Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Verskuiwings oor virus: ‘Moenie met vuur speel’

Die regering speel met vuur as hy mense wat in informele nedersettings woon, wil verskuif om te keer dat die Covid-19-pandemie versprei, waarsku die demograaf prof. Flip Smit. Sarel van der Walt het met hom gesels.

Die New Rest-informele nedersetting in Guguletu buite Kaapstad.Foto: Argief

“Het ons nie uit die foute van apartheid geleer nie?” wil Smit weet oor die uitlating van Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie en menslike nedersettings, verlede naweek dat die regering dit oorweeg om mense in 29 digbewoonde informele nedersettings (plakkerskampe) na ander plekke te verskuif indien nodig.

Altesame 17 plekke is al hiervoor geïdentifiseer, sê die minister.

“Dié soort optrede wys vir my die owerhede is onbeholpe om die verskynsel van informele nedersettings te hanteer. Die plan om die mense moontlik te verskuif is nie goed deurdink nie,” sê Smit.

Julle het die grond gered, maar die mense vernietig.

“Die verskuiwing van die mense uit die informele nedersettings kan dalk die verspreiding van die virus bekamp, maar dit sal vir die mense en die gemeenskappe wat hier woon, traumatiese gevolge hê.

“Dit sal vir hul voel soos die verpligte verskuiwings in die dae van apartheid,” waarsku hy.

“In die voormalige tuislande is mense in ’n stadium na landboudorpies verskuif om gronderosie te bekamp. ’n Kundige het toe opgemerk: ‘Julle het die grond gered, maar die mense vernietig.’ ”

‘Gevolge van apartheid-verskuiwings nou nog gevoel’

Die bekende foto van die gedwonge verskuiwings in Sophiatown, Johannesburg, pryk teen die muur van die Trevor Huddlestone-gedenksentrum. Foto: Gallo Images

“Mense en gemeenskappe kan nie soos beeste, skape en bokke verskuif word nie.

“Die sosiale ontwrigting en maatskaplike gevolge van gemeenskappe wat in die apartheidsjare gedwonge verskuif is, sal nog dekades lank gevoel word.

“Net soos die verstedelikingsproses in die apartheidsera politiek-ideologies gedrewe was, is die behuisingsvoorsiening en verskuiwing van mense deur die ANC-regering sosialisties-polities gerig.”

Dit is dieselfde ANC wat in 2009 verklaar het dat daar teen 2014 geen informele nedersettings meer in die land sal wees nie.

“Ideologiese politiek loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis van verstedeliking in Suid-Afrika. Dit kom al van die Britse koloniale tydperk af,” sê Smit.

“Waar verstedeliking normaalweg ’n vrywillige ekonomiese en maatskaplike verskynsel is, is dit in Suid-Afrika deur instromingsbeheer, trekarbeid, die Groepsgebiedewet en die illusie van tydelikheid gerig.

“Die ekonomiese probleme ná die Tweede Wêreldoorlog en veral in die 1960’s en 1970’s het die vinnige instroming van swart werkers veroorsaak. Dit het daartoe gelei dat onwettige strukture in die agterplase van huise in die townships opgerig is.

“Dit het ook tot die ontwikkeling van verskeie plakkersgebiede in die Witwatersrand-gebied gelei.

“In kort, ons stede en dorpe is feitlik almal in ’n krisis en eenvoudig nie in staat om die informele nedersettings te hanteer nie.”

Smit wys daarop dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, verlede maand op ’n indaba oor menslike nedersettings gesê het dat die land se stede en dorpe weens die groot getalle mense wat uit die platteland migreer uit hul nate bars. “Hulle (die dorpe en stede) is eenvoudig nie ontwerp om hierdie invloei te hanteer nie,” het Dlamini-Zuma gesê.

Dié nedersettings is ‘gom’ wat oorgangsgebiede help

’n Lugfoto van Khayelitsha buite Kaapstad. Foto: Gallo Images

Smit sê informele nedersettings is “nie net broeiplekke vir misdaad nie”.

“In dié nedersettings is netwerke van mense en gemeenskappe gevestig wat die spreekwoordelike gom verskaf om dié gebiede as oorgangsgebiede tussen die platteland en stede aanmekaar te hou.

“Soos in die res van die wêreld moet ons beplan vir die plakkers, en dienste voorsien op die erf-en-dienste-grondslag waar titelaktes toegeken kan word.

“Gemeenskappe en politieke partye oor die kleurgrense heen moet betrek word en stel mense in staat om hul eie huisvesting te voorsien,” sê Smit.

Ons het nuwe denke oor verstedeliking nodig.

Dié voormalige rektor van die Universiteit van Pretoria het in die era van die eertydse eerste minister wyle John Vorster as ’n raadgewer van die regering oor verstedeliking opgetree.

Hy het destyds ’n beroep gedoen op Vorster om die skepping van informele nedersettings met die lewering van die nodige dienste toe te laat.

Vorster wou niks daarvan weet nie omdat hy gesê dit “sal heuningpotte verskaf”.

Jare later het dr. Gerrit Viljoen, ’n latere minister van staatkundige ontwikkeling, teenoor Smit erken dat dit ’n fout was om nie gedienste informele nedersettings daar te stel nie.

Nuwe denke oor verstedeliking nodig

Gedwonge verskuiwings in Vrygrond naby Muizenberg het verlede jaar tot onrus gelei. Foto: Gallo Images

“Ons het nuwe denke oor verstedeliking nodig. Die bou van gratis Hop-huise is nie volhoubaar nie.

“Dit kweek ’n afhanklikheidskultuur, terwyl bedrog hoogty vier,” maan Smit.

