Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VERKIESING 2019: Besluit vooraf vir wie jy wil stem

Moenie eers in die stemlokaal besluit vir watter party om te stem nie. Met 48 partye se name op die stembrief is dit onmoontlik om dan eers ’n verantwoordelike keuse uit te oefen, skryf Theuns Eloff.

Kiesers moet voor stemdag besluit agter watter party se naam hulle hul kruisies gaan trek. Foto ter illustrasie. Foto: Felix Dlangamandla

Dit word algemeen aanvaar dat Suid-Afrikaners (insluitend Afrikaanssprekendes), ná ’n tyd van intense politieke en sosiale woelinge, oor die algemeen ietwat moedeloos, negatief en suf is.

Dis nie nodig om verder hierop uit te brei nie – die daaglikse dosis van die nuutste staatskaping-skandaal, sterftes op die paaie en in vloede, en die druk waaronder Afrikaans en Afrikaanse instellings is, is welbekend.

Maar ’n algemene verkiesing word nie elke jaar gehou nie. En met net ietwat meer as ’n week voor vanjaar se verkiesing, is die vraag: wat doen ’n mens van nou af tot volgende Woensdag en hoe benader ’n mens die stemlokaal op 8 Mei 2019?

En die regte antwoord is nie om te sê: “Niks besonders nie”. Of: “Ek gaan nie stem nie” of “Ek weet nie vir wie om te stem nie”.

In ons kiesstelsel word geen stem vermors nie – mits dit gaan na ’n party wat bewese steun het (meer as 50 000 stemme landwyd).

Geen Suid-Afrikaner mag die reg om te stem as vanselfsprekend aanvaar of geringskat nie – voorheen het miljoene Suid-Afrikaners dit nie gehad nie. En vandag nog is daar miljoene in die res van die wêreld wat dit steeds nie het nie.

Om nie te stem nie, is wel ’n manier om iets te “sê”, maar is dit die beste manier?

Elke stemgeregtigde Suid-Afrikaner het ook ’n verantwoordelikheid om te stem: Om ’n beter toekoms vir jou en jou kinders en hul kinders te help verseker en om politici ná stemdag verantwoordbaar te kan hou.

Lede van minderhede (taal-, kultuur-, demografiese- en godsdienstige minderhede) mag dalk voel dat hulle te min is om ’n verskil te maak. Maar die feit bly staan dat as minderhede in groot getalle gaan stem, hulle stemgewig inderwaarheid in verhouding groter word.

Dit is omdat meerderheidsgroepe juis tradisioneel nog meer onbetrokke is – soos bewys word deur die feit dat miljoene jongmense nie eens as kiesers geregistreer het nie.

In ons kiesstelsel word geen stem vermors nie – mits dit gaan na ’n party wat bewese steun het (meer as 50 000 stemme landwyd).

Wat is jou behoeftes?

Daar is min twyfel oor waar dié kieser se lojaliteit lê. Foto: Argief

Die eerste ding wat ’n mens dus moet doen, is om te besluit om te gaan stem – en selfs praktiese reëlings te tref oor hoe jy daar gaan kom en hoe laat jy gaan stem. Dit sal dit makliker maak om op 8 Mei by jou besluit te hou.

Die tweede ding is om te besluit vir watter party(e) jy gaan stem. Dis nie iets wat ’n mens vir die stemlokaal kan los nie – daar gaan dit vinnig en die stembrief (of moet ’n mens eerder sê die stemboekie!) met 48 moontlike partye gaan dit onmoontlik maak om dan eers ’n verantwoordelike keuse uit te oefen.

Elke kieser het twee stemme – een vir die nasionale regering en een vir die provinsie waarin jy woon. Jy moet vooraf daaroor dink of jy vir twee verskillende partye op provinsiale en nasionale vlak gaan stem, en natuurlik vir watter partye.

Die sielkundige Abraham Maslow het jare gelede ’n “hiërargie” van menslike behoeftes geïdentifiseer. Of ’n mens nou daarmee saamstem of nie, gee dit ’n nuttige raamwerk om verskillende menslike behoeftes te onderskei. Maslow se punt is nie dat sommige behoeftes belangriker as ander is nie, maar dat sommige eerste bevredig moet word.

