Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe lank gaan die ramptoestand voortduur?

Die ramptoestand gaan nog in die afsienbare toekoms met ons wees. Indien daar geen ramptoestand is nie, dan is daar ook geen regulasies en riglyne nie, en keer ons terug na die lewe soos voor Covid-19, skryf Elmien du Plessis en Dewald van Niekerk.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, mag deur ’n kennisgewing in die Staatskoerant ’n nasionale ramptoestand verklaar en in oorleg met die kabinet regulasies en riglyne maak om die ramp te bestuur. Foto: GCIS

Sowat ’n week gelede was die sosiale media aan die gons: Die ramptoestand verval op 15 Augustus, wat dan? Is dit die einde van die inperking?

Die kans is groot dat die ramptoestand nog ’n hele ruk gaan voortduur, omdat die hele regulatoriese raamwerk wat ons lewe tans bestuur daarvan afhanklik is. Om dit te verstaan moet ’n mens ’n onderskeid tref tussen die ramptoestand en die verskillende vlakke van bestuur van die pandemie.

Art. 27(1) van die wet maak voorsiening daarvoor dat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, deur ’n kennisgewing in die Staatskoerant, ’n nasionale ramptoestand kan verklaar indien daar nie genoegsame gewone wetgewing is om die ramp te bestuur nie – of as daar ander spesiale redes is daarvoor.

Art. 27(2) bepaal dat as ’n nasionale ramptoestand verklaar is, die minister in oorleg met die kabinet regulasies en riglyne mag maak om die ramp te bestuur. Dié minister, in dié geval Nkosazana Dlamini-Zuma, het slegs dié mag vir so lank as wat daar ’n ramptoestand is.

Die ramptoestand sal waarskynlik nog verskeie kere verleng word om Covid-19 te bestuur, alhoewel die vlakke sal verander.

Die minister het magte om verskeie dinge te reël spesifiek genoem in art. 27(2), maar net vir die doeleindes om die publiek te help of te beskerm; om verligting te bring aan die publiek; om eiendom te beskerm; om ontwrigting te verhoed of te bestry of om die vernietigende of ander effekte van die ramp te hanteer.

Dit is belangrik om te noem dat wanneer Dlamini-Zuma die ramptoestand verklaar, verleng en regulasies uitvaardig, sy dit doen in terme van die wet wat haar (en slegs vir haar) die magte gee om dit te doen. Indien sy byvoorbeeld sou bedank, sal ’n nuwe minister haar werk oorneem. Die president het nie dié magte nie, en indien hy regulasies sou probeer uitvaardig in terme van die wet, sou dit ongeldig wees.

So ’n ramptoestand verval ná drie maande, en mag op ’n maandelikse grondslag deur die minister verleng word vir ’n maand op ’n slag, deur die publikasie van ’n kennisgewing in die Staatskoerant.

Dit is dan ook wat tot dusver gebeur het. Ná die eerste drie maande is die ramptoestand reeds drie keer verleng – tans tot 15 September. Maar dit sal waarskynlik nog verskeie kere verleng word om Covid-19 te bestuur, alhoewel die vlakke sal verander.

Waarskuwingsvlakke

In ’n riglyn van 15 Julie het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, uiteengesit hoe die regering die pandemie gaan bestuur. Foto: Foto24

In ’n riglyn van 15 Julie het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, uiteengesit hoe die regering die pandemie gaan bestuur. In lyn met gebruike elders in die wêreld (soos die Verenigde Koninkryk en Australië), het die regering sekere vlakke voorgestel: van vlak 5 wat “hoë Covid-19-verspreiding met lae gereedheid van die gesondheidstelsel” beteken, tot vlak 1 wat “lae Covid-19-verspreiding met ’n hoë vlak van gereedheid van die gesondheidstelsel” beteken.

Alhoewel ’n mens se regte beperk word, is dit nie meer ’n “inperking” soos op vlak 4 en vlak 5 nie. Ons is nie meer net beperk tot ons huise, behalwe vir “noodsaaklike” doeleindes nie.

