Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Volkstaat-gedagte is ‘doodgebore’

Geluide van selfbeskikking en selfs ’n volkstaat word deesdae weer in Afrikaner-geledere gehoor, maar dié idee sal nie in ’n moderne Suid-Afrika in werking gestel kan word nie, skryf Pieter Labuschagne.

Die koeksister-monument op die afgeleë Orania. Foto: Gallo Images

Die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, het onlangs in die parlement gesê daar moet weer aandag aan die grondwetlike reg tot selfbeskikking (artikel 235) gegee word.

Die VF Plus is om verstaanbare redes vol selfvertroue ná sy goeie vertoning in vanjaar se verkiesing toe 415 000 kiesers vir hom gestem het en hy daarmee sy steun verhoog het tot dieselfde vlakke as dié van die vroeë 1990’s.

Maar is die verwysing na selfbeskikking en staatkundige outonomie haalbaar of is dit bloot op stemwerwing gemik? Die reg tot selfbeskikking word wel in artikel 235 van die Grondwet vervat en is gemik op groepe met gemeenskaplike taal- en kultuurregte. Dit is veral dwingend as ’n minderheidsgroep se kulturele voortbestaan en sy taal bedreig word.

Is selfbeskikking vir ’n minderheidsgroep haalbaar?

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus. Foto: Jaco Marais

Die reg tot selfbeskikking van minderhede met ’n gemeenskaplike kulturele en taalerfenis het eers ná die Eerste Wêreldoorlog aandag geniet en is later in die Verenigde Nasies (VN) se Handves opgeneem.

In die internasionale gemenereg word die reg tot selfbeskikking as derdegenerasie-regte of kollektiewe regte erken.

Die VN erken die reg tot selfbeskikking op ’n formele vlak, maar as partye hoop om dié instansie te nader om hul reg tot selfbeskikking verdere momentum te gee, kan hulle hulself maar die moeite spaar.

Die VN is huiwerig om in die interne dispute van lande betrokke te raak omdat ’n groot getal minderheidsgroepe binne staatsgrense vasgevang word.

Die VN het in selfbeskikking reeds in 2000 baie eng omskryf deur te praat van minderheidsgroepe wat onder koloniale oorheersing en buitelandse besetting gebuk gaan.

Die Internasionale Geregshof was boonop met sake oor selfbeskikking wat voor hom gedien het, soos byvoorbeeld dié van Wes-Sahara, duidelik huiwerig om by dié soort interne dispute betrokke te raak.

’n Borsbeeld van Paul Kruger, president van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek, buite Orania. Foto: Gallo Images

Hoewel die reg tot selfbeskikking in die Suid-Afrikaanse Grondwet vervat is, het dit nie veel substantiewe waarde nie en is dit nie juis afdwingbaar nie.

As die VF Plus met sy groter steunbasis op die reg tot selfbeskikking aanspraak wil maak ten einde in ’n eie politiek outonome enklave sy kultuur, taal en selfs politieke aspirasies te bevredig, sal dit bloot waarde hê as ’n manier om steun te probeer werf.

In die huidige praktiese politieke werklikheid en geldende magspolitiek is die idee doodgebore.

Pieter Labuschagne

Die poging om weer die idee van ’n volkstaat af te stof en die voorbereiding van ’n wetsontwerp oor selfbeskikking sal hoogstens tot ’n paar duisend ekstra stemme in die volgende verkiesing lei. In ’n realistiese magspolitieke verband het dié aanspraak egter geen kans om van die grond af te kom nie.

Die reg tot selfbeskikking is in 1994 as politieke weerligafleier in die Grondwet opgeneem om konserwatiewe wit mense by die onderhandelingsproses te betrek.

Die ANC het egter ’n politieke spel gespeel en was nooit werklik ernstig oor selfbeskikking nie. Dié party se sentralistiese staatsbeskouing het sy denke van die begin oorheers en die reg tot selfbeskikkingsreg het vir hom geen waarde nie.

