Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VERKIESING 2019: Hervorm SA se kiesstelsel

Kiesstelsels soos dié van Brittanje en Suid-Afrika werk nie meer nie en sal hervorm moet word. Roger Southall verduidelik hoekom.

Suid-Afrika se kiesstelsel moet volgens sommige waarnemers dringend hervorm word. Foto: Felix Dlangamandla

Die uitgerekte politieke sepie wat in Westminster ontvou oor ’n besluit twee jaar gelede in ’n referendum om die Europese Unie te verlaat, is nou al vir maande lank die belangrikste nuusstorie.

Brittanje bevind homself in ’n doodloopstraat met parlementslede wat nie kan besluit hoe om die probleem op te los nie.

Dit het fundamentele vrae laat ontstaan oor dié land se demokrasie. Die belangrikste hiervan is of die tweepartystelsel nie uitgedien is nie.

Die vraag is pertinent in Brittanje sowel as in ander lande, wat Suid-Afrika insluit. Kiesers in Suid-Afrika stem juis op 8 Mei in die land se algemene verkiesing.

’n Gebrek aan aanspreeklikheid lei tot die arrogansie van mag, waarvoor die ANC toenemend berug geword het.

Suid-Afrikaners mag dit dalk geniet om te sien hoe die imperiale leeu algaande al hoe meer mankoliek word, maar hulle het min rede tot selfvoldaanheid. Net soos in Brittanje, word vrae steeds gevra of Suid-Afrika se stelsel van proporsionele verteenwoordiging sy doel dien.

Volgens dié stelsel – wat ontwerp is om inklusiwiteit te verseker in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994 – stem kiesers vir kandidate op lyste wat deur die partye opgestel is. Gevolglik doen parlementslede grootliks verantwoording aan hul partye en kan hulle nie juis deur kiesers tot verantwoording geroep word nie.

’n Gebrek aan aanspreeklikheid lei tot die arrogansie van mag, waarvoor die ANC toenemend berug geword het.

Suid-Afrika moet ag slaan op die werklikheid dat die mislukking van kiesstelsels om parlemente op te lewer wat menings op voetsoolvlak bevredigend verteenwoordig, ontstellende gevolge kan hê.

Een daarvan is die toename in regse populisme soos in ’n klomp lande oor die wêreld heen gesien is.

Die val van Brittanje se twee partye

Die vraag of Brittanje die Europese Unie moet verlaat, het tot heelwat verdeeldheid gelei. Foto: Reuters

Britse parlementslede het die Arbeiders- sowel as Konserwatiewe Party verlaat om die sentristiese Change UK-party te stig. Dit het die getal klein partye wat nou op die opposisiebanke saamtrek vermeerder en versterk die wye siening dat die tradisionele steunbasisse van die twee groot partye besig is om te verkrummel.

As daar, soos allerweë verwag word, ’n vroeë verkiesing uitgeroep word, sal dit weer lei tot ’n parlement waarin geen party ’n volstrekte meerderheid het nie.

Minderheids- of koalisieregerings kan dalk al hoe meer ’n kenmerk van politieke stelsels word waarin politici meer gewoond aan antagonistiese politiek is.

Vandag waarborg dié stelsel in Brittanje nie langer dat regerende partye ’n werkbare meerderheid in die parlement gaan hê nie.

Die huidige krisis in Britse politiek is tot ’n groot mate die gevolg van die eerste-oor-die-wenstreep-kiesstelsel wat nie die veranderinge in die Britse samelewing weerspieël nie. Dit kom neer op ’n oorverteenwoordiging van partye wat wen en ’n onderverteenwoordiging van minderheidspartye.

Die historiese regverdiging van die eerste-oor-die-wenstreep-kiesstelsel was dat dit lei tot regerings met ’n werkbare meerderheid in die parlement, hoewel regerende partye gereeld verkies word deur ’n minderheid van stemgeregtigdes.

