Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VERKIESING 2019: Draaipunt vir SA by stembus?

Baie waarnemers meen vanjaar se verkiesing is die belangrikste sedert 1994. Dit kan onder meer aandui of kiesersgedrag in Suid-Afrika sal verander, skryf Pieter Labuschagne.

Pres. Cyril Ramaphosa waai vir voornemende kiesers op sy besoek aan die Oos-Kaap. Foto: Theo Jeptha

Die verkiesing van 2019 vind aanstaande week plaas en die verwagtinge is besig om ’n hoogtepunt te bereik.

Die ANC is al vir 25 jaar in die saal en dié party is in die aanloop tot die verkiesing kwaai in die media vir sy wanbestuur en korrupsie gekritiseer.

Die impak van dié reeks onthullings op die steun vir die ANC sal eers ná die verkiesingsuitslag duidelik wees.

Die waarde van verkiesings moet nie onderskat word nie, want dit dien as ’n selfregulerings- en korrigeringsmeganisme vir demokratiese instellings. In vakliteratuur word daar dikwels na verkiesings as die definiërende of bepalende dinamika van moderne demokrasieë verwys waar mag tydelik na die kiesers verskuif.

Politici begin ewe skielik in gewone mense belangstel.

Die skielike en onverwags teenwoordigheid van senior politici as “stemwerwingsagente” in woonbuurte is een van die sigbare tekens van dié proses. In armer woonbuurte vind gewone burgers onverwags dat senior politici, soos pres. Cyril Ramaphosa, Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, en Mmusi Maimane, DA-leier, aan hul deure klop.

Politici begin ewe skielik in gewone mense belangstel.

Dié skielike belangstelling is natuurlik hoogs opportunisties, maar maak tog tydelik voorsiening vir kortstondige dialoog tussen kieser en politici. In ’n funksionerende demokrasie is dié dialoog belangrik en een van die wesensaspekte van die stelsel.

Winston Churchill het die waarde van hierdie soort interaksie in politiek as die belangrikste les in die leerskool van politici geïdentifiseer.

Daar bestaan wêreldwyd ’n sterk persepsie dat anti-politieke sentimente aan die toeneem is en dat kiesers toenemend apolities raak. Dié persepsie word egter nie deur statistieke bevestig nie. In wêreldwye verband is daar eerder ’n toename in die aantal verkiesings en daar is bereken dat die getal kiesers in demokratiese verkiesings ná 2004 tot meer as een miljard toegeneem het.

Die belangrikheid van vanjaar se verkiesing

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, koop suigstokkies en skyfies vir kinders in ’n informele nedersetting by Kameeldrift. Foto: Deaan Vivier

In Suid-Afrika was al die algemene verkiesings sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 om die een of ander rede van groot belang. Daar bestaan egter genoegsame gronde om vanjaar se verkiesing as een van die belangrikste in die demokratiese era te bestempel.

Die ANC se posisie as die sterkste party is in die komende verkiesing duidelik vir die eerste keer redelik kwesbaar, met die party se steunvlakke op nasionale vlak wat waarskynlik net bokant die vlak van 55% vlak gaan draai.

Boonop is daar minstens twee provinsies, Gauteng en die Noord-Kaap, waar die ANC se steun vir die eerste keer onder die vlak van 50% kan daal. Die Wes-Kaap is reeds ’n relatief veilige DA-vesting en moontlike bykomende beheer oor Gauteng mag dalk op ’n grondverskuiwing in steunpatrone dui.

Die 'dekade van plundering en staatskaping' onder die leierskap van oudpres. Jacob Zuma, het wel ’n klein tot ’n matige negatiewe impak op die ANC se steunvlak gehad.

Dit is interessant om vanjaar se verkiesing binne ’n groter verband as net steun te beskou. Een insiggewende benadering is om Suid-Afrika se demokratiese volwassenheid op grond van spesifieke tendense te peil. Die verwysing is nie na prosedurele demokratiese konsolidasie nie, wat duidelik reeds geïnstitusionaliseer is. Daar was elke vyf jaar ná 1994 verkiesings waaraan alle politieke partye op ’n vrye en regverdige grondslag kon deelneem.

