Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vervreem ANC-oorheersing mense van demokrasie?

Is Suid-Afrika nie maar in werklikheid ’n eenpartystaat met al hoe meer mense wat van die demokrasie vervreem word nie, vra Pieter Labuschagne.

Kiesers staan tou om in verlede jaar se algemene verkiesing te stem. Foto: Gallo Images

Die herdenking van oudpres. FW de Klerk se historiese toespraak van 30 jaar terug behoort ook nou weer tot die verlede. Die volgende mylpaal is waarskynlik in April 2024 wanneer Suid-Afrikaners drie dekades van demokrasie sal vier.

Die kernvraag ná amper 30 jaar van demokrasie onder ’n ANC-regering is of die demokrasie in Suid-Afrika verdiep het.

Daar word minstens gehoop dat demokrasie op alle regeringsvlakke gekonsolideer het en dat die mense van die land grondige, substantiewe demokrasie ervaar.

Of is die teendeel waar? Dat demokrasie in dié bykans drie dekades onder beheer van een party wat alles oorheers geleidelik verskraal of vervlak het?

Is daar dalk al tekens dat Suid-Afrikaners nie langer die regerende party se politieke vermoë en wil om ’n substantiewe demokrasie te vestig, vertrou nie?

Kiesers se moontlike onttrekking (“disengagement”) van demokratiese en staatkundige prosesse kan een van die duidelikste tekens wees dat die demokrasie inderdaad vervlak het.

Outoritêre tendense en meerderheidspartye

ANC-ondersteuners vier hul party se oorwinning in verlede jaar se algemene verkiesing. Foto: Gallo Images

Thomas Pempel skryf in sy boek Uncommon Democracies (1990) dat wanneer daar geen of min vooruitsigte in ’n land is dat die regerende party vervang kan word nie, dit uiteraard kommerwekkende vrae oor die lewensvatbaarheid van die land se demokrasie skep.

Ná demokratisering is die ANC in ses algemene verkiesings nog nooit werklik uitgedaag nie. Dié ANC se steun het wel van die hoogtepunt van 69,6% in 2004 tot 57,5% in die verkiesing van 2019 gedaal, maar dié party sit andersins nog stewig in die saal.

Sy grootste teenstander en die amptelike opposisie in die parlement, die DA, se steun het verlede jaar met 1,3% tot 20,7% gekrimp, terwyl die verwagting was dat sy steunvlakke tot bokant 30% sou groei.

Die werklikheid is dat Suid-Afrika te doen het met die de facto-institusionalisering van ’n eenpartystaat met beperkte vooruitsigte vir ’n verandering in regering. Dit is inderdaad kommerwekkend vir diegene wat graag die verdieping van demokrasie en veelpartydemokrasie in die land wil sien.

Is daar dan tekens in die samelewing dat sommige kiesers hul vertroue in die demokratiese stelsel verloor? Is daar werklik waarneembare tekens dat moontlike kiesers wegbeweeg of onttrek van die politieke stelsel?

Prosedurele of substantiewe demokrasie

’n Kieser trek haar kruisies met verlede jaar se verkiesing. Foto: Gallo Images

Voordat daar na sigbare bewyse van demokratiese onttrekking of vervreemding gekyk word, is dit eerstens belangrik om aan te dui wat met demokrasie bedoel word.

Wanneer die “diepte” van demokrasie bepaal word, moet demokratiese variante eerstens op ’n spektrum geplaas word.

Die prosedurele vorm van demokrasie is aan die een kant van die spektrum en substantiewe demokrasie aan die teenoorgestelde kant.

Met prosedurele demokrasie word bedoel dat die demokrasie bloot elke vyf jaar as ’n sikliese meganisme gebruik word om poste op verskillende regeringsvlakke te vul. Dit is dus bloot ’n prosedure en meganiese proses om mense te verkies.

As demokrasie in die algemeen as “regering deur die mense” beskou word, beteken dit dat die belange van die kieser deurentyd sentraal in die proses sou staan.

As iemand werkloos is en in ’n plakkerskamp bly, kan tereg gevra word of hy of sy voldoende bemagtig is om sinvol aan ’n verkiesing deel te neem.

Met die prosedurele demokrasie is inwoners egter net die middelpunt wanneer daar gestem moet word. Ná die verkiesing word die kieser weer tot langs die politieke kantlyn uitgeskuif.

Daarenteen is kiesers in ’n substantiewe demokrasie deurentyd die middelpunt en word hul maatskaplike en sosio-ekonomiese belange deurlopend op die voorpunt gestel.

In ’n substantiewe demokrasie word daar op só ’n manier na die materiële en nie-materiële behoeftes van al die inwoners van ’n land, én veral dié van die armes, omgesien dat hulle bemagtig word om op sinvolle wye aan die demokrasie te kan deelneem.

As iemand werkloos is en in ’n plakkerskamp bly, kan tereg gevra word of hy of sy voldoende bemagtig is om sinvol aan ’n verkiesing deel te neem. Is so ’n persoon in ’n posisie waarin hy of sy aktiewe deelname in en interaksie met die demokratiese verkose regering kan hê?

