Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Verwoerd: ‘Moenie ping-pong speel met pyn’

Ons moet versigtig wees om nie polities ping-pong te speel met mekaar se pyn nie, het Wilhelm Verwoerd in ’n gesprek op die Suidoosterfees in Kaapstad gesê. Murray La Vita doen verslag.

Die skrywer en televisie-aanbieder Heindrich Wyngaard het die gesprek Vrydag op die Suidoosterfees gelei. Die ander paneellede was Haji Mohamed Dawjee en dr. Wilhelm Verwoerd. Die geskiedkundige prof. Bill Nasson kon weens siekte nie aan die gesprek deelneem nie. Foto: Jaco Marais

Die nagevolge van dekades van gemilitariseerde manlikheid en die sogenaamde grensoorloë, het ’n geweldige invloed op mense se onvermoë om werklik empatie te hê met die pyn van die breër gemeenskap, aldus Verwoerd.

Hy was deel van ’n paneel wat aan die Jakes Gerwel-stigting se gesprekkereeks op die Suidoosterfees in die Kunstekaap deelgeneem het. Die onderwerp van Vrydag se gesprek was: Wie is ons en maak dit saak?

“Ek dink daar is ’n klomp werk om te doen vir ons as wit Suid-Afrikaners met betrekking tot daardie nagevolge. Dit het impak op hoe vroue hanteer word, dit het impak op kinders, dit het impak op ons algemene geneigdheid om terug te trek in ons laers en agter ons mure – veral in die wit gemeenskap.

“So as ons nie dié dinge – manlikheid, gemilitariseerdheid, trauma, groepsdinamika in verwonde gemeenskappe – verstaan nie, gaan ons polities baie oppervlakkig begin ping-pong speel met mekaar se pyn en dan gaan ons op die ou end nêrens kom nie,” het Verwoerd gesê.

Hy is ’n filosoof, skrywer, en kleinseun van dr. H.F. Verwoerd, en is verbonde aan die Sentrum vir Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch as ’n navorser en fasiliteerder.

Wat beteken 27 April 1994?

Hadji Mohamed Dawjee: “Wit mense moet regtig met mekáár begin praat in plaas van met en oor en namens mense van kleur . . .” Foto: Jaco Marais

Die gespreksleier Heindrich Wyngaard het aan Verwoerd en sy mede-paneellid Hadji Mohamed Dawjee, skrywer, joernalis en rubriekskrywer, gevra wat 27 April vir hulle beteken aangesien dit nou 25 jaar is sedert die land se eerste demokratiese verkiesing.

Verwoerd: “Ek is op die punt waar ek nie meer praat van post-apartheid Suid-Afrika nie, maar post-1994 Suid-Afrika, want ek dink ons ís nog nie in post-apartheid Suid-Afrika nie.

“As jy kyk na die wérklike omstandighede van die meeste mense in hierdie land; na hoe ons leef en hoe ons dink in baie gevalle, dan dink ek is daar nog ’n ver pad om te stap om eintlik by die visie van ’n nuwe Suid-Afrika uit te kom.

“Deel van die jong mense van die Fallist-beweging se opstandigheid is om ons amper wakker te skud en te vra: ‘Wat beteken 1994 nou eintlik?’

Ís daar werklik iets om te vier? Ek dink nie so nie.
Hadji Mohamed Dawjee

“Ek is pás terug van Rwanda, en ek moet sê as ’n Suid-Afrikaner om te deel te wees van die herdenking van die genocide daar 25 jaar gelede, wat nou aan die gang is, en om te besef dít het om die draai – dis vier ure weg – daar gebeur terwyl ons gevier het en in die strate gedans het . . . Ek was deel van daardie gevoel van bevryding en ongelooflike opgewondenheid oor wat in Suid-Afrika gebeur, maar terselfdertyd was daar hierdie ongelooflik gewelddadige konflik in Rwanda, en ’n vraag vir my is wat beteken dit vir my as ’n Suid-Afrikaner om vanjaar 27 April te vier?”

Dawjee: “Ek wonder: Ís daar werklik iets om te vier? Ek dink nie so nie. Indien die viering van 27 April 1994 elke jaar gepaard gegaan het met een of ander politieke opvoeding of reiniging sodat almal kan besin oor wat daardie dag beteken in die lig van die geskiedenis en daardie dag erken as iets wat meer beteken as reënboognasie-isme of een of ander Castle Lager-advertensie oor samehorigheid, sou dit vir my meer beteken het.