Daar is twee belangrike faktore wat as maatstawwe gebruik kan word om die substantiewe graad van demokratiese volwassenheid in ’n land te bepaal.

Dit is die graad van “aanspreeklikheid” of die manier waarop die regerende party vir sy prestasies (of gebrek aan prestasies) deur kiesers tot verantwoording geroep word.

Die tweede faktor is die stemgedrag of persepsie van die kiesers in die keuse wat hulle tydens verkiesings uitoefen wanneer hulle die kruisie op die stembrief trek.

Party tot verantwoording roep

Ace Magashule, omstrede sekretaris-generaal van die ANC, het verlede week in Hermanus stemme vir die ANC probeer werf. Die ANC het in sy tyd as premier van die Vrystaat steun in dié provinsie verloor. Foto: Jaco Marais

In ’n volle funksionerende demokrasie is die korrelasie tussen die prestasie of die mislukking van ’n regerende party en die steun van die kiesers baie belangrik.

Die wesenlike verwagting in ’n volle funksionerende demokrasie is dat prestasie en kiesersteun in ewewig en in die korrekte balans teenoor mekaar sal wees.

Die “dekade van plundering en staatskaping” onder die leierskap van oudpres. Jacob Zuma, het wel ’n klein tot ’n matige negatiewe impak op die ANC se steunvlak gehad.

Die verwagting is egter dat die steunverlies meer drasties as die matige daling vanaf die verkiesing van 2004 se hoogtepunt van 69,6% tot die laer vlak tien jaar later van 62,1% sal wees.

Dit is nie moontlik om ’n oorsaaklikheid tussen die daling van steun en die voorkoms van staatskaping en plundering te bewys nie. Daar is ’n veelheid van veranderlikes wat bykomend op die daling in steun van die ANC kon ingewerk het.

Bykans 165 000 uit sowat 700 000 kiesers/ondersteuners het hul steun aan die ANC in die Vrystaat onttrek.

Dié geleidelike erosie van ANC-steun in die plunderdekade van ongeveer 7%, oor ’n tydperk van 10 jaar en twee verkiesings, voldoen egter nie aan die verantwoordingsmaatstaf waarmee ’n party tot verantwoording geroep word nie. Die verwagting was eerder dat die verlies aan steun met elke verkiesing dubbelsyfers sou wees.

Die korrelasie tussen wanbestuur/korrupsie en verlies aan steun vertoon meer gunstig as daar spesifiek na die Vrystaat gekyk word. Magashule, die voormalige premier, het vir lank die septer geswaai en projekte om armes op te hef is na bewering tot ’n groot mate vir eie gewin geplunder.

In die Vrystaat was die korrelasie tussen wanbestuur en korrupsie en die verlies aan steun veel duideliker waarneembaar en voldoen dit ook sterker aan die verwagte vereiste.

Vanaf die eerste verkiesing in 1994 was die Vrystaat ’n veilige vesting vir die ANC met oorweldigende steun vir die regerende party. In die algemene verkiesing van 2004 het 82% van die provinsie se kiesers hul kruisies agter die ANC se naam getrek. In die dekade ná 2004 het die steun egter tot 69% gedaal. Die daling beteken dat bykans 165 000 uit sowat 700 000 kiesers/ondersteuners hul steun onttrek het.

Dit is ’n steunverlies van amper 23%, wat gunstig met internasionale norme vergelyk.

Die sentrale vraag is of dit ook in die komende verkiesing waarneembaar sal wees. Vanjaar se uitslae sal bevestig of die ANC wel na behore vir sy omvattende reeks vergrype en wanbestuur “gestraf” sal word.

Kiesersgedrag

Mense in Duduza luister na ’n toespraak van Fikile Mbalula, verkiesingshoof van die ANC. Foto: Argief

Gemanifesteerde kiesersgedrag is die tweede belangrike maatstaf waaraan demokratiese volwassenheid gemeet word.

Die kernvraag is of plaaslike kiesers die internasionale tendens in liberale demokrasieë gaan volg.