Die antwoord is natuurlik nee en dit lei daartoe dat die armste deel van die gemeenskap meestal elke vyf jaar net deel van die meganiese prosedurele proses vorm. Die kieser stem met die vae hoop dat sy of haar maatskaplike en sosio-ekonomiese situasie eendag sal verbeter.

Tekens van onttrekking

Betogings oor ’n gebrek aan dienslewering is deesdae algemeen in Suid-Afrika. Dié foto is by ’n onlangse betoging in Diepsloot geneem. Foto: Felix Dlangamandla

Is daar wel duidelike tekens dat kiesers hulle van die demokratiese proses en die regerende party distansieer? Is daar in Suid-Afrika waarneembare frustrasie onder kiesers en onttrek hulle hul van die politieke stelsel?

En is daar wel sigbare tekens dat die ANC-regering ná amper drie dekades van monopolistiese beheer nie langer op grond van die belange en die eise van die samelewing regeer nie?

Dié tekens bestaan wel:

* Politieke geskille word in die hof besleg waar opposisiepartye, burgerregte-organisasies en individue hulle uit frustrasie tot die howe wend omdat die ANC bloot sy parlementêre meerderheid gebruik om minderheidsbelange en eise te frustreer.

Die sterkste tekens dat Suid-Afrikaners hulle van die demokraties-politieke stelsel onttrek, is onder die jeug sigbaar.

* Die daling in die aantal kiesers wat vir verkiesings registreer en geregistreerde kiesers wat wel die moeite doen om te gaan stem. In die verkiesing van 1994 het 86,9% van die geregistreerde kiesers gestem. Dié syfer het vyf jaar later tot 89,3% gestyg. Daarna het dit geleidelik tot vlakke van onder 70% gedaal. Verlede jaar se 65,9% was die laagste syfer tot nog toe. Dit beteken dat 34% – een uit elke drie geregistreerde kiesers – nie die moeite wou doen om te stem nie.

* Die geweldige toename in die stigting van nuwe politieke partye. In die eerste paar jaar ná demokratisering is daar verwag dat nuwe partye gestig sou word. Die wêreldwye tendens is gewoonlik dat die stigting van nuwe partye dan daarna sou daal tot nie meer as vyf of ses met elke verkiesingsiklus nie. In Suid-Afrika is die syfer egter besig om te styg. In die verkiesing van 2014 is 14 nuwe partye gestig en in die verkiesing van 2019 het dié getal tot 28 verdubbel.

* Die sterkste tekens dat Suid-Afrikaners hulle van die demokraties-politieke stelsel onttrek, is onder die jeug sigbaar. In net een verkiesingsiklus (van 2014 na 2019) het die getal kiesers in die ouderdomsgroep van 18-19 jaar wat geregistreer het, van 646 313 tot 341 235 gedaal. Dit is ’n daling van 47%. Daar bestaan duidelike bewyse dat die jeug verkies om op sosiale platforms hul politieke eise te stel en nie meer via formele prosesse nie.

’n Bord met uitslae by die Onafhanklike Verkiesingskommissie se hoofkantoor in Pretoria tydens verlede jaar se verkiesing. Foto: Deaan Vivier

* Die getal bedorwe stembriewe in verlede jaar se verkiesing was 235 472 wat dit die vyfde sterkste “party” in die land maak! ’n Groot deel van sulke bedorwe stembriewe is protesnotas.

* Diensleweringsbetogings is die sigbaarste uitdrukking van frustrasies teenoor plaaslike besture en die regering omdat daar nie aan mense se eise gehoor gegee word nie. Die frustrasies kook oor in klipgooiery, paaie wat versper word en die verbranding van buitebande. Die aantal diensleweringsbetogings het van 34 in 2005 tot 237 in 2018 toegeneem en in 2019 effens tot 2018 gedaal.

* Verskeie opnames wat deur die Edelman Trust gedoen is, toon dat die vertroue van Suid-Afrikaners in die regering tot onder die vlak van 20% gedaal het. Die Afrobarometer se opname het gewys dat een uit elke twee mense dink die regering hanteer hulle nie met respek nie.

Kiesers het dus nie meer veel vertroue in die regering nie. Dit groot probleem is, soos Pempel uitgewys het, die voortgesette oorheersing van een party wat volgens alle aanduidings nie sommer vervang sal kan word nie.

Wanneer ’n regerende party kwesbaar en onseker oor sy posisie voel – én hy dalk hy in ’n volgende verkiesing demokraties vervang kan word – is hy gewoonlik meer ontvanklik vir die samelewing se eise.

Só word daar van prosedurele na substantiewe demokrasie beweeg – iets wat die mense van Suid-Afrika dringend nodig het.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Pieter Labuschagne  |  Suid-Afrika  |  Demokrasie  |  Kiesers  |  Politieke Partye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.