Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
#VMS eerder as #BLM?

’n Gesprek oor transformasie in Suid-Afrikaanse krieket (en rugby) hoef nie te steun op die simboliek van die #BlackLivesMatter (BLM)-beweging in Amerika nie. Dit is eerder onderlinge vertroue wat beklemtoon moet word, meen Heindrich Wyngaard.

Die Protea-snelbouler Lungi Ngidi se spanmaats wens hom geluk nadat hy ’n paaltjie geneem het in die eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië in die Paarl in Februarie vanjaar.Foto: GETTY IMAGES

‘For sport in South Africa, it is, predictably, race which matters most ( . . .),” skryf die historikus prof. Bill Nasson in sy bespreking van twee krieketboeke in sy bundel essays History Matters. “Unerringly, past or present, all the fundamental dilemmas of the national sporting life have revolved round it, in one way or another.”

Die geskiedenis van rugby in die besonder dien as ’n bevestiging van Nasson se stelling omdat spelers van kleur in die verlede nie toegelaat is om op ’n gelyke voet met wit spelers vir ’n plek in nasionale spanne mee te ding nie.

Dit geld egter ook krieket, hoewel dit minder beklemtoon word. Ook die onmenslike behandeling wat soveel ánder sportlui moes verduur, behoort nou weer uit herinnering opgediep te word.

Soos die gholfkampioen Papwa Sewgolum, wat in 1965 sy tweede Natal Ope-wennerstrofee (weggeraap voor die neus van die grote Gary Player) buite in die reën moes ontvang omdat die klubhuis slegs vir wit mense toeganklik was.

Of die gewigopteller Precious Patrick McKenzie wat vir Brittanje en Nieu-Seeland goue medaljes by die Statebondspele gewen het nadat hy nie toegelaat is om as ’n gelyke vir sy eie land mee te ding nie.

En het jy al gehoor van die naelloper Shaun Verster, wat plaaslik onder die nierassige vaandel van Sacos internasionale tye behaal het? Toe hy in 1988 sy hardloopskoene finaal uitgetrek het, het persoonlike beste tye van 10.1 sekondes in die 100 m en 20.8 sekondes in die 200 m agter sy naam gepronk.

Maar in Exploring Decolonising Themes in SA Sport History: Issues and Challenges (redakteur: Francois Johannes Cleophas) skryf hy hartseer: “On reflection, my short career, filled with injuries and other controversies, is similar to most of my predecessors whose sport life remains off the radar of historical interest.”

Ras-uitsoekerigheid

“Off the radar of historical interest” sou ook ’n gepaste beskrywing kon wees van die verhaal van Krom Hendricks.

In die 1890’s was hy as as die land se “vinnigste snelbouler” bekend nadat hy hom onderskei het in onder meer kragmetings teen die besoekende Engelse in Maart 1892 en teen ’n plaaslike wit “Europese Xl” in Desember van dieselfde jaar.

Dit moes hom ’n vanselfsprekende keuse vir insluiting in die heel eerste Suid-Afrikaanse kriekettoerspan na Engeland in 1894 maak (só lees ’n mens in Cricket & Conquest deur André Odendaal, Krish Reddy, Christopher Merrett en Jonty Winch), maar die koloniale rasse-idees van Cecil John Rhodes het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Hendricks se verhaal word nou volledig in Jonty Winch en Richard Parry se boek Too Black to Wear Whites vertel.

Min of meer sewe dekades later sou die bekender verhaal van Basil D’Oliveira afspeel. Wat vandag as die “D’Oliveira-geval” bekend staan, is die storie van ’n (uitgeweke) Kaapse krieketster wat sy toetsbuiging vir Engeland gemaak het toe hy tegnies al verby sy beste speeldae moes wees.

Moenie glo nie. In 1968 was Dolly nog goed genoeg om teen Australië ’n honderdtal aan te teken, waarmee hy toe vir hom ’n plek in die 1968-’69-MCC-toergroep na Suid-Afrika oopgespeel het.

En ’n geleentheid, skryf hy in The D’Oliveira Affair, “ . . . to be the first coloured man to play on the major cricket fields of South Africa, the land where I was born”.

Soos wat Rhodes egter met Hendricks gedoen het, wou die destydse premier, John Vorster, ook niks daarvan weet dat D’Oliveira hier saam met die Engelse kom toer nie.

Dit het uiteindelik tot die afstel van die toer gelei, kort op die hakke van die weiering van Suid-Afrika se deelname aan die 1968-Olimpiese Spele. En as ’n verdere uitvloeisel van die D’Oliveira-geval, was ’n poging om die Suid-Afrikaanse A-span in 1970 na Engeland te laat toer ook nou van die baan.