In wêreldwye verband het kiesers in liberale demokrasieë in die 1960’s in historiese stempatrone hul steun aan groepe, partye en klasse gegee.

’n Skuif het egter in die dekades daarna plaasgevind. Kiesers het meer op kwessies soos die ekonomie, leiers en die vertoningslys van partye begin fokus.

Hierdie skuif is deur waarnemers as die opkoms van kwessiegedrewe-stemmery getipeer, wat in ’n groter mate op rasionaliteit en die uitoefening van (rasionele) keuses gegrond was.

Party-identifikasie is soortgelyk aan kiesers se gedrag wanneer hulle bloot instinktief en uit gewoonte vir hul partye stem. Hierdie optrede is hoofsaaklik op geskiedenis, lojaliteit en tradisie gegrond.

Party-identifikasie het egter in die 1960’s en die 1970’s in Westerse demokrasieë, veral in Europa, sterk afgeneem. Die rede was dat die moderne geslag sekulêre leiers en kiesers klas en godsdiens nie meer as die bepalende faktore beskou het nie.

In Suid-Afrika het die steun en lojaliteit vir partye eerder toegeneem as wat dit afgeneem het.

In dié tydperk het ander kwessies meer bepalend begin word, soos die verhouding tussen werkgewer en werker en verhoudings binne die burgerlike samelewing. Die kiesers het in die nuwe inligtingsera ’n meer rasionele ingesteldheid begin ontwikkel in die uitoefening van hul keuses en blinde lojaliteit begin afskud.

Ingeligte kiesers het hul keuses by die stembus al hoe meer gegrond oor kwessies wat hulle direk geraak het – soos die ekonomie, maatskaplike aspekte en korrupsie.

Van die 1970’s tot 1990’s was daar ’n afname van meer as 10% in party-identifikasie in Oostenryk, Kanada, Frankryk, Duitsland, Ierland, Amerika, Swede en Italië.

In Australië, Finland, Japan, Nederland, Nieu-Seeland, Noorweë en Brittanje was die afname tussen 1% en 10%. In België en Denemarke was daar geen afname nie. (Bron: R. Hague & M. Harrop: Comparative Government and Politics: An Introduction, 2007.)

In Suid-Afrika het die steun en lojaliteit vir partye eerder toegeneem as wat dit afgeneem het.

Steun vir die Nasionale Party wat op party-identifikasie gegrond was, het in die ooreenstemmende dekades ná 1960 toegeneem.

’n Ontleding van ANC-steun dui op ’n soortgelyke tendens. Dit het vanaf 62% (1994) tot 66% (1999) toegeneem en in 2004 ’n hoogtepunt bereik met steunvlakke van amper 70%.

Dit het hierna geleidelik tot op die vlak van 62% begin daal, wat moontlik daarop kan dui dat die internasionale daling in party-identifikasie ook plaaslik inslag gevind het.

Vanjaar se verkiesing

Pieter Labuschagne

Kyk ’n mens na die twee maatstawwe vir demokratiese volwassenheid – om partye verantwoordelik te hou en party-identifikasie – lyk dit of daar besig is om ’n kentering onder kiesers plaas te vind.

Die afname in steun vir die ANC sowel as die skuif in die party-identifikasiepatrone dui moontlik daarop dat kiesers meer rasioneel begin optree en dat hul stemkeuses sterker op die vertoning/prestasies van die regerende party gegrond word.

Dit is duidelik dat daar wel op ’n beperkte skaal oor spesifieke kwessies gestem word. Die redes vir die geringe skuif is kompleks. Dit kan deels die vorming van ’n klein middelklas wees wat tradisioneel meer rasioneel in die uitoefening van hul keuses is. Dit kan bloot ook wees dat die kieserspubliek in die algemeen sat is vir die stelselmatige korrupsie in die land.

Die verkiesing van 2019 sal egter die antwoorde gee en agterna sal ons weet of daar ’n groter kentering is as die klein waarneembare skuif wat reeds plaasgevind het.

* Pieter Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Cyril Ramaphosa  |  Mmusi Maimane  |  Ace Magashule  |  Verkiesing2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.