Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Volg die reuk van armoede

’n Besoek aan van die Kaap se mees blootgestelde buurte bring wanhoop, maar ook optimisme, skryf Julian Jansen.

Andrew Appollis en Johanna Farao en hul kinders – Riaan (13), Warrick (9), Hestolene (6) en Enrico (3) – slaap op een bed in dié sinkhuis. Foto’s: Edrea du Toit

Armoede het ’n reuk, sê die Kaapse weldoener en onderwyssielkundige Quinton Adams, meer bekend as “die Shackbuilder”.

Adams kan met gesag oor armoede praat, aangesien hy juis in armoedige gemeenskappe, saam met die bewoners van mankolieke wonings, dié strukture tot die grond afbreek en met stewiger en “gesonder strukture”, met volop ventilasie, vervang.

Dié nuwe strukture gee aan inwoners hul menswaardigheid terug, sê Adams.

Hy sê die meerderheid mense verstaan dalk die statistieke van armoede, maar nie die reuk daarvan nie. Dat talle navorsingstudies jaarliks die neigings van armoede illustreer en dat die statistieke van die armoede-indeks wys hoe mense in armoede-lokvalle vasgevang is.

Dié syfers is egter “beskrywend” van aard en verduidelik nie die ware lewensondervindinge van mense wat in haglike omstandighede woon nie.

In Broadlands Park, Strand

In Bosduifstraat in die Strand leef Andrew Appollis en Johanna Farao en hul vier kinders letterlik sy aan sy in ’n swak verligte sinkhok van 16 m2 op ’n klein erf.

Portia Hendricks van Sandvlei: “Daar is dae dat daar nie kos vir my seun en myself is nie.”

Hulle huur al vir vier jaar dié spasie, sonder water en krag, by ’n neef. ’n Dubbelbed vul bykans die hele vertrek.

Daar is ook twee waterkanne en bondels klere. Beknoptheid is ’n muwwe reuk en enkele ligstraaltjies van buite penetreer die somberheid.

“Almal op een kooi, plus Bruno in ’n space,’’ sê Appollis halfskaam. Daar is Riaan (13), Warrick (9), Hestolene (6) en Enrico (3).

“Die anne’ een is mos die miskraam wat sy laas jaar gehad het. Dié enetjie wat kom, is ’n blessing,” sê hy oor sy agt maande swanger lewensmaat.

“Ons brand kers. Ons het nie toilet nie, gebruik ’n emmer, gooi die goed sommer in die drein. Kos maak ons op die vuur buite. Ons collect plankies. Dis erg koud in die winter.”

Appollis is ’n verwer en Farao het by Wimpy gewerk. Albei is werkloos.

Farao sê hulle “is al gewoond aan swaarkry, maar nou is dit erger”.

‘Sonder ’n vrou gaan dinge nie uitwerk nie.’

“So, ek val maar in as mense ’n char soek. Andrew doen aluminium, maar die company het nou toegemaak. Nou skarrel hy vir joppies.

“Ek sukkel met my ID en die kinders het ook nie geboortepapiere nie.”

Die plaaslike Vroue in Aksie-beweging help haar met dié proses.

Die gemeenskapswerkers Francis Lucas en Gertruida (Spinners) Hendricks vertel Broadlands Park word, behalwe deur armoede, ook deur bendebedrywighede geteister. Bejaardes en kinders leef in die spervuur.

Covid-19 keer nie dié skarminkels nie.

In die straat staan hout- en sinkhokkies wat eienaars verhuur, styf teen mekaar. Hendricks dra kospakkies aan wat kom van ’n netwerk barmhartiges, wat droë bestanddele, groente en soms sopbene gee. “Ek staan ook soms in die ry as daar nie ’n joppie is nie,” sê Appollis.

“In die aan’e kry die kinders sop by ’ant Spinners. As ons niks het nie, maak ek vir my en Johanna ’n bakkie vol daar. Die lockdown het dit vir ons baie swaarder gemaak; werkies is skaars en die sopkombuis is al wat ons nou op depend.

Melvin Rynhardt: Die Klipfontein-sendingstasie se houtkappers herstel nou motorbande.

