Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Vlugtelinge: Soos sardientjies in ’n kerk

As jy op die kansel van die Metodistekerk in Kaapstad staan, lyk dit soos ’n kleurryke see van lidmate. Dit is egter mense van alle geloofsoortuigings wat soos sardientjies op matrasse lê en sit, skryf Marzahn Botha.

Die Metodistekerk in Kaapstad met sy hoë Gotiese plafon dien as tydelike heenkome vir die meer as 600 asielsoekers of vlugtelinge wat in en buite die kerk uitspan. Die meeste vlugtelinge is hoofsaaklik van die Demokratiese Republiek van die Kongo en Burundi, maar ook van ander Afrika-lande soos Soedan. Hier is selfs mense van Pakistan. Volgens Jean-Pierre Balous, die president van die vlugtelinge wat die “I want to go”-frase oor die mikrofoon gesing het, slaap die vroue en kinders in die kerk, terwyl die mans buite slaap. Vanaf die kansel kan gesien word hoe die vlugtelinge soos sardientjies op die kerkbanke en die vloer ingeryg is. Foto’s: MARZAHN BOTHA

As jy op die kansel van die Metodistekerk in Kaapstad staan, lyk dit soos ’n kleurryke see van lidmate. Dit is egter mense van alle geloofsoortuigings wat soos sardientjies op matrasse lê en sit, skryf Marzahn Botha.

‘We want to leave your country; we want to go, we want to live and leave your country.

“Hey South Africa, hey police, don’t kill us, don’t shoot us, don’t kill us again; don’t shoot us again; we are ready to leave your country.”

Dié pleidooi oor ’n luidspreker in die Kaapse middestad was namens die meer as 600 vlugtelinge uit verskeie Afrika-lande wat tans in die Sentrale Metodistekerk oorkant Groentemarkplein gehuisves word.

“Ons is hier om ons regte terug te neem en beskerming te soek. Suid-Afrika voldoen nie aan sy mandaat om ons veilig te laat voel nie. Suid-Afrika kom net niks na nie,” sê Balous (38) van die DRK. “Sommige Suid-Afrikaners staan saam teen vlugtelinge en soek verskonings vir alles. Wanneer iets skeefloop, is dit altyd die vlugtelinge en immigrante. Nooit hul eie skuld nie. Selfs in hul toesprake sê hulle ‘neem ’n lewe’ en die voorbeelde is duidelik daar – oudpres. Jacob Zuma met sy woorde “umshini wami” (“bring die masjiengeweer” in Zoeloe), koning Goodwill Zwelithini, Ramaphosa, Gigaba. As ons aangeval word, trek die polisie net hul skouers op en sê ons moet na ons land terughardloop. Jy word geslaan of erg aangerand deur Suid-Afrikaners en dan viktimiseer die polisie jou verder. Wanneer ons mense doodgemaak word, is die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) net stil, maar met iets soos die Marikana-slagting is daar kommissie ná kommissie.”

Die buitelanders het reeds sedert 8 Oktober buite die Verenigde Nasies se Hoëkommissariaat vir Vlugteling (VNHKR) in die Waldorf-arkade in Burgstraat uitgekamp, waarna die polisie hulle na bewering op ’n hardhandige wyse probeer verwyder het.

Hulle het uitmekaargespat en na die Metodistekerk gevlug, waar eerw. Alan Storey die polisie toegang tot die kerk geweier het.

Die pleidooi is vir almal dieselfde: “Gee ons ’n derde land.”

Terwyl ek tussen die vlugtelinge rondloop, loer almal grootoog, byna verskrik, na my.

Omtrent elkeen hier was glo al ’n slagoffer van vreemdelingehaat, of xenofobie. En die littekens op hul lywe of gesigte is glo die bewyse van die misdadige aanslae op hulle.

Die emosionele trauma en ’n gevoel van ontheemding spook dag en nag by hulle.

Hulle het migreer agter kos, veiligheid, vryheid en geleenthede aan wat nou ’n nagmerrie geword het.

Met Suid-Afrika wat agteruit gaan, wrede misdaad en onverdraagsaamheid wat hoogty vier, kan ek nie anders om te wonder of dit dalk eendag my lot gaan wees nie?

Sal ’n “derde land” net sy grens oopmaak?

Gift of the Givers, ’n liefdadigheidsorganisasie, het kos en ander hulp aan die vlugtelinge in die Metodistekerk verskaf. Hulle dienste is intussen onttrek nadat hulle ingelig is hul dienste is nie meer welkom nie.
’n Balletskoen van een van die meer as 200 kinders wat hier uitkamp. Hier is ses toilette wat skoon gehou word. Die vroue doen mekaar se hare om besig te bly.
In die kerk is reënboogplakkate opgeplak teen die ruit van die kinderkamer wat lui: “You are born in love by love for love.” Dalk is dit ook ’n bemoediging vir die vlugtelinge en immigrante wat al lank op ’n uitkoms van die departement van binnelandse sake wag.
Volgens Eliza Akankimana van Burundi het sy al te veel verloor. Haar hijab bedek haar mooi gesig, maar dan trek sy dit weg. “Hulle het my in Durban met ’n mes in my gesig gesteek.” Dan maak sy weer haar gesig toe en gryp haar seuntjie se hand.
Of jy nou ’n Christen of ’n Moslem is, almal slaap hier onder een dak.
Minani Furaha van Burundi sê haar broer is onlangs weens vreemdelingehaat vermoor.
’n Seuntjie met ’n Springbokhempie staan tussen die vlugtelinge wat “enige plek behalwe hier in die “gevaarlike Suid-Afrika” wil wees.
Die Gift of the Givers-stigting het onder meer kos en water aan die vlugtelinge verskaf. Ali Sabley, ’n projekbestuurder, sê die vereniging het hom egter intussen onttrek nadat hulle gehoor het hul dienste is nie meer welkom nie. “Ons het ses dae lank elke dag 3 000 bottels water en twee etes per dag afgelewer. Hiermee saam het ons ander rantsoene soos melk, babamelk, doeke en 2 000 komberse geskenk. Ons het ook mediese hulp vir ’n paar dae voorsien nadat die vlugtelinge en die polisie slaags geraak het. Verlede week het ons skielik gehoor dat ons dienste nie meer welkom is nie. Ons het van die kos wat oorgebly het aan die haweloses in die stad uitgedeel,” sê Sabley. ’n Omstander buite die kerk, Nasrec Solomons, roep my nader en sê: “Weet jy wat ek dink? Ek dink ons is te veel mense hier, maar die regering kon die situasie beter hanteer het. Al daardie lande het tydens apartheid asiel aan ons ondergrondse beweging gegee, en nou sit ons met die gebakte pere.”
Meer oor:  Xenofobie  |  Vlugtelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.