Die voortbestaan van Orania op die walle van die Oranjerivier moet nie as ’n “geslaagde” proefneming van selfbeskikking of sosiale staatskepping gesien word nie. Die Oraniërs se selfbeskikking is verwater – die enklave het nie eens volledige munisipale status nie – en is volledig aan die grondwetlike bepalings onderworpe.

Die feit dat enersdenkendes nie in groot getalle op Orania saamtrek nie, bewys dat die idee nie juis groot aantrekkingskrag het nie.

Op die keper beskou is dié enklave bloot ’n voetnota in die politieke geskiedenis van die land.

Redes waarom ANC en ander partye idee nie sal steun

Die kans is uiters gering dat ’n wetsontwerp oor selfbeskikking meerderheidsteun in die parlement sal kry.

Daar is verskeie redes waarom die ANC en die EFF dit nie sal steun nie.

* Die skepping van ’n fisieke geografiese lewensruimte om selfbeskikking ’n werklikheid te maak, is hoogs problematies.

Die grondgebied moet geïdentifiseer word en daar moet verseker word dat geen persoon wat nie binne die taal- en kulturele identifikasie van die groep pas nie, verwyder sal word nie.

Op Orania was dit nie nodig om iemand te verwyder of te verskuif nie, bloot omdat dié dorp so afgesonderd is en niemand daar wou bly nie. Boonop is dit nie juis ’n ekonomiese magneet nie.

* Een van die redes waarom die ANC op ’n unitêre staat met enkele federale kenmerke aangedring het, was omdat hy deeglik bewus was van wie sy belastingbron is.

Die volkstaatgedagte het hoofsaaklik wit mense in die hoë- en lae middelklas in gedagte. Dié mense is juis diegene wat ruim tot die belastinginkomste van die sentrale regering bydra. Die ANC-regering sal bloot nie sy beheer oor hulle prysgee nie.

* Die skepping van 'n volkstaat en sy potensiële sukses dra ook die saad van sy eie ondergang.

As ’n volkstaat ekonomies suksesvol is, sal dit sosiaal-ekonomiese en politieke probleme skep. Anders as met Orania, sal dit dan ’n ekonomiese magneet wees wat werkloses en diegene wat in die ekonomiese groei en voorspoed wil deel, sal lok.

As groot groepe swart mense soontoe trek, is die vraag natuurlik hoe hul teenwoordigheid hanteer sal word sonder om politieke probleme te skep. Daar kan geen sprake van gedwonge verskuiwings wees of mense wat eie reg gebruik nie.

* Daar is ook historiese redes wat vierkantig in die pad van die idee van selfbeskikking staan.

Die swart bevolking van Suid-Afrika het amper ’n eeu van sosiale manipulering en gedwonge verskuiwings onder die beleid van apartheid deurgemaak. Daar sal baie min simpatie onder die regerende en ander partye wees om apartheid in ’n nuwe formaat toe te laat.

Die aanhef van die Vryheidsmanifes maak dit ook duidelik dat die land aan al sy inwoners behoort.

* Die gemaklikheidsfaktor sal die lewensvatbaarheid van ’n selfbeskikkingsprojek kniehalter.

Die grootste groep Afrikaners of Afrikaanssprekendes in die land is in die groter Pretoria-omgewing en die Kaapse Skiereiland gekonsentreer. Die meeste van hulle woon in hoë- of laemiddelklas-woonbuurte agter hoë heinings en handhaaf redelike lewenstandaarde. Hoeveel van dié mense sal werklik bereid wees om die gemaksone te verlaat om elders weer van vooraf te begin?

Daar bestaan heelwat simpatie vir Afrikaanssprekendes wat ervaar dat hul taal en kultuur bedreig word. Dit is egter meer realisties om hulself aktief vir die tweede en mindere opsie te beywer, naamlik sterker statutêre beskerming vir taal en kultuurregte.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie een weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Vf Plus  |  Pieter Groenewald  |  Pieter Labuschagne  |  Orania  |  Selfbeskikking  |  Volkstaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.