Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
VERKIESING 2019: Swart middelklas soek politieke tuiste

Dit lyk of geen van Suid-Afrika se politieke partye ’n tuiste aan die swart middelklas bied nie, skryf David Everatt.

Geen van Suid-Afrika se politieke partye bied klaarblyklik aan die swart middelklas ’n tuiste nie. Foto: Shutterstock

Suid-Afrika se swart middelklas is besig om te groei – en besig om polities weerbarstig te raak. Maar sien hy die wêreld anders as ander mense? En gaan dit ’n invloed hê op hoe hy gaan stem?

Dit is belangrike vrae wat fyn bekyk moet word want die swart middelklas is reeds ’n deurslaggewende groep kiesers in van die land se meer welvarende provinsies soos Gauteng, en is op soek na ’n politieke tuiste wat bestendig is en sy klasbelange gaan dien.

Die post-apartheid-projek was veronderstel om die ekonomiese moontlikhede van alle Suid-Afrikaners te ontsluit. Maar swak ekonomiese prestasie gekombineer met ’n dekade van staatskaping en die minagting wat oudpres. Jacob Zuma vir “slim swartes” gevoel het, het die swart middelklas kwaad gemaak en op hul hoede geplaas.

Hulle is kwaad oor hul uitsluiting uit hoofstroom- ekonomiese bedrywighede waar “raadsaal-rassisme” en ’n rasseplafon klaarblyklik aan die orde van die dag is.

En hulle vrees dat indien hulle nie deel van die regerende ANC se binnekring is nie, is hul kanse om toegang te kry tot staatsgeld – wat gewoonlik ná bevryding ingespan word om die inheemse bourgeoisie te bestendig en te help groei – maar baie skraal.

Politieke probleme

In ’n onlangse peiling wat vir die ANC gedoen is en wat die party nog nie openbaar gemaak het nie, is ’n aantal vrae aan meer as 3 000 Gautengse kiesers oor hul houdings jeens die huidige politieke landskap en dié van die verlede gestel.

Die peiling het ernstige probleme in die politiek aan die lig gebring, waarvan baie veral deur die swart middelklas ervaar word. Soos ’n jong man van Johannesburg in ’n fokusgroep gesê het: “Die een ding wat aan die verander is en wat besig is om die ANC dood te maak, is sekere individue in die party.

Indien sy beleid van kaderontplooiing en staatskaping voortgesit sou word, sal die swart middelklas eenvoudig alle steun aan die ANC onttrek.

“Daar is letterlik ’n kliek binne die party en indien jy daaraan behoort, sal dit met jou goed gaan, maar indien jy teen enige van hul opvattings is, is dit basta met jou.”

Die implikasies hiervan vir die ANC is duidelik: Indien sy beleid van kaderontplooiing en staatskaping voortgesit sou word, sal die swart middelklas eenvoudig alle steun aan die party onttrek.

Wie is die swart middelklas?

Dit is ’n komplekse uitdaging om ’n definisie van middelklas te formuleer. Ons uitgangspunt is dat dit insluit ’n huishoudelike inkomste van meer as R11 000 per maand. Dit is allermins ’n reuse-bedrag, maar binne die konteks van die algemene inkomste van “swart Afrikane”, kwalifiseer dit as middelklas.

Om die definisie te verfyn het ons diegene ingesluit wat hulself identifiseer as hoërmiddelklas of in ’n klein (2%) aantal gevalle as hoërklas.

Uit die peiling blyk dit die ANC kon daarin slaag om die lojaliteit van die meerderheid swart middelklas Gautengers te behou of te herwin. Altesaam 63% van die swart, nie-middelklas stemgeregtigdes in Gauteng het gesê hulle gaan vir die ANC stem teenoor 56% van die swart middelklaskiesers.

As ’n mens in ag neem wat die afgelope dekade in die land aangegaan het, is hul lojaliteit merkwaardig. Dit is deels aan die stand van die DA toe te skryf.

Beleidselfmoord

Mmusi Maimane was ’n baie sterk magneet vir swart middelklaskiesers, maar toe sy party begin mor oor ras, wit voorregte en dat dit belangrik is om die wit stem te behou, was dit onafwendbaar dat pres. Cyril Ramaphosa ’n aantrekkingskrag sou word, meen David Everatt. Foto: Llindile Mbontsi

Die DA met sy retoriek oor gelyke geleenthede, sy weersin in kaderontplooiing en sy skerp aanvalle op ANC-korrupsie behoort die natuurlike tuiste vir ’n opkomende en ambisieuse swart middelklas te wees.

