Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VERKIESING 2019: Is daar te veel klein partye in SA?

Baie mense meen die groot aantal klein partye wat aan die verkiesing deelgeneem het, wys dat Suid-Afrika se demokrasie besig is om volwasse te word. Maar is dit regtig ’n goeie ding? vra Pieter Labuschagne.

Nie tevrede met die verkiesingsuitslae nie. Leiers van klein politieke partye teken protes aan in die Onafhanklike Verkiesingskommissie se uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Felix Dlangamandla

Een van die uitstaande kenmerke van vanjaar se verkiesing was weer die groot aantal politieke partye, veral nuwe partye, wat daaraan deelgeneem het.

Die “nuwe” partye het weer, met enkele uitsonderings, hul deposito’s verloor omdat hulle nie aan die parlementêre kwota kon voldoen nie.

Wat sou die rede vir die rekordgetal van 34 nuwe politieke partye wees en hoe vergelyk dit met die internasionale tendense?

Die vorming van nuwe politieke partye in ’n demokrasie is baie belangrik omdat dit meestal op die ongeartikuleerde aspekte of “onaangespreekte” probleme in die samelewing fokus.

Women Forward het as party ontstaan met die spesifieke oogmerk om vroue se belange te bevorder.

In die politieke dinamika van ’n land is die vorming van nuwe partye op grond van ’n enkele of ongeartikuleerde saak belangrik, omdat nis-partye gewoonlik op dié sake fokus. In die aanloop tot vanjaar se verkiesing het Women Forward byvoorbeeld as party ontstaan met die spesifieke oogmerk om vroue se belange te bevorder.

Die nuwe klein party mag egter vind dat die aspek wat tot sy ontstaan gelei het, reeds genoegsame aandag in groter partye kry. Dit is ook dan wat met die Women Forward in die verkiesing gebeur het en dit het min steun (6 108 stemme) getrek.

Die ontstaan en die groei van ’n nuwe klein party sal net slaag indien die kwessie of “onaangeraakte” saak dringend genoeg is om die nodige steun te kry. Dit verduidelik waarom nuwe klein partye wat eksklusief weens leierskapsverskille ontstaan het, soos Patricia de Lille se Good, en ook op vae beginsels gegrond is – “Ons wil net beter doen en/of korrupsie uitroei” – nie ’n behoorlike grondslag vir groei het nie.

Die tendens in Suid-Afrika

’n Plakkaat van Convy Baloyi se African Covenant in Pretoria. Dié party het die steun van 7 016 kiesers getrek. Foto: Gert van der Westhuizen

Vanaf die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika in 1994 het nuwe klein partye soos spreekwoordelike paddastoele ná goeie reën opgespring.

Alle partye, behalwe die Demokratiese Party (DP) en die Nasionale Party (NP), was basies in 1994 “nuwe” partye. Die hoë syfer van 17 nuwe partye met die eerste verkiesing was verstaanbaar, want dit was die eerste demokratiese verkiesing in die land. Die partye het nie die geleentheid gehad het om voorheen aan verkiesings deel te neem nie.

In die verkiesing van 1994 het 12 van die 19 partye egter nie genoeg steun gemonster om die parlementêre kwota te haal nie en het sodoende hul deposito’s verloor. In die aanloop tot die volgende verkiesing in 1999, het 11 van die 19 partye gevolglik verdwyn, wat ’n hoë verdwynsyfer van 57% beteken het.

In die verkiesing van 1999 het die groot getal partye tot ’n mate gestabiliseer, wat die normalisering van die politieke party-landskap beteken het. Die getal nuwe partye het in 1999 skerp van 17 tot 9 gedaal.

Die daling het op politieke-party-stabiliteit in die politieke stelsel gedui. In dié verkiesing het net drie van die partye nie die kwota vir parlementêre verteenwoordiging gehaal nie.

Dié stabiliteit verklaar die lae verdwynsyfer van net vyf partye (31%) in die aanloop tot die volgende verkiesing in 2004.

In 2004 het 21 partye geregistreer, ’n klein toename van vyf partye vergeleke met 1999. Die aantal nuwe party het ook effens gestyg tot nege. In die verkiesing het 10 partye, insluitend al die nuwes, nie die parlementêre kwota gehaal nie.

In die aanloop tot die verkiesing van 2009 het agt van die nuwe politiek partye (38%) verdwyn. Alhoewel die verdwynsyfer hoog was, was dit steeds binne die tendens van 30% tot 40% wat met die vorige verkiesings ontwikkel het.

In 2014 se verkiesing het die aantal deelnemende partye tot ’n rekord van 30 gestyg met 15 nuwe partye.

In 2009 is die stygende tendens van nuwe partye bevestig, met die aantal partye wat van 21 tot 27 toegeneem het.

Die nuwe partye het van 9 tot 14 toegeneem, waarvan 13 nie die parlementêre kwota kon haal nie.

Die verdwynsyfer van tien partye (33%) in aanloop tot die volgende verkiesing (2014) was hoog, maar steeds binne die syfer van 30% tot 40% van die vorige verkiesings.

In 2014 se verkiesing het die aantal deelnemende partye tot ’n rekord van 30 gestyg met 15 nuwe partye.

Die aantal onsuksesvolle partye wat hul deposito’s verloor het, het ook van tien tot 17 gestyg. Die groter wisseling en onstabiliteit het nou ’n kenmerk van die verkiesingstendense geword.

Die verdwynsyfer in die aanloop tot vanjaar se verkiesing het bly styg met 14 partye (46%) wat nie weer deelgeneem het nie. Dié verdwynsyfer van 46% is hoër as die 30% tot 40% van voorheen en dui op verhoogde politieke onstabiliteit en wisselvalligheid.