Volgens Maslow is die mees basiese behoefte van alle mense fisiologies van aard: ons het almal eerste kos, water, skuiling, warmte, slaap en vars lug nodig. Tweedens het ons veiligheid of sekuriteit nodig – persoonlike veiligheid, regsveiligheid, finansiële veiligheid (wat inkomste betref) en gesondheid.

Ondersteuners van Patricia de Lille se Good-party. Foto: Peter Abrahams

In die derde plek het alle mense liefde en ’n gevoel van behoort nodig. Dit sluit in familiebande, vriendskap en gemeenskappe (insluitend taal-, kultuur- en godsdiensgemeenskappe).

Vierdens wil mense agting en respek van ander hê, maar ook ’n goeie selfbeeld ontwikkel. Laastens wil mense hul persoonlike optimale potensiaal bereik en persoonlike groei en ervarings beleef en najaag.

Wat het dit alles met ’n partykeuse te doen?

Die meerderheid Suid-Afrikaners (wat swart en arm is) sal groter klem plaas op hul basiese fisiologiese behoeftes: kos, water en blyplek.

Suid-Afrikaners het sekere basiese regte wat die Grondwet betref. Dit moet deur die staat (en dus die regering van die dag) beskerm word sodat elkeen dit kan uitoefen.

Die regstelsel moet, waar daar mededingende regte is, hulle sorgvuldig teen mekaar opweeg en ’n billike en gebalanseerde uitspraak gee. Hierdie regte is onteenseglik gekoppel aan elke Suid-Afrikaner se basiese behoeftes.

’n Mens kan sê dat Maslow se behoeftes in ’n sekere sin in die Grondwet regte word – en ’n mens kan daarom politieke partye se vermoë en wil om hierdie regte te beskerm en in my behoeftes te voldoen as maatstaf vir die keuse van my stem gebruik.

En ’n mens hoor inderwaarheid elke dag van hierdie regte en behoeftes: veiligheid en stabiliteit; ’n inkomste, beroep of sosiale toelaag; huisvesting; basiese dienste (wat baie gratis wil hê) en dienslewering vir jou belasting (water, riolering, paaie); ’n omgewing vry van korrupsie; goeie gesondheidsdienste; godsdiensvryheid; goeie onderwys (vir sommige in die moedertaal) en taal en kultuuruitoefening.

Jy moet weet vir wie jy stem

Plakkate van Julius Malema, leier van die EFF, en pres. Cyril Ramaphosa ding in Sharpeville mee om kiesers se aandag. Foto: Gallo Images

Die meerderheid Suid-Afrikaners (wat swart en arm is) sal groter klem plaas op hul basiese fisiologiese behoeftes: kos, water en blyplek.

Daarmee saam sal hulle persoonlike veiligheid, veiligheid van inkomste (soos ’n sosiale toelae) en gesondheidsdienste najaag. Hulle sal vir ’n party stem wat hulle glo dit vir hulle kan gee.

Mense met ’n middelklas-inkomste – en wat dus hul fisiologiese- en veiligheidsbehoeftes grootliks self kan bevredig – sal geneig wees om groter klem op sosiale behoeftes te plaas.

Dit sluit in gemeenskapsuitlewing, kultuur, godsdiensvryheid en onderwys in die taal van hul keuse. In Suid-Afrika bestaan hierdie middelklasgroep tot in ’n groot mate (nog) uit minderhede wat demografie, taal, godsdiens en kultuur betref.

Sulke Suid-Afrikaners sal uiteraard vir partye wil stem wat hierdie sake ook hoog ag.

Daar is middelklas Suid-Afrikaners wat persoonlike veiligheid of versoening as prioriteit sien.

Natuurlik is hier geen sprake van ’n waterdigte skeiding tussen die behoeftes van meerderhede en minderhede nie. Daar is baie arm Suid-Afrikaners wat byvoorbeeld die waarde van goeie onderwys besef en dit as ’n prioriteit stel.

