Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Virus ‘vernietig die ongelowiges’ – IS

Tot onlangs het dit gelyk of die internasionale terreurbeweging Islamitiese Staat (IS) verslaan is.  Die krisis rakende die koronavirus het egter nuwe stukrag aan die beweging gegee.  het sy oor op die grond.

’n Soldaat van die negende afdeling van die Irakse leër met ’n vlag van die Islamitiese Staat wat hy gevind het in die puin naby die verwoeste Djamhieri-hospitaal in Mosoel in Irak. Foto: GETTY IMAGES

‘Die virus is Allah se weermag wat die kafir (ongelowiges) vernietig.” Die koronavirus is ’n goddelike “pynlike marteling vir alle kruisvaardervolke”.

Dit het die ongelowiges “op die punt van ’n groot ekonomiese katastrofe” gebring, en “ons vra Allah om hul ellende te vererger en die gelowiges daarvan te behoed”. “Gelowiges moet gebruik maak van die chaos wat met die virus gepaard gaan.”

Dít is enkele van die uitsprake wat deesdae gereeld in die internasionale terreurbeweging Islamitiese Staat (IS) se propagandablad, Al-Naba, gelees kan word.

Maar dis nie net die Weste wat gestraf word nie; ook Iran – wat met sy Sjiïtiese vorm van die Islam as ’n ketterse land beskou word – ervaar Allah se woede in die vorm van ’n ernstige koronavirus-uitbreking.

Net ’n paar weke gelede nog het pres. Donald Trump van Amerika daarop aanspraak gemaak dat die IS vanweë sy leiding verslaan is. In November verlede jaar het Trump gesê:

“Soos julle weet, het ons 100% van die Islamitiese Staat se ‘kalifaat’ verower. Toe ek aan die bewind gekom het, het ons byna niks gehad nie. Dit was asof hulle hul weer gevorm het, en nou is dit 100%.”

Destyds al het heelparty waarnemers gewaarsku dat die IS nie so maklik afgeskryf moet word nie. Dit wil lyk of dié waarskuwings bewaarheid word.

In die lig van die feit dat die IS-“kalifaat” al sy grondgebied verloor het, het talle Westerse lande hul militêre betrokkenheid in die Midde-Ooste ingekort. Maar daar was ook ander faktore wat die Weste se militêre rol in dié wêrelddeel laat afneem het.

Een was die Amerikaanse sluipmoord – sommige sou eerder die woord “teregstelling” verkies – op die Iranse generaal Kassem Soleimani.

Dit het Amerika se beeld in groot dele van die Midde-Ooste ernstig geskaad, en die Irakse regering het selfs die onttrekking van alle Amerikaanse soldate aan dié land geëis.

Maar dit was die koronavirus wat die deurslag gegee het.

Amerika is besig om sy troepe in Irak in verskeie groter basisse te hergroepeer, terwyl ook Duitsland, Frankryk, Brittanje, Nederland, Spanje, Portugal, Australië en Nieu-Seeland hul bydrae om Irakse soldate op te lei teen einde Maart gestaak het.

Die Irakse leër kan egter nie op sy eie standhou nie. Die IS het die laaste weke verskeie groot aanslae op Irakse militêre doelwitte gepleeg, en talle Irakse soldate is daardeur gedood.

Op 11 Maart het twee Amerikaanse soldate en ’n Britse soldaat gesneuwel in ’n vuurpylaanval op ’n basis.

Bowendien lui berigte in die Westerse media dat die IS in Sirië ook aansienlik aktiewer geword het. Die beweging het hom ná die val van die “kalifaat” in die uitgestrekte woestyngebied tussen Homs en Deir al-Zor ingegrawe, waar hulle min of meer vryelik rondbeweeg.

Op 31 Maart het die IS byvoorbeeld ’n propagandavideo uitgereik waarop gesien kan word hoe IS-vegters rondry op voertuie, toegerus met tenkafweermissiele, hoe hulle padblokkades beman, motorkarre beskiet, mense gevange neem en hul koppe afsny.

