Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Verkiesing: Pasop vir gevaartekens vir 'n revolusie

Die DA is beslis op ’n glibberige glybaan en dit is nie onrealisties dat die EFF oor vyf jaar sy plek in die opposisiebanke in die parlement kan inneem nie, skryf Pieter Labuschagne.

Julius Malema, leier van die EFF, wat gevaar spel vir politieke stabiliteit. Foto: Tebogo Letsie

Die algemene verkiesing van 2019 is nou iets van die verlede en die ANC het soos verwag met ’n krimpende meerderheid die verkiesing gewen. Dié party is egter diep in faksies verdeel en word deur enorme politieke en sosiaal-ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar.

Dit is duidelik dat pres. Cyril Ramaphosa se posisie as leier van die regerende party wankelrig is, en dat sy pogings om strydende faksies bymekaar te hou, sy toekomstige keuses gaan beïnvloed.

Die drie groot rolspelers – die ANC, DA en die EFF – het weer soos in vorige verkiesings amper 90% van die stemme op hulle verenig.

Die politieke en sosiaal-ekonomiese tektoniese plate in die land is besig om te skuif en politici behoort die volle implikasies daarvan te besef.

Dit is nie onmiddellik nodig om koalisies op nasionale en provinsiale vlak te vorm nie. Maar om te dink dit is “sake soos gewoonlik” ná die verkiesing, sou ’n fout wees. Dit waaroor ons ons moet bekommer, is iets oor wat nie direk in die uitslae weerspieël word nie. Die onderliggende politieke aspekte moet met groot erns bejeën word.

Met die dinamika van dié sosiaal-politieke faktore in gedagte, is dit duidelik dat toekomstige stabiliteit in die land ernstig bedreig gaan word.

Die politieke en sosiaal-ekonomiese tektoniese plate in die land is besig om te skuif en politici behoort die volle implikasies daarvan te besef.

Pres. Cyril Ramaphosa se posisie as ANC-leier is wankelrig. Sy pogings om strydende faksies bymekaar te hou gaan sy toekomstige keuses beïnvloed. Foto: Jabu Kumalo

Die betekenis van die 2019-verkiesing

Ontleed jy die konteks en dieperliggende aspekte van die verkiesing, is veral twee dinge duidelik. ’n Groot hoeveelheid kiesers het die verkiesing en ook die politieke partye as irrelevant beskou.

Die persepsie is dat politieke partye nie die land se politieke en sosiaal-ekonomiese probleme kan oplos nie. Die probleem is dat dit juis die jongmense is wat die swaarste deur die verslegtende omstandighede getref word. Dit verklaar waarom die jeug hulself van die verkiesing gedistansieer het. Hul toekomstige optrede en politieke verset hou die grootste bedreiging vir voortgesette stabiliteit in die land in.

’n Revolusie op grond van sielkundige en sosiaal-ekonomiese redes bly onwaarskynlik, maar die relatiewe deprivasie onder die jonger geslag is aan die toeneem. Relatiewe deprivasie ontstaan wanneer mense glo hulle kry minder as waarop hulle geregtig is. Die persepsie kan gegrond wees op gebeure in die verlede of die voordele wat ander groepe (lees blankes) ontvang of ontvang het. Dié soort vergelykings en opvattings lei tot politieke ontevredenheid en kan tot ’n soort “laegraadse revolusie” lei.

Die eerste teken van die manifestering van relatiewe deprivasie was die daling van die stempersentasie van 77% (2009) tpt 73% (2014) en uiteindelik tot 65% in die jongste verkiesing.

Apatie of vertrouensbreuk?

Dit word aanvaar dat kiesers-apatie in gevestigde demokrasieë plaasvind, wat voor die derde en vierde demokratiseringsgolwe in die 1970’s en in die 1990’s gedemokratiseer het.

In onlangse en jong demokrasieë soos Suid-Afrika, met ’n weerbarstige en dinamiese politieke kultuur, bied die teorie van kiesers-apatie nie ’n aanvaarbare verduideliking nie. In jong demokrasieë wat besig is om te konsolideer – en met sterk mededinging tussen die onderskeie partye – is die verwagting dat die stempersentasie veel hoër as 70% sal wees.

Die stempersentasie van slegs 65% stuur ’n sterk boodskap uit wat nie met kiesers-apatie verwar moet word nie. Dit is dat die huidige politieke partye nie langer ’n groot aantal kiesers aanstaan nie. Die persepsie is dat politieke partye nie die politieke wil of die vermoë het om veral die jeug se sosiaal-ekonomiese posisie te verbeter nie.

Die 235,472 kiesers wat verkies het om hul stembriewe te bederf, was niks anders as ’n protesstem nie.

Die 34 nuwe partye wat aan die verkiesing deelgeneem het, het dalk nie veel steun gekry nie. Dit bevestig egter wel dat die huidige groot partye hul simboliese status in die samelewing verloor het.

Die 235,472 kiesers wat verkies het om hul stembriewe te bederf, was niks anders as ’n protesstem nie. Die bedorwe briewe was kiesers se protes dat politieke partye irrelevant geraak het.

Die boodskap van die jeug is dat hul sosiaal-ekonomiese posisie in die land kritiek raak en dat hul vertroue in politieke partye en die demokrasie om iets aan hul te doen, afneem. Dit word weerspieël in die feit dat sowat 1 miljoen jongmense nie belanggestel het om vir die verkiesing te registreer nie.