“Oggende kry die kinders hier agter by ’ant Charmaine pap. Al wat ons aan die lewe hou in die lockdown is die three-fifty wat die Covid-19-fund nou gegee het.”

Volgens Lucas sukkel die mense in buurte soos Casablanca en Sercor Park ook. “Covid het die nood kom expose.

“Mense benodig bemagtiging, jobs. Sommige raadslede, wat die gesag het, skitter in hul afwesigheid. Dis ons kinders en moeders wat nou die swaarste trek.

“In Vrouemaand weet ons: Sonder ’n vrou gaan dinge nie uitwerk. Ma sal nie slaap voordat daar nie iets in die pot is nie. Vroue is die ruggraat van die gemeenskap. As jy kyk na die programme vir noodleniging in gemeenskappe is dit die vroue. Húlle run die sopkombuise.”

Hendricks werk vir die plaaslike tak van Oasis Place. Dié organisasie sonder winsbejag, gebaseer in Philippi, naby Kaapstad, werk met haweloses en jeugontwikkeling. Sy sê die inperking het honger mense uit hul wonings na buite gedryf. “Mens kan dit in die langer rye sien.

‘Die jong manne val nou nog vinniger in die drugs.’

“Met die sopkombuise prevent ons dat mense op straat gaan skarrel.

“Ek doen dan ook socialising. Ek vra die mense hoekom is hulle hier, ek gaan na hul huise toe en educate hulle om nie altyd bakhand te staan nie.

“Alles is nou ook stadiger en vat langer. Só kos dit geld om Home Affairs in Eersterivier en Somerset-Wes toe te gaan. Waar kry hulle taxi- en treingeld as hulle nie eens geld vir ’n brood het nie? Covid het die krake in ons gemeenskap uitgewys.”

Adams sê hy het die afgelope 18 jaar die aakligste en onmenslike lewensomstandighede in arm gemeenskappe en veral plakkerskampe gesien.

“By elke geleentheid wat ons dieper gedelf het – om die ondervindinge van die mense te verstaan – is ’n nuwe laag van armoede ontdek, ’n dieper dimensie van verontmensliking. Daar is verskillende vlakke van armoede, elkeen ’n verskillende ervaring en toestande, waarin die mense leef.

“Dit was soos ’n reis na die ‘bodemlose put van armoede’. Die toedrag van sake was ondenkbaar. Met Covid-19 is dit net soveel duideliker.”

In Sandvlei, Macassar

Die 52-jarige Portia Hendricks het verlede week 5 km na die poskantoor in Macassar gestap om haar R350-uitbetaling van die staat se Covid-19-verligtingsfonds te gaan haal.

Jacqueline McDillon en haar kinders Cornwill (13) en Linique (6) in Rastakamp, Sirlowryspas.

Puur verniet, sê sy, want daar moes sy hoor dat “Khayelitsha se mense die geld moes kry oor die betaalpunt daar afgebrand het en húlle eerste gehelp moet word”.

Sy is eerder verlig dat niemand haar langs die pad probeer beroof het nie. “Ek kan regtig doen met ’n 350, want die way hoe ek al sonder kos is. Dit en nog huweliksprobleme ook.

“Daar is dae dat ek sonder kos gaan slaap, want ek sorg eers dat my kind kos kry. Met die lockdown het ek my werk by die crèche verloor. Ek soek enige werk. Ek is bereid om enigiets te doen. Jô, om bakhand by mense te staan is nie in my styl nie. Is nie reg nie.”

Trane rol oor haar wange

Alicia April woon ook in Sandvlei.

Haar man kon weens die inperkingsregulasies nie meer gaan rietdakke “pak” nie. “Ons verkoop nou lollipops vir die kinders en sulke goed uit ’n huiswinkeltjie,” sê sy.

Die erwe in Sandvlei is histories in private besit. Die Aprils woon op ’n familie-erf saam met vyf ander gesinne, insluitende 21 kinders. Die hokkies op dié grond gee ekstra inkomste aan die huiseienaars.

“Ons kry almal swaar; baie het hul werk verloor, maar ons survive met dié wat kan gaan werk en deur die sopkombuis,” sê sy.

