanse enkelmediumskole tot niet te maak vanself. Trouens, Afrikaans en Afrikaners staan nie net by ’n kruispad nie – die taal en sy mense word aggressief aangeval.

Die bydraes tot die debat kan eweneens in die drie klasse van vries, vlug of veg ingedeel word.

Prof. Lizette Rabe het ’n interessante paradoksale standpunt ingeneem. Sy steun vandag, 22 jaar ná die einde van apartheid, op ’n gedagte van Piet Cillié, oudredakteur van Die Burger, in die hoogbloeijare van apartheid dat as Afrikaans wil wen, hy eers moet verloor.

Sy reken dat stryders vir die instandhouding van Afrikaans arrogant is en vergelyk kan word met die hooghartigheid en halsstarrigheid van die apartheidsregering in 1976, met die vanselfsprekende gevolg dat ons nie in die pad moet staan van dié wat Afrikaans wil vernietig nie en dat ons dalk self ’n handjie daar moet bysit omdat Afrikaans nog nie genoeg verloor het om die skuld ten volle te vereffen nie.

Stotterende virtuele tuisland

In nog ’n reaksie wat iewers tussen vlug (in die vorm van distansiëring) en veg aan die kant van die aanvaller geklassifiseer kan word, het die veteraanjoernalis André le Roux die debat as “stotterend” afgemaak. Hy reken Rabe se standpunt is ’n sobere en tydige ingreep.

Hy meen die toekoms van Afrikaans is in joernalistieke taal ’n non-story, dat Afrikaans sy kritieke massa verloor het, kunstefeeste doodloop en Afrikaanse koerante krimp.

Maar dan voer hy teenstrydig aan dat meer as 2 miljoen wit Afrikaanses Afrikaans as taal, die Afrikaanse koerant, die tydskrif, radiostasie, TV-kanaal en webwerf juis vandag laat oorleef omdat hulle hulle nie wil verkluister in wat hy bestempel as die een of ander virtuele tuisland nie.

Dan was daar in die debat verskeie ontledings wat met ’n vriesreaksie vergelyk kon word. Die situasie is ontleed. Die probleem is gedefinieer en verder ontleed en vrae is opnuut gevra oor wie presies Afrikaners en Afrikaans is.

Maar sulke ontledings neem ons selde iewers heen. Die vrae bly in die lug hang en die geveg word nie in ’n rigting gestuur nie – die slagoffer en die omstanders vries net en tree glad nie op nie.

Maar die meeste bydraes was nietemin ’n oproep tot aksie of veg in die een of ander vorm – sonder om dit soos ’n oorlogsverklaring te laat lyk.

Bydraers wat wissel van Rudolf Stehle, Danny Titus, Anne-Marie Beukes, Alida Kok Engelbrecht, Tim du Plessis, Flip Buys, Dirk Hermann, Danie van Wyk, Japie Gouws en verskeie ander het elk gepleit om aksie en vertel van aksie van ’n eie soort om Afrikaans te bestendig en sy mense ’n staanplek te gee.

Of dit die bou van ’n Afrikaanse kampus, die ontwikkeling van ’n selfstandige narratief, die sluit van vennootskappe, die bou van sakeondernemings, die voer van regsgedinge of wat ook al is, Afrikaans en Afrikaners sal net oorleef as hulle self kies om te leef.

Laat ons dus leef, want ons en die taal wat ons praat, is nie dood nie en sal hom ook nie laat dood nie.

  • Spies is betrokke by Pretoria FM.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.