Dié waarskuwingsvlakke bepaal die vlakke van beperking van toepassing gedurende die nasionale ramptoestand. Die riglyn voorsien egter dat die vlakke op provinsiale of plaaslike vlakke kan verskil. Maar sonder ’n ramptoestand kan dit nie bestuur word deur die regulasies en riglyne op die afsonderlike vlakke nie. En vir so lank ons op enige van dié “vlakke” is, moet daar ’n ramptoestand wees. Derhalwe die voorsiening van heelwat verlengings.

Want sonder die regulasies is daar nie wetgewing wat byvoorbeeld die dra van maskers reguleer, sanitasie-vereistes kan neerlê, of groot byeenkomste kan beperk nie.

Waar is ons nou?

As daar geen ramptoestand is nie, dan is daar ook geen regulasies en riglyne nie, en keer ons terug na die lewe soos voor Covid-19. Foto: Jaco Marais

Ons is van Dinsdag af op vlak 2, met nuwe regulasies wat uitgevaardig is om die eerste stel regulasies te wysig om voorsiening te maak vir vlak 2. Nuwe riglyne sal deur die verskeie ministers uitgevaardig word om die pandemie te bestuur vir die verskeie sektore. Ná vlak 2 sal ons na vlak 1 beweeg – waar nagklubs en internasionale reis byvoorbeeld weer toegelaat sal word, maar waarskynlik nog gereguleer sal word in terme van die regulasies. Dit mag wees dat in die toekoms verskillende distrikte en metro’s op verskillende vlakke geplaas sal word om plaaslike brandpunte te bestuur.

Dit is nie seker hoe lank dit sal duur nie, maar die moontlikheid is daar dat dit vir ’n jaar of twee kan wees, totdat ’n entstof ontwikkel is.

Hoeveel keer mag die ramptoestand verleng word?

Elmien du Plessis
Dewald van Niekerk

Die wet opsigself sit nie ’n beperking om die aantal kere nie. Anders as in ’n noodtoestand, waar daar beperkings is oor hoeveel keer dit verleng mag word, en streng vereistes vir stemming in die Nasionale Vergadering vir die verlenging, magtig die Wet op Rampbestuur die minister om dit deur ’n publikasie in die Staatskoerant te verleng.

Dit beteken egter nie dat die magte onbeperk is nie. Indien dié handeling as ’n administratiewe handeling geklassifiseer kan word, kan die besluit op hersiening geneem word. Daar is tans nie in die wet ’n vereiste dat die situasie geherevalueer moet word voordat dit verleng word nie (die vereiste is net daar as dit verklaar word).

Insgelyks, indien dit nié ’n administratiewe handeling is nie, sal die besluit op grond van die wetlikheid daarvan op hersiening geneem kan word. Die vraag sal wees of die gronde wat die aanvanklike verklaring van die ramptoestand geregverdig het, steeds aanwesig is. Indien die gronde nie meer aanwesig is nie, behoort dit geherevalueer te word.

Die regering kan intussen begin om deur gewone wetgewende prosesse wette te wysig of regulasies uit te vaardig om die langtermyngevolge van Covid-19 te reguleer. Dit sal die proses meer demokraties maak – nie net in terme van parlementêre oorsig nie, maar ook in terme van openbare deelname.

Intussen moet die regering ook gebeurlikheidsplanne voorberei oor hoe om die nagevolge van die ramp te bestuur. Dit word vereis deur die wet, en dis belangrik dat daar seker gemaak word dat dit gedoen word.

Maar tot dan sal die ramptoestand waarskynlik hernu word. Want as daar geen ramptoestand is nie, dan is daar ook geen regulasies en riglyne nie, en keer ons terug na die lewe soos voor Covid-19.

’n Tyd wat byna onmoontlik is om te onthou.

• Van Niekerk is ’n professor in geografie en die direkteur van die African Centre for Disaster Studies aan die Noordwes-Universiteit. Du Plessis is ’n medeprofessor in regte aan die Noordwes-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.