Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Volg Trump in Nixon se spore?

Het die Trump-administrasie rede om benoud te voel nadat die spesiale ondersoeker na Russiese inmenging in die land se presidentsverkiesing 33 Russe en drie Russiese ondernemings formeel aangekla het? Leopold Scholtz probeer ’n antwoord vind.

In die spervuur? Pres. Donald Trump van die VSA laat geen kans verbygaan om die FBI sleg te sê nie. Foto: Reuters

Met sy asketiese uiterlike lyk Robert Mueller III nie so nie, maar sy optrede is baie soos dié van ’n bulhond: Stadig, stil, metodies, selfs meedoënloos. Waar hy gebyt het, los hy nie maklik nie.

Mueller is aan die hoof van die ondersoekspan wat Russiese inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2016 ondersoek. Sy aanstelling in Mei verlede jaar was ’n regstreekse uitvloeisel daarvan dat pres. Donald Trump die destydse hoof van die FBI, James Comey, in die pad gesteek het.

Luidens berigte het dit Trump nie gekeer om Mueller gereeld in die pad te probeer steek nie.

Trump het daarna self op televisie erken hy het dit gedoen omdat Comey nie die FBI-ondersoek na Russiese inmenging (en moontlike samewerking van die Trump-verkiesingspan) wou staak nie.

Dis toe dat die adjunkminister van justisie, Rod Rosenstein, besluit het dinge gaan nou te ver, en Mueller se aanstelling was die gevolg.

Sedertdien het Mueller ’n hoogs gedissiplineerde pad gevolg. Daar was min lekkasies; bitter min om ’n vinger na hom te wys.

Luidens berigte het dit Trump nie gekeer om Mueller gereeld in die pad te probeer steek nie. Sy eie raadgewers kon hom slegs met die grootste moeite keer – met die argument dat dit so goed soos ’n openbare skulderkenning sou wees.

Die ironie is dat Mueller, Comey se voorganger as hoof van die FBI, soos die meeste FBI-amptenare ’n taamlik konserwatiewe Republikein is. Hy is destyds deur die Republikeinse pres. George W. Bush as hoof van die FBI aangestel.

Maar bowenal skep hy die indruk van ’n hoogs professionele speurder, wat sonder aansiens des persoons na die volle waarheid soek.

Wat sy uiteindelike verslag gaan inhou, weet niemand nie. Maar sy eerste stap, die formulering van die aanklagte teen 33 Russe en drie Russiese ondernemings, het al klaar ’n yslike gefladder in die hoenderhok veroorsaak.

In die klagstaat van 37 bladsye – dis op die internet beskikbaar – word in pynlike detail uitgestippel hoe Russiese internet-“trolle” vanuit St. Petersburg en binne die VSA hulle as Amerikaners voorgedoen en massiewe propagandaveldtogte op sosiale media gevoer het. Die doel was om Trump in die verkiesing ten koste van die Demokratiese kandidaat, Hillary Clinton, te bevoordeel.

Rod Rosenstein, die VSA se adjunk-minister van justisie, het Robert Mueller III aangestel om die ondersoek te lei na vermeende Russiese inmenging in die presidentsverkiesing in 2016. Foto: AP

Trump gaan tekere oor FBI in twiets

Die kanse dat die aangeklaagdes ooit in ’n Amerikaanse hof sal staan, is nagenoeg nul. Maar vir Mueller is dit waarskynlik nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan daaroor dat hy bewerings oor die Russiese inmenging – iets wat Trump male sonder tal ’n “heksejag” en “bedrogspul” genoem het – in die grootste detail geloofwaardig geboekstaaf het.

Daarmee bevestig hy die oordeel van elke enkele Amerikaanse intelligensie-agentskap wat na die saak gekyk het.

Wat nié in die klagstaat gesê word nie, is ewenwel van ewe veel belang. Daar word nié gesê Trump of sy verkiesingspan het aktiewe medewerking verleen nie. Inteendeel, die oordeel is dat die Russe hulle as Amerikaners voorgedoen en “met onwetende individue aan die Trump-veldtog verbonde gekommunikeer” het.

Op die nuuskonferensie waar die klagstaat bekend gemaak is (tipies van Mueller, het hy nie sy gesig daar laat sien nie) het Rosenstein, die adjunkminister, daarop gewys dat nie beweer word dat Trump-hulle met die Russe saamgesweer of dat die inmenging die verkiesingsuitslag beslissend geswaai het nie.

Robert Mueller III, hoof van die ondersoekspan na Russiese inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2016, is soos ’n bulhond: Hy los nie maklik as hy eers vasgebyt het nie. Foto: Reuters

Trump het in sy Twitter-reaksie aansienlik verder gegaan deur te beweer dat hy en sy verkiesingspan in die klagstaat onskuldig bevind is. Wat onwaar is, want Mueller het hom eenvoudig glad nie daaroor uitgelaat nie.

