Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Verkragting: Moenie slagoffers verloën nie

Wanneer iemand vermoor word of in ’n kaping sterf of ’n gesin word in ’n ongeluk uitgewis , gaan die gemeenskap se harte uit na die slagoffers en hul families, en medelye en gebede stroom in. Hoekom kry ’n vrou wat verkrag word nie dieselfde simpatie nie? vra Elsabé Brits.

gender verkragting
Grafika: iStock

Daar is baie empatie met slagoffers van geweldsmisdaad.

Behalwe as dit ’n verkragting is. Dán word vrae altyd oor die vrou gevra en sy kry nie outomaties medelye nie.

Ons is steeds vasgevang in ’n mentaliteit wat ’n vrou se seksuele optrede voor of gedurende ’n verkragting onder ’n vergrootglas plaas.

Waarom verwag die samelewing steeds van vroue en meisies om seksuele dade teen hulself te voorkom?

Alex Hepburn (23), ’n Australiese krieketspeler wat in Engeland gespeel het, het in die woonstel van sy Britse spanmaat Joe Clarke afgekom op ’n slapende vrou en haar doodluiters verkrag.

Dit was deel van ’n groter “speletjie”. Dié mans behoort aan ’n groep wat op WhatsApp die besonderhede deel van die vroue met wie hulle seks gehad het.

Die twee het ’n jaar tevore besluit om te kyk wie kan met die meeste vroue seks hê. Die slagoffer het wel ingestem om met Clarke seks te hê, waarna sy in die kamer aan die slaap geraak het.

Die Australiese krieketspeler Alex Hepburn wat weens verkragting vir vyf jaar tronk toe gestuur is. Foto: Getty Images

Hepburn het later die kamer binnegegaan en die slapende vrou verkrag.

Sy het wakker geword en eers toe sy sy Australiese aksent hoor, het sy besef dat dit nie Clarke is nie.

Clarke, wat besope was, het vroeër in die badkamer aan die slaap geraak.

Die vrou het gevlug uit die woonstel en ’n verbyganger in die straat het haar gehelp. Hepburn is nou vir vyf jaar tronk toe gestuur.

Die regter het hul speletjie as “pateties, seksisties en vuil” beskryf. Inderdaad.

Onsmaaklike reaksies op sosiale media

Maar kyk ’n mens na die reaksie op sosiale media teenoor die verkragtingslagoffer, besef jy waarom net 10% van verkragtings aangemeld word. En hoekom mans lig daarvan afkom en mense glo dat die vrou die “los slet is wat bekende sportsterre teister”.

Mense meen dat sy nie verkrag is nie – omdat sy aanvanklik geslaap het en niemand glo in hul slaap verkrag kan word nie. Natuurlik kan jy: Wanneer jy dronk is en/of ’n dwelmmiddel ingegee is, en wanneer die seksdaad begin wanneer jy slaap.

Gevalle waarin vrees veroorsaak dat die slagoffer glad nie kan beweeg nie, staan as toniese immobiliteit bekend. Net omdat so ’n vrou verlammend stillê, beteken dit nie dat sy tot die daad instem nie. Daar is ook gevalle waarin slagoffers hulle psigiatries heeltemal van hul omgewing dissosieer, wat veroorsaak dat die persoon nie reageer nie.

Dié feite inaggenome maak uitsprake oor die slagoffer se aanspreeklikheid nog erger.

Die punt is dat niemand verkrag mag word nie – al het sy geslaap of nie.

Nie net verloën julle jul eie susters in nood nie, maar ook jouself, jou ma, jou ouma en die miljoene vroue voor jou wie se liggame verskeur is. Daardie vroue wat met hulle lewe betaal het.

Van die reaksies was onder meer: “Daar is duisende vroue wat vals verkragtingsklagtes lê”; “As sy nie ‘ge-drug’ was nie, is die kanse goed dat sy ingestem het – verbaal of nie”; “Natuurlik weer ’n gold digger”; “Dié laat my dink aan my buurvrou wat so tekere gaan oor haar hoender wat weg is, ek weet nie waaroor die bohaai gaan nie, want die ding was nie eens lekker nie”; “Miskien was die ou nie welbedeeld nie”; “Vroue is Delilas . . . ; “Sy was so lus sy het nie eens wakker geword nie”.