Maar die DA is diep verdeeld oor ras. Die party het in die aanloop tot die verkiesing beleidselfmoord gepleeg deurdat sy lede en kommentators Mmusi Maimane, die partyleier, openlik oor dié kwessie aangeval het uit vrees dat hulle hul tradisionele wit kiesers sal vervreem.

Vrese dat die DA steeds ’n 'wit' party is, of ’n party wat voorkeur aan wit belange gee, bestaan steeds.

Dit lyk of enige verwysings na ras of regstellende optrede of ras-gegronde ongelykheid verswyg moet word terwyl daar vir diegene aan die ontvangkant van rassisme gevra word om DA te stem. Die boodskap aan swart middelklas Suid-Afrikaners is duidelik: Vrese dat die DA steeds ’n “wit” party is, of ’n party wat voorkeur aan wit belange gee, bestaan steeds en dit is onwaarskynlik dat hulle baie welkom in die party sal wees.

Hierdie merkwaardige toedrag van sake so kort voor die verkiesing het ’n wig ingedryf in die alliansie tussen diegene wat voorheen gekant was teen Zuma en alles wat hy verteenwoordig het in die tyd voordat Cyril Ramaphosa partyleier geword het.

Dit wil voorkom asof dit diegene wat die DA-waters getoets het, teruggedryf het na die ANC of in die arms van die EFF gejaag het. En ’n beduidende aantal het ná die politieke wildernis koers gekies.

‘Aantrekliker EFF’

Ramaphosa is “charismaties en emblematies van wat die swart middelklas kan bereik”. Foto: Elmond Jiyani, GCIS

Die ANC kon nog nooit daarin slaag om kiesers met ’n hoër opvoedingspeil en inkomste vir lank te bekoor nie. En die peiling wys die DA het nou ook daar dramaties veld verloor, en dat die EFF aantrekliker as die DA vir die swart middelklaskiesers geword het.

Die DA en die EFF veg dus nou (vanuit ideologiese posisies wat hemelbreed van mekaar verskil) vir dieselfde klein segment van die swart middelklaskiesers – hulle wat vir die ANC verlore is.

Die ANC geniet steeds die steun van die meerderheid swart middelklaskiesers wat bereid is om vir hom te stem. Maar hoe lank nog?

Ramaphosa is charismaties en emblematies van wat die swart middelklas kan bereik.

Die peiling dui daarop dat terwyl 67% van swart middelklaskiesers van plan is om te stem, gaan ’n derde op 8 Mei tuisbly omdat hulle meen dat alle politieke partye daarin faal om hul belange te verteenwoordig.

Dié wat gaan stem, gaan dit met min geesdrif doen. En talle gaan nié stem nie.

Volgens die peiling weet 17% nie vir wie hulle gaan stem nie (of wil nie sê nie), selfs al is baie van dié kiesers nie meer ongelukkig oor die persepsie van die DA as ’n wit party nie.

En hoewel die meeste swart Suid-Afrikaners sal voortgaan om die DA as ’n wit party te beskou is daar ’n groeiende getal swart middelklaskiesers wat sê hulle is moeg daarvoor om skaam te wees oor die feit dat hulle as “coconuts” – swart buite en wit binne – beskou word.

‘Ramaphosa ook magneties’

Maimane was ’n baie sterk magneet vir swart middelklaskiesers, maar toe sy party begin mor het oor ras, wit voorregte en dat dit belangrik is om die wit stem te behou, was dit onafwendbaar dat Ramaphosa ’n groter aantrekkingskrag sou word.

Hy is charismaties en emblematies van wat die swart middelklas kan bereik. Dit kom dus as geen verrassing nie dat die steun vir die DA in hierdie belangrike segment so te sê verdwyn het. Diegene wat die ANC nooit sy sondes van die verlede sal vergewe nie, sal eerder nié stem nie of vir die EFF stem.

Wat die toekoms betref, is die vraag of enige bestaande party die behoeftes en aspirasies van die swart middelklas sal kan verteenwoordig, en of hulle dalk die groep is waaruit ’n nuwe politieke party gaan groei.

*Everatt is hoof van die Wits Shool of Governance. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Cyril Ramaphosa  |  Mmusi Maimane  |  Gauteng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.