SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Aktueel
Verkiesing: Is daar ’n krakie in die Swapo-muur?

Wat kan ons te wagte wees tydens die komende verkiesing in Namibië? Pieter Labuschagne voorspel die Swapo-regering kan dalk op presidentsvlak steun verloor.

Indien Swapo in die verkiesing vir die wetgewende vergadering weer meer as 80% steun haal, en dié van die president, Hage Geingob, daal relatief skerp, mag dit op interne probleme binne die regerende elite dui. Foto: Getty

Die uitslag van die Namibiese algemene verkiesing, wat binne twee weke op 27 November 2019 plaasvind, is soos die voorafgaande verkiesings hoogs voorspelbaar. Swapo, wat 84% van die steun in die 2014-verkiesing gekry het, sal waarskynlik weer tussen 80% en 85% van die stemme kry.

Daar is wel vroeë tekens wat toon dat die de facto een-party Swapo-regering wel op leierskapsvlak steun kan verloor. Hierdie verwikkeling is moontlik die interessantste en mees dinamiese aspek van die komende verkiesing.

In ooreenstemming met die tendens in Suider-Afrikaanse lande, waar bevrydingsbewegings cum politieke partye vir dekades ná onafhanklikheid die meerderheidsparty vorm, is die uitslag van die verkiesing in Namibië ook hoogs voorspelbaar.

Die komende verkiesing is die sesde sedert Namibië se onafhanklikheidswording in 1990, amper drie dekades gelede. In elk van die voorafgaande vyf verkiesings het Swapo ’n oorweldigende meerderheid verkry.

Die Namibiese grondwet verskil van die Suid-Afrikaanse grondwet omdat dit sterker ooreenkomste met die presidensiële regeringstelsel het. In Namibië word afsonderlik vir die president gestem, met ’n afsonderlike stem vir lede van die wetgewende vergadering.

In die presidentsverkiesing word daar dus vir een persoon gestem, terwyl in die verkiesing vir die wetgewende vergadering vir ’n party gestem word.

Die Demokratiese Turnhalle-Alliansie (DTA) (deesdae die Popular Democratic Movement) het die tweede meeste stemme, (4,8% steun) verower in die vorige verkiesing, met vyf lede in die wetgewende vergadering.Foto: Wikipedia
Die derde grootste party, die Rally for Democracy and Progress, het tydens die vorige verkiesing 3,5% steun verwerf, met drie lede in die wetgewende vergadering. Foto: Wikipedia

In die vorige verkiesing in 2014 het Swapo 80,01% van die stemme vir lede van die wetgewende gesag verower, wat beteken het dat die party 77 lede in die wetgewende vergadering van 104 lede gehad het. Die Demokratiese Turnhalle-Alliansie (DTA) (deesdae die Popular Democratic Movement) het die tweede meeste stemme, (4,8% steun) verower, met vyf lede in die wetgewende vergadering. Die derde grootste party, die Rally for Democracy and Progress, het 3,5% steun verwerf, met drie lede in die wetgewende vergadering. Die res van die politieke partye het slegs twee en minder lede in die wetgewende vergadering opgelewer.

Swapo het dus oorweldigende steun in die 2014 verkiesing geniet.

Swapo geniet groot steun onder die Ovambo-meerderheid.

In die verkiesing vir die president as hoof van die uitvoerende gesag het Hage Geingob (Swapo) 86,7% van die stemme op hom verenig, met McHenry Venaani van die DTA wat slegs 4,9% van die stemme verower het.

Die oorweldigende steun het beteken dat Geingob amper 7% meer steun gekry het (86,7%) as die 80% wat sy party vir die wetgewende vergadering getrek het. (Dit is hierdie aspek wat interessant behoort te wees in die komende verkiesing).

Die dominansie van Swapo, met oorweldigende steun vir die president én die wetgewende gesag, is omdat Oshiwambo-sprekende Namibiërs die grootse enkele groep in dié land is. Swapo geniet groot steun onder die Ovambo-meerderheid.

Gerugte van korrupsie en staatskaping

Die stabiele teenwoordigheid van so ’n dominante politieke party binne ’n groot geografiese uitgestrekte gebied met 'n yl bevolking beteken dat daar min binnegevegte is. Daar is slegs 1,2 miljoen geregistreerde kiesers in die land en vier uit elke vyf steun Swapo.

In vergelyking met sy buurland, Suid-Afrika, geniet die Namibiërs ’n groot mate van politieke en sosio-ekonomiese stabiliteit en dinge soos diensleweringsbetogings is raar.

Namibië is nou al vir byna meer as dertig jaar ’n de facto-eenpartystaat en Swapo se steun bokant 80% lyk onaantasbaar op medium- en selfs lang termyn.

In vergelyking met sy buurland, Suid-Afrika, geniet die Namibiërs ’n groot mate van politieke en sosio-ekonomiese stabiliteit en dinge soos diensleweringsbetogings is raar.

Dit beteken nie dat daar nie sosio-ekonomiese probleme in Namibië is nie. Die betrokkenheid van China by konstruksieprojekte en staatstenders wek heelwat kommer onder waarnemers. Daar is ook klagtes oor die stroping van die land se fauna en flora.

Die staat is ook baie betrokke in die ekonomie en die ekonomiese beleid is sterk op sentralisasie geskoei. Dit beteken ook maar soos in Suid-Afrika dat daar gerugte van korrupsie en selfs elemente van staatskaping voorkom.

Dié probleme is egter geensins vergelykbaar met dié in Suid-Afrika nie.

