Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vergete mense in donker huise

Die kragkrisis was die warmste onderwerp tydens ’n onstuimige politieke debat in Oudtshoorn, berig Murray La Vita.

Deelnemers aan Die Burger se Praat Saam Diskoers-reeks gister op die KKNK in Oudtshoorn is (van links) Shaun Byneveldt, Pieter Groenewald, Laetitia Arries, Anita Visser, Patricia de Lille en Bonginkosi Madikizela.Foto: Murray La Vita

“8 Mei is ’n referendum vir Suid-Afrikaners. Indien ons ernstig is oor hierdie land moet ons die ANC uitstem, want die situasie waarin ons ons bevind, is te danke aan hulle,” het Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier, gister onder groot applous uit die gehoor gesê.

Hy was een van die deelnemers aan Die Burger se Praat Saam Diskoers-reeks op die KKNK in Oudtshoorn wat gekenmerk is deur ’n onstuimige gehoor waarin ondersteuners van die ANC, EFF en Good mekaar en sprekers deurentyd verskreeu het.

Dit is interessant dat die ANC die kwessie van krag ter sprake maak in ’n debat terwyl hulle die een is wat Eskom gebreek het, het hy bygevoeg.

“Die werklike rede waarom ons in hierdie situasie verkeer, is omdat geen staatsbeheerde instellings meer werk nie – veral Eskom . . .”

Bonginkosi Madikizela: “Die werklike rede waarom ons in hierdie situasie verkeer, is omdat geen staatsbeheerde instellings meer werk nie – veral Eskom . . .”Foto: Murray La Vita

Hy het daarop gewys dat werkloosheid inderdaad ’n groot uitdaging is.

“Maar die rede waarom ons nie werk kan skep nie, is indien daar nie sekerheid is in staatsinstellings soos Eskom nie, wie gaan in so ’n land belê?”

Anita Visser, gespreksleier en hoofaanbieder van Monitor op RSG, het verwys na die politieke ontleder Ralph Mathekga se onlangse opmerking dat beurtkrag die ANC duur te staan gaan kom by die stembus.

Sy het hom as volg aangehaal: “Ek kan nie dink aan iets wat ’n groter kwessie is as die ligte wat af is nie. Vroue word in townships verkrag en beroof wanneer die ligte afgaan.”

Shaun Byneveldt van die Wes-Kaapse ANC het só gereageer:

“As die munisipaliteit [van Oudtshoorn] die mense van Bridgeton en Bongolethu se krag blok, dan het dit bittermin met Eskom uit te waai. As daai die toepassing van die beleid is dan gaan mense in plakkerkampe en ander werkersklasgebiede dit vóél en dit gaan die munisipaliteit wees wat primêr die verantwoordelikheid moet neem.

“Maar dit is mos wat die DA altyd doen – wanneer daar ’n sukses is dan gee hulle die ANC nie krediet nie; wanneer hulle misluk, dan blameer hulle die ANC.

Shaun Byneveldt: “Maar dit is mos wat die DA altyd doen – wanneer daar ’n sukses is dan gee hulle die ANC nie krediet nie; wanneer hulle misluk, dan blameer hulle die ANC.”Foto: Murray La Vita

“Hier word mense vertel hulle kan ’n provinsiale polisiediens hê terwyl Bonginkosi wéét dit is nie moontlik nie. Hier word mense vertel hulle kan ’n provinsiale elektrisiteitsdiens hê terwyl Bonginkosi weet dit is nie moontlik nie. Hier word mense vertel hulle kan ’n provinsiale spoornetwerk hê, terwyl Bonginkosi en die DA weet dit is nie moontlik nie.

“Maar die mense word belieg en bedrieg. So die referendum op 8 Mei is: Hóú die ANC in regering en verander die lot van ons mense.”

Hierdie uitlating is deur ’n geskreeu uit die gehoor begroet en dit het ’n rukkie geneem voordat die diskoers kon voortgaan.

Laetitia Arries: “Julle het hierdie land gefail! Julle het ons mense gefail.” Foto: Murray La Vita

‘Julle sal vóél’

Laetitia Arries van die EFF het gesê die Eskom-penarie “moet direk voor die ANC se deur gelê word”.

“Die realiteit is however, as die korrupsie nie so groot was binne Eskom en in die land nie, sou ons nie gesit het met hierdie kwessie nie. Ons mense is nie meer in onkunde nie, Shaun; ons mense sién hoedat die ANC hulle teleurstel en ons kan nie wegbeweeg daarvan nie.

Ons mense word in die donker verkrag; ons mense sit in severe poverty as gevolg van júlle!
Laetitia Arries, EFF

“Die realiteit is: Julle het hierdie land gefail! Julle het ons mense gefail! En daarom sal julle dit op 8 Mei vóél by die stembus.

“Ons mense word in die donker verkrag; ons mense sit in severe poverty as gevolg van júlle! Julle het gefail om ekonomiese transformasie in hierdie land te skep! As julle kyk na die sosiaal-ekonomiese omstandighede waarin onse mense leef . . . Dit was vir julle belangrik gewees dat individue binne die ANC álleen voordeel trek uit die ekonomie van hierdie land terwyl die massas in poverty sit!”

Pieter Groenewald: “Jy kán nie dienste lewer as mense nie daarvoor betaal nie.”Foto: Murray La Vita

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê die probleem is dat agterstallige dienstegeld in Suid-Afrika tans meer as R110 miljard beloop.

“Agterstallige dienstegeld vir Eskom beloop meer as R18 miljard. Deel van die probleem, buiten die wanbestuur van Eskom en die geld wat gesteel is deur korrupsie, is: Jy kán nie dienste lewer as mense nie daarvoor betaal nie. Natuurlik is daar mense wat dit nie kan bekostig nie, maar dan moet dit binne die perke bly. As dienstegelde nie betaal word nie, dan kan plaaslike regerings nie dienste lewer nie.”

Die VF Plus se standpunt is: Stop die korrupsie en laat private kragvoorsieners toe om ook te funksioneer.

“En in die derde plek sê ons die kundigheid moet teruggebring word na Eskom toe. Teen 2005 het meer as 10 500 wit ingenieurs Eskom se diens verlaat weens regstellende aksie.”

Patricia de Lille: “Ons is baie goed in Suid-Afrika om te praat en te debatteer, maar óns bring oplossings.”Foto: Murray La Vita

’n ‘Goeie plan’

Patricia de Lille, leier van die Good Party, het aan die begin van die debat gesê Good het idees oor hoe om die land te herstel.

“Ons het ’n plán wat ons wil voorlê. Ons is baie goed in Suid-Afrika om te praat en te debatteer, maar óns bring oplossings.

“Ons eerste voorstel gaan oor behuising. Daar ís ’n groot tekort aan behuising en ons moet die stelsel verander van hoe ons huise aflewer. Dan werksgeleenthede: Geen politieke party kan werke skep nie; dis nie onse werk om werk te skep nie, wat ons wél moet doen, is om die infrastruktuur daar stel om seker te maak dat die privaat sektor kan werke skep.”

Ons moet begin werk skep deur sonpanele te bou om onse mense te laat omskakel na groen elektrisiteit toe.
Patricia de Lille, Good

Oor Eskom het sy met Groenewald saamgestem dat ander kragbronne oorweeg moet word.

“Steenkool is nie goed vir ons omgewing nie. Ons moet begin werk skep deur sonpanele te bou om onse mense te laat omskakel na groen elektrisiteit toe. Maar ons kán nie meer staatmaak op Eskom nie.”

‘Skandalig!’

’n Gehoorlid wat homself voorgestel het as Philip Albertyn “van die ou Wes-Transvaal” het aan Byneveldt gevra hoe kan ’n party wat so lank gestry het teen rassisme konstant oor kleur praat?

“Dit is skandálig. Ons is almal hierso en as een afgaan dan gaan ons almal af en as een opgaan dan gaan ons almal op. Wat gaan julle doen om kleur uit te bring? Ons is almal een mens; ons staan almal voor God en hierso gaan ons almal of onder of op!”

Nog ’n gehoorlid, ’n bruin vrou, het gesê sy wil by hom aansluit.

“ ’n Mens kan praat van kleur, maar óns, óns voel hom aan onse lywe. Oudtshoorn byvoorbeeld . . . Dié mense wat hier sit, al is jy van watter plek, moenie jou blind staar aan dít [die KKNK] nie; as jy ’n entjie hier oploop dan lyk dit nie meer na ’n kunstefees nie, want daar agter is die gemeenskap vergete.

“Daar bly die mense al drie maande nadat hulle al klaar betaal het onder die DA in donker huise, in donker strate. Die werking van die dorp is van so ’n aard dat die geld van die dorp bly net hier; nie by ons nie – ons het níks!”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Patricia De Lille  |  Beurtkrag  |  Eskom  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.