Dié stygende tendens is bevestig met vanjaar se verkiesing toe 32 van die 34 nuwe partye nie die parlementêre kwota gehaal het nie en hul deposito’s verloor het.

Die verwagte verdwynsyfer in die aanloop tot die volgende verkiesing in 2024 sal beslis hoër as 55% wees as dié tendens voortduur.

Die internasionale tendens

Andile Mgxitama, leier van BLF, het laat blyk dat ondersteuners glo sy party het meer stemme gekry as die 19 912 wat uiteindelik op die Onafhanklike Verkiesingskommissie se telbord verskyn het. Foto: Felix Dlangamandla

Die internasionale politieke partystelsel was baie staties en stabiel tot in die laat 1960’s, voor die derde en vierde wêreldwye demokratiseringsgolwe.

Die politikoloog Seymour Martin Lipset het gepraat van ’n politieke partystelsel wat gevries het omdat min nuwe partye wêreldwyd gevorm is.

Ná 1970 was daar ’n geleidelike toename in nuwe partye, maar ná 1990 was daar in sommige streke ’n ontploffing in die aantal nuwe partye.

In die dekade tussen 1990-2000 het daar byvoorbeeld in Nepal 93 nuwe politieke partye op die toneel verskyn.

Heelwat nuwe partye het ook in voormalige kommunistiese lande op die toneel verskyn ná die demokratiseringsgolf van 1990, maar die toename was binne aanvaarbare perke. Die gemiddelde syfer in voormalige kommunistiese lande was sowat 5,6 nuwe politieke partye per verkiesing, wat op ’n groot mate van stabiliteit gedui het.

In Australië het daar in die federale verkiesings tussen 2013 en 2016 sowat tien nuwe partye op die toneel verskyn, waarvan die meeste nie beduidende steun kon trek nie. Net die Groen Party het noemenswaardige steun verwerf.

Ná die demokratiese golf van 1990 is gemiddeld net een politieke party per verkiesingsiklus in Wes-Europa gevorm, wat maar gemiddeld steun van slegs sowat 2% kon trek.

In die vyf algemene verkiesings in Suid-Afrika sedert 1999 het daar 81 nuwe politieke partye aan die verkiesings deelgeneem.

Dit wil dus lyk asof die aanvaarbare persentasie van nuwe partye met elke verkiesing in ’n breë spektrum van tussen 2% tot 10% gewissel het. In vergelyking met dié tendens is Suid-Afrika se syfer van 30% tot 50% buitensporig hoog.

In die vyf algemene verkiesings in Suid-Afrika sedert 1999 het daar 81 nuwe politieke partye aan die verkiesings deelgeneem.

Dit beteken gemiddeld 16 nuwe partye per verkiesing en ’n verdwynsyfer van tien partye tot die volgende verkiesing. Die syfer is duidelik te hoog en onaanvaarbaar.

Die argument is nie dat daar nie nuwe klein partye moet wees nie. Die kleiner partye is noodsaaklik vir stabiliteit en balans in die stelsel en daar is ’n aantal wat reeds geïnstitusionaliseer geraak het.

Klein partye, soos die Vryheidsfront Plus, ACDP en PAC geniet min, maar stabiele steun vanaf 1994-’99.

Dit is egter belangrik dat die nuwe klein partye in die korrekte verhouding en balans tot die groot, middelslag en geïnstitusionaliseerde partye moet staan.

Dit sal verkieslik wees as daar een of twee groot partye soos byvoorbeeld die ANC is, twee tot vier middelslag-grootte partye soos die DA of EFF, vyf geïnstitusionaliseerde partye soos die VF Plus of ACDP en vyf nuwe klein partye.

Die eweredige verspreiding en balans sal die ewewig en stabiliteit in die partypolitieke-stelsel skep.

Waarom klein partye verskyn en verdwyn

“Ek gaan die president word.” Hlaudi Motsoeneng, leier van die African Content Movement, het aan die wêreld vertel sy party gaan soveel stemme wen dat hy Cyril Ramaphosa as Suid-Afrika se president sal vervang. Foto: Felix Dlangamandla

Daar is verskeie redes waarom klein partye op die toneel verskyn en verdwyn. Die belangrikste kan as volg opgesom word:

* Politieke opportunisme, onkundigheid en ’n onbegrip van die werking van die demokratiese proses. Onkunde lei tot onrealistiese verwagtinge van sommige partyleiers soos Hlaudi Motsoeneng van die African Content Movement wat vas geglo het dat hy die nuwe president sou word ná die verkiesing. Sy party kon egter net 4 841 stemme op hom verenig. Dit dui op ’n mate van gebrek aan politieke sofistikasie en verduidelik ook die klein partye se reaksie ná die verkiesing.

* Politici wat hardkoppig aan mag vasklou en daardeur aanleiding tot verskille gee. Dit lei dan tot groepe wat wegbreek en politici wat dink dat hul beter op hul eie kan vaar en dan links en regs nuwe partye stig.

* Swak ekonomiese toestande waar steun van die regerende party wegvloei en nuwe partye oplossings probeer bied.

* Die proporsionele kiesstelsel wat die vorming van nuwe partye aanmoedig. Die kwota-drempel vir parlementêre verteenwoordiging bly egter hoog, met ongeveer 45 000 stemme wat benodig word – steun wat buite die bereik van die meeste partye is.

Dit is baie belangrik in Suid-Afrika dat stabiliteit en normalisering in die partypolitieke-stelsel bereik moet word, met ’n wisseling en verdwynsyfer van nuwe klein party nie hoër as 10% nie. Die hoë verdwynsyfer is ’n vermorsing van geld en menslike hulpbronne.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.