Dis asof die slegte ou dae, toe die IS herhaaldelik mense gemartel, onthoof en selfs lewend verbrand het, weer terug is.

Die gebied waar die IS tans heers, is weliswaar ’n dun bevolkte streek suidoos van Palmira, wat bekend is vir sy antieke Romeinse bouvalle. In 2016, toe die IS die omgewing ook beheers het, is verskeie van die bouvalle verwoes in ’n daad van ongekende kulturele barbarisme.

Die vraag is wat die IS in die toekoms gaan doen. Dis nie dat die beweging nie die koronavirus se bedreiging vir homself insien nie; in sy propagandablad word IS-vegters aangemoedig om alle voorsorgmaatreëls na te kom om die verspreiding van die virus teen te gaan.

Maar hier is terselfdertyd ’n interessante verdere feit. Die IS verbied sy vegters (voorlopig?) om na die “Kruisvaardernasies” te reis uit vrees dat hulle die virus kan opdoen.

Dit beteken dat die Weste – Europa en Amerika – moontlik voorlopig geen verdere terreuraanslae hoef te verwag nie. Dit klink asof die IS hom, soos ’n paar jaar gelede, hoofsaaklik op die herstel van sy “kalifaat” in die grensgebied tussen Sirië en Irak gaan toespits.

Ofskoon, ook hiér lyk dit of die IS-leiers nie behoorlike beheer het nie. Net vandeesweek het die Duitse polisie ’n aantal IS-aanhangers, wat glo aanslae op Amerikaanse teikens beplan het, in hegtenis geneem.

Wat gebeur intussen met die IS se geesgenote en verbitterde mededingers, die Taliban in Afganistan en Al-Kaïda?

Die Taliban is betrokke in ’n delikate vredesproses met die amptelike Afgaanse regering en die Amerikaanse Trump-administrasie. Dit wil lyk of die leiers van die beweging nie lus is om die proses in gevaar te stel nie.

Om die waarheid te sê, die Taliban het aangekondig dat hy gesondheidswerkers wat siek mense verpleeg, met rus gaan laat. Wat nie wil sê dat álle Taliban-faksies saamstem nie; einde Maart het ’n groep Taliban-vegters selfs grootskaalse aanslae in die noordelike provinsie Koendoes gepleeg en die Afgaanse leër swaar verliese toegedien.

In ’n propaganda-boodskap van Al-Kaïda aan die Weste staan: “Allah, die skepper, het die broosheid en kwesbaarheid van jul materiële krag blootgelê.

Dis nou duidelik vir almal om te sien dat dit slegs ’n misleiding was wat nie die toets van die kleinste soldaat van Allah op die aangesig van die aarde kon deurstaan nie.”

Al-Kaïda het, sover bekend, nie self verdere terreuraanvalle uitgevoer nie. Maar sy bondgenote – Boko Haram in Nigerië en Tsjad en Al-Sjabaab in die Horing van Afrika – het dit wel gedoen.

In Tsjad het Boko Haram die land se leër ’n yslike slag toegedien deur meer as 100 soldate in ’n aanval te laat omkom. Volgens berigte was dit die swaarste nederlaag in die land se geskiedenis.

In Somalië het Al-Sjabaab se leier, Aboe Oebeida, alle terreuraktiwiteite weens die koronavirus gestaak.

Maar hy het blykbaar nie beheer oor al sy vegters nie, want in Kenia moes die regering honderde skole in die grensgebied met Somalië sluit nadat Al-Sjabaab verskeie aanslae op skole uitgevoer het. Die beweging is gekant teen onderwys wat nie aan sý streng weergawe van die Islam voldoen nie.

Nietemin is dit duidelik dat die koronavirus die stryd teen Islamitiese terreur bemoeilik. Al sê wié ook wát, die oorlog is nog lank nie verby nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike politieke kommentator.
Meer oor:  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.