Vroue (en kinders) word soms vertel dat ’n misdaad wat teen hulle gepleeg is, nie ’n “ware verkragting” is nie. Dit is een van die mites wat van een geslag na die volgende oorgedra word – soos ’n resep en die narratief wat baie fyn namens ons beheer word. Dit laat slagoffers in hulself en die afgryslike skending van hul menswees twyfel.

Vroue wat ander vroue spot, daaroor lag of dit betwyfel of ’n verkragting wel gebeur het, bemagtig verkragters deur die slut shaming van vroue en deur die slagoffers te blameer vir wat met hulle gebeur het.

Nie net verloën julle jul eie susters in nood nie, maar ook jouself, jou ma, jou ouma en die miljoene vroue voor jou wie se liggame verskeur is. Daardie vroue wat met hulle lewe betaal het.

Pa’s moet hul seuns reg grootmaak

Hoekom is ’n verkragtingslagoffer steeds in 2019 die “skuldige”? Beskuldigings soos dat dit haar skuld is omdat sy dronk was, sy geflankeer het, haar rokkie te kort was of dat dit laat in die aand was. Redenasies soos: “Sy is ’n tipiese hoer – haar ma moes haar beter geleer het.”

Mans is dronk, hulle flankeer laat in die aand en dring hulself genadeloos aan vroue op. Tog is dié gedrag aanvaarbaar, net omdat hulle mans is. Nonsens.

Die onus behoort nie op vroue en kinders te wees om te keer dat hulle verkrag word nie. Die onus berus op mans om nie te verkrag nie.

Dit is nie “die ma se werk” om haar kinders te leer om nie slagoffers van verkragting te wees nie. Dit is pa’s, broers en oupas se werk om seuns te leer om vroue waarlik as hul gelykes te respekteer en ontslae te raak van ’n patriargale stelsel wat die vertrapping van vroue aanmoedig.

Dit is mans wat hul vriende moet reghelp. Geen ma kan haar seun “reg grootmaak” as die pa haar die hele tyd ondermyn, verneder en homself as die “hoof van die huis en werkplek” beskou nie.

Hoe sal ’n seun ooit werklik sy ma, susters, ouma en uiteindelik sy eie vrou en dogters respekteer indien sy pa herhaaldelik om die braaivleisvuur grappies oor “dom vroue” en hul geslagsdele vertel? Of wanneer hy oor en oor hoor dat vroue seksuele gebruiksartikels is wat nie sy gelyke is nie?

In Suid-Afrika word elke jaar sowat 50 000 seksuele oortredings aangemeld. Navorsing het egter bewys dat dit net 10% van alle gevalle is. Die meeste vroue gaan nie na die polisie nie.

Dit is geld ook mans en seuns wat verkrag word – hulle sien nie kans vir die stigma wat aan hierdie misdaad kleef nie en om met ’n patriargale gemeenskap te worstel nie.

Die onus behoort nie op vroue en kinders te wees om te keer dat hulle verkrag word nie. Die onus berus op mans om nie te verkrag nie.

Elsabé Brits

In 1988 is die rolprent The Accused (met Jodie Foster in die hoofrol) uitgereik, wat gegrond is op ’n ware verhaal van drie mans wat ’n vrou verkrag in ’n kroeg ten aanskoue van ander mans wat hulle aanhits.

In die rolprent word vrouehaat, die blaam wat na die slagoffer geskuif word, beskamende vingers wat na die “slet” gewys word, en die ernstige psigiatriese impak op die slagoffer uitgebeeld.

Al is die fliek oud, gebeur dit wat The Accused uitbeeld, nog elke dag wêreldwyd. Dit is die soort rolprent wat ’n seun saam met sy pa moet kyk wanneer hy 18 jaar oud is.

Daarna behoort hulle ’n ernstige gesprek te hê oor hulself, oor ánder mans, en hoe om vir ’n vrou lief te wees.

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.