Daar is middelklas Suid-Afrikaners wat persoonlike veiligheid of versoening as prioriteit sien. Maar dit is nuttig om hierdie hiërargie van behoeftes (en regte) in gedagte te hou wanneer ek besluit vir wie om te stem.

Dit is verder belangrik om (ten minste oorsigtelik) kennis te neem van die 48 partye wat in die verkiesing meeding. Teen die agtergrond van bogenoemde behoeftes, is dit insiggewend om te sien dat 12 van die 48 partye “African” in hul naam het.

’n Mens moet aanvaar (en dit word deur hul kandidatelyste bevestig) dat nie een van hulle minderhede se belange voorop stel nie.

Daar is ’n verdere 11 wat “transformation”, “Azania”, “Revolutionary”, “People’s” en “Traditional Authorities” in hul naam het.

Daar is vier partye wat fokus op plaaslike dienslewering.

Saam met die EFF en BLF daar dan 25 van die 48 partye (meer as 50%) wat openlik (en hier en daar eksklusief) vir die belange van die meerderheid, swart Suid-Afrikaners staan.

Dis nie verrassend nie en ook nie verkeerd nie – maar dit noop minderhede om te vra: hoekom moet ek vir hulle stem?

Daar is vier partye wat fokus op plaaslike dienslewering. Daar is drie partye met “Christian” of “Revelation” in hul naam.

Dan is daar ’n klompie partye (sewe) wat volgens hul kandidaatlyste multikultureel is: hieronder tel “Compatriots of SA”, “Congress of the People” (Cope), die DA, “Free Democrats”, Patricia de Lille se Good-beweging, die IVP en die National Freedom Party.

Daar is drie partye wat duidelik enkel-kwessie partye is: die “Capitalist Party of SA”, “Economic Emancipation Forum” en die “Land Party”. En ten slotte is daar drie partye wat duidelik vir demografiese minderhede se belange staan: Front Nasionaal (wit Afrikaans), Minority Front (SA Indiërs) en VF Plus (Afrikaans).

Kiesers het ’n groter verantwoordelikheid

Plakkate van die DA en VF Plus in Noordwes. Foto: Jacob Rooi

’n Mens se keuse van waar jou stem heen gaan, hang dus van jou behoefte af. As jou primêre behoefte fisiologies gedrewe is, sal jy vir een van die partye stem wat die meerderheid se behoeftes vooropstel.

As jou behoeftes meer sosiaal van aard is, mag jy dalk op een van die partye wat multikultureel is en/of op minderheidsregte fokus, besluit.

Maar natuurlik wil ’n mens ook vir ’n party stem wat ’n basiese behoefte soos elektrisiteit kan voorsien. Die huidige regering se onvermoë om deur die “getransformeerde” staatsdiens sekere basiese dienste te lewer en behoeftes te bevredig, word daarom ’n groot faktor in die keuse vir wie om te stem.

Ongelukkig sien nie alle kiesers dit raak nie en blý hulle stem vir herhalende beloftes.

Dieselfde soort redenasie kan ook help om te bepaal waarheen ’n mens se provinsiale stem gaan. As ’n sekere party ná 8 Mei steeds die provinsie waarin jy woon, regeer, het dit sekere implikasies vir jou onmiddellike omgewing en behoeftes.

Theuns Eloff

Wil jy dit verander of is jy relatief tevrede met hoe dit gaan?

Of dit mag wees dat jou sosiale behoeftes (soos moedertaalonderrig) nie op provinsiale vlak bepaal word nie, maar op nasionale vlak. Dit mag bepalend wees vir wie jy op daardie vlak stem.

Suid-Afrika se demokrasie is besig om te groei en te ontwikkel. Die feit dat ons op 8 Mei 48 keuses het, is een bewys daarvan. Dit gee aan ons as kiesers groter keuses, maar ook ’n groter verantwoordelikheid.

Óf jy gaan stem en vir wie jy gaan stem (nasionaal en provinsiaal), gaan vir minstens vyf jaar vir jou en jou mense gevolge hê. En dalk nog langer . . .

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cope  |  Da  |  Blf  |  Eff  |  Vf Plus  |  Theuns Eloff  |  Politieke Partye  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.