Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Volksblad’ se ryk geskiedenis moet voortleef
Volksblad-spotprent: 9 Julie 2020
Volksblad-spotprent: 9 Julie 2020
Volksblad-voorblad: Saterdag 26 Oktober 2019
Volksblad-voorblad: Saterdag 26 Oktober 2019

Soos ’n cowboy van ouds (Shane, 1953) ry ’n ruiter teen die aandskemering in. Sy taak afgehandel. ’n Leeftyd van 116 jaar verby.

Vir hierdie bejaarde figuur, Volksblad, het die “einde van ’n era” aangebreek.

Sy laaste woorde op papier verskyn weldra en hy gaan voortleef in digitale formaat. Die onverbiddelike eis van ’n tanende ekonomie en lesers wat in die uitbreidende digitale wêreld leef en werk.

Aan Volksblad, oor wie se eerste 100 jaar die boek ’n Lewe van sy eie geskryf is, het die biograwe die karaktereienskappe van ’n mens toegeken wat saam met, vir en namens sy lesers, gejuig, gehuil, gelag, gestry, gekasty, gewonder, gebid, gebaklei, getwyfel, gefouteer, rigting aangedui – en geleef het. Dit laat die herinneringe op ver paaie loop by oud-redaksielede wat die veelbewoë jare van voorspoed en teenspoed en lofgedigte en verguising ken en onthou.

Vir hierdie bejaarde figuur, Volksblad, het die “einde van ’n era” aangebreek.

En die huidige Gideonsbende (of Bittereinders!) by Volksblad, onder die leiding van Gert Coetzee, laat lesers en oud-redaksielede in verwondering oor wat hulle nog reggekry het om in moeilike omstandighede ’n gesaghebbende gedrukte koerant uit te bring. En wat nou met minder mense ’n digitale nuusdiens in moeilike omstandighede gaan verskaf.

Hoeveel nuwe redaksielede het nie, soos ek, deur die ou hoofingang van die Volksblad-gebou gestap en gewonder wat vir hulle voorlê nie?

Baie het hier ’n vrugbare en bevredigende loopbaan voltooi, of elders suksesvolle loopbane gevolg en aan Volksblad se onskatbare leiding en vorming daarvoor groot lof gebring.

Om in (Die) Volksblad se redaksie te wees en om ons land en sy mense te leer ken en buitelandse reise te onderneem, was vir baie, soos vir my, ’n voorreg en ondervinding. (En om te dink jy is boonop betaal vir hierdie voorreg!)

’n Gesegde lui dat as ’n ou mens sterf dit soos ’n biblioteek is wat afgebrand word.

’n Gesegde lui dat as ’n ou mens sterf dit soos ’n biblioteek is wat afgebrand word. Nou wonder ’n mens: Sal die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) nie maar ook vir hierdie ou “mens”, Volksblad, ’n kamer inrig nie?

Want waar anders gaan die gedrukte koerant se herinneringe tasbaar en sigbaar bewaar word; vele dekades se gebundelde koerante geberg en vir navorsing ontsluit word?

En waar anders kan ou en kosbare meubels, foto’s en ander memorabilia uit Volksblad se verlede gehuisves word?

Is die tyd nie nou ryp om Volksblad se geskiedenis van 116 jaar as gedrukte koerant te laat skryf as ’n volwaardige boek of doktorale verhandeling en dit wyd te publiseer nie?

Hiervoor behoort Naspers of Media24 ’n borgskap of beurs beskikbaar te stel.

Al neem ek bitter hartseer afskeid van Volksblad as papierkoerant, klop my hart steeds vir “ons” koerant, in watter vorm ook al.

Venter was van 1964 tot 1999 ’n redaksielid van Volksblad.

Meer oor:  Era  |  Geskiedenis  |  Koerante  |  Digitaal  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.