Bykans twee derdes van die 9 miljoen stemgeregtigdes wat nie vir die verkiesing geregistreer het nie, was jonger as 30. Dit was veral die 18- en 19-jariges wat in groot getalle besluit het om nie te registreer nie. Dié daling van 47% in die groep is ’n aanduiding dat die demokratiese bestel waarvoor hul ouers geveg het, nie meer dieselfde simboliese waarde inhou nie.

Die apatie verteenwoordig ’n vertrouensbreuk en ’n kleiner geloof in die demokrasie, politieke partye en verkiesings en spruit direk uit die jong mense se verslegtende sosiaal-ekonomiese posisie in die land.

Die jeug se armoede moet dringend aandag kry.

Prof. Pieter Labuschagne

Die jeug is ontnugter en vyandig

Die vergrotende gaping tussen ryk en arm in die land word as die grootste politieke en sosiaal-ekonomiese bedreiging vir stabiliteit in die land beskou. Die groot probleem is dat dié “wat het” hoofsaaklik blank is, en dié “wat nie het nie” hoofsaaklik swart is.

Wat die gevaar verder verhoog is dat “dié wat nie het nie” die jonger swart jeug onder 34 jaar is – en dié groep word al hoe groter. Die jonger geslag tussen die ouderdom van 15 en 34 jaar is 20 miljoen en verteenwoordig reeds 36% van die totale bevolking.

Die politieke ontevredenheid onder dié groep kan gesien word aan die feit dat hulle in groot getalle geweier het om te registreer.

Die jeug se politieke ontevredenheid spruit uit hul haglike sosiaal-ekonomiese omstandighede en ’n werkloosheidsyfer van 55%. Een uit elke twee jongmense het dus nie werk nie.

Boonop leef 73,6% van swart kinders van nul tot 17 jaar oud in armoede, terwyl slegs 1.4% van wit kinders in dié kategorie val.

Die jeug se werkloosheidsyfer is verreweg die hoogste onder die swart bevolking en die laagste onder die wit bevolking waar dit maar 7% is. Die onewe verskil tussen die verskillende bevolkingsgroepe verpolitiseer die werkloosheidsprobleem.

Volgens Africa Check en Statistiek Suid-Afrika het die aantal kinders wat in armoede leef, van 63,7% in 2011 tot 66,8% in 2015 gestyg – en dis nou 68%. Boonop leef 73,6% van swart kinders van nul tot 17 jaar oud in armoede, terwyl slegs 1.4% van wit kinders in dié kategorie val.

Die swak vooruitsigte en die verslegtende sosiaal-ekonomiese posisie in ’n land wat gelooi word deur korrupsie en vermorsing van geld, verklaar deels waarom die jong mense nie politieke partye vertrou nie en nie aan verkiesings deelneem nie. Dit is nie omdat hulle in die gewone sin apaties is nie, maar omdat hulle ontnugter en selfs vyandig teenoor die huidige politieke orde en die verdeling van welvaart in die land is.

Gert van der Walt en sy agtjarige seun, Herman, stap in Brooklyn, Pretoria, se strate verby ’n EFF-plakkaat van Julius Malema. Foto: Deon Raath

Fluisteringe van ’n revolusie

Op die kort termyn is ’n revolusie nie ’n werklikheid nie. Ons moet egter die gevaartekens betyds raaksien en iets daaraan doen. Die jeug is arm en het beperkte vooruitsigte. Hul ervaring is dat blankes steeds in ’n groot mate welvaart in die land besit en beheer. Die realiteit is dat swartmense meer as tien keer armer is as witmense in Suid-Afrika.

Dit is baie gevaarlik in ’n land met soveel natuurlike hulpbronne en vrugbare landbougrond dat oneweredige besit op grond van ras steeds bestaan en verder versleg. Die jeug het twee keuses – laevlak-opstande soos diensleweringsbetogings of steun aan radikale politieke partye in die toekoms.

Die opkoms van die EFF as radikale party is wel geleidelik, maar hou ’n groot bedreiging vir stabiliteit in die land in. Die party se steun het van 6,35% in die verkiesing van 2014 tot 8,19% in die munisipale verkiesing van 2016 gestyg en staan ná die verkiesing van 2019 op 10,7%.

Die EFF spel gevaar vir politieke stabiliteit in die land en die ekonomiese situasie is tans broodnodige suurstof vir die party.

Die DA is beslis op ’n glibberige glybaan en dit is nie onrealisties om te vermoed dat die EFF oor vyf jaar hul plek in die opposisiebanke in die parlement kan inneem nie.

Die konflikpotensiaal onder die jeug is groot en die opvatting bestaan dat die ouer geslag en die politieke partye nie die antwoorde en oplossings kan of wil bring nie. Dit is waarom jongmense hulle toenemend tot die EFF sal wend of alternatiewe metodes gebruik – wat wissel van die sosiale media tot by diensleweringsbetogings. Die gevaar is dat die situasie kan eskaleer tot sterker proteste.

Daar rus dus ’n groot taak op die skouers van die regering om die ekonomie reg te ruk en werksgeleenthede te skep om die jeug se posisie te verbeter. Die huidige situasie is nie net plofbaar nie, dit is ook immoreel.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Pieter Labuschagne  |  Verkiesing 2019  |  Rewolusie  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.