“Maar omdat dit nog nie gebeur nie, gaan daardie dag altyd ’n baie oppervlakkige en wisselvallige ding wees. Ek dink Suid-Afrikaners van alle rasse bereik nou ’n punt waar hulle bereid is om intens en krities na aspekte van ons geskiedenis te kyk. Maar ek dink ook ons het die geneigdheid om dinge onder die mat in te vee of om dit op ’n kunsmatige wyse te tooi met hierdie idee van geluk en viering.”

‘Vriendelike oupa Madiba en Arch’

Wilhelm Verwoerd: “Dit het my gehelp om tog ’n bietjie te verstaan waar veral ouer mense se weerstand teen diep versoening vandaan kom.” Foto: Jaco Marais

Verwoerd het gesê wat hom bekommer oor die ontnugtering met 1994 is die kritiek onder veral jonger Suid-Afrikaners op mense soos aartsbiskop Desmond Tutu en Nelson Mandela.

“Ek raak eintlik geweldig ontsteld as ek hoor hoe jonger mense die opregtheid en dit wat wel deur daardie generasie van politieke leiers bereik is, nou bevraagteken word as ’n sell-out.

“In hoe ’n mate het die ontnugtering van daardie jong Suid-Afrikaners van kleur te make met die wyse waarop die Arch en Madiba gedomesticate is deur wit Suid-Afrikaners wat hulle omhels het en gesê het hier is nou hierdie vriendelike oupa-figuur wat ons nou half laat welkom voel in Suid-Afrika.

“Maar ons neem nie ons verantwoordelikheid as wit Suid-Afrikaners ernstig op om die gevolge van apartheid te hanteer nie. So, in daardie sin is ons nie net verantwoordelik vir wat vóór 1994 gebeur het nie, maar ons deel ook ’n verantwoordelikheid in die manier waarop ons met ons mag wat ons nog steeds het radikale leiers gedomesticate het. Ons het ’n déél aan mense se ontnugtering met 1994 wat die jonger geslag betref.”

‘Luister na mekaar’

Die skrywer en televisie-aanbieder Heindrich Wyngaard. Foto: Jaco Marais

Wyngaard het gevra of die ervaring van wit mense in die verlede dalk 'n bietjie onderspeel word omdat ons voel die regte ding om te doen is om net te praat oor die ervaring van swart mense.

Verwoerd het gesê in sy werk as internasionale vredesbemiddelaar was ’n deel van die proses om te probeer ruimte skep vir elke persoon wat deel is van die konflik se ervaring; ’n ruimte waarin elkeen se storie aangehoor kon word.

“Met dáárdie agtergrond het ek op die ou end teruggekom Suid-Afrika toe en gesê nou goed, as ék nou werklik verbind is tot versoening – met die klem op oor rasgrense – wát beteken dit in terme van my eie familie? En spesifiek in terme van my oupa?

“As ek ’n storytelling- of ’n lewensverhaal-tipe werkwinkel sou fasiliteer, sou ek bereid wees om ook na sý storie te luister? Sou ek bereid wees om na my ouers – van wie ek polities radikaal verskil – se stories te luister?

“Dit het toe deel geword van hierdie reis om te gaan sit en te sê: ‘Vertel my júlle storie. Help my verstaan waar julle weersin in die Engelse wit Afrikaners vandaan kom. hoekom was my oupa so ’n vereerde figuur in wit Afrikanerkringe? Hoe verstaan ons dit sonder om die geskiedenis te verstaan? En hoe verstaan ons sy verering sonder om sy bloedige dood te verstaan?

Ek dink wit mense is bang om weer te kyk na waar hulle vandaan kom.
Hadji Mohamed Dawjee

“Dit het my gehelp om tog ’n bietjie te verstaan waar veral ouer mense se weerstand teen diep versoening vandaan kom.”

Dawjee het gesê sy stem saam dat dit belangrik is dat ons ons persoonlike geskiedenisse verstaan.

“Ek kom baie wit mense teë wat weier om om te gaan met wie húlle is. Mense praat graag van oorgang en dat ons as groepe en kulture moet saamsmelt, maar die narratief is hoofsaaklik toegespits op mense van kleur. Húlle moet bykom; húlle moet ontslae raak van die chip op hul skouer.

“Ek dink wit mense is bang om weer te kyk na waar hulle vandaan kom; die politiek en die oortredings as’t ware; die invloede uit hul verlede. Ek dink regtig ons het meer ruimtes nodig waarin mense hiermee kan omgaan.

“En iets waaroor ek sterk voel, is dat wit mense hulle virtue signalling vir hulself moet hou en nie mense van kleur daaraan moet blootstel nie. So wit mense moet regtig met mekáár begin praat in plaas van met en oor en namens mense van kleur, want ons leef nou in ’n tyd waarin ons stemme nie meer stilgemaak word nie en ons kan namens onsself praat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.