Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Versink in swak leierskap

Een van die kernprobleme waarom Suid-Afrika wegsak in rommelstatus, is die gebrek aan leierskap. Dis nie dat daar nie leiers is nie, dis net dat daar te veel van die verkeerde leiers is, skryf Jeanette de Klerk-Luttig.

Oudpres. Jacob Zuma, wat as leier ’n gebrek aan karakter en bevoegdheid getoon het.Foto’s: GALLO IMAGES

Suid-Afrika kwyn en sak verder weg in rommelstatus en een van die belangrikste redes daarvoor is die gebrek aan goeie leierskap.

Navorsing wys vertroue word direk gekoppel aan etiek – om die regte ding te doen, en bevoegdheid – om dinge behoorlik te kan doen.

Dit is in pas met Stephen Covey, ’n Amerikaanse leierskapskenner, se siening dat vertroue uit betroubaarheid ontwikkel en betroubaarheid direk afhanklik is van karakter en bevoegdheid.

Die afwesigheid van karakter en bevoegdheid is die oorsaak dat ander lande nie vertroue in ons het nie en nie seker is dat hulle hier veilige beleggings kan maak nie. Sonder vertroue kan geen ekonomie floreer nie.

Vier soorte leiers

Die twee onmisbare eienskappe van sterk leierskap is dus karakter en bevoegdheid. In die lig hiervan kan vier verskillende soort leiers onderskei word:

Suksesvolle leiers met sterk karakter asook die nodige bevoegdheid wat ’n positiewe impak maak, waar ook al hulle leiding neem.

Ons vorige ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, wat onlangs aan kanker oorlede is, was so ’n leier. In huldeblyke is hy geprys vir sy etiese en standvastige optrede en sy bydrae tot die stryd teen korrupsie. Hy is beskryf as ’n hardwerkende man van integriteit met onberispelike werketiek en professionaliteit wie se nugtere, standvastige en noukeurige stem dikwels geïgnoreer is.

Nog ’n voorbeeld van ’n suksesvolle leier is dr. Brand Pretorius, wat aan die hoof van Toyota Suid-Afrika en die McCarthy-groep gestaan het. Hy is ’n mens met ’n sterk karakter, skerp insig en talle vaardighede wat met integriteit, verantwoordelikheid, toewyding en harde werk ondernemings waarby hy betrokke was tot groot sukses gelei het.

Daar is ongelukkig ’n reusagtige en dringende tekort aan leiers in hierdie kategorie in ons land.

Ondoeltreffende leiers is diegene met karakter, maar met min bevoegdheid.

Hierdie tipe leiers het dikwels die neiging om vraagstukke uit te stel en nie besluite te neem nie. Hulle doen liewer niks uit laksheid of uit vrees om verkeerd te wees. Hulle weier om hul gemaksone te verlaat en hul grense te verruim.

Deur nie te groei nie en net stil te staan, kan ’n leier homself vinnig in die ondoeltreffende groep bevind en relevansie verloor. Sulke mense kan op persoonlike vlak vertrou word, maar nie op professionele vlak nie.

Hulle kan ons vriende wees, maar nie ons leiers nie. Ons het in ons skole, gemeenskappe en munisipaliteite leiers nodig met karakter, maar beslis ook met die nodige bevoegdheid en kundigheid om leiding te kan gee in die uitdagende tye waarin ons leef.

Mislukte leiers is diegene met gebrekkige karakter en ontoereikende bevoegdheid.

Hierdie leiers weier om verantwoordelikheid vir enigiets te neem, ignoreer enige negatiewe terugvoering en klou aan hul mag en posisie omdat hulle glo dat dit hulle toekom. Hulle voel hulle is geregtig op spesiale behandeling en ly dikwels aan grootheidswaan.

Hulle word gewoonlik nie leiers op meriete nie, maar op grond van hul verbintenisse met die “regte mense”.

Dr. Brand Pretorius, ’n voorbeeld van ’n suksesvolle leier wat sterk karakter het én bevoeg is om ’n verskil te maak.

Ons kan nie ’n goedfunksionerende staat bou as mense in verantwoordelike posisies geplaas word asof hulle met valskerms uit die lug val, terwyl hulle nie bevoeg is of karakter het nie.

