Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VERKIESING 2019: Alan Winde oor die DA se geniepsigheid

Alan Winde wil die grondwet verander sodat polisiemagte afgewentel kan word na provinsies – maar is dit ’n belofte wat hy kan maak? Willemien Brümmer het die DA se Wes-Kaapse premierskandidaat gepeper oor verkiesingspraatjies en Patricia de Lille.

Alan Winde sê hy probeer altyd om die groter prentjie te sien. Hier staan hy op die balkon van die ministerie van gemeenskapsveiligheid met sy uitsig oor die stad en Vlaeberg. Foto: Adrian de Kock

“Almal sê vir my ‘ah, jy’s die volgende premier!’ maar ek is nog nie deur die verkiesing nie. Verkiesings is maar verkiesings . . .”

Aan die woord is Alan Winde, die DA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap en dié provinsie se minister vir gemeenskapsveiligheid.

Dis kort voor halfagt op ’n Dinsdagoggend en vyftien dae voor verkiesingsdag. Hy’t klaar sy eerste vergadering agter die rug en hy slaap vier ure per nag.

Dié entrepreneur met die helderblou oë; dié man wat vir tien jaar ’n sakeman was, tien jaar ’n politikus in die opposisiegestoeltes en tien jaar ’n minister in die Wes-Kaapse regering. Hy wéét dat 8 Mei soos iets uit Openbaring kan wees. Dat dit ’n oordeelsdag vir die DA in die Wes-Kaap kan word nadat lede van sy party hulle (aldus sommige waarnemers) soos ’n spul geniepsige tieners gedra het.

Hy aarsel. “Daar is geen twyfel daaroor dat dit gaan moeilik wees nie. Die jongste peiling sê die DA gaan net 42% van die provinsie kry. Maar wat ook al gebeur, ons het 50% plus een nodig.”

Hy dra ’n navy snyersbroek en netjies gestrykte wit kraaghemp. Gewis nie ’n Julius Malema of ’n Helen Zille nie, maar die skouer-aan-die-wiel soort; ’n oud-sakeman wat resultate kry. “Verkiesings is maar verkiesings, maar wat ek sál sê is ek het damn hard gewerk en ek sal nog tot die laaste damn hard werk dat ons sal wen.”

Hy byt nie maklik aan die aas as jy hom vra wat die DA verkeerd gedoen het in hul hantering van die Patricia de Lille-sage nie.

“Ek dink dit was glad nie maklik nie. Ek dink ons het klomp lesse geleer in daai proses op grond van die wet en ek is seker ons sal ons reëls moet gaan herskryf in die DA. Hoe moet jy as ’n politieke party in die toekoms optree as dit by dissipline kom? Ons het klaar begin met die herskryf van ons reëls en ons het slim mense in die party en slim mense buite die party wat ons geadviseer het en ek dink ons het pyn gevat,” sê hy in sy relatief foutvrye Afrikaans (“My Afrikaans móét goed wees, ek is mos in die Wes-Kaap”).

“Ek dink ons het ook pyn gevat met die water. Maar ons was nie soos Johannesburg waar niemand geweet het hulle water sou opraak nie tot ’n week voor die tyd nie . . . hulle het niks gedoen en niks gesê nie. Ons het gewéét hier kom moeilikheid en ons het ernstige beheerstelsels gehad sodat ons water nie opraak nie, maar ons gaan gestraf word daarvoor. En dít omdat ons gedoen het wat ons veronderstel was om te doen.”

En as die DA ’n kans kon kry om sy geskiedenis van die afgelope sowat twee jaar te herskryf, sou hy dalk minder bitsig – selfs arrogant – gewees het?

“Dis ’n baie interessante vraag en eintlik ’n vraag wat ons ons in die party moet afvra: Hoe sou ons dit anders doen as ons dit weer kon gedoen het? Jy het ’n regering gehad met ’n koukus wat nie hul koukusleier wou gehad het nie. Die ANC het toe politiek gespeel en gesê jy kan net ’n burgemeester onttroon met ’n mosie van wantroue. So binne die koukus het die DA ’n meerderheid gehad wat gesê het ons wil nie meer hierdie burgemeester hê nie, maar die ANC het vir die DA besluit julle moet hierdie burgemeester hou.”

