Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Versprei boodskap van hoop teen ‘tweede pandemie’

Oktober is ons land se Psigiese Gesondheids-bewustheidsmaand. Veral in die tyd van Covid-19 kan jy bydra tot ’n gesonder Suid-Afrika, skryf Lizette Rabe.

Lede van Just Walk Boston, wat help om swart gemeenskappe en noodsaaklike werkers fiks te hou tydens die pandemie, tydens ’n weeklikse stapsessie in Franklin Park in hierdie stad. Die slagspreuk van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir vanjaar se Geestesgesondheids-bewusmakingsveldtog is “Move for mental health: let’s invest”. Foto: The Boston Globe via Getty Images

Die slagspreuk van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir vanjaar se Psigiese Gesondheidsbewusmakingsveldtog is “Move for mental health: let’s invest”. In die woorde van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se direkteur-generaal, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, nou al ’n bekende met sy gereelde TV-bywerkings oor die pandemie, is dit ’n geleentheid vir die wêreld om die “historiese verwaarlosing van geestesgesondheid te herstel”.

Dit beteken dat ook jy vanaf vandag, die eerste dag van Oktober, ’n hele maand het om ’n verskil te maak. En met die lente wat nou regtig rondom ons blom, is dit ook tyd dat jy uit hierdie verskriklike Covid-19-winterslaap breek en ’n nuwe begin maak deur jou deel te doen vir ’n gesonder omgewing, veral onder hierdie slegte omstandighede.

Oktober is verlede jaar vir die eerste keer in Suid-Afrika tot psigiese gesondheidsbewusmakingsmaand verklaar, juis om die belangrikheid van geesteswelsyn te beklemtoon. Die WGO het al byna dertig jaar gelede 10 Oktober as Wêreld Psigiese Gesondheidsbewusmakingsdag verklaar. Maar veral vir vanjaar vra die WGO dat veel meer in geestesgesondheid belê moet word. Die WGO-veldtog “Move for mental health: let’s invest” is juis ook bedoel dat die publiek moet deelneem.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, sê die gevolge van die Covid-19-pandemie kan reeds op mense se geesteswelsyn gesien word – “en dit is maar net die begin”. Foto: Peace One Day via Getty Images

Volgens Ghebreyesus kan die gevolge van die Covid-19-pandemie reeds op mense se geesteswelsyn gesien word – “en dit is maar net die begin”. Hy beklemtoon dat, tensy “ernstige” beleggings in geestesgesondheid dringend gemaak word, die gevolge “verreikend” sal wees.

Inderdaad, met die fisieke, ekonomiese, sosiale en politieke gevolge van die pandemie op soveel vlakke – selfs in die opbloei van samesweringsteorieë – is dit geen wonder dat ons dubbel vou onder die las nie. Wat beteken dat daar dringend gefokus moet word op die “tweede pandemie”, naamlik dié van geestesiektes.

’n Stille pandemie

Die plundering van begrotings in Suid-Afrika bedoel vir die pandemie en ’n reeds gestresde gesondheidsomgewing het ’n ontnugterende uitwerking op ons nasionale gemoed gehad. Inderdaad, die nasie kry swaar. Van hartseer oor gestorwe geliefdes weens Covid-19, tot werkverlies, tot vermindering van inkomste, en ook die vrees vir die finansiële toekoms van ons land. En ons almal ervaar onsekerheid en eensaamheid in hierdie onvoorsiene tydperk in ons lewens.

Jy is nooit te oud om te beweeg nie! Phyllis Anzalone (89) en Helen Bass (90), inwoners van Rogerson House in Boston in die VSA, doen ’n jogaklas tydens die inperking. Foto: The Boston Globe via Getty Images
Gesondheidswerkers, party in beskermende toerusting, lei ’n jogaklas in die vrouesaal by ’n versorgingsentrum in Nieu-Delhi, Indië. Foto: Hindustan Times via Getty Images

Dit is waarom Oktober as maand vir bewusmaking van geestesgesondheid nie ’n sekonde te vroeg kon kom nie. Ons moet nou aandag gee aan hierdie tweede pandemie, veral omdat dit ’n “stille pandemie” is. In Suid-Afrika is Oktober bewusmakingsmaand, aldus die regering se webwerf, “nie net om die publiek te leer oor geestesgesondheid nie, maar ook om die stigma en diskriminasie waaraan mense met geestesiektes blootgestel word, te verminder”.

Byna 1 miljard mense leef met ’n geestesiekte, met 3 miljoen wat jaarliks weens die misbruik van alkohol sterf.

Met Covid-19 ’n baie werklike gevaar vir elke aspek van ons bestaan, is dit belangriker as ooit om te besef wat die sielkundige gevolge daarvan kan inhou, veral met die virus wat vrugbare grond vir geestesiektes was.