Hoewel rugby met dr. Danie Craven as grootbaas dit steeds reggekry het om (onder ’n gedurige wolk van omstredenheid en anti-apartheidsteenstand) aan die tafel van wêreldrugby ’n sitplek in te neem, het die internasionale sportwêreld krieket en ander sportsoorte summier in die laat 1960’s, ’70’s en ’80’s die rug toegekeer.

Teen die vroeë 1990’s is eenheid tussen die verskillende voorheen rasgebaseerde en polities uiteenlopende krieket- en rugbyverenigings bereik. Dit het die weg gebaan vir hertoelating tot die internasionale sportfamilie – en dit moes gelyke geleenthede aan álle sportmense bied. Maar soos wat Nasson ook in History Matters skryf, het selfs die einde van apartheid “relatief min gedoen om die boek oor hierdie jammerlike storie van ras-uitsoekerigheid (race pickiness) af te sluit”.

#VertroueMaakSaak

Nou het die plaaslike diskoers in sportkringe oor die #BlackLivesMatter-beweging op ’n ongekende wyse die klem geplaas op die oneweredige wyse waarop speelgeleenthede vandag nog tussen wit spelers en dié van kleur verdeel word – en ook op die ongelyke geleenthede wat laasgenoemde ná hul speeldae kry in rolle soos dié van afrigter en kommentator.

Dié kwessie is aangevuur deur ’n stelling van die Protea Lungi Ngidi in ’n media-onderhoud dat hy ’n #BLM-gesprek in die Protea-groep sou begin. Sedertdien het die een ná die ander huidige en oudkrieketspeler (sommige wat diep spore getrap het, soos Vernon Philander en Herschelle Gibbs) nader aan die vuur gestaan. Ook spesifiek rugbyafrigters het hul stem laat hoor in ’n griefskrif wat deur by die 50 rugbypersoonlikhede onderteken is.

Wat hierin gedeel word, is die ervarings van sowel spelers as afrigters van kleur oor hoe hulle gebrek ly aan geleenthede – gedurende en ná afloop van hul speeldae, terwyl wit spelers oënskynlik gewaarborg is van afrigtingsgeleenthede nadat hulle uitgetree het.

Ook wit krieketspelers, onder wie Faf du Plessis, het intussen sy steun aan die #BLM-beweging verklaar.

Nie almal het egter positief op Ngidi se standpuntinname gereageer nie: Onder andere die oudspelers Pat Symcox en Boeta Dippenaar het in Ngidi se uitspraak die gevaar raakgelees van ’n standpunt wat op die res van die huidige Protea-groep afgedwing kan word.

En om die rasvuur te stook, is gevra: Wat van ’n standpuntinname oor plaasaanvalle ook? Die lewe van wit plaasboere behoort tog ewe kosbaar te wees.

Toegegee, die #BLM-stryd gaan in die eerste instansie oor die wyse waarop swart mense in Amerika deur die toedoen van polisielede sterf, en ook oor die gevoel dat swart lewens in Amerika as “goedkoper” as wit lewens geag word.

Om die #BLM-stryd dus in verband te bring met tekortkominge in sporttransformasie, sou altyd tot ’n emosionele, plofbare teen­reaksie lei. Behalwe as jy dit, na Max du Preez se definisie, beskou as ’n “internasionale kulturele revolusie teen rassisme”.

Maar is dit noodwendig altyd rassisme wat aan die werk is wanneer ’n groep wit spelers voor in die bus sit en Makhaya Ntini alleen op die agterste sitplekke laat? Of toe Victor Matfield ’n maand gelede wéér verklaar het dat hy steeds hoop op ’n afrigtersgeleentheid saam met sy groot vriende Johann van Graan en Fourie du Preez?

Of het dit uiteindelik (sonder om die werklike, pynlike ervaring van spelers en afrigters van kleur af te maak) eerder met vertroue te doen – die mate waartoe wit spelers en afrigters mekaar vergeleke met ander vertrou?

Het spelers en afrigters van kleur egter genoeg vertroue in mekáár om sáám inisiatiewe te begin? En hoeveel vertroue het die administrateurs van kleur wanneer hulle belangrike besluite moet neem in die veronderstelde getransformeerde raadsale oor of oudspelers en afrigters van kleur breiersrolle kan aanneem?

Só beskou is die hutsmerk #VertroueMaakSaak dalk meer gepas.

Wyngaard is ’n onafhanklike sosiopolitieke kommentator.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Rassehaat  |  Apartheid  |  Blm  |  Politiek  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.