Sou dit nie vir ’n buitestander kon gelyk het asof die DA na strooihalms gryp om haar uit die burgemeesterstoel te lig nie?

As ek terugdink aan die afgelope twintig jaar in die DA was ek altyd die middle of the road guy wat probeer het om dinge bymekaar te hou.

Hy antwoord ferm. “Jy kan per slot van sake al daai goed los en net na die twee verslae kyk en albei daai verslae het gesê ons moet ’n saak by die polisie gaan indien en dit moet ondersoek word – en dit was gedoen. En obviously in ons stelsel is jy onskuldig totdat jou skuld bewys word, maar albei die verslae het gesê gaan lê ’n klag by die polisie . . . so kom ons kyk wat gebeur.”

Maar eintlik hou hy sy hart van faksies en binnegevegte rein.

Hy glimlag. “Ek is nie ’n faksie-persoon nie. As ek terugdink aan die afgelope twintig jaar in die DA was ek altyd die middle of the road guy wat probeer het om dinge bymekaar te hou. Ek probeer altyd om die groter prentjie te sien.”

“As ek die nasionale minister van polisie was, sou ek die provinsie onder administrasie gesit het, want die polisiëring help nie om die misdaadvlakke te verlaag nie,” sê Alan Winde.Foto: Adrian de Kock

‘ ’n Grondwet is ’n lewende dokument’

Partykeer moet jy egter dinge op provinsiale vlak doen – en nie op nasionale vlak nie. Dis daarom dat die DA hoog en laag verkondig hy beywer hom vir ’n provinsiale polisiemag, asook treindienste en energieverskaffing.

Die probleem is net dat van dié beloftes ietwat misleidend kan wees, want dié party sal die Grondwet moet verander as hy byvoorbeeld die polisiemag wil afwentel na provinsies – en dis net in Nimmerimmerland dat die DA ooit ’n tweederdemeerderheid in die parlement sal hê.

“Ek is nou al vir vyf maande in die departement van gemeenskapsveiligheid en in daai vyf maande is 1 576 mense vermoor in hierdie provinsie. Die Verenigde Nasies sou ons tot ’n oorlogsone verklaar, maar die lewe gaan maar aan. Dis onaanvaarbaar, dis ongelooflik! Daar is plekke in ons stad waar kinders hulle huiswerk onder die tafel moet doen want dis die enigste plek waar dit veilig is.”

Die groot vraag is hóe gaan hulle dié diens afwentel as die hof dit as ’n nasionale funksie beskou?

Hy bly ’n paar sekondes stil. “Ek weet nie. Die interim Grondwet het toegelaat vir polisiëring op ’n provinsiale vlak. Toe is dit verander, en hoofsaaklik omdat KwaZulu-Natal ’n oorlogsone was met gevegte tussen die IVP en ANC, en ek dink 25 jaar nadat ons ’n demokrasie geword het moet ons ook kyk na ons grondwetlike mandate en ons stelsels en ons moet vir mekaar sê wat werk en wat werk nie.

“Die eerste benadering sal ’n nasionale benadering wees. Ná die verkiesing sal ek na die Gautengse premier gaan en miskien na nog ’n premier. Ek sal sê kom ons doen die regte ding. Dis nie oor politiek nie. Dit gaan daaroor om ons land veiliger te maak, want ons móét grondwetlike verandering hê. Ons moet die mag afwentel. Ons het op die oomblik oorsig op ’n provinsiale vlak en mag op nasionale vlak en as dit by polisiëring kom moet die mag op provinsiale vlak lê.”

’n Grondwet is ’n lewende dokument en ons is baie trots op ons Grondwet, maar dit moet ook vir jou die uitkomste gee wat jy as land wil hê.

Wat is die kanse dat hulle dit sal regkry om die Grondwet te verander?

“Ek weet nie. Maar ons het reeds ’n gesprek gehad met grondwetlike prokureurs en spesialiste wat na twee dinge gekyk het: Wat kan ons doen binne die bestaande Grondwet?”