Volgens die WGO se verklaring vir vanjaar se veldtog is geestesgesondheid een van die mees verwaarloosde areas van openbare gesondheid. Byna 1 miljard mense leef met ’n geestesiekte, met 3 miljoen wat jaarliks weens die misbruik van alkohol sterf. Daar word beraam dat jaarliks tussen 800 000 en ’n miljoen mense sterf weens ’n geestesiekte wat fataal ontwikkel en tot selfdood gelei het.

Die wil om te belê

Prof. Lizette Rabe. Foto: Denzil Maregele

En nou, sê die WGO, is “miljarde mense wêreldwyd deur die Covid-19-pandemie geraak”, met ’n ernstige invloed op geestesgesondheid. Terselfdertyd is daar ’n groot gebrek aan toegang tot geestesgesondheidsdienste. In lande met ’n lae tot medium-inkomste ontvang meer as 75% van diegene met psigiese, neurologiese en dwelmmisbruik-versteurings glad nie behandeling nie. En stigma, diskriminasie en menseregteskendings weens hierdie siektes is algemeen. Boonop het Covid-19 die reeds beperkte toegang tot bekostigbare geestesgesondheidsorg verder verminder.

Daarom vra die WGO vir ’n “massiewe verbetering” van begrotings. Mense moet ook bewus gemaak word van die feit dat dit kliniese, biologiese siektes is sodat die stilte en die stigma verbreek kan word. Dit ís behandelbare siektes, en simptome moet herken word sodat hulp gekry kan word om ’n lewe van goeie gehalte te kan lei.

Volgens die WGO bestee lande gemiddeld slegs 2% van hul gesondheidsbegrotings aan geestesgesondheid. Internasionale ontwikkelingshulp vir geestesgesondheid het nog nooit meer as 1% van álle hulp vir gesondheid oorskry nie. Tog het syfers in die VSA getoon dat daar vir elke $1 wat belê word in die behandeling van algemene geestesiektes soos depressie en angs, $5 in verbeterde gesondheid en produktiwiteit teruggekry word.

Dit is duidelik dat finansiële steun vrugte afwerp. Maar eers moet daar ’n wil wees om te belê. En dit is waar elkeen van ons ’n verskil kan maak. Of soos die WGO dit formuleer: Om iets “lewens-bevestigends” te doen.

’n Boodskap van hoop

’n Groep wat verlede jaar as superhelde aan die Hope Hike in Stellenbosch deelgeneem het ter bewusmaking van geestesgesondheid.

As individue kan ons deur selfsorg ons eie psigiese balans handhaaf en familie en vriende ondersteun. As werknemers, veral onder die tuiswerkstelsel, moet ons ook na mekaar omsien. Behalwe vir personeelsorgprogramme moet ons ook na mekaar uitreik buite-om al daardie aanlyn vergaderings. En ja, regerings moet hulself baie meer daartoe verbind om dienste vir geestesgesondheid te lewer.

Maar wat kan jy doen om “te beweeg vir geestesgesondheid”?

Wel, jy kan sommer al hierdie Sondag deelneem aan die jaarlikse Hoop Hike en Hoop Bike. Vanjaar is dit virtueel, wat beteken dat jy net by jou voordeur kan uitstap om te begin “beweeg vir geestesgesondheid”. Die Hoop Hike, en die Hoop Bike vir bergfietsgeesdriftiges, op 4 Oktober, beteken jy het die hele res van die maand om die boodskap van hoop te versprei. Dit word georganiseer deur die Ithemba-stigting (www.ithembafoundation, ithemba beteken hoop), ’n nie-winsgewende-organisasie met twee doelstellings, naamlik die bewusmaking van geestesgesondheid, spesifiek depressie en verwante siektes soos angs, en om navorsing te steun.

Komaan, word ’n ambassadeur van hoop en maak ’n verskil. En onthou, in die woorde van Barack Obama: “Aan almal daar buite wat swaar kry: Dit is nie ’n teken van swakheid om hulp te vra nie. Dit is ’n teken van krag.”

*Lizette Rabe, professor aan die Universiteit Stellenbosch, is stigter van die Ithemba-stigting. Die 2020 Hoop Hike en Hoop Bike sal vanjaar virtueel wees, wat beteken dat enigiemand, enige plek, ’n verskil kan maak. Tien draagbare fiksheidstoestelle is op die spel in ’n gelukstrekking as jy jou selfie op Ithemba se Facebook-bladsy plaas. KLik hier vir meer inligting of e-pos ithembafoundation@mweb.co.za.

Vir hulp en inligting

Lifeline 24-uur-krisislyn: 0861 322 322

Soek ’n sielkundige of psigiater in jou omgewing: www.mentalhealthsa.org.za

SADAG: 24-uur-hulplyn: 0800 456 789, 0800 567 567, of SMS 31393

World Health Organisation

SA Federation for Mental Health


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.