Namibië het sy eie EFF

Die ontwikkeling binne die Namibiese politiek en die onvermoë van die ekonomie om armoede te hanteer, het soos in Suid-Afrika ook tot die ontstaan van twee linkse, meer radikale, politieke partye aanleiding gegee. Die twee partye is ook soos in Suid-Afrika op radikalisme en radikale verandering gegrond.

Die Landless People’s Movement is een van diemeer radikale politieke partye in Namibië. Foto: Wikipedia

Die een party, Landless People’s Movement (Beweging vir Grondlose Mense), word deur Bernardus Swartbooi, voormalige Swapo-lid en adjunkminister, gelei. Soos uit die naam afgelei kan word, is dié party op grondhervorming ingestel.

Die tweede party wat ook op meer radikale veranderinge aandring is die Affirmative Repositioning Movement (Regstellende Herposisioneringsbeweging) van dr. Job Amupanda.

Dié twee partye verskaf ’n stem aan die grondloses en armes in die land en poog net soos die EFF in Suid-Afrika om politieke steun te werf met radikale linkse standpunte.

Raar maar waar, maar Namibië het sy eie ekonomiese vryheidsvegters – die Namibian Economic Freedom Fighters – maar dié party kon nog geen hond haaraf in die verkiesings maak nie.

Swapo, wat 84% van die steun in die 2014-verkiesing gekry het, sal waarskynlik weer tussen 80% en 85% van die stemme kry in die komende verkiesing. Foto: Wikipedia

Híer kan krake kom

Die intrinsieke voordeel wat die Namibiese grondwet inhou is dat daar in afsonderlike verkiesings vir die president en vir lede van die wetgewende gesag gestem kan word.

In Namibië, waar daar afsonderlik vir die staats- en regeringshoof gestem word ... kan jy teen die president stem as jy nie van hom hou nie.

In Suid-Afrika se parlementêre stelsel word daar met ’n enkele stem direk vir die wetgewende gesag gestem. Die leier van die sterkste, grootste politieke party in die algemene verkiesing word dan normaalweg as staats- en regeringshoof verkies.

Die nadeel van dié Westminster-gebaseerde stelsel is dat dit moeilik is om van korrupte, onbevoegde presidente, soos Jacob Zuma, ontslae te raak.

In Namibië, waar daar afsonderlik vir die staats- en regeringshoof gestem word (amper soos in die presidensiële stelsel in Amerika) kan jy teen die president stem as jy nie van hom hou nie.

Hierdie aspek is volgens waarnemers die een aspek waar daar moontlik krakies in die Swapo-muur kan kom.

Die rol van elites in ’n politieke party is geweldig belangrik, soos lank gelede deur Vilfredo Pareto en Gaetano Mosca in akademiese literatuur uitgewys is. Parento en Mosca se uitgangspunt was dat alle samelewings klein elites het, wat mag en gesag in politieke partye op grond van rykdom en prestige verkry. Die sosioloog Robert Michels het die argument verder gevoer met sy bekende dictum: “Wie organisasie sê, artikuleer oligargie.” In ander woorde, selfs sogenaamde demokratiese instellings, soos politieke partye, word deur elites beheer.

Die onafhanklike kandidaatskap in die presidentsverkiesing van dr. Panduleni Itula, ’n tandarts en Swapo-lid, kan interessante gevolge hê. Itula word openlik deur die Namibian Economic Freedom Fighters asook die Republikeinse Party gesteun. Foto: Wikipedia

Interne probleme in regerende elite?

Dit is in die komende presidentsverkiesing in Namibië, waar die situasie interessant kan wees en dit wil blyk asof daar krakies in die solidariteit van die regerende elite kan wees.

Daar het 11 kandidate vir die 2019 presidentsverkiesing geregistreer en die een naam op die lys van kandidate is interessant. Dit is ’n onafhanklike kandidaat wat steeds ’n Swapo-lid is, dr. Panduleni Itula, ’n tandarts van beroep.

Dit beteken geensins dat Geingob, wat in die vorige presidentsverkiesing 86,7% van die stemme op hom verenig het, se posisie in gevaar is nie.

Itula word openlik deur die Namibian Economic Freedom Fighters asook die Republican Party gesteun. Dit is natuurlik klein partye, maar met moontlike bykomende steun uit Itula se party (Swapo) kan sy steun in die presidensiële verkiesing moontlik dubbelsyfers haal.

Dit beteken geensins dat Geingob, wat in die vorige presidentsverkiesing 86,7% van die stemme op hom verenig het, se posisie in gevaar is nie. Die gevolg is eerder dat indien Itula en die ander nege kandidate se gesamentlike steun meer as 20 tot 25% is, Geingob se steun tot selfs so laag as 70% tot 75% kan daal.

Dit sou beteken dat Geingob se steun vanaf 86,7% tot tussen 70% en 75% geval het.

Indien Swapo in die verkiesing vir die wetgewende vergadering weer meer as 80% steun haal, en Geingob se steun daal relatief skerp met meer as 10%, mag dit op interne probleme binne die regerende elite dui.

Die potensiële krakie is beslis klein, maar indien dit nie besweer word nie, het krakies in politieke solidariteit die manier om groter te raak.

Net tyd sal leer, maar die moontlike diskrepansie tussen steun vir die president en die wetgewende gesag in ’n andersins hoogs voorspelbare verkiesing, kan baie interessant wees.

*Labuschagne is ’n emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Hage Geingob  |  Pieter Labuschagne  |  Swapo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.