Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Verkiesing 2019 – hier kom ’n ding

’n “Skisofreniese ANC”, ’n “bloeiende DA”, en ’n “alomteenwoordige EFF”, het gister in ’n gesprek oor die komende verkiesing ter sprake gekom, berig Murray La Vita.

Deelnemers aan die tweede gesprek in die Woordfees se gespreksreeks op Stellenbosch besig om te debatteer oor die komende verkiesing. Van links is Tim du Plessis, Judith February, Willem Jordaan en Jan-Jan Joubert. Foto: Murray La Vita

Pres. Cyril Ramaphosa móét 60% of meer van die steun in die komende verkiesing kry ten einde hom in staat te stel om voort te gaan met die hervormingsproses waarmee hy begin het, het Judith February gister gesê.

February, ’n politieke ontleder en onder meer verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies, was op die tweede gesprek in die Woordfees se gespreksreeks op Stellenbosch deel van ’n paneel wat die komende nasionale verkiesing in oënskou geneem het; ’n verkiesing wat gespreksleier Tim Du Plessis as Suid-Afrika se belangrikste verkiesing sedert 1994 beskou.

“Op die oomblik lyk die ANC vir my skisofrenies in sy verkiesingsveldtog. So baie van wat uit die party kom, blyk teenstrydig te wees, of dit nou Ace Magashule en Jessie Duarte is wat hul eie koers inslaan en Ramaphosa wat sy eie trajek volg,” sê February.

Sy meen die belangrike vraag oor die ANC is: “will the centre hold?”

“Ek dink daar is baie pessimisme oor Ramaphosa en of hy ’n belangrike oorwinning vir die ANC kan behaal, maar ek dink ons moet verstaan hoe die ANC-verkiesingsmasjien werk. As dit eers op dreef is, is dit ’n redelike magtige ding om te aanskou. So, laat ons hulle nie so vroeg al afskryf nie.”

Ek dink nie daar is so ’n groot aptyt vir radikale politiek onder ons kiesers nie.
Judith February

Die DA het ’n sterk teenwoordigheid in die Wes-Kaap, maar in ander dele van die land lyk dit asof hy besig is om homself in die voet te skiet, sê sy.

“Dit sal interessant wees om te sien of dít ’n invloed gaan hê op sy steun in die verkiesing.”

Die EFF is die alomteenwoordige speler op die politieke landskap.

“Dit lyk asof hy oral en nêrens is. Dit is ’n party van opportunisme; een wat sy beginsels baie maklik aanpas en verander. Daar is sekere kwessies oor nasionalisering van grond en so aan wat die EFF heel duidelik gaan dryf.

“Ek dink nie daar is so ’n groot aptyt vir radikale politiek onder ons kiesers nie. Maar die EFF kan heel waarskynlik voortgaan om ’n koningmaker te wees en op daardie wyse sy ontwrigting voortsit.”

Interne struwelinge

Judith February: “Op die oomblik lyk die ANC vir my skisofrenies in sy verkiesingsveldtog.” Foto: Argief

Du Plessis het met February saamgestem: As die ANC minder as 60% kry, is Ramaphosa en die party in die moeilikheid, of mense gaan sê die party is op ’n afwaartse trajek.

Hy het bygevoeg as die DA minder as 22% kry, gaan dit baie sleg wees vir hulle. Die EFF lyk na omtrent die enigste party wat sy steun ’n bietjie kan opskuif.

Volgens Jan-Jan Joubert, skrywer en politieke ontleder, het al drie groot politieke partye, in vergelyking met vorige verkiesings, “geweldige interne struwelinge”.

Die DA bloei in die Wes-Kaap, maar ek dink daardie bloed is besig om te stol.
Jan-Jan Joubert

“Spesifiek wat die DA en die ANC betref; soos Judith gesê het: Dit lyk asof hulle hulself herhaaldelik met ’n dubbelloop-haelgeweer deur die voet skiet en vir jou in drievoud vra om nié vir hulle te stem nie. Ten spýte daarvan gaan baie mense dit doen . . .

“Die DA bloei in die Wes-Kaap, maar ek dink daardie bloed is besig om te stol. Mense is so half keelvol vir die DA en hulle voel in die skande gesteek, maar toe kom hulle by ’n punt waar hulle sê: ‘O, vet! Gestel ons stem nou nié vir die DA nie, wat kry ons dán?’