Hy aarsel. “Maar op politieke vlak sal ek ook na die president gaan en ek sal die beste denkers in die land kry om te vra: Is dit nie wat ons behoort te doen as land nie? En dan sal ek probeer om die harte en siele en intellekte in die bevolking te wen. ’n Grondwet is ’n lewende dokument en ons is baie trots op ons Grondwet, maar dit moet ook vir jou die uitkomste gee wat jy as land wil hê.”

Sy stem klink soos dié van ’n politikus.

“As ek die nasionale minister van polisie was sou ek die provinsie onder administrasie gesit het, want die polisiëring help nie om die misdaadvlakke te verlaag nie. Hy luister nie. Ek skryf elke maand vir hom om te sê dit is wat ons gaan doen om die provinsie veilig te maak, maar hy luister nie vir my nie.”

“Verkiesings is maar verkiesings, maar wat ek sál sê is ek het damn hard gewerk en ek sal nog tot die laaste damn hard werk dat ons sal wen.”Foto: Adrian de Kock

Daai Donald Trump-vingers

En indien hy premier word, wat gaan hy anders doen as sy ietwat meer flambojante voorganger Helen Zille?

Hy knik. “Die twee van ons is die teenoorgestelde van mekaar. Ek is meer van ’n entrepreneur. Ek is mal oor innovasie en ek is mal daaroor om nuwe dinge te toets en dinge op ’n ander manier te probeer doen. Ek dink ek het baie daaruit geleer om in die kabinet te dien saam met haar, maar ons styl verskil.”

Ek het byna nog nooit die stuur-knoppie gedruk en gedink: Demmit, ek moes dit nie gedoen het nie.

En daai Donald Trump-vingers van haar wat so maklik en so vinnig kan twiet?

Hy lag. “Nee nee nee, dis nie ek nie! Ek het byna nog nooit die stuur-knoppie gedruk en gedink: Demmit, ek moes dit nie gedoen het nie. Ek sê altyd vir almal dit maak nie saak of jy ’n e-pos stuur en of jy iets kwytraak op sosiale media nie. Dis dieselfde. Wanneer jy daai knoppie druk moet jy vir jouself sê jy stuur dit vir jou grootste vyand.”

Alan Winde skrik nie daarvoor om in die pylvak voor die verkiesing net vier ure per nag te slaap nie.Foto: Adrian de Kock

‘Ek kan nie om verskoning vra vir hoe ek lyk nie’

Dit bekommer hom weinig dat hy volgens Ebrahim Rasool, die ANC se verkiesingsleier in die Wes-Kaap, geen struggle credentials het nie.

Hy was ’n gewone boerseun in Muldersdrift buite Johannesburg waar sy ma, Ingrid, reeds vyftig jaar gelede met organiese perskes geboer het en waar mense vanoor die hele wêreld kom kyk het hoe boer jy sonder gif. Sy pa Dave het sy eie fabrieke gehad. Sy broer, Brett, is dood in ’n fietsongeluk toe hy sestien jaar oud was.

“Ek onthou verkiesingsdae en my ouers en my grootouers was altyd betrokke by die PFP (Progressiewe Federale Party) maar ek was nie ’n aktivis of iets nie. Ek het eers by die politiek betrokke geraak van 1996 af.”

Ek kan nie om verskoning vra vir hoe ek lyk nie, maar beoordeel my volgens wat ek bereik het.

Hy lyk heel gemaklik in sy eie vel. “Om jou reguit te sê, ons is nou 25 jaar lank al ’n demokrasie. Nou is die tyd om hoop te gee vir ons jongmense. Nou is die tyd om die land te bou. In die afgelope tien jaar het ons net armer geword. Die wêreld sien ons as hierdie korrupte land wat besig is om te verongeluk en ons het alles wat ons nodig het om presies die teenoorgestelde te wees en dís my bydrae. Ek kan nie om verskoning vra vir hoe ek lyk nie, maar beoordeel my volgens wat ek bereik het.”

En as hy nie sou Leeuwenhof toe trek ná die verkiesing nie?

Hy lag, ietwat senuagtig, maar nie té senuagtig nie. Die stad lê onder hom uitgestrek soos ’n panoramiese skildery. “Ons sal daardie rivier oorsteek wanneer ons daar kom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.