Van April se huis 2 km na die weste staan die plate plakkershuise van Khayelitsha op wegspringblokke teen die besige Baden Powell-weg. Die Sandvleiers sê hulle hou asem op dat ’n “sinkhokkiesgolf”, oftewel grondbesetters, daarheen kan oorspoel.

’n Vrou wat verkies dat haar naam nie gepubliseer word nie, sê hul grootste bedreiging is die inperking.

“Die lockdown het ons almal hier getref. Baie het vir die Covid relief fund gegaan; van hulle het dit nie gekry nie.

Alicia April (30), huisvrou in Sandvlei, se man sit rietdakke op, maar kon nie gaan werk nie weens die inperking. Op dié gemeenskaplike werf woon daar ook ses ander gesinne.

“Hier try ons maar net om die ander een te help. Die struggle is groot. Verstaan u wat ons sê? Mense praat nie maklik nie, almal het mos hul eie pride en alle lae van die gemeenskap word geaffekteer.”

Maryam Salie, lid van die Sandvlei United Community Organisation, staan bont. Sy kry middernagtelike oproepe: “Help, asseblief, ons het nie kos nie.”

Onlangs het die Eersterivier oor sy walle gevloei en die Sewende Laan-plakkersbuurt tot by die kramat hier naby oorstroom. “Mense het met kanne gehardloop om water te skep en op te gaar,” sê Salie. Soms is daar kragonderbrekings vir tot ses uur. Die grondpad het nie straatligte nie.

“Ons het ’n Covid-19-groep wat kyk na mense wat sukkel om die R350 te kry wat basiese goed soos brood, melk kort. Ons het aan die raadslid geskryf. The fight is real.

“Mense het entrepreneur geword. Hier is ’n man wat nou gasstowe maak, mens kry op die boek kos by die mobile, iemand verkoop toiletpapier. Die ban op sigarette sny tot diep in mense se begrotings.

“Hier is ’n man wat sy 350 gebruik om sop vir sy bure te gee.

“Dis wat Covid-19 ons gebring het: Die goeie en die positiewe uit die mense gehaal. Mense sien regtig daar is nie verdere hulp wat van die regering gaan kom nie.

“Ja, hier is ook families wat bang is om uit te praat – dat hulle sukkel. Mense moet die stigma breek. Dit maak nie saak watter godsdiens ons aanhang nie, die pandemie bly ’n humanitêre krisis.”

In Rastakamp, Sirlowryspas

In Sirlowryspas, oos van Somerset-Wes, woon Jacqueline McDillon saam met haar man en vyf kinders in Rastakamp.

Dié plakkerskamp en nog soortgelyke buurte soos Sun City, Riemvasmaak, Pinetown, Stofpad en Uitkyk omring die historiese sendingterrein met sy “koophuise”.

Rastakamp het geen straatligte nie, net kolligte op hemelhoë maste.

“Die lockdown het ons baie meer desperaat gemaak,” sê dié voormalige huiswerker. Sy en haar 13-jarige seun, Cornwill, kry epileptiese aanvalle. Haar man, Cornelius, soek dringend verfwerkies. Ook hy is sieklik. Hul ander kinders is onderskeidelik 23, 20, 16 en ses jaar oud.

Die gesin lewe van drie kinders se staatstoelae en sopkombuise. Pap vir die kinders in die oggende, kos in die aand. “Was dit nie vir dit nie, nè, was dit nog tawwer vir ons,” sê McDillon.

“Ons het nou ons name by ’n welfare organisation ingegee vir hulp. Ek is positief, maar as die kinders kom sê ‘Mammie, ons is honger’? Soms sê ek: ‘Wat kan Mammie maak? Mammie is ook honger.’

“Die ma moet deurdra.”

In Klipfontein, Laer-Kruispad

Op die erfgrond van die January-families op die Klipfontein-sendingstasie van die Metodistekerk in Laer-Kruispad het Covid-19 se tentakels die tradisionele houtkappers gedwing om ander werk te soek.

Die sendingstasie is geleë in die Klipfontein-subdistrik, wat Gugulethu, New Crossroads, Nyanga, Manenberg, KTC, Philippi en Heideveld insluit.

Die sendingstasie se inwoners trotseer al twee jaar die onwettige besetting van kerkgrond deur agterplaasbewoners van Philippi en die Marikana-plakkerskamp daar naby.

Dít, tesame met die bedreiging van Covid-19 en die gepaardgaande inperking, is allerverskriklik, sê die inwoners.

Hul kragbokse word gereeld gevandaliseer en hulle moes ten duurste kragopwekkers aanskaf. Daarby is die buurt weens die winterreën vir dae onder water.

Melvin Rynhardt sê die houtkappers gaan hout op ver plekke haal. Tans is dit bloekom vir kaggelhout. “Ons trek letterlik agter die hout aan, soos trekboere.

“Jy moet permit het om in die bos te kom. Daa’ was ’n tyd dat die lockdown dit ge-curb het. Gelukkig hier by Swartklip is ’n bos rooikrans, maar toe, toe keer die polisie.

“Dit het bedruk gegaan, daar is nie inkomste. Die jong manne val nou nog vinniger in die drugs.

“Met die lockdown is dit erger. Jô! Selfs in ander sendingstasies soos Mamre en Pella.”

Menswaardigheid herstel

Volgens die Shackbuilder het ons ’n keuse oor hoe om met die frakture in die gemeenskap te werk te gaan.

“Met die laaste paar weke se voortslepende anargie in die strate kom mens tot die besef dat ons nie langer die maatskaplike werklikhede van die mense kan ignoreer nie of ’n polisie- of militêre benadering gebruik om met maatskaplike probleme te deel nie.

“Wat ons ontdek, is ons kán tog die onmenslike omstandighede van mense verander. Ons kan begin deur ’n tydelike plek te bou, ’n nuwe deur in te sit en nuwe beddegoed te verskaf.

“Deur met een huis in ’n straat te begin kan dit ’n veldbrand ontsteek van die herstel van menswaardigheid tot in die bodemlose put van armoede.

“Dít is doenbaar.”

*Prof Amanda Gouws, verbonde aan die department politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, sê die Covid-19-pandemie, het die reeds gekompliseerde lewe van arm vroue, verder gekompliseer.

Sy sê vroue benodig hulpbronne vir sosiale reproduksie – in ander woorde, die hulpbronne om versorging te kan doen. Dit sluit in sorg vir die volgende geslag van burger, maar ook vir bejaardes of die siekes, onder andere mense wat van chroniese siektes of mental health? probleme sukkel.

Gouws sê die lewensbestaan van baie arm vroue is alreeds haglik, deur ’n gebrek van werk of ongereelde werk of deur werk in die informele ekonomie, waar daar geen voordele is nie, as vroue wat ’n bestaan maak, deur goedere op straat te verkoop.

Sy sê die inperking het as gevolg van die pandemie, vroue daarvan weerhou om ’n lewe te maak en talle enkelouer-huishoudings staar nypende toestande in die gesig, insluitend honger en wanvoeding van kinders.

“Waar vroue saam geweldadige lewensmaats leef, het huishoudelike geweld toegeneem, sonder dat die vrou die opsie het om te loop, of na vriende te ontsnap.

Sy sê daar is ook ’n toename te bespeur in moorde op vroue, wat die kwesbaarheid van vroue, aan die hand van geweldadige mans, blootstel.

*Prof Sandra Liebenberg, van die departement Publieke Reg aan die Universiteit Stellenbosch en vise-president van die Verenigde nasies se komitee op ekonomiese-, maatskaplike en kulturele regte, sê die korona virus-pandemie het die kritieke belang van die sosio-ekonomiese regte wat in die Grondwet verskans is, beklemtoon – beide vir ons respons op die openbare gesondheidsgevolge van die pandemie sowel as die ekonomiese gevolge van die inperkingsmaatreëls.

Sy sê hierdie regte sluit ’n universele openbare gesondheidsorgstelsel in wat toegang tot gehalte gesondheidsorgdienste vir die hele bevolking verseker; behuising en watervoorrade wat voorsiening maak vir behoorlike fisiese afstand- en higiëne-maatreëls, omvattende maatskaplike beskermingsprogramme en werkskeppingstelsels wat die meerderheid van die bevolking wie se broos lewensbestaan verwoes is, kan bekamp.

“As ons in sosio-ekonomiese regte belê, kan ons nie net die huidige Covid-storm oorleef nie, maar dit sal ook ’n veerkragtigheid vir ons samelewing bied om toekomstige skokke die hoof te bied. Hierdie regte is ook ’n belegging in vrede en stabiliteit vir ons hele samelewing, aangesien hulle help om die twee groot uitdagings van armoede en ongelykheid in Suid-Afrika te oorkom.

“Maar, ongeag hoeveel daar begroot word vir ordentlike gesondheid, onderwys, behuising, grondhervorming, ens., sal hierdie beleggings betekenisloos wees as die hulpbronne deur korrupte en ondoeltreffende bestuur verkwis word.

“Voldoende begroting vir sosio-ekonomiese regte en die opbou van ‘n etiese, doeltreffende openbare administrasie in al drie regeringsfere, moet prioriteite vir Suid-Afrika wees in die strategieë wat ontwerp word om deur hierdie krisis te beweeg.”

* Dr. Jo Barnes, dosent aan die Departement van Globale Gesondheid, Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheidstelsels, aan die Universiteit Stellenbosch, sê daar kan sekerlik geen beter instrument wees om die algemene staat van landbestuur te toets as die uitbreek van ’n verwoestende pandemie nie.

“Die hoë eise wat so ’n vinnig verspreidende infeksie aan die gesondheidsdienste, die ekonomie en die infrastruktuur van ’n land stel wys swak beplanning, verwaarloosde infrastruktuur en verdeelde bestuur genadeloos uit. Dit is veral die geval met die voorsiening van water en sanitasie.

“Om die verspreiding van die virus te verlangsaam word daar sterk staatgemaak op getroue handhawing van openbare en persoonlike higiëne. Daarvoor is genoegsame skoon water onontbeerlik. Dit is egter ’n luukse vir ’n groot deel van ons bevolking, veral diegene wat in lae-inkomste buurte in en om ons dorpe en stede woon.

“Vir hulle was die instruksie om tuis te bly ’n onmoontlikheid, want hulle moet verskeie kere per dag hulle huis verlaat om water te gaan haal of ’n openbare toilet te gebruik. En daardie onhaalbare regulasie het gemaak dat sulke persone gevoel het dat hulle ook ander ongemaklike of lastige regulasies kon ignoreer – tot groter gevaar vir hulleself en hulle huisgenote.

“Toe kom die pandemie met die instruksie om verskeie kere deur die dag hande te was en kombuisoppervlakke en wasgeriewe skoon te maak elke keer nadat iemand dit gebruik het. Vir die inwoners in gebiede waar daar droogte heers is belowe dat watertenks nader aan hulle wonings geïnstalleer sou word.

“Selfs waar dit wel plaasgevind het – en nog skaarser – wel gereeld gevul is, is daar nerens melding gemaak van die beskikbaarheid van seep nie.

“Om ’n virus te bekamp is die afspoel van hande sonder om seep te gebruik bloot ’n verkwisting van water. Dit is ‘n werklikheid vir baie Suid-Afrikaanse inwoners dat hulle omstandighede die verspreiding van die virus in die hand werk.

“Suid-Afrika kan hierdie swakheid in die geveg teen die virus nie bekostig nie.”

Belê dáárin

* Prof. Amanda Gouws van die department politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch sê die omstandighede van baie arm vroue is reeds haglik en die inperking weerhou hulle daarvan om ’n inkomste te verdien. Talle enkelouer-huishoudings staar nypende toestande in die gesig.

* Prof. Sandra Liebenberg van die departement openbare reg aan die Universiteit Stellenbosch sê: “As ons in sosio-ekonomiese regte belê kan ons nie net die huidige Covid-storm oorleef nie, maar dit sal ook ’n veerkragtigheid vir ons samelewing bied teen toekomstige skokke. Hierdie regte is ook ’n belegging in vrede en stabiliteit vir ons hele samelewing.”


Meer oor:  Amanda Gouws  |  Wes-Kaap  |  Strand  |  Armoede  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.