Hy sê die wetlike erkenning van ’n informele nedersetting deur die regering – en al die mense van die land – is ’n voorvereiste vir suksesvolle opgradering.

“Die regering het in 2004 ’n beleid van die opgradering van informele nedersetting aangeneem, maar dit kom baie stadig van die grond af. Tog word daar in die Wes-Kaap aansienlike vordering hiermee gemaak en die klem lê hier op die erf-en-diensskema.”

In Afrika woon die inwoners van meer as 70% van stede en dorpe in plakkersgebiede.

Van die wêreldbevolking van 7 miljard mense, woon sowat 1 miljard in informele nedersettings. Dié syfer sal waarskynlik in die volgende 20 jaar verdubbel.

“In Afrika woon die inwoners van meer as 70% van stede en dorpe in plakkersgebiede,” sê Smit.

Van Suid-Afrika se totale bevolking van 58 miljoen mense, woon 70%, oftewel 40 miljoen, in stede en dorpe. Altesame 40% van die bevolking woon in die land se agt metrogebiede wat 60% van die land se ekonomie genereer.

Die grootste verstedeliking kom in Gauteng, die Wes-Kaap en die Durban/Pinetown-omgewing in KwaZulu-Natal voor.

“Normaalweg vind verstedeliking as gevolg van ekonomiese ontwikkeling plaas. Die proses in Suid-Afrika het heel anders verloop en kan daarom tereg as die ‘verstedeliking van armoede’ beskryf word.”

Dít het verstedeliking in SA aangehelp

Suid-Afrikaanse dorpe en stede was nie in staat om die nuwe instromelinge van huisvesting en die nodige dienste te voorsien nie. Die gevolg was dat informele nedersettings oral soos paddastoele opgeskiet het.

Die afskaffing van instromingsbeheer in 1986, die verwagtinge wat ná oudpres. FW de Klerk se belangwekkende toespraak op 2 Februarie 1990 geskep is, die koms van demokrasie in 1994, die huiwering van die ANC-regering om op te tree teen onwettige immigrante uit ander Afrika-lande, die beloftes van gratis huisvesting en die ekonomiese ineenstorting van Zimbabwe ná 2000 het baie tot die verstedelikingsprobleem in Suid-Afrika bygedra.

Dit het op verskeie gebiede ’n ernstig gevolg vir die land gehad.

Daar is 629 informele nedersettings in Gauteng, 635 in die Wes-Kaap en 148 in die Vrystaat.

“Suid-Afrika het ’n keuse: Stel oop stukke grond beskikbaar, veral dié nader aan mense se werkplekke, en voorsien dit van basiese dienste op die erf-en-diensgrondslag sodat vestiging ordelik kan geskied, óf loop die gevaar dat mense feitlik oornag onwettige oop stukke grond sal beset – soos wat onlangs in Hermanus en in ander stede en dorpe in die land gebeur het.

“Volgens die sensus van 2011 was daar 1,9 miljoen informele huise. Dié getal het intussen gegroei tot 2,3 miljoen, waarin 7 miljoen mense woon.”

Smit sê Sisulu het verlede jaar in antwoord op ’n parlementêre vraag gesê daar is 629 informele nedersettings in Gauteng, 635 in die Wes-Kaap en 148 in die Vrystaat.

In die Kaapstad-metro se gebied is 377 van dié nedersettings en in Tshwane 113.

‘Hop-huise nie ekonomies volhoubaar’

Prof. Flip SmitFoto: Argief

Smit sê Sisulu het onlangs gesê die ANC-regering het die afgelope sowat 26 jaar 4,5 miljoen huiseenhede gebou.

Hy wys daarop dat Suid-Afrika waarskynlik naas Noord-Korea die enigste land in die wêreld is wat gratis huisvesting aan sy mense verskaf.

“Daar bestaan geen twyfel nie dat dié behuisingsvoorsiening die lewens van miljoene arm mense drasties verbeter het nie. Ongelukkig is die voorsiening van gratis huise nie volhoubaar nie.”

Die nadeel hiervan is dat dit ’n afhanklikheidskultuur by baie Suid-Afrikaners geskep het, terwyl baie kommentators meen dat begunstigdes uit vrees dat hulle hul huise kan verloor, altyd vir die ANC sal stem.

“Mense se mobiliteit word beperk omdat die bewoners daarvan eers ná agt jaar die huis kan verkoop, sowat 40% van die begunstigdes ontvang maatskaplike toelaes en kan nie bekostig om vir elektrisiteit en ander dienste te betaal nie.

“Die gevolg is dat hulle ’n las vir plaaslike owerhede word.

“Voorts is daar groot korrupsie met die toekenning van huise en die verkoop daarvan, kontrakteurs gebruik swak boumateriaal, van die inwoners onderverdeel die erwe waarop die huise staan, of verhuur die huis en gaan woon dan self in ’n informele gebied,” sê Smit.

“In die huidige ekonomiese klimaat is die gratis voorsiening van huise nie volhoubaar nie. Daar is reeds ’n afplatting hiervan in ’n paar provinsies.

Huislenings en titelaktes is nodig

“ ’n Huislening en ’n titelakte is die grondslag vir welvaartskepping.

“Navorsing van die Verenigde Nasies en die Wêreldbank wys dat mense vir niks so graag spaar as om ’n eie huis te besit nie,” sê Smit.

“As mense toegelaat en deur die staat, die private sektor en individue gehelp word om self huise te bou, kan dit werkloosheid help oplos en ekonomiese groei stimuleer. Dit het al in baie ander lande gebeur.”

* Van der Walt is ’n politieke joernalis van Netwerk24.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.