Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Volg die Small weg
Prof. Adam Small kry met sy eredoktorsgraad by die Universiteit Stellenbosch erkenning as ’n man wat sy tyd ver vooruit was. Foto: bertram malgas

Laat ek uit die staanspoor sê ek is verheug. Ek is veral trots daarop dat ek my studente op Stellenbosch aan die werk van Adam Small kon bekendstel.

Taal is een van die vernaamste uitdagings wat in die pad van akademiese sukses staan. Dit, ondanks Suid-Afrika se taalbeleid wat stipuleer dat taal nie in die pad van leer moet staan nie. Daar word wêreldwyd aanvaar dat onderrig in die moedertaal die doeltreffendste manier van leer is. As dit waar is van Engels, Afrikaans en die ander inheemse tale, geld dieselfde redenasie ook vir Kaaps.

Die verskille tussen Standaardafrikaans en Kaaps het daartoe gelei dat Kaapssprekende leerlinge agtergekom het dat hulle ’n ander “taal” moet aanleer wanneer hulle skool toe gaan. Gevolglik het ’n groot groep Kaapssprekende ouers aan die einde van die 20ste eeu hulle sterk begin uitlaat omdat hul kinders in die klas na die standaardvariëteit moes oorskakel. Nie almal kon hierdie oorgang ewe suksesvol doen nie.

Onder meer het voorgeskrewe boeke ’n ander leefwêreld uitgebeeld as dit waarmee hul kinders grootgeword het. Dit was Small wat begin het om hierdie skeidsmure af te breek.

Een van die vrae wat die meeste opduik, is of daar ruimte is vir Kaaps binne die Afrikaanse skoolkurrikulum, en indien wel, hoe dit toegepas moet word. In ’n akademiese artikel wat vandeesmaand in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn, wys ek daarop dat die volgende doelwitte van die nuwe Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV, ook bekend as CAPS) dien as motivering vir die gebruik van Kaaps in die skool:

  • Om leerlinge, ongeag hul maatskaplik-ekonomiese agtergrond, toe te rus met die kennis, vaardigheid en waardes wat benodig word vir selfvervulling en betekenisvolle deelname in die samelewing as burgers van ’n vrye land.
  • Om sensitief te wees vir kwessies wat diversiteit weerspieël soos armoede, ongelykheid, ras, geslag, taal, ouderdom en gestremdheid.

Die KABV vereis onder meer dat leerlinge aan maatskaplike transformasie, inklusiwiteit, maatskaplike geregtigheid en waardering vir inheemse kennisstelsels blootgestel word; en dat daar erkenning aan die ryke geskiedenis en erfenis van hierdie land gegee word.

Binne die konteks van die KABV is taal ’n instrument vir denke en kommunikasie wat leerlinge in staat stel om kennis te verwerf, hul identiteit, gevoelens en idees uit te druk, in interaksie met ander te tree en ook om hul eie leefwêreld te bestuur. Die KABV maak dus juis voorsiening vir die verrekening van Kaaps in die skoolkurrikulum.

Onlangs nog het prof. Hein Willemse (UP) gesê dat Standaardafrikaans “die stempel van sosiale, kulturele en politieke voorkeure” dra deurdat Afrikaans as besitting deur Afrikanernasionalisme opgeëis is. Skoolhandboeke en woordeboeke het tot baie onlangs woorde in die Kaapse variëteit geïgnoreer. Die standaardisering van Afrikaans het dus met baie maatskaplike ongeregtigheid gepaard gegaan en Kaaps is in die skool as “onbeskaafd” gestigmatiseer.

Hiervoor het Afrikaans ’n duur prys betaal (en betaal dit steeds): die vervreemding van die Kaapssprekers. Daar is ’n sterker groeiende vereenselwiging met Engels as ’n taal van studie en taal van werk. Die boodskap is duidelik: So lank soos wat onderwysers leerlinge met Kaaps as huistaal met ’n rooi pen gaan marginaliseer, sal die sprekers van Kaaps toenemend Afrikaans die rug toekeer.

Akademici soos Frank Hendricks (UWK), maar ook Gerda Odendaal (US) voer gevolglik aan dat ’n toekomstige herstandaardisering van Afrikaans haas onvermydelik is. Volgens hulle sal die herstandaardisering van Afrikaans lei tot die bemagtiging van al sy sprekers; op sielkundige, ideologiese, ekonomiese en akademiese gebied.

Dit sal leerlinge aanmoedig om Kaaps in die klaskamers te praat. Hulle sal meer tuis voel in die klas wanneer daar minder kritiek op hul taal is wat tot verbeterde selfbeeld sal lei. Dit gaan daaroor dat jy respek vir mense toon deur nie vir hul Kaaps te lag en hulle te laat voel hulle praat ’n minderwaardige taal nie.

Die struggle in die algemeen en die opstande van 1976 in die besonder sou aan die sprekers van Kaaps ’n nuwe stem gee. Bruin Afrikaanssprekendes het ook hul stem by die groter swartbewussynsprotes gevoeg.

Dis hier op die Kaapse Vlakte waar Adam Small begin het om namens sy mense oor die liberale waardes van vryheid van denke en spraak te praat. Die protespoësie van bruin digters wat die strugglejare oorleef het, soos Small en Peter Snyders, was hul manier om teen hul uitsluiting uit die hoofstroom-Afrikaans te rebelleer.

Kaaps soos in Small se drama Kanna hy kô hystoe (1965) was ’n doeltreffende taal van verset teen politieke onreg. Trouens, J.C. Kannemeyer (Beeld, 2012) is van mening dat Kanna een van die heel beste dramas tot nog toe in Afrikaans is en een van die beste ter wêreld.

Small en Snyders het getoon hoe Kaaps ’n draer van grootse letterkunde kan wees. Small was die een skrywer wat aan die krag gestalte gegee het waarmee Kaaps mense se pyn verwoord kon word.

Die volgende woorde van Small het kultusstatus bereik en sal ook môre by die US se gradeplegtigheid weergalm: “Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra; die volle lot, hul volle lewe ‘met alles wat daarin is’; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewe beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of ’n snaaksigheid nie.”

Small se lewe was ’n tipiese ­roller coaster en is gekenmerk deur storm en konflik omdat sy werk lank deur die formele onderwys geïgnoreer is. Toe Kanna in die Staatsteater opgevoer is, moes Small weens die groepsgebiedewet ’n permit kry om na sy eie drama te gaan kyk!

Dit is ook bekend dat hy hom aan die kant van UWK se studente geskaar het tydens hul opstand teen apartheid. Dit het hom sy werk as professor in filosofie gekos.

Maar die wiel het gedraai. Small begin nou die vrugte van sy baanbrekerswerk pluk. Uiteindelik, 50 jaar ná die verskyning van Kanna, het hy die Hertzogprys daarvoor ontvang.

Kaaps is vandag toenemend in die klaskamer sigbaar. In die jongste Afrikaanse Woordelys en Spel­reëls (AWS) is 80 Kaapse woorde opgeneem. Kaapse woorde verskyn nou ook in dié Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en Kaapse idiome is in die Platinum-skolehandboekreeks opgeneem.

Small se gedigte, maar ook dié van Snyders, Marius Titus, Patrick Petersen, Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer; romans soos Diekie vannie Bo-Kaap deur Zulfah Otto-Sallies (wat die leerling ’n kykie in die lewe van ’n Moesliem-gesin in die Bo-Kaap gee), Bettina Wyngaard se Troos vir die gebrokenes (wat handel oor die lewe van ’n arm bruin gesin op Grabouw) en Gerook deur Eldridge Jason (oor die lewe van ’n bendelid), asook Small se dramas (Krismis van Map Jacobs en Kanna) vorm deesdae deel van die letterkundekurrikulum aan universiteite en in skole.

As akademikus, digter en dramaturg het Small die brandende vraagstukke van ’n verdeelde Suid-Afrika op deurdagte dog onverskrokke wyse aangeroer en hom só as denkende revolusionêr en revolusionêre denker onderskei.

Deur sy werk het Small die Suid-Afrikaanse letterkundeskat verruim en vernuwe, die Afrikaanse taal verryk, eens versweë onderwerpe gevoelig dog gesaghebbend verwoord en ’n stem vir menige stemlose geword.

Sodoende het Small Kaaps tot vryheidstaal, maar bowenal tot literêre taal verhef.

Om ’n eredoktorsgraad aan prof. Adam Small toe te ken, is gepaste erkenning vir ’n man wat sy tyd ver vooruit was; ’n profeet wat lank in sy eie land misken is.

Dit wys onteenseglik dat die universiteit op ’n onomkeerbare pad na ware demokrasie is.

  • Dr. Michael le Cordeur is die aangewese hoof van die departement Kurrikulumstudies aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.