Vandag waarborg dié stelsel in Brittanje nie langer dat regerende partye ’n werkbare meerderheid in die parlement gaan hê nie. David Cameron, leier van die Konserwatiewe Party, moes ’n koalisie met die Liberale Demokrate sluit om ná die verkiesing van 2010 ’n meerderheidsregering te vorm.

En wat van koalisies?

Nie alle stemgeregtigdes doen die moeite om as kiesers te registreer nie. Foto: Felix Dlangamandla

Suid-Afrika se stelsel van nasionale lys proporsionele verteenwoordiging is (wyslik) ontwerp om verteenwoordiging te maksimaliseer.

Tydens die onderhandelingsproses wat die oorgang na demokrasie voorafgegaan het, is dit as noodsaaklik beskou om te verseker dat minderheidsmenings ’n stem in die parlement kry eerder as wat dit uitgesluit word. Dit is gedoen ongeag of hulle die belange van ras, etnisiteit, godsdiens, streke of ideologie verteenwoordig het.

Suid-Afrika het tot dusver die komplikasies van ’n nasionale koalisieregering vermy omdat die ANC elke keer met ’n meerderheid van parlementslede verkies is.

Die ANC het sedert die verkiesing van 1994 nooit minder as 60% van die stemme op hom verenig nie.

Die ANC gaan waarskynlik weer ’n meerderheid ná vanjaar se verkiesing hê.

Groot getalle stemgeregtigde kiesers het nie geregistreer nie.

Maar as dit die geval gaan wees, sal hy waarskynlik verkies word deur ’n kleiner deel van stemgeregtigde kiesers as wat in 2014 die geval was. Destyds het slegs 35% van potensiële kiesers vir die ANC gestem.

Groot getalle stemgeregtigde kiesers het nie geregistreer nie.

Boonop is daar met elke verkiesing voorspellings – wat eendag waar gaan word – dat die ANC nie ’n nasionale meerderheid gaan kry nie en gedwing sal word om in koalisie met ’n kleiner party te regeer.

Selfs met vanjaar se verkiesing is daar meer as ’n klein moontlikheid dat die ANC koalisies sal moet aangaan as hy die mag in sekere provinsies wil behou. Die waarskynlikste provinsie in dié verband is Gauteng, die land se ekonomiese hartland.

Baie sal dit verwelkom as die ANC gedwing word om koalisies aan te gaan omdat die monopolie op mag wat die party sedert 1994 het, tot ’n gebrek aan aanspreeklikheid gelei het.

Dié gebrek aan aanspreeklikheid is onlosmaaklik deel van die manier waarop Suid-Afrika se kiesstelsel ontwerp is.

Die oneweredige mag van partye

Word gewone mense se stemme nog in die parlement gehoor? Foto: Felix Dlangamandla

Dit is nie verrassend dat daar gereeld gevra word vir die hervorming van die kiesstelsel nie.

Die algemeenste oplossing wat aan die hand gedoen word, en selfs in sommige ANC-kringe gesteun word, is dat parlementslede verkies word uit kiesafdelings met verskeie kandidate.

Dié oplossing is in 2002 voorgestel deur ’n kommissie wat die kiesstelsel moes bekyk, maar die ANC het dit verwerp.

Die voorgestelde verandering sou parlementslede genoop het om die belange van hul kiesers en hul partyleiers te dien.

Legitimiteit

Onrus is Suid-Afrika is oudergewoonte besig om toe te neem in die aanloop tot die verkiesing. Foto: Felix Dlangamandla

Suid-Afrika ervaar weer massief hoë vlakke van sosiale onrus. Dit wys dat populêre steun vir die land se politieke stelsel algaande besig is om af te neem.

Die kiesstelsel moet verander word. As daar nie iets aan gebrekkige kiesstelsels – in Suid-Afrika én elders – gedoen word nie, sal sosiale krisisse voortduur en vererger.

* Southall is professor in sosiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.