“So, as die DA hom begin gedra in die Wes-Kaap – daar is darem tekens dat hulle minder met mekaar baklei – dan dink ek gaan hulle beter doen as verwag is so ’n maand of twee terug, en ek sou sê hulle gaan so in die omgewing van 55% draai in die Wes-Kaap; die ANC so net oor die 30%, wat vir hulle ’n goeie verbetering sal wees. Die EFF sukkel in die Wes-Kaap; hulle het onlangs in George ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel deur 0 stemme in ’n verkiesing te kry.

“Dis ’n bietjie van ’n ramp vir die EFF, maar in ander dele van die land vaar hulle heeltemal goed en ek dink hulle gaan eindig op so 11 of 12%. Die ANC dink ek gaan eindig op definitief onder 60%; moeilik om te sê, maar as die verkiesing môre was, sou ek sê 56%.”

’n Verkiesingspolis

Jan-Jan Joubert: “Die DA bloei in die Wes-Kaap, maar ek dink daardie bloed is besig om te stol.” Foto: Argief

Willem Jordaan, politieke skrywer en redakteur van Die Burger, het verwys na die stoot-en-trek-kragte wat op die drie grootste partye inwerk.

“Indien mnr. Zuma nog aan die stuur van sake in die ANC was, dan was ’n volstrekte meerderheid vir die ANC volledig onmoontlik. Die feit dat mnr. Ramaphosa by hom oorgeneem het, is grootliks daaraan te danke dat die party dit ingesien het. So, die feit dat mnr. Ramaphosa dien as ons president is ’n soort versekeringspolis vir die ANC om bo 50% te kry.

“Die trek-faktore wat die ANC se steun negatief beïnvloed, is uiteraard die nalatenskap van staatskaping wat ons nou in kleur en geur voor die Zondo-kommissie sien. Terselfdertyd is mnr. Ramaphosa besig om die bestaan van die Zondo-kommissie te gebruik as ’n sein na buite dat hy vasberade is om die stand van sake te verander.

Dieselfde ANC wat vir jou Cyril Ramaphosa en Thuma Mina gegee het, het ook vir jou Jacob Zuma en staatskaping gegee.
Willem Jordaan

“Die ander faktor wat die ANC se steun kan opdruk, is dat mnr. Ramaphosa sukses het met die boodskap na buite: Stem vir die Ramaphosa-ticket, want dit is die laaste kans vir die land; as jy nie sake regstel nie, is ons oor die afgrond. So, steun die Ramaphosa-kamp en gee hom ’n mandaat om dinge verder te verander ná 2019.

“Dis ’n baie verleidelike redenasie, maar dit is ’n gevaarlike redenasie, want dieselfde ANC wat vir jou Cyril Ramaphosa en Thuma Mina [Ramaphosa se nasiebouprogram] gegee het, het ook vir jou Jacob Zuma en staatskaping gegee. So voordat ons nie gesien het watter Ramaphosa-kandidate is waar op die kandidatelys en watter Zuma-kandidate is waar op die lys nie, het ons geen benul of ’n ANC-stem wel mnr. Ramaphosa se mandaat sal versterk nie.”

Ramaphosa se kaart

Willem Jordaan: “Die feit dat mnr. Ramaphosa dien as ons president is ’n soort versekeringspolis vir die ANC om bo 50% te kry.” Foto: Argief

Du Plessis het Jordaan gevra of hy dink die DA sal gedwing word om in die Wes-Kaap terug te keer na koalisiepolitiek as die ANC meer stemme kry en Patricia de Lille en haar Good-party trek stemme weg.

“Ek dink dit is onwaarskynlik dat die DA nié ’n volstrekte meerderheid in die provinsie gaan kry nie, maar hulle steun gaan weliswaar verswak na tussen 53 en 55% . . .

“Op nasionale vlak kan dit wel voor en ná die verkiesing ’n dinamika wees, selfs al behaal die ANC ’n meerderheid. Een van die kaarte wat mnr. Ramaphosa dalk in sy mou het om nuwe energie in die stelsel in te stoot, is om voor die verkiesing te sê: ‘Ek is bereid om saam met ander partye te regeer in my regering, selfs al kry ek meer as 50%.’

“Wat hy dan dadelik doen om die ANC so ’n bietjie te verhef van die beeld van die nare ou boelie terug na die Mandela-era waar versoening en samewerking ’n sterk motief was. En terselfdertyd: onthou, die nasionale ontwikkelingsplan is ’n enorme prioriteit vir mnr. Ramaphosa as synde een van die mense wat betrokke was by die skryf daarvan, en daardie plan kan eintlik nie slaag sonder samewerking oor ’n breë front van die samelewing nie.

“Ek dink die kans is betreklik goed dat hy wél die kaart sal speel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.