Dit ondermyn vertroue en verlam elke vlak van ons staatsdiens en plaaslike regerings. Ongelukkig is daar in ons Suid-Afrika te veel voorbeelde van die soort leierskap om op te noem.

Onder die oneerlike en onbevoegde persone tel Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, wat nie matriek gemaak het nie, maar voorgegee het dat hy wel dié kwalifikasie het; Ellen Tshabalala, voormalige voorsitter van die SAUK-raad, wat onder eed gejok het oor haar BCom-graad van Unisa en Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wie se gebrek aan integriteit en bekwaamheid pynlik duidelik geword het tydens haar ondervraging by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Oudpres. Jacob Zuma is ’n tipiese voorbeeld van iemand met gebrekkige karakter en integriteit en met onvoldoende bevoegdheid om ’n posisie soos ’n staatshoof te beklee.

Voorbeeld na voorbeeld kan gegee word van mense in leierskapsposisies met gebrekkige karakter en onvoldoende bekwaamheid – en dit wys in die afwesigheid van resultate.

Voorbeeld na voorbeeld kan gegee word van mense in leierskapsposisies met gebrekkige karakter en onvoldoende bekwaamheid – en dit wys in die afwesigheid van resultate.

Prof. Mike Muller, voormalige direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie, beklemtoon die feit dat die grootste probleem van dié sektor swak leierskap en bestuur is, wat korrupsie moontlik maak.

Net so is korrupsie onder polisiegeneraals een van die hoofredes waarom daar ’n agterstand van meer as 117 000 DNS-toetsuitslae is en misdadigers los rondloop.

Ook in die departement van gesondheid lei wanadministrasie weens gebrekkige vaardighede en korrupsie – die gevolg van gebrekkige karakter – tot swak prestasie, onderbesteding en onreëlmatige uitgawes.

Gevaarlike leiers word gekenmerk deur gebrekkige karakter, maar het talle vaardighede en insig.

Hier is ’n kombinasie van korrupsie met bevoegdheid en intelligensie: ’n slim persoon met ongebreidelde ambisie, ’n obsessie met persoonlike verryking en mag en geen morele beperkings nie.

Soos skynbaar gebeur het met die inploffing van Steinhoff, help dit nie dat jy ’n briljante ouditeur aan hoof van ’n groot maatskappy is, maar jy is so briljant dat niemand agterkom dat jy gewetenloos oneerlik optree nie.

Theodore Roosevelt het gevaarlike leiers so beskryf: “Courage, intellect, all the masterful qualities, erve but to make a man more evil if they are merely used for that man’s own advancement.”

Maar wat kan gedoen word om hierdie situasie reg te ruk?

Moontlike oplossings

Maar wat kan gedoen word om hierdie situasie reg te ruk?

  • Daar moet doelbewus en vinnig ontslae geraak word van ongekwalifiseerde, onbevoegde en onetiese leiers en regeringsamptenare. Die toesmeer-kultuur moet vervang word met ’n kultuur van openbare verantwoordelikheid.
  • Slegs mense met die nodige ervaring, kennis, uitnemendheid en integriteit behoort in leierskapsposisies aangestel te word.
  • Daar moet konsekwent sigbare negatiewe gevolge wees vir immorele en onbevoegde gedrag op elke vlak. In dié verband was Richard Quest, TV-aanbieder en hoof van CNN se ekonomiese redaksie, se vraag in Davos aan die Suid-Afrikaanse afvaardiging hard en duidelik: “Julle hele ekonomie is gekaap en hoeveel mense is al in die tronk?”
  • Ook ouers en onderwysers het hier ’n rol te vervul. Skole behoort te fokus op die ontwikkeling van ’n prestasie-karakter en morele karakter van leerders, sodat moraliteit en bevoegdheid ontwikkel word.

Sonder gesonde leierskap sal al ons goeie planne net planne bly, die ekonomie nie groei nie, korrupsie bly floreer en sal Suid-Afrika ekonomies en moreel net verder terugsak.

  • Bron: Leading with Character and Competence (Timothy Clark, 2016)

Dr. Jeanette de Klerk-Luttig is ’n opvoedkundige verbonde aan die kantoor vir morele leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Leiers  |  Ministers  |  Kabinet  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.