Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vergewe my, ek weet nou van beter
Piet Matipa

Ek was ’n k**fer.

En dit was my skuld, nie die skuld van die een wat my k**fertjie genoem het nie. Ook nie van die ander een, wat my sy k**fervriend gedoop het en daarna sy hand om my skouers geslaan het in die naam van vriendskap nie.

Dit was nie sy skuld of haar skuld nie. Dit was myne. Ek weet dit vandag. Ek berou dit. En ek is jammer.

Ek het gelag daaroor terwyl ek sy “troetelnaam” vir my geëggo het. Ek het dit bevestig: Ja, ek is jou k**fertjie. Ek het myself die titel gegee: Moenie worrie nie, jy kan my dit noem.

Hy het meer van my gehou, “want ek is nie soos ander ­mense nie”. Ek kan ’n grap vat. Ek was spesiaal.

Dit het my goed laat voel, want ek het toe mense se guns versamel soos muntstukke.

My hart was immuun teen die woord en sy subteks. Dit het my nie seergemaak of geaffronteer nie, want dis my vriende. Soos ’n aap wat toertjies doen, het ek na myself verwys as k**fertjie om ander te vermaak, want as hulle lag, vergroot my versameling.

Sien ons coconuts met ons tonge wat in Pretoria-Afrikaans gemarineer is, is ons vriende se swart vriende en dié het ’n spesiale vrypas om ons dit te doop, want die woord dra nie baie betekenis as dit uit hul monde kom nie – was die redenasie.

En toe hoor ek eendag een van my mede-eerstejaars (van wie ek nie baie gehou het nie) sê: “Ek sweet soos ’n k**fer.”

Toe skielik besluit ek die woord word nie in my verkose konteks gebruik nie, so ek gaan my vererg daaroor. Hoewel ek steeds aangehou het om die woord as vermaak te gebruik.

Dié betrokke eerstejaar het uitgevind ek het hom gehoor en was dadelik en herhaaldelik verskonend – omdat ek hom dit hóór sê het, nie ómdat hy dit gebruik het nie.

Later het ek met medestudente van Potchefstroom na Pretoria gery. ’n Taxi het uit sy beurt gery (soos ons maar gewoond geraak het) en een van die meisies het van skrik “k**fertjie” gesê.

Sy was daarna verskonend. Dit het my nie so erg gepla soos die vorige een nie, want sy was vriendelik met my.

So asof ek die god van die woord is. Die vermetelheid.

Ek het die woorde uitgedeel aan wie ek wil en vir hulle ­toestemming gegee om my dit te noem en dié wat nie my goedkeuring weggedra het nie, het ek gestenig.

So asof ek die god van die woord is. Die vermetelheid.

Ek het my vriende so “bederf” met die verbode etiket dat een selfs op sosiale media na my verwys het as haar k**fertjie. ’n Ander het my sy ­gunstelingk**fer genoem.

Ek neem nou met ’n nugter verstand verantwoordelikheid vir die bogenoemde: Ek het dit toegelaat. Ek besef nou dat selfs ek nie die reg het om die haatlike woord te gebruik nie.

Nes ’n mens k*k nie beter kan laat ruik met parfuum nie, kan jy die woord nie beter maak met konteks nie.

Ek is jammer. Ek weet nou van beter.

Piet Matipa se eerste boek, Dwarsklap: Skakerings van swart in die nuwe Suid-Afrika verskyn binnekort by Penguin.

Meer oor:  Politiek  |  Rassisme  |  Studente  |  Rubrieke  |  Kampus
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.