Trump het trouens sedertdien ’n horde twiets die wêreld ingestuur waarin hy heftig teen die FBI te kere gaan. Hy het selfs die skokkende massamoord op ’n skool in Florida aangegryp om die FBI sleg te sê.

Oor een ding laat hy hom egter skaars uit: Rusland en Wladimir Poetin. In een van sy twiets het hy slegs gesê hy het nooit ontken dat Rusland ingemeng het nie – terwyl hy dit juis herhaaldelik gedoen het. Daardie ontkennings, op Twitter en in toesprake, is alles gedokumenteer.

Die vraag is: Waarom?

In die opspraakwekkende boek, Fire and Fury: In the Trump White House deur Michael Wolff, word Trump se vroeëre politieke raadgewer, Steve Bannon, aangehaal dat Mueller se ondersoek in die rigting van geldwassery beweeg. Bannon het dit nooit ontken nie.

As dit korrek is, beteken dit dat Trump se bande met Rusland ook voor sy toetrede tot die politiek onder die loep geneem word. En verskeie Amerikaanse kommentators het dít verbind aan Trump se volgehoue weiering om sy belastingstate in weerwil van die gewoonte in Amerika

openbaar te maak.

Pres. Donald Trump, president van die VSA, is bra stil in sy twiets oor Wladimir Poetin, sy Russiese ampsgenoot. Foto:

Vergelyking tussen Trump en Nixon

Verskeie Amerikaanse media haal goed ingeligte waarnemers aan wat sê die Mueller-klagstaat is slegs ’n verdere skakel in die ketting. Vier senior lede van die Trump-verkiesingsveldtog is reeds aangekla, en sommige van hulle het ’n pleitooreenkoms met die vervolgingsgesag aangegaan om in ruil vir strafvermindering teen diegene bo hulle in die spreekwoordelike voedselketting te getuig.

Daarby, so word gesê, fokus die ondersoek tans minder op die vind van getuienis oor aktiewe sameswering tussen die Trump-verkiesingspan en die Russe as op regsverydeling. Die aandag val veral op ’n vergadering wat in Julie 2017 aan boord van die president se vliegtuig plaasgevind het.

Ook pres. Richard Nixon was in 1972 nie by die inbraak in die Washingtonse kantore van die Demokratiese Party in die Watergate-gebou betrokke nie, maar hy het dit wel aktief probeer toesmeer – regsverydeling dus.

Die onderwerp van die vergadering was die nuus dat die New York Times op die punt staan om te onthul dat Trump se seun, Don junior, en sy skoonseun, Jared Kushner, in 2016 ’n Russiese advokaat met noue Kremlin-bande ontmoet het met die doel om skandes rondom Hillary Clinton aan te hoor. Op die president se aandrang, aldus Wolff, is besluit om te sê die vergadering het gegaan oor die sogenaamde Magnitsky-wet rakende die aanneming van kinders. Dit kom op toesmeerdery neer – as Wolff se weergawe waar is.

Die vergadering se besluit was nie onwaar nie, want daar is wel oor die Magnitsky-wet gepraat, en die ontmoeting met die advokaat het bowendien niks van substansie opgelewer nie. Maar die doel was wel om iets te soek om Clinton te beswadder.

Sedertdien het Mueller byna al die mense wat die vergadering op die vliegtuig bygewoon het, intensief ondervra. Dit kan ’n aanduiding wees van waarheen hy mik.

Amerikaanse waarnemers maak hier ’n historiese vergelyking. Ook pres. Richard Nixon was in 1972 nie by die inbraak in die Washingtonse kantore van die Demokratiese Party in die Watergate-gebou betrokke nie, maar hy het dit wel aktief probeer toesmeer – regsverydeling dus.

Uiteindelik het dít die deurslag gegee in ’n komitee van die huis van verteenwoordigers om hom in ’n staat van beskuldiging te stel. Waarna hy gesien het hoe die wind waai en self bedank het.

Die net span stywer

Nou ja, Mueller is nog ver daarvan om bewyse bekend te maak dat Trump aan regsverydeling skuldig is. Maar van buite wil dit lyk of hy wel in daardie rigting mik.

Leopold Scholtz

En, gesien sy meedoënlose stoomroller-taktiek om kleiner visse te kry om teen groter visse te getuig, kan dít wees waar die saak uiteindelik draai.

Die net span stywer. Dis nou al duidelik dat daar wel deeglik ’n aantal visse in die net gaan wees wanneer dit toegetrek word.

Maar gaan Trump ook in die net wees? James Clapper, gewese direkteur van nasionale intelligensie, het op televisie gesê daar gaan nog onthullings kom.

Volgens CNN is Kushner volgende in Mueller se visier. Trump het al te kenne gegee dat ’n rooi lyn oorgesteek word as sy familie se finansies ondersoek word.

Tog, sover dit aktiewe sameswering met die Russe betref, sal Trump vermoedelik nie in die net wees nie. Regsverydeling? Geldwassery? Die tyd sal leer.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Fbi  |  Donald